Dit is op ’n aweregse manier goed dat die agnostici hulle uitlaat oor sake van Godsdiens, ja, selfs oor God. Op dié manier kan mens sien wat in hul binneste aangaan oor dié kwessie, maar dit is meestal ’n ontstellende gesig – die onbegrip en onsin wat hulle in hul binneste daaromtrent rondwoel, is verstommend.
Nou weer Angus. Hy vra die onsinnige vraag “As ons na God se beeld geskape is, waarom is ons nie ook onsigbaar nie? … Dan wonder ’n mens: hoe lyk God nou eintlik?” Nou ja, daar is twee aspekte wat gou-gou aandag kry met dié kwelling van Angus. Die eerste is dat hy oral ontken dat die Godheid bestaan. Angus is bekend daarvoor. Tóg wonder hy en dít op sy eie erkenning, hoe lyk God nou eintlik? Nou ja, as mens werklik sou glo dat God nie bestaan nie, waarom sou mens dan wou weet, selfs wonder, hoe dié “onbestaande” sou lyk? Wondermens oor iets wat nie bestaan nie? Natuurlik nie. Maar Angus wonder hoe God sou lyk… wat net maar weereens daarop wys watter ontsettende stryd dié arme mense in hul binneste voer – daardie tweestryd – aan die eenkant wéét hulle God bestaan, maar, soos die bekende ateïstiese geesteswetenskaplike (filosofie en regte) Thomas Nagel by geleentheid opreg erken het, hulle wíl nie hê dat God moet bestaan nie. Nou probeer die stomme mense God wegwens en wegredeneer met allerlei fabelagtige teorieë en konstrukte – als deel van daardie selfdesepsie sindroom.
Die ander aspek is die welbekende en goed deurtrapte kwessie van die “beeld van God”. Nou wonder die arme ateïstiese mens, waarom is mens dan nie ook onsigbaar nie? Magtig, wat ’n vraag!
Wat nog heeltyd gesê word, is dat die mens se fisiese hoedanigheid maar ’n geringe deel is van die hele menslike wese, bestaande uit gees, siel (beide onsienlik) en natuurlik liggaam. Die grootste deel van die menslike wese ís inderdaad onsigbaar! Bowendien toon dié mens-geskapene Spiritueel baie ooreenkomste met God (1 Korinthiërs 6:19). Die liggaam huisves bloot die gees en siel, is ast’ware die “earth suit”, soos die welbekende evangelis Creflo Dollar al by geleentheid na die liggaam verwys het, wat ons in staat stel om op aarde te floreer solank ons hier lewe, en ons weet dat daar bevestiging hiervan in die Woord is – in 2 Korinthiërs 5:4 word na die liggaam as ’n “tent” (soos in tabernakel) verwys, om die liggaamlike funksie as huisvesting van siel en gees, te demonstreer. Sien gerus ook Genesis 2:7; Job 33:4; Jesaja 42:5; Mattheus 10:28; Romeine 8:11 en Filippense 3:21. Die fisiese liggaam word dikwels gebruik vir Spirituele doeleindes (Mattheus 6:22-23 – twyfel of agnostici dít sal kan begryp…)
Die kwessie is dít – as die agnostici geweet het wat aangaan, sou hulle gelowiges gewees het. Maar meeste van hulle, meen ek, wíl nie weet wat aangaan nie – hulle sien, onder meer, nie kans vir die verantwoordelikheid om uiteindelik aan die Skepper verantwoording te moet doen, nie. Dus is hulle filosofie en desepsie sindroom gebou op ’n fondasie van vrees. As hulle maar net kon besef hóé genadig God is en as hulle maar net kon besef van watter lewensbelangrike belang, vergiffenis is – nie net vir ander nie, maar ook vir hulself, sou hulle nie só erg teen die prikkels probeer skop het, nie.
Dan wil dit voorkom of Angus óf vordering maak om afstand te doen van sy evolusie fabel, óf hy beleef momenteel ’n lucidum intervallum, ’n helder oomblik – hy ontken dat die evolusieteorie sê dat mense van ape afstam!? Nou ja, hy het tred verloor met die evolusie teorie óók, want in ’n neutedop sê dié teorie só:
Naamlik, dat die mens afstam van die aap hominiede en dat ou Angus se familie, die Gibbon ape, gorillas, sjimpansees en orangoetangs in die bome rondswaai in Wes-Afrika en die oerwoude van Borneo. Natuurlik in jou plaaslike dieretuin hokke óók.
Maar lyk my hulle is nou ou Angus se gewese familie, want smaak my, so met sy ontkenning, dat hy alle bande wil verbreek! Nou ja, dit sal maar sekerlik net tot sy voordeel strek. Wys jou – waar daar lewe is, is daar hoop.
Groete,
Kobus de Klerk

