
Hoe kry jy ’n kind om ’n boek te lees? Maklik, die oudste truuk in die boek: “Jy mag nie hierdie boek lees nie. Hoekom? Want ek het so gesê.”
Klink dit bekend? Dit is hoe volwassenes mag uitoefen oor boekkeuses vir kinders. Nou dit is nie noodwendig die euwel self nie. Daar is ’n etiese verantwoordelikheid om kinders teen dinge soos eksplisiete seks, geweld, pornografie en grafiese materiaal te beskerm. Dit is belangrik en goed en reg. Alhoewel, hoe nader kinders aan ’n sekere ouderdom kom, sal daar vrae wees oor moeilike onderwerpe, en boeke is ’n goeie hulpmiddel om met kinders te praat en hulle op te voed oor onderwerpe soos mishandeling (seksueel, fisiek of emosioneel), geweld, seksuele kontak, wat seks is, veral hoe en wanneer ’n kind moet weet en verstaan dat hulle moet nee sê en vir hulp moet kom vra.
........
Daar is ’n verskil tussen beskerm en begelei vir die wrede werklikheid en bloot verban, sensor en ontneem onder die voorwendsel van beskerm.
........
Deur boeke summier by kinders af te neem, te verban of uit hulle bereik te neem, kan moontlik ’n “sagte ervaring” of leerervaring van ’n kind ontneem wat hom of haar later in die lewe kan help. Daarom is dit belangrik om die praktyk van verbanning of sensuur van kinderboeke ernstig te oorweeg, omdat dit só maklik vir volwassenes is om hierdie beskermende mag te misbruik of verkeerd te gebruik sonder dat hulle dit besef. Daar is ’n verskil tussen beskerm en begelei vir die wrede werklikheid en bloot verban, sensor en ontneem onder die voorwendsel van beskerm.
Daar sal na enkele kinderboektitels verwys word wat as voorbeelde sal dien waar sensuur of verbanning toegepas of klagtes ingedien is met die doel om die boek uit biblioteke of van winkelrakke te verwyder.
Die gevalle van Paul Castle se kinderboeke, The Pengrooms (2022) en The secret ingredient (2024), en die onlangse herrie in Suid-Afrika oor die inkleur- en aktiwiteitsboek vir kinders, From the river to the sea (2024) deur Nathi Ngubane, sal bespreek word. Hierdie geselekteerde gevalle sal in verband gebring word met die oorkoepelende argument dat kinderboeke wel aan verbanning en sensuur onderwerp behoort te word (Hirsch 2024). Asook dat dit met groot omsigtigheid en verantwoordelikheid gedoen moet word, sonder om kinders leeservarings te ontsê wat hulle later kan help.
Verbanning en sensuur van boeke
Die verbanning en sensuur van boeke is ’n interessante konsep in vandag se wêreld. Hoekom? Gebeur dit werklik nog? Ja; ongelukkig is dit steeds ’n werklikheid ten spyte van die koms van die internet en tegnologie.
Dit is algemeen bekend dat boeke verbrand is in die Tweede Wêreldoorlog omdat Joodse skrywers, denkers en wetenskaplikes se werk as minderwaardig beskou is deur die Nazi’s. Dan is daar die Kerk (hier in die breë sin van die woord – die Christelike Kerk, meestal die Katolieke Kerk) wat boeke verban en vernietig het omdat dit dwaalleer sou verkondig of bevorder het. ’n Enkele voorbeeld hiervan was toe die voorstel gemaak is dat die aarde om die son draai ( ’n heliosentriese model van die sonnestelsel) en nie andersom nie. Die Kerk het Copernicus se boek On the revolutions of the celestial spheres, wat in 1543 gepubliseer is, verban (UCLA 2024). Volgens die Kerk is God die middelpunt van alles en dus ook die aarde.
Om boeke te verban wat nie met die norme of standaarde van die algemene samelewing saamstem nie, is dus ’n baie ou praktyk, veral wanneer dit kom by geloofsoortuigings, politieke standpunte en tradisionele en gevestigde oortuigings.
Ongelukkig is die verbanning, of soos Suid-Afrikaners dit in herinnering sal roep, sensuur, steeds ’n werklikheid en ’n praktyk wat dalk nie meer só formeel en amptelik plaasvind soos tydens die apartheidsjare nie. Tog word daar op verskillende maniere steeds sensuur, beperking of ’n vorm van beheer en beperking op boeke uitgeoefen.
Eerstens is dit belangrik om te verstaan wat die terminologie beteken en hoe oortuigings nie logiese en etiese verantwoordelikheid moet oorskry nie.
Wanneer ons oor kinderboeke praat, is dit vanselfsprekend dat kinders se veiligheid, ontwikkeling en algemene psige gerespekteer en in gedagte gehou moet word. Geen kind kan daarby baat om aan geweld, kru taal, seksuele of selfs pornografiese inhoud blootgestel te word nie. Hiermee kan almal saamstem. Die grense en afbakening hiervan binne kinderboeke, prenteboeke, jeugliteratuur en jongvolwasseneliteratuur is waar die problematiese grense soms lei tot uiterste sensuur. Veral wanneer jeugliteratuur oorweeg word.
