God na die beeld van die mens geskape

  • 2

Soos gewoonlik het het Kobus hier maar weer die kat aan sy stert beet. Natuurlik weet almal wat al die Bybel gelees het dat God bestaan, trouens, hy is die hoofkarakter van veral die Ou Testament, maw hy is ’n fiktiewe karakter, ’n skepping van die menslike verbeelding. God is dus eintlik na die beeld van die mens geskape, maar hoe dit ook al sy, God lyk soos die mens en die mens lyk soos God.

Kyk ons na die mensdom om ons, is die ooreenkoms maar al te ooglopend. God van die Bybel se gretigheid om aanbid te word, sien ons weerspieël in die mens. Gedurig word daar gestreef na eer, rykdom, mag en bewondering; ons sal ander besteel en selfs moord pleeg, net om ons doel te bereik. Ja, ons weet almal wat in die tien gebooie staan, maar Moses het nog met die tafels onder sy arm gestaan, toe God hom beveel om sy medemens te laat vermoor. En waarom? Net omdat hy nie na behore vereer en aanbid is nie. Jaloesie is een van die vernaamste karaktereienskappe van die mens.

Danksy hierdie moorddadige God, na wie se beeld ons geskape is, leef ons in ’n verdeelde wêreld. God kom uit die woestyn uit en skep drie gelowe, voorsien hulle van heilige geskrifte sodat hulle verdeel is in miljoene gelowiges en ongelowiges wat mekaar voortdurend soos honde aan die kele beet het. Ja, danksy hierdie God maak dit nie saak aan watter geloof jy behoort nie, jy bly nog steeds ’n ongelowige vir iemand anders. Voorwaar, die mens is na die beeld van God geskape, en êrens sal iemand iemand anders haat. Gewelddadigheid is die taal van die mens en van God. Dit maak nie saak hoe warm die handdruk is nie, en hoe vriendelik ons glimlag nie, agter die diplomasie skuil daar tog maar altyd geweld. Dis maar net ’n weerspieëling van God se barmhartigheid terwyl die Bybel ’n dokumentasie is van al sy moordtogte.

Magtig, hoe blêddie onnosel is ons? Hoe lank gaan die mensdom nog vasklou aan hierdie onnosel sisteem van ’n onnosel, fascistiese god wat soos dooie gewig aan ons bene hang en ons martel? Hierdie stuk gefossileerde denke wat ons religie noem wat ons daagliks vasketting, is natuurlik ons eie skuld want dit is óns wat God geskep het. Ons arme klomp bygelowiges het nog nie agtergekom dat sonder ’n god is beter as met ’n god nie.

So van naderby beskou, wil dit nie lyk of ek na die beeld van god geskape is nie. Ek steel nie, ek moor nie, ek haat nie my medemens nie, ek suip my nie dronk nie, en ek is mal oor ’n varktjoppie so op die kole. Bowe al, ek is heel sigbaar. Ek hoop van harte ek stam van ape af en nie van ’n bebloede ribbebeen en ’n hopie vullis nie.

Groete
Angus

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Francois van Wyk

    Hoekom hoop jy jy stam van ape af Angus? Is jy dan onseker oor die ewolusieteorie (Ek speel net duiwelsadvokaat).

  • Die kreasionis verstaan onder 'evolusie' dat die mens van ape afstam. Dit is sover hulle kennis strek, want dit het hulle dominees vir hulle geleer. Dit is ook hoe ver die dominees se kennis strek vanuit hulle studeerkamers. Ek verkies om liewer van ape af te stam as om na die beeld van God geskape te wees, want dan was ek jaloers, moorddadig, wreedaardig, soos God van die Bybel.

    Niemand is "seker" van die evolusieteorie nie. Dis ’n model waarvolgens wetenskaplikes werk, en gedurig is hulle besig om dit verkeerd te probeer bewys. Anders as wat in die Bybel staan, nl dat Adam van ’n hopie vullis gemaak is en Eva van sy ribbebeen. Niemand probeer dit falsifieer nie, want dis ’n mite.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top