Glenstantia Leeskring: Geskiedenis en hoogtepunte

  • 1

Ons is die Glenstantia Leeskring, is verbonde aan die Glenstantia Gemeenskapsbiblioteek en bestaan reeds sowat 25 jaar, hoewel die jaarlikse verslagdoening net sedert 2008 plaasvind. Die Glenstantia Leeskring kom maandeliks in die biblioteek byeen en het tans 16 lede.

Jaarliks bied die leeskringe in en om Pretoria ’n gesamentlike byeenkoms aan en ons leeskring het dit in 2016 gedoen toe die skrywer Dominique Botha in gesprek was met Thys Human oor haar bekroonde debuutroman, Valsrivier.

Dominique Botha in gesprek met Thys Human oor haar bekroonde debuutroman Valsrivier

Die digter Eunice Basson het in 2017 by ’n leeskringbyeenkoms voorgelees uit haar debuutbundel Leiboom, wat in 2015 op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys was, en ook verduidelik van die ontstaan van sommige van die gedigte.

Nog ’n besonderse ervaring in dieselfde jaar was die besoek van die skrywer Brenda Shepherd, wat haar roman Men of the Mendi kom bespreek het.

Brenda Shepherd en haar man George van der Merwe

Elkarien Fourie, ’n gewese lid van die Glenstantia Leeskring, het onderhoudend kom gesels oor haar joernaal, Vat jou hele hart: Kom saam na die Middelkoninkryk, wat veral handel oor haar ervarings as onder andere onderwyseres in die Volksrepubliek China.

Elkarien Fourie

Van die hoogtepunte van 2018 was Annemari Coetser se besoek toe sy uitvoerig gesels het oor haar historiese roman Alles begin met Anna, wat eintlik berus op navorsing oor haar familiegeskiedenis. Omdat LitNet ons jaarprogram geplaas het, het haar kleinniggie, Sus Joubert, vir wie sy nog nooit vantevore ontmoet het nie, gehoor van die bespreking en kon hulle mekaar vir die eerste keer by die geleentheid ontmoet. (Die karakter Anna van der Walt, ouma van die skrywer, se moeder is by die geboorte van ’n babaseuntjie oorlede en die babaseuntjie is deur ’n familielid aangeneem, hoewel hy sy eie van behou het: hy was Sus se oupa en dus ’n grootoom van die skrywer.)

Annemari Coetser (middel), haar kleiniggie Sus Joubert (links) en kleindogter Donné (regs).

Carina Stander sien ook die program op LitNet en dat haar Bergengel bespreek gaan word. Sy tree in verbinding met die leeskring en met Karien Mostert, wat die bespreking behartig, en gee skakels en ander inligting wat waarborg dat dit ’n besonder omvattende en sensitiewe bespreking kan word.

Boeke, en die wêreld wat lees skep, word in hierdie klein leeskring na waarde geskat.

  • 1

Kommentaar

  • Roline Hepburn

    Interessante (her)ontmoeting met Elkarien Fourie wat ek sedert skooldae ken. Gedeelde lewenservarings in die joernalistiek en China. Die wêreld is klein.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top