Tweedens moet daar onderskeid getref word tussen ’n boek wat amptelik verban word en ’n boek wat deur ’n verspreider of winkel geweier word en daarom ’n kanoniserende invloed uitoefen.
Verbanning impliseer dat niemand die boek mag lees nie. En die gedeelte waar dit nie “mag” nie, dui weer daarop dat iemand of iets mag oor iets of iemand uitoefen.
Volgens die HAT:
ver-ban ww. [~] 1 verplig om ’n land/plek vir goed te verlaat; in ballingskap ’n land uitstuur; uitstoot; verdryf: agitators verban. • Ook fig. • Ek (die digter) is gevang / en met die stryd / êrens in die ewigheid / op ’n Ceylon verban (D.J. Opperman).
Vgl. BANNELING 2 fig.) verdryf: iets uit jou gedagtes verban. 3 die gebruik/verspreiding van iets verbied: ’n boek/rolprent verban. Vgl. ONTBAN > verbanning. (Luther, J., Pheiffer, F., Gouws, H.R. et al. 2015: 1438)
Dit is interessant dat “verban” ’n funksie hier van personifikasie het, omdat ’n boek nie ’n plek kan verlaat nie, maar wel sy lesers kan verlaat. Daar mag ook wetlike vervolging betrek word en boeke kan vernietig word. Die fokus is daarom op die onderdrukking en vernietiging van die boek se inhoud. Wat die vraag laat ontstaan: Waarom dit publiseer? Gewoonlik is boeke in hierdie situasie om politieke of geloofsredes verban. Hierdie boeke bevat waarskynlik temas van rassisme, andersheid, regverdigheid, en probeer gewoonlik die lesers daarop wys dat daar morele vrae is wat gevra moet word.
.........
Hierdie boeke bevat waarskynlik temas van rassisme, andersheid, regverdigheid, en probeer gewoonlik die lesers daarop wys dat daar morele vrae is wat gevra moet word.
.........
’n Alternatief is ’n kanoniserende keuse. ’n Kanon is dié uitgesoekte en gekose tekste wat beskou word as goed, of van gehalte, gebaseer op ’n vorm van subjektiewe keuse. Die keuse self bepaal wat kanon is of nie.
Wanneer daar ’n kanoniserende keuse gemaak word deur ’n boekwinkel of ’n verskaffer om nie ’n bepaalde boek te verkoop nie, is dit inderdaad (net) ’n keuse en standpunt wat ingeneem word. Dit is nie ’n pertinente aksie wat daarop gemik is om die boek se verspreiding stop te sit, te onderdruk of selfs die boek te vernietig nie.
Geskiedenis van sensuur in Suid-Afrika
Binne die Suid-Afrikaanse konteks was die ervaring van boeke wat verban word, nog ’n onlangse herinnering uit die apartheidsbedeling. Daar was ’n sensuurraad wat besluit het oor die inhoud van boeke en daar kon selfs al by die uitgewers ’n stokkie voor ’n boek se publikasie gesteek word.
Die heel eerste sensuurwette kom al van 1931 af, toe Suid-Afrika nog die Unie van Suid-Afrika was, onder beheer van die Britse regering. ’n Kolonie van Groot-Brittanje. Selfs digters, skrywers, kunstenaars en akademici het hulle reeds in 1947 sterk uitgespreek teen die voorgestelde binnelandse beleide. Hier word spesifiek verwys na Afrikaanse tekste, met die motivering dat Brittanje nie die kennis of taligheid het om te verstaan wat in Suid-Afrikaanse of Afrikaanse tekste staan, bedoel of geïmpliseer word nie (Kannemeyer 1983:233). Verskeie gevestigde en gesiene figure in die Afrikaanse letterkunde het lank voor die teenkanting teen sensuur in die 1960’s alreeds kapsie gemaak. Mense soos NP Van Wyk Louw, DJ Opperman, AP Grové, Merwe Scholtz en TT Cloete en nog baie meer (Kannemeyer 1983:233).
In 1963 was die Wet op Publikasies en Vermaaklikhede deur die parlement van stapel gestuur, en die raad wat volgens hierdie wet beheer oor publikasies en films sou uitoefen, het bestaan uit nege lede, van wie ses besondere kennis van kuns, taal en lettere of die regspleging moes hê. Die aanstelling was gedoen deur die minister van binnelandse sake, wat ook ’n paneel aangewys het waaruit die raad komitees kon benoem om (onder voorsitterskap van een van die raadslede) verslag te doen oor ’n publikasie wat aan hom of haar voorgelê was (Kannemeyer 1983:232).
