Biebouw-resensie: Glipstroom deur Anemari Jansen

  • 0

Titel: Glipstroom
Samesteller: Anemari Jansen
Uitgewer: NB Uitgewers
ISBN: 9780798166263

Koop Glipstroom by Kalahari.com

Glipstroom is Anemari Jansen se debuutroman. Die titelwoord word op bl 234 geaktiveer: “Ek leef in die glipstroom van verlede jaar. Alles wat toe gebeur het, beïnvloed my lewe nou.”

Die 38 hoofstukke in die roman is om die beurt “Kavango”, “Soutpansberg”, “Kavango”, “Soutpansberg” en so meer getitel om die anachronistiese spel met tyd in die verhaallyn te belig.

Reeds in die begin van die roman word daar nie doekies omgedraai met die harde manswêreld waarin die hoofkarakter, Maja, haar bevind nie. Op bl 7 sê Seun: “Survival of the fittest”, en Maja en haar man, Louis, ’n siviele ingenieur, land op ’n lughawe naby Rundu.

Louis is ’n projekbestuurder van ’n padbouprojek in die noordelike uithoeke van Namibië, waar die voormalige Bosoorlog gevoer is. Maja pas langsaam en moeilik aan in dié ongerepte wêreld waardeur die Caprivi loop, en die dertig ander padkampinwoners bied weinig troos en afleiding.

Sy ontmoet die kunstenaar Lem, wat, in teenstelling met Louis, emosioneel tot haar spreek en haar bewus maak van onvervulde begeerte. Hy skilder die een ná die ander reusedoek van Maja, en deur naak vir hom te poseer, vind sy ontvlugting van ’n stagnante bestaan en ’n huweliksverhouding waarin sy haar toenemend vervreem voel van Louis. Op sy beurt sukkel Louis met die verwerking van posttraumatiese stres waaraan hy ly as gevolg van sy werk as lid van die SAP se onluste-eenheid op die Grens.

Die verhaal ontbreek deurgaans momentum, maar op bl 232 versnel gebeure as ’n padkamp-opstand ’n werknemer, Thabiso, se lewe eis. Louis herleef weer grusame terugflitse as lid van Eenheid 6, waar hy betrokke was by onlustebeheer en huispenetrasies. Kommunikasie tussen hom en Maja vertroebel.

Glipstroom is ’n roman wat aandag gee aan die stipkyk van die oomblik. Die fokalisering is vroulik en sensueel, die stoffering  is outentiek en die dokumentering van die gebeure  werklikheidsgetrou.

“Ons sluit nooit die voordeur nie. En hier is miljoene muskiete. En mans net waar jy kyk.” Die lyn suis. “Dis eintlik mooi hier. Rooigrond en groen in die reënseisoen. Uitgestrekte pleine en mahangulanderye net waar jy kyk.” (44)

Die fyn waarneming maak enersyds van die roman ’n leesplesier; andersyds word daar soms te veel aandag gegee aan besonderhede wat óf irrelevant is, óf by herhaling aan die leser opgedis word. In hoofstuk 26 bewys Jansen dat sy haar storie ken as waarnemer van grutonele nadat Colette Meyer wraak geneem het en die weerloosheid van ’n sterwende hond meedoënloos maar ook sensitief geskets word.

Soms verras die roman met die vlugtige herhaling van oomblikke wat simbolies blyk te wees, byvoorbeeld die verwysing na die Sitatunga (’n boksoort) (18), teenoor Lem se siening van Maja as ’n estetiese bokkie. Ook die vele fasette van die Okavangorivier  word ontgin, byvoorbeeld “drifwater” (18) (angs, onsuiwerheid), “glipstroom” (234) (miskraam, verwarring) en haar en Lem se swem in die Popa-waterval (285) (bevryding).

Eindelik word die “glipstroom” (simboliese vrugwater) dan die aflegging van gevoelens van rou en verlies nadat Maja ’n miskraam gehad het. Die glipstroom wat haar liggaam verlaat het, word deel van die siklusse van lewe en dood in die oorgawe aan die groot Okavangorivier wanneer sy en Lem eindelik besef dat hulle liefde bestem is om te wees.

Lem bied Maja nuwe insig met betrekking tot selfverwesenliking, verlange en die onvervulbaarheid van begeerte. Sy besef dat verlange altyd haar metgesel sal wees. Op bl 283 word die ngomas se tromme ook die hipnotiese ritme wat háár betower, en verlange en stories oor geboorte en dood wek by haar die besef dat hunkering, as universele  gegewe, die kompas is wat ’n soekende en skeppende kunstenaar rig. Die verhaal eindig met ’n oop slot – en die ambivalente keuse: Gaan Maja na haar hart luister en vir Lem Suid-Amerika toe volg, of gaan sy by Louis bly?

Glipstroom is ’n bevredigende debuut. Dit is ’n roman wat stadig beweeg, introspeksie doen van vrouwees en fokus op die besinning en subtiele belewenis van die oomblik.
Glipstroom is ook as e-boek verkrygbaar.   

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top