Godheid in aksie

  • 5

P D le Roux het as jong seun die roeping van God in sy lewe ontvang om die evangelie te verkondig. Sy hele lewe was dan ook gewy aan hierdie taak. Na ’n vrugbare bediening van meer as 47 jaar is hy huis toe om by die Here te wees. In sy boeke laat hy ’n nalatenskap wat nog vir baie jare ’n kragtige instrument sal bly tot redding van siele en opbouing van die kerk van Christus.

Sy boek oor Die Heilige Gees in aksie vandag is een wat jy maar ’n handleiding van kan maak. Soos wat die bouer ’n onontbeerlike leer benodig om sekere hoogtes te bereik, so is hierdie manuskrip ’n ondersteuning vir enigiemand wat dit in die veld van die praktiese spirituele wil uitwaag.

Dit spreek van hart tot hart, wat die gemiddelde gelowige kan verras as die Heilige Gees dikwels onverwags begin saamwerk. Soms is dit juis die nie-teoloog of leke-lidmaat wat ’n bo-natuurlike ingryping en illuminasie van die Heilige Gees in sy gees ervaar. Intellektuele redenasies en vooropgestelde idees kan gesien word as een van die grootste hindernisse wanneer daar stil ‘geluister’ moet word na Gods opdragte.

In die liefdelose lewe waarin ons vandag lewe is kerkgenootskappe naarstigtelik opsoek na die ‘stem’ van die Gees van God en Sy insprake in hul geledere. Hoofstuk 17 van P D le Roux se boek behandel die ontwikkeling van die gees van die mens. Le Roux verklaar dat die mens primêr gees is, wat ’n siel het en in ’n liggaam woon (bl 148). Die funksies van die siel (wil, intellek en emosies) hou by die sterfbed op. Die intellek is afhanklik van die hele breinstelsel. Wanneer die mens sterwe, word die hele brein deur die dood vernietig en keer dit tot stof terug.

Le Roux verduidelik dat die menslike emosies opereer, soos die intellek, ook net tot by die sterfbed. Die emosies word hoofsaaklik deur die wil en die intellek geprikkel. Eers na die wedergeboorte word hulle deur die gees gestimuleer.

Dit is algemeen bekend dat die mens kontak met die materiële wêreld om hom maak deur sy vyf sintuie. Hierdie sintuie hou ook by die dood op en die mens neem afskeid van sy aardse omgewing.

Die gees van die mens wat ewig voortlewe is dié dimensie wat ontwikkel moet word. Die bybel verklaar God is Gees. Die mens is na Sy beeld geskape, en dus primêr gees. Dit is derhalwe van uiterste belang dat die mens in sy verhouding met God sy gees sal ontwikkel (bl 149).

Le Roux meen dat meeste Christene gaan voort op hulle lewenspad en beoefen hulle hele godsdiens byna uitsluitlik op sielsvlak. Die gees word nooit ontwikkel nie. Selfs teologiese en kognitiewe denke en redenasies kan slegs die intellek (siel) voed.

Selfs in pinksterkringe/charismatiese/andere kom ons min Christene teë wat hulle gees ontwikkel, alhoewel die begeerte daar is om Hom in gees deur Gods Gees en waarheid te dien en so bruikbaar te word in die praktiese bedieningsveld (bl150).  

By die wedergeboorte ontwaak die gees van die mens en kom los van die oorheersing van die denke. Die Heilige Gees word ontvang deur die wedergeboorte. Nou kan ontwikkeling plaasvind van die gees. Hierdie pragtige opwekking van die mens se gees deur die Heilige Gees is waarlik soos water in die dorsland.

Hand 1:8 word deur Le Roux voorgehou: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees.” Die mens se gees word met Goddelike krag aangedoen en dit bevry hom van swakhede, vrees, inhibisies en komplekse en bring hom in ’n warme verhouding met God.

Le Roux verduidelik dan ook die gedeelte in 1 Kor 14:14 wat weereens die siel en gees duidelik van mekaar skei. “Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing ...”

Om alles net rasioneel te benader, is soms weinig nut, alhoewel die kognitiewe sy regmatige plek in die siel moet inneem. Maar juis word die logika gesien tot ondersteuning in die begrip van die geestelike, en kan hierdie twee (eintlik drie dimensies, omrede die liggaam sy lippetaal voorsien) op aarde nie geskei word nie. 

In hoofstuk19 beskryf Le Roux die triomf van die mens se gees. Triomf beteken die toppunt van oorwinning. Oorwinning word eers in jou hart gebore voordat dit op die slagveld van die lewe behaal word.

Voorwaar ’n boek wat op enige persoon se boekrak hoort.

Trienie

  • 5

Kommentaar

  • Liewe Trienie,
    Dis nie net gelowiges wat uiters verras sal wees as die Heilige Gees "dikwels onverwags begin saamwerk" nie. 'n Ateis vreet sowaar sy hoed op as dit gebeur.
    Groete
    Angus
  • Liewe Angus,

    Mens kan sien jy het toe nie Dominee se opdrag in sy SMS aan jou uitgevoer en Han 19:2 gelees. Dis die antwoord op jou stelling bo. Natuurlik gedink dit gaan oor blikkieskos vir kategete ...  

    Wonder - het jy ooit 'n hoed?

    Groete

    Trienie

  • Liewe Trienie,

    Nee, ek is nie een van die trop skapies wat maak soos Dominee sê, en dink soos Dominee dink nie. Hy het my al male sonder tal daaroor aangespreek, en belowe ek sal in die hel brand as ek nie dink soos hy dink nie. Dit was vir my snaaks dat Paulus al blikkieskos geken het. 
    Ek besit net 'n spreekwoordelike hoed.
    Groete,
    Angus
  • Goeie Dag Trienie
    Waar kan ek die boek kry en ook ander van PD Le Roux as dit moontlik is?
    Groete
    René

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top