Die aanstelling word gedoen deur die minister van binnelandse sake, wat ook ’n paneel aanwys waaruit die raad komitees kan benoem om (onder voorsitterskap van een van die raadslede) verslag te doen oor ’n publikasie wat aan hom of haar voorgelê word (Kannemeyer 1983:232).
’n Verdere aanhaling wat baie belangrik is: “Volgens die wet is dit nie vir die Raad nodig om redes vir sy beslissings aan te voer nie” (Kannemeyer 1983:232). Dit beteken dat as die raad besluit het die boek is verban, is dit so omdat hulle so sê.
Vir konteks oor hoe beperkend hierdie sensuurwette vir boeke en films bewoord is, haal ek ’n uittreksel uit Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur. Deel 2 aan (die kursivering is vir die doel van hierdie artikel deur my aangebring):
Ingevolge artikel 5 (2) is ’n publikasie ongewens indien dit of ’n deel daarvan onbetaamlik of onwelvoeglik is of vir die openbare sedes aanstootlik of skadelik is; godslasterlik is of vir die godsdienstige oortuigings of gevoelens van enige bevolkingsdeel van die Republiek aanstootlik is; enige bevolkingsdeel van die Republiek belaglik of veragtelik maak; vir die betrekkinge tussen enige bevolkingsdeel van die Republiek skadelik is; of vir die veiligheid van die Staat, die algemene welsyn of die vrede en goeie orde nadelig is. Artikel 6 gee dan ’n omskrywing wat onder “onbetaamlik of onwelvoeglik of vir die openbare sedes aanstootlik of skadelik” verstaan moet word: indien dit na die oordeel van die hof die strekking het om die gedagtes van persone wat waarskynlik aan die uitwerking of invloed daarvan blootgestel sal word, te verderf of te laat ontaard; waarskynlik skokkend of walglik sal wees vir persone wat dit waarskynlik sal lees of sien; of op onbetaamlike wyse handel met ’n lang reeks onderwerpe soos moord, wetteloosheid, verslaafdheid, allerlei vorme van seksualiteit e.d.m. Daarby mag die doel van die skrywer of uitgewer nie by die vasstelling van onbetaamlikheid of onwelvoeglikheid in ag geneem word nie. Die besware teen die wet geld allereers die bepaling dat ’n publikasie ongewens verklaar kan word indien dit “of ’n deel daarvan” onbetaamlik of onwelvoeglik is. Daarmee is die teoretiese moontlikheid geskep dat ’n boek op grond van ’n enkele paragraaf of woord verbied kan word, terwyl nêrens die besondere aard van die literêre kunswerk en die elementêre stelreël dat ’n gedig, roman of drama alleen as ’n geheel beoordeel kan word, in die wet ingebou is nie. (Kannemeyer 1983:232)
Die implikasies van hierdie spesifieke bewoording het tot gevolg gehad dat die party aan bewind se godsdiens en oortuigings bevoordeel en onderhou is deur hierdie spesifikasies. Let ook daarop dat ’n hele teks, bundel of boek dan onder sensuur geplaas, verban of verbied mag word oor enkele woorde of paragrawe. Hierdie wetlike praktyk het die apartheidsera oorheers en was van toepassing op volwassene- sowel as kinderboeke.
’n Interessante feit is dat een van die vurigste voorstanders van hierdie wetgewing Abraham Hendrik Jonker was. Daar is bespiegel dat Jonker dalk ook die voorsitter van die raad sou wees (Kannemeyer 1983:232). Hy het ’n agtergrond in die joernalistiek en teologie gehad, asook ’n regskwalifikasie, en was die vader van die digter en Sestiger Ingrid Jonker. Gelukkig is hy toe nie in die posisie aangestel nie.
........
Wat volwasseneboeke betref, was Suid-Afrika se sensuur baie meer beperkend, maar hou ook in gedagte dat kinderboeke in hierdie tyd oor dieselfde kam geskeer sou kon word. Toevallig is dit ook in hierdie tydperk dat Afrikaanse kinderboeke ’n opbloei beleef het.
........
Wat volwasseneboeke betref, was Suid-Afrika se sensuur baie meer beperkend, maar hou ook in gedagte dat kinderboeke in hierdie tyd oor dieselfde kam geskeer sou kon word. Toevallig is dit ook in hierdie tydperk dat Afrikaanse kinderboeke ’n opbloei beleef het. Alhoewel baie tekste vertaal en verwerk is uit Europese tale, was daar ook die Afrikaanse reeksboeke soos Trompie, Saartjie, Keurboslaan ens. Die jeugboeke van die jare ’70 en ’80 het eintlik eers probleme vir die oorheersende volksnarratief begin veroorsaak toe onderwerpe soos tienerswangerskappe, verbrokkelende huwelike, die dood, tieners wat in verbeteringskole beland of die kompleksiteite van verhoudings na vore begin tree het in hoofsaaklik jeugromans.
