gonnakok

  • 2
 

Fotobron: Canva

argumentsonthalwe kom ons sê daar is ’n bistro
geleë in die binnedorp van gonnakok.

die tydgleuf lê gebed in die eerste helfte van die dag.
spyse en te drinke is gesentreer
rondom dit wat 23 siele uitmaak as ontbyt
(natuurlik met enkele uitsonderinge)

23 koppe is met vleeskramme aan 23 lywe geheg
die samehorige ensemble (van kop tot ent)
vorm die somtotaal van 23 siele
die siele splyt spontaan in fatsoenlike groeperinge
geweeg aan bloed
kaste en algemeen beskaafde voorkeure
gesellig!

’n swetterjoel neurone en sinapse knetter gulsig
deur harsingsgragte
van elk wat wik en weeg
tussen verswarende diepsinnigheid
begrensende misterie
en die eenvoud van die oënskynlike ongetemde natuur

in elk van die skedels
skaar die drifte en omwentelinge
van ’n wêreldmoondheid saam
ondervang in die eiesinnigheid van ’n warboel kognisies
en die beklemmende greep
van geankerde beleid

ironies genoeg
word die vlerke van instink
getemper deur die gevangeneskap van beheer
riviere van oordragstowwe kabbel
met ’n verknogte herhaling in pas met bogenoemde allegaartjie
intervalle en kompleksiteite word bygereken
gegiet in ’n gegewe obligaat
wat ’n bepaalde sinlikheid vra.

dié en dát en die ander draai deur
knaag aan hoogtepunte
oorskry sielsalige geluk
bewerk droefgeestigheid,
voed saaiheid
en verkwik die hele kaboedel oor en weer
van voor tot agter deurgetrek

retrospektief
alle sieligheid gebed in vleeskaste lê in lae
soos die van ’n koekstruif
die verspreiding en kompleksiteite lê ietwat anders
as gevolg van die beïnvloeding en loopvloei
van die onnoembare ander

twee uitgebloeide blomme kan lepel lê
(met nodige ingrype)
insig en kennis prik onskuld
ons is alles en bykans niets

die maître d’bistro klingel ’n klokkie
die tydgleuf het oorgespoel na die tweede deel van die dag
dit is tyd vir die bediening van die middagmaal in die bistro
geleë in die binnedorp van gonnakok

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top