Göbekli Tepe – die Wieg van die Geloof?

  • 1

Interessant is die bevindings van wetenskaplikes wat navorsing doen op die argeologiese terrein – Göbekli Tepe in Turkye – waar opgrawings tekens van die oudste beskawing nog gevind, blootlê.

Bewyse dui daarop dat die terrein terugdateer tot 13 000 vC.  Dis ouer as die Sumeriese kleitablette wat die eerste skrif bevat en wat dateer uit 3 300 vC, is ouer as die piramides in Egipte en ook 7 000 jaar ouer as Stonehenge.

Alles dui daarop dat die terrein slegs gebruik is as ’n plek van aanbidding (duisende  stukke en gefragmenteerde bene van wilde diere, meestal wildsbokke, getuig hiervan) en dat niemand op die terrein gewoon het nie, maar daarheen gegaan het vir rituele – die eerste mensgemaakte “heilige plek” dus. Verder is daar tekens dat daar begin is om nader aan die “heilige plek” gevestig te raak en sodoende is gemeenskappies gevorm waarby ander aangesluit het, soos aangedui word deur eenderse potskerwe wat sover as 150 km daarvandaan in opgrawingsterreine waar mense gewoon het, gevind is.

Dan is daar die ontdekking dat oorledenes se koppe (waar die onsterflike siel gesetel is) van die liggaam (wat vergaan) geskei en apart saam met ander se koppe in ’n soort klipkluis bewaar is. Dit dui op die skeiding van siel en liggaam en ’n geloof in die lewe na die dood – en ’n terugkeer na die lewe.

Die gemeenskapsvorming het aanleiding gegee tot landbou om noodsaaklike lewensmiddele byderhand te hê – geloof het dus landbou te voorskyn gebring!

Hoekom is daar sedert die vroegste tye by die mens ’n versugting tot geloof? Alle gelowe getuig van ’n Opperwese.

Raed-na-Gael

  • 1

Kommentaar

  • Margaret Cordier
    Margaret Cordier

    Dankie vir hierdie interessante bydrae.
    Volgens studies, navorsing en opgrawings dui dit daarop dat Mesopotamië moontlik die wieg van die eerste mense was. Die tuin van Eden was moontlik tussen die Tigris en die Eufraat.
    Hedendaagse Turkye.
    Ek het ook op my beperkte manier daaroor gelees en toe twee gedigte daaroor geskryf, omdat dit so ryk is aan geskiedenis en gewoontes en dus leen tot wonderlike beeldspraak en "vergelykenisse."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top