Die Publikasiewet word weer in 1974 hersien en die Publikasieraad word ’n direktoraat wat bloot die administratiewe funksie uitvoer (Kannemeyer 1983:234). Die direktoraat benoem dan komitees wat jaarliks deur die minister van binnelandse sake aangestel word en dan besluit hierdie roterende komitees wat goedgekeur word en wat nie.
Dit is uit die tydperk ná hierdie verandering dat die meer onthoubare verbannings dateer, alhoewel dit meestal volwassenetitels was.
Daar was ’n totale verbod op die vertaalde Die Odessa-dossier, wat op ’n amusante vergissing in verband met staatsveiligheid berus het en onmiddellik herroep is (Kannemeyer, 1983:235). Die bekendste roman was natuurlik Magersfontein, o Magersfontein! van Etienne Leroux, maar die beslissing is in 1980 tersyde gestel. Onder die ander titels was Skryt (Breyten Breytenbach), Keerkring (Welma Odendaal), Struisbaaiblues (André le Roux) (later opgehef), Donderdag of Woensdag, in 1983 opgehef, Kommas uit ’n boomzol en Sonneskyn en Chevrolet (albei Dan Roodt) en Te hel met ouma! (André le Roux), later tersyde gestel (Kannemeyer 1983:235).
Teen die einde van die tagtigerjare was die einde van die hele apartheidsregime se skrif aan die muur. Gedurende die oorskakeling van bewind het die nuwe Wysigingswet op Films en Publikasies in werking getree (Republiek van Suid-Afrika 1996) en laas bygewerk in 2019 om digitale en internetbronne in te sluit (Republiek van Suid-Afrika 1996.). Hierdie wet vervul steeds die funksie tesame met die Film- en Publikasieraad as regulerende entiteit waar klagtes oor films, televisieprogramme en publikasies ingedien kan word. Onder hierdie nuwe beleide word daar spesifiek gekyk na kriminele oortredings, of waar beeldmateriaal beskou kan word as pornografies. Die aspek wat dalk bekender sal wees, is ouderdomsbeperkings op films en televisieprogramme.
Suid-Afrika het dus ’n ingewikkelde en problematiese geskiedenis wanneer dit kom by enige mag en beheer uitoefen oor wat Jan Alleman op straat mag lees en kyk al dan nie.
Daarom is dit interessante om te kyk na hoe kinderboeke internasionaal onderwerp word aan sensuur, verban of verkla word vir onttrekking van die publieke mark.
Kinderboeke wat kwel wêreldwyd
’n Goeie oorsiggewende bron ten opsigte van kinderboeke wat verban of onderdruk word uit verskillende oorde, is die ALA – American Library Association – se lys van boeke wat kwel (ALA 2024). Hierdie instansie hou rekord en besoek nie net openbare biblioteke nie, maar ook skoolbiblioteke waar die meeste klagtes oor kinderboeke ingedien word.
Volgens Lindsay Barrett se artikel “30 banned children's books everyone needs to read” (2024) op weareteachers.com was daar in die eerste agt maande van 2023 reeds 1 915 klagtes oor kinderboeke by die ALA ingedien (Barrett 2024).
Kom ons kyk na enkele boeke wat ’n klippie in iemand se skoen was in die laaste drie jaar (2021–2024) (Barrett 2024).
Prenteboeke (vir die jongste lesers)
- In the night kitchen deur Maurice Sendak
- And tango makes three deur Justin Richardson en Peter Parnell
- My moms love me deur Anna Membrino
- Strega Nona deur Tomie de Paola
- Julián is a mermaid deur Jessica Love
- Sulwe deur Lupita Nyong’o
- The family book deur Todd Parr
- This day in June deur Gayle E Pitman
- Prince & Knight deur Daniel Haack
- Lailah’s lunchbox: a Ramadan story deur Reem Faruqi
- Nasreen’s secret school: a true story from Afghanistan deur Jeanette Winter
- When Aidan became a brother deur Kyle Lukoff
- Encounter deur Brittany Luby
- Pride: The story of Harvey Milk and the rainbow flag deur Rob Sanders
- Separate is never equal: Sylvia Mendez & her family’s fight for desegregation deur Sylvia Mendez
- I am Jazz deur Jessica Herthel en Jazz Jennings
- The 1619 project: Born on the water deur Nikole Hannah-Jones en Renée Watson.
Grafiese romans (Comics)
- The adventures of Captain Underpants deur Dav Pilkey
- New kid deur Jerry Craft
- When stars are scattered deur Victoria Jamieson en Omar Mohamed
- The breakaways deur Cathy G Johnson
- Drama deur Raina Telgemeier.
Boeke vir jong lesers of hoofstukboeke
- Bridge to Terabithia deur Katherine Paterson
- James and the giant peach deur Roald Dahl. (Ons kan net sowel al sy boeke hier plaas, veral na die herrie verlede jaar omdat die herdrukke veranderings sou insluit.)
