God

  • 0

wie het my die eerste keer geteken
met 'n vals baard van uitgepluiste watte
'n kraag met hare om die kop
soos van 'n kwylbek-idioot in stikland

vir die wêreld gaan vertel
voor julle staan 'n nydige neulgat
wat wanneer oupas by hom in die skuld is
hul kleinkinders se huise omskiet met sy voorvinger
of die see uitklap oor hul strandhuise
soos 'n stout kind in 'n plaspoel

hoekom help dit nie as regisseurs
polities-korrek my beeld poets
my uitbeeld as 'n swartman-in-wit-pak
of as 'n jong meisie in 'n toetoe
wat wawiel voor die katedraal

ek word onthou as die pretverrotter
die oordraaier en die bobeenknyper
van wie se skoot die kinders afspring

wie my die eerste keer geteken
het as die een wat almal afknou
oud en kortgebakerd
gaan ek sonder sy vingernaels
derms geknoop om die strot
duimdrukker teen die doringdraad

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top