
Foto: Canva
Gone Dwana
Laurussia, ons het na mekaar begin dryf een warm aand
Dit was aardskuddend toe ons oerkorse in mekaar vasgryp
Die aardkors is soos ’n rimpelrok opgedruk, ’n oeroseaan het drooggekook
Woestyne en soutpanne is oornag gevorm
Skokgolwe het die hele planeet laat dreun
Bergreekse het gevorm – Atlas en Appalache, die Skotse Hooglande, alles uit ons
gebore.
Ons was die hele wêreld, met ons eie naam.
Pangea, ons was knus soos ’n vuis; om ons broeiwarmte het die oerouers van broodbome gedy
Veilig omring deur Panthalassa in wie se water haaie reeds miljoene jare sirkel
Molluske sponse en korale,
sikades en kewers, massiewe behoringde monsters
die suis van monstervarings op die kruin van glorie en die sade van oeroumas van Proteas kom van ons.
Ons het gedink vir ewig en altyd.
Dit het geleidelik gebeur, so subtiel ek het nie agtergekom nie
Ou littekens het begin kraak, ons kors begin skeur
Toe die tsoenami’s en aardbewings begin was dit reeds te laat
Ek kon voel hoe tektoniese plate diep binne-in ons skuif
Skielik was daar nie meer ’n ons nie – jy, Laurasië, het noord van my gevlug.
Met elke millimeter het die Tethys-oseaan in die nuwe skeur ingedruis
Vandag noem hulle ons skeuring die Trias-Jura-uitsterwingsgebeurtenis.
Lawa het uit my geborrel soos binnegoed, kokende vloeibare rots wat littekens van
berge en bulte gevorm het
Soggens was ek moeg van al die drama
Die son was donker, daar was ’n kleed van as en stof
Daar was ’n nuwe koue oseaan, sterk strome en branders tussen ons
My hartkant het weggeskeur, die res het noord gespat, waar die botsings die
Himalaja opgestoot het
Ek weet nie meer waar al die stukkies van my is nie – as dit ooit myne was – elk het ’n eie klimaat en tydsone
Die een kant het ’n karnaval en dansers, geil woude helder voëls
My kant ’n geil tropiese kuslyn wat verder suid verdor in verbleikte beendere en skeepswrakke.
Ek was oorskietsels van Gondwana.
Vandag, met afgekoelde lawa staar ek oor die horison oor my skouer na die ander kontinent ver oor die oseaan, versteen soos Lot se vrou
Jare in wind en storms het vir my kontoere uitgebeitel
Soos littekens en plooie
My landskap is nou kalmer, my vulkane koud en afgeleef.
Die dele van my ver wes; suid; noord
Gone Dwana
Moderne geoloë besing en bewonder die kontoere, ruimtevaarders sien die buitelyn waar ons aan die heup, kop tot toon, verbind was
Ons dagboek is in rots geskryf, ooglopend.
Maar wie gee tog nou om vir postmortems?
Soms voel ek diep binne my ’n koue vulkaan grom soos ’n oergeheue
Snags kom die wind en erodeer my landskappe en gebergtes weer
My sand reis opnuut na die monde van riviere
Word meegesleur deur die see
Koue strome tel dit op en sleur dit terug na die oewers van my vorige helfte
Ge-lei-de-lik
Alles herhaal
Voor Pangea was daar Rodinia, stadig verslyt maar weer stadig herenig
En ongemerk word ons vervreemde uiteengedrewe landmassas weer een.