- Harry Potter-reeks deur JK Rowling
- Melissa (previously published as George) deur Alex Gino
- Indian no more deur Charlene Willing McManis en Traci Sorel
- Front desk deur Kelly Yang
- The Parker inheritance deur Varian Johnson
- Hatchet deur Gary Paulsen.
Dit is net enkele boeke wat die lys gehaal het. Die algemene klagtes oor hierdie boeke is die gebruik van geweld, die karakter wat sy agterent ontbloot, beskuldigings van heksery, die blootstelling van kinders aan konsepte soos transgender karakters of geslagsverandering en homoseksuele verhoudings, asook kwessies soos slawerny, rassisme, diskriminasie en kriminalisering en stereotipering van rasse, nasies en individue. Selfs klassieke sprokies en volksverhale spring nie ’n oordeel vry nie.
Enkele boeke wat meermale op verskeie lyste verskyn waar daar klagtes was oor die inhoud of die boeke verwyder of verban is, handel grootliks oor LGBTQ+-temas, gevalle van rassediskriminasie en aantygings van heksery, duiwelsaanbidding en kwessies rondom geloof. Hier is slegs ses titels wat meermale opgegee word vir verwydering uit klaskamers, biblioteke en winkelrakke (Tolin 2023):
1. In the night kitchen deur Maurice Sendak
Hierdie boek het onder die loep gekom omdat ’n karakter sy agterstewe wys. Dit is geskryf en geïllustreer deur dieselfde skrywer as van die bekende en baie populêre Where the wild things are (1963). In dié geval was die beswaar bloot die ontbloting van die karakter se agterstewe en dat dit onwelvoeglik is. Tog is kinders van hierdie ouderdom besig om hul liggame te ontdek en te verken. Is dit nie juis ’n belangrike les vir die jong leser om te leer dat dit nie goeie maniere is nie? Die boek moedig ook kinders se verbeelding aan deur die avontuur mee te maak in die nagkombuis waar die hoofkarakter die bakkers probeer help en toe in ’n ongebakte koek val terwyl hy op soek is na die melk wat verdwyn het.
2. Strega Nona deur Tomie de Paola
’n Hulpvaardige heks en tradisionele geneser, Strega Nona, huur vir Anthony as haar assistent en waarsku hom om nie met haar towerpastapot te lol nie. Natuurlik kan die knaap dit nie weerstaan nie en die gevolge is skreeusnaaks.
Die klagtes oor hierdie verhaal is dat heksery in ’n positiewe lig uitgebeeld word, eintlik meer dat Strega Nona nie ’n wrede, kindervretende en duidwelaanbiddende heks is nie. Klink hierdie aantyging bekend? Ons eie Liewe Heksie deur Verna Vels is aanvanklik oor dieselfde kam geskeer. ’n Heksie wat al die heksstereotipes breek: Sy kan nie toor nie, sy vergeet haar toorwoorde en maak agtelosige foute, en frustreer koning Rosekrans ten gronde.
3. And Tango makes three deur Justin Richardson en Peter Parnel
Hierdie boek was een van die eerstes wat deur middel van diere selfdegeslag paartjies en gesinne met ouers van dieselfde geslag aan kinders voorgehou het as net ’n ander tipe gesin en sodoende die werklikheid van soveel kinders met twee pa’s of twee ma’s probeer voorstel het as normaal, aanvaarbaar en positief. Toevallig is dit gebaseer op werklike gebeure in die New Yorkse Central Park-dieretuin waar ’n versaakte pikkewyneier aangeneem, uitgebroei en grootgemaak is deur twee pikkewynmannetjies as ’n broeipaar.
4. Prince & Knight deur Daniel Haack
Die klassieke genderrolle in sprokies word in hierdie boek ’n bietjie op sy kop gedraai. Die prins wil nie met ’n prinses trou nie, maar met die ridder wat hom help om ’n draak te verslaan. Niks lees so lekker soos ’n sprokie nie, en as dit in sprokies gebeur, hoekom nie in die regte lewe nie.
5. Die Harry Potter-reeks deur JK Rowling
Weer eens het ons te doen met die vooroordele omtrent heksery. Buiten dat die verhale en die films ongelooflik populêr is, het hulle eintlik ’n cult classic geword. Daar was uit verskillende oorde groot kritiek oor die boeke. Die aantygings was dat werklike towerspreuke en toordery in die boeke voorkom. Dit is hoogs onwaarskynlik, en eerder ’n spel met woorde en taal. Die tweede aspek was dat die karakters hulle sin kry en doelwitte bereik deur immorele metodes te gebruik om dit te bereik.
6. Verskeie titels van Roald Dahl (James and the giant peach, The witches en ander)
Roald Dahl se boeke het ’n lys aantygings teen hulle so lank soos die Kaapse wapad. As ons bloot na die boeliegedrag in Matilda kyk of die manier waarop daar onlangs beswaar gemaak is oor die hekse se misvormde hande in The witches, is daar eindelose redes om sy boeke aan sensuur te onderwerp of te verban. Tog is kinders mal oor die stories en die verbeeldingsvlugte daarin.
Hierdie enkele gevalle is oor kinder- en jeugboeke wat gewild is onder hul jong lesers en vir sommige van ons volwasse lesers groot genot verskaf het as kinders. Miskien moet daar gekyk word na hoe en waar ons die streep trek ten opsigte van wat aanstoot gee en wat duidelik etiese implikasies het.
Die volgende gevalle het in hierdie jaar plaasgevind en kan dalk vir ons ’n beter insig gee oor waar boeke verban of onder sensuur geplaas moet word of verwyder en weggehou moet word van kinders.
Onlangse gevalle
Twee onlangse gevalle waar kinderboeke verban, verwerp of van winkelrakke verwyder is, is die Kanadees-Amerikaanse TikTokker en illustreerder Paul Castle se The secret ingredient (2024) en From the river to the sea (2024) deur Nathi Ngubane in Suid-Afrika.
In beide gevalle is hul kinderboeke nie verban nie, maar boekwinkels het hul boeke van hul rakke verwyder. Dit is daarom meer ’n geval van matige sensuur, omdat daar ’n kanoniserende keuse gemaak is om nie die boeke te verkoop of versprei nie.
Paul Castle, The secret ingredient (2024)
Paul Castle is ’n TikTokker, illustreerder en skrywer. Hy het in 2022 ’n kinderboek gepubliseer genaamd The Pengrooms, wat gebaseer is op ’n illustrasie wat hy vir die huweliksuitnodigings vir hom en sy man se troue gemaak het in 2019: twee pikkewyne met oulike reënboogstrikdasse. Tydens Covid toe almal by die huis moes sit, het Matthew, Paul se man, hom aangemoedig om ’n kinderboek te publiseer met die twee pikkewyne, Pringle en Finn, as hoofkarakters wat koeke bak en aflewer.
Die besonderse storie agter hierdie boek is dat Paul aan retinitis pigmentosa ly, ’n siekte wat die retina binne die oog laat disintegreer. Dit veroorsaak dat ’n persoon se sig geleidelik verswak, wat lei tot swak lae ligvisie en ekstreme tonnelvisie. Paul het reeds 90% van sy sig verloor en het met sy beperkte visie hierdie twee kinderboeke geskryf en geïllustreer.
Die tweede aflewering van Pringle en Finn se avonture het hierdie jaar die lig gesien en in hierdie aflewering word hulle pa’s. Die boek was baie populêr in die LGBTQ+-gemeenskap en het oor die algemeen goeie resensies ontvang. Tot Paul een oggend ’n e-pos ontvang van ’n boekwinkel wat ’n reuse bestelling van 100 boeke gekanselleer het en hom in kennis stel dat die bestelling reeds op pad terug is na hom. Aanvanklik is daar geen direkte rede gegee vir die “afkeuring” van die boek nie, maar bloot gesê dat “the person who ordered your books wasn’t up to speed with our policies and we are returning the books ... [T]he book’s message doesn’t align with the store” (Vaidyanathan 2024). Die afleiding is dat daar iets omtrent sy boek is wat die boekwinkel nie goedkeur nie, naamlik dat dit ’n paartjie van dieselfde geslag uitbeeld wat ’n kind aanneem.
Hier word dus ’n kanoniserende keuse gemaak deur die betrokke boekwinkel, wie se naam nêrens genoem word nie, om nie kinderboeke met LGBTQ+-temas te verkoop of te versprei nie. Dit is hartseer, want weer eens is dit ’n pragtige, kleurvolle boek wat vir kinders wys dat gesinne soms anders kan lyk en dat “anders” nie noodwendig “verkeerd” is nie. Dit is darem nie totaal verban nie, en verskeie ander boekwinkels het hul bestellings laat instroom.
In Suid-Afrika was daar vroeër hierdie jaar ’n soortgelyke geval, waar Exclusive Books ’n kinderboek van sy rakke verwyder het.
Nathi Ngubane, From the river to the sea (2024)
From the river to the sea is ’n inkleur- en aktiwiteitsboek vir kinders wat die gebeure in die Gaza-strook en die Israeli-Palestina-konflik op ’n verteerbare wyse aan kinders verduidelik.
Volgens die uitgewer, Social Bandit Media, is daar reeds sowat 3 000 kopieë van die boek verkoop, en al die wins word aan Penny Appeal (https://www.pennyappeal.org.za) se Gaza-projekte geskenk. Nathi Ngubane was die illustreerder vir die boek, en volgens Hirsch se GroundUp-artikel is Palestynse burgers, onderwysers en ouers, asook anti-Sionistiese Joodse geskiedkundiges, soos Ilan Pappe, voor die publikasie geraadpleeg (Hirsch 2024).
Kort na die publikasie van die boek het Ngubane haatboodskappe ontvang en was daar verskeie besware teen die boek en reaksies van verskillende organisasies, soos deur Adam Charnas, “an analyst with the South African Jewish Board of Deputies SAJBD, responding to questions from GroundUp, [who] said it was the ‘sole purview of the booksellers to decide what literature they choose to stock, and decisions regarding this are taken independently’” (Hirsch 2024).
Daar was ook aantygings dat die boek anti-Semities is en teen die Joodse gemeenskap uitvaar.
In teenstelling met Exclusive Books se onttrekking van die boek van hul rakke het Mervyn Sloman, die eienaar van The Book Lounge in Kaapstad se middestad, wel die boek op hulle rakke verwelkom. Hy het die volgende omtrent hierdie omstredenheid te sê gehad:
It’s a pity that this book is being used to entrench positions rather than a means of conversation and trying to find common ground ... I don’t know on what basis they [Exclusive Books] made that decision. It is sad when a book like this gets pulled from the biggest retailer in the country and possibly others. (Hirsch 2024)
Die belangrikste opmerking wat Sloman maak, is:
The act of selection and curation is a political one […] The essence of buying or deciding where to display books or quantities are all political decisions. To be a bookstore is to be a political entity. It’s about being conscious of it. I just wish people would try to listen a little bit more rather than entrenching their own positions. (Hirsch 2024)
Hier is die politieke agenda agter die kinderboek beslis oopgevlek. Standpunte is ingeneem en meningsverskille het ’n kanoniserende keuse tot gevolg gehad. Hierdie boek is nie verban nie, maar het beslis skerp teenkanting gekry van die publiek en belangegroepe. Let daarop dat die Film- en Publikasieraad nie hier betrokke geraak het en die boek onder sensuur geplaas of uit die mark verwyder het nie.
Die reaksie met hierdie inkleur- en aktiwiteitsboek vir kinders is beslis ’n waarskuwing om versigtig te wees om politiese keuses en blote voorkeurkeuses met mekaar te verwar. ’n Besluit of keuse is nie noodwendig polities nie, maar deur ’n keuse polities te motiveer en ’n politieke spel daarvan te maak, maak daarvan ’n politieke en uitlokkende keuse.
Dit wys ook vir ons dat die regerende meerderheid, hoewel hul die Palestynse kant van die onrus in die Gaza-strook ondersteun, nie hul mag gebruik het om hul agenda te bevorder nie – anders as die apartheidsregering, wat elke teks en boek deur ’n raad moes laat ontleed en goedkeur. Dus het daar ’n groot mate van vordering plaasgevind vir die vryheid van spraak en die reg wat elke individu het op sy of haar opinie. Ook boekwinkels.
Die ruggraat van hierdie bespreking is dat ons as volwassenes bewus moet wees van die mag wat uitgeoefen kan word wanneer dit by kinderboeke kom. Sodra ons bewus is van die rol wat mag kan speel wanneer ’n keuse oor ’n kinderboek gemaak word, moet daar vrae gevra word.
Die rol en uitoefen van mag oor kennis
........
Hoekom is kinderboeke wat deur middel van sensuur of verbanning deur volwassenes beheer word, dan van belang, en hoekom is dit enigsins anders as met volwasseneboeke?
........
Hoekom is kinderboeke wat deur middel van sensuur of verbanning deur volwassenes beheer word, dan van belang, en hoekom is dit enigsins anders as met volwasseneboeke?
In hierdie bespreking het ons gekyk na die kinderboeke wat gereeld en redelik onlangs nog tot ’n mate verban of deur ’n proses van sensuur gesit word. Die hooftemas en onderwerpe wat as redes aangevoer word is: seks, seksuele dade, geweld, rassekwessie en geloofsoortuigings. Dit is eintlik net ’n handvol onderwerpe om besware oor te hê, in ag genome waaroor daar alles geskryf kan word in ’n kinderboek.
Daar is ook gekyk na twee onlangse gevalle waar boeke geweier en van winkelrakke verwyder is weens teenkanting van verskillende partye. Hier was daar grootliks kanoniserende keuses gemaak en geen sprake van verbanning nie.
Suid-Afrika se geskiedenis met sensuur en ’n streng beherende publikasieraad onder die vorige apartheidsbedeling is ook vlugtig bespreek ter agtergrond van die sensitiwiteit vir die sensuur of verbanning van enige tekste, des te meer kinderboeke. Daar is ook in ag geneem dat hierdie Publikasieraad steeds in ’n meer moderne vorm bestaan, maar dat die fokus nie meer polities gemotiveerd is nie. Die doel van die Film- en Publikasieraad in hedendaagse Suid-Afrika is om ouderdomsbeperkings aan te beveel, klagtes teenoor eksplisiete beelde en tekste te hanteer, asook om kriminele elemente te polisieer en inhoud te beheer met die uitsluitlike doel om kinders te beskerm. Nie om spesifieke politieke, morele of geloofsoortuigings te bevoordeel of te bevorder nie.
Ten slotte wil hierdie bespreking gesprekke aanmoedig oor die boeke wat vir kinders gekies word en hoe die mag van die betrokke volwassenes uitgeoefen word. Is dit regtig die punt van In the night kitchen dat die hoofkarakter sy kaal agterent wys? Nee. Dit is deel van grootword en kinders kry juis die geleentheid om te leer oor hul liggaam en ander onderwerpe soos boeliery, geweld, rassisme, diskriminasie en dies meer deur stories daaroor te lees en vrae daaroor te vra. Dit help ook nie om kinders tot 18 of 21 jaar teen alle euwels te beskerm nie. Wanneer hul dan as volwassenes die wye woeste wêreld invaar, sal hulle hulself onvoorbereid en totaal onskuldig en oningelig bevind wanneer hulle met dinge soos geweld, seks, kriminele dade of ander persone se geloofsoortuigings gekonfronteer word.
Ons moet geensins ons etiese verantwoordelikheid versaak om kinders te beskerm teen dinge wat hulle nog nie gereed is om te verstaan of te verwerk nie. Of wat hulle skade sal berokken nie. Maar ons moet hulle ook nie leeservarings ontsê wat hulle kan help om die wêreld beter te verstaan nie: “Nee, jy kan nog nie hierdie boek lees nie, eers wanneer jy ouer is en beter sal verstaan.” Gebruik jou volwasse mag om hulle te beskerm, maar gebruik dit ook om eerder ’n kurator en gids met verduidelikings te wees.
Bibliografie
ALA (American Library Association). 2024. Frequently challenged children's books. https://www.ala.org/advocacy/bbooks/frequentlychallengedbooks/childrensbooks (24 Augustus 2024 geraadpleeg).
Barrett, L. 2024. 30 banned children's books everyone needs to read. Weareteachers.com. https://www.rd.com/list/banned-childrens-books (24 Augustus 2024 geraadpleeg).
Chirume, J. 2024. South African book chain bans “From the river to the sea” children's book. The New Arab. https://www.newarab.com/news/south-africa-book-chain-bans-river-sea-childrens-book (24 Augustus 2024 geraadpleeg).
Evanston Public Library, 2024. Shhhh! These kids’ books have been banned (or challenged). https://www.epl.org/shhhh-these-kids-books-have-been-banned-or-challenged (24 Augustus 2024 geraadpleeg).
February, T. 2018. It's banned books week – these are the books you should get your hands on (if you haven't already). https://www.news24.com/Life/its-banned-books-week-these-are-the-books-you-should-get-your-hands-on-if-you-havent-already-20180927 (24 Augustus 2024 geraadpleeg).
Hirsch, M. 2024. Children's book on occupation of Palestine pulled from Exclusive Books shelves. GroundUp. https://groundup.org.za/article/childrens-book-on-occupation-palestine-pulled-from-exclusive-books-shelves (24 Augustus 2024 geraadpleeg).
Kannemeyer, JC. 1983. Beheer oor publikasies en die reaksie van skrywers. In Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Deel 2. Pretoria: Academica. http://www.dbnl.org/tekst/saveas.php?filename=kann003gesk02_01.pdf&dir=kann003gesk02_01&type=pdf (6 September 2024 geraadpleeg).
Luther, J, F Pheiffer, HR Gouws ea. 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. 6de uitgawe. Pearson: Kaapstad.
Paul Castle Studio. 2024. https://www.paulcastle.studio (24 Augustus 2024 geraadpleeg).
Republiek van Suid-Afrika, 1996. Film- en Publikasiewet, nr 65 van 1996. https://static.pmg.org.za/Films_and_Publications_Act.pdf (8 September 2024 geraadpleeg).
Tolin, L. 2023. The most banned picture books of the 2021–2022 school year. PEN America. https://pen.org/banned-picture-books-2022 (24 Augustus 2024 geraadpleeg).
UCLA. 2024. The truth about Galileo and his conflict with the Catholic Church. UCLA Newsroom. https://newsroom.ucla.edu/releases/the-truth-about-galileo-and-his-conflict-with-the-catholic-church#:~:text=When%20first%20summoned%20by%20the,Earth%20revolved%20around%20the%20sun (8 September 2024 geraadpleeg).
Vaidyanathan, V. 2024. Author Paul Castle opens up about his book's journey from bookstore ban to sell-out success. Timesnownews.com. https://www.forbes.com/sites/kashmirhill/2024/08/24/author-paul-castle-opens-up-about-his-books-journey-from-bookstore-ban-to-sell-out-success (24 Augustus 2024 geraadpleeg).
Lees ook:
Harry Potter toor weer met Afrikaans: ’n kinderboekbespreking
Goue lint, my storie begint-rubriek: die waarde van illustrasies in kinderboeke

