Glaskas: verganklik en afhanklik

  • 0

Die rockgroep Glaskas het onlangs ’n nuwe album, Verganklik en afhanklik, vrygestel. Deon Meiring, hoofsanger en liedjieskrywer van die groep, beantwoord ’n paar vrae.

Klik hier om Verganklik en afhanklik te koop by Kalahari.com.

Hallo, Deon. Hoe's dinge?

Dit gaan goed dankie. Soos jy kan dink – exciting tye hierdie kant met die nuwe vrystelling, en van Donderdag [19 Julie] af het ons die pad behoorlik getref, en toer is altyd lekker, so dis cool. Hoe's dinge daar?

Dit gaan heel kief hierdie kant, dankie. Hoe lank is die toer? Waar gaan julle oral aandoen?

Dis nie heeltemal die tipe toer waar ons wegry en konstant net gig nie. Maar ons is besig tot so einde September omtrent. Ons gaan lekker wyd. Verlede week was dit Bloem en Upington. Dan maak ons later ’n lekker draai in die Wes-Kaap, Limpopo, Mpumalanga en die Oos-Kaap. Natuurlik kan ons ook nie Gauteng ignoreer nie. 🙂

Is julle amped om die nuwe materiaal op gehore uit te toets, of speel julle die nuwe tunes al lank live?

Nee, ons doen nog nie al die nuwe liedjies vir lank al nie. Ons gaan ’n hele paar van hulle nou vir die eerste keer doen – so dis beide scary en opwindend. Maar ons voel altyd die stage is die beste plek om nuwe dinge vas te lê, so ons moet nou maar inspring en dit doen.

Foto: Eduan Kitching

Vertel my bietjie van die nuwe tunes. Ek het die album nou al ’n slag of wat deurgeluister en ek kan hoor julle het ’n paar nuwe dinge probeer, hoewel die klank steeds beslis Glaskas s’n is. Hoe het julle dit benader – wou julle nuwe grense toets, of wou julle stick by wat werk?

Seker maar ’n bietjie van al twee. Dis vir ons belangrik om sover moontlik nie eentonig te bly nie, maar dit maak ook sin om nie onnodig te veel te vergeet waar ons vandaan kom nie. Op die ou end wil ons kan sê ons is tevrede met elke liedjie as geheel. So dit begin vir ons by die rou liedjies wat moet sterk wees en dan kyk ons saam met die producers wat ons dink by die liedjies sal pas. ’n Liedjie en ’n album kan dalk vergelyk word met ’n padkaart – jy kan baie goed kies oor hoe jy wil ry en of dit grondpad of teer gaan wees, maar mens moet ook probeer om nie te ver van koers af te dwaal nie, anders gaan jy dalk jou bestemming heeltemal mis. “Bestemming” in dié geval sal wees dit wat die liedjie uiteindelik bedoel is om te sê.

As ’n mens na die album luister, en veral na die akkoordstrukture en -progressies, voel dit soms of die liedjies inmekaarvloei; met ander woorde, in sommige opsigte kan dit eintlik een moerse lang liedjie wees. In sommige gevalle kan dit baie geslaagd wees, soos met Green Day se 21st Century Breakdown. In ander gevalle loop ’n mens, soos jy noem, die gevaar van eentonigheid. Is daar vir jou ’n goue draad wat deur die album loop in terme van hoe die liedjies op mekaar volg en hoe dit inpas by mekaar?

Wel, die liedjies is nooit spesifiek saam geskryf om doelbewus op mekaar te volg nie. As ek moet dink wat bydra tot die progressies ensovoorts waarna jy verwys, is dit waarskynlik goed soos sleutels waarin ek gemaklik skryf omdat ek gemaklik daarin sing, die feit dat ek alles (buiten covers) skryf, en dalk die feit dat ek glo mense neig nogal daarna om goed in stories te verstaan. Daarmee bedoel ek die meeste mense sal waarskynlik maklik na hulle lewe verwys as hulle "storie". Die liedjies (selfs die cover song) kom natuurlik almal uit mý "storie" en dus is dit onvermydelik dat hulle met mekaar in gesprek is. Oor eentonigheid ... dit sal grootliks van smaak afhang. Ek het al doelbewus liedjies uitgelaat omdat ek gevoel het hulle is net bietjie te lukraak, want eenheid is ook, soos jy verwys, iets wat ’n album goed kan anker. Ons hoop maar om die balans te handhaaf sover as wat ons oordeel ons toelaat.

Jy sê die tunes kom uit jou "storie" uit ... Ek neem dus aan dit handel oor dinge, gedagtes, gevoelens ensovoorts wat vir jou belangrik, relevant en interessant is. Skryf jy met ’n gehoor of aanhang in gedagte, in terme van wat hulle sal “snap” oor wat jy probeer sê en nie? Moet ’n mens lirieke doelbewus toeganklik hou, of is dit belangriker om net voort te skryf en nie bekommerd te wees oor of mense gaan wil saamsing of nie?

Dis vir my moeiliker om te skryf oor goed waarmee ek nie bekend is of waarin ek nie belangstel nie, so ek doen dit meestal. Vandat ek besef het ons het ’n gehoor (want daar was natuurlik nie altyd een nie, of dalk net ’n denkbeeldige een om mee te begin), skryf ek met die gehoor in gedagte. Ek vind dit moeilik om onbewus te wees daarvan dat iemand eendag dalk na die liedjies gaan luister. Snaaks genoeg kan mens in elk geval nie juis kies wie uiteindelik luister nie, so dis seker ’n bietjie van ’n arbitrêre idee. Tog dink ek ook nie dit help my om te hard te probeer om alles in ’n liedjie uit te spel nie, want selfs vir my, as ek musiek luister, dink ek nie ek onttrek betekenis sonder om dit in konteks te sit met wat vir my reeds relevant is nie. Dis juis vir my ’n mooi eienskap van musiek (en ander kunsvorme). So ek hoop om verstaan te word, maar ek geniet dit dikwels om betekenisvol "gewaninterpreteer" te word ook.

Gepraat van waninterpretasie: daar's ’n paar idees wat ’n paar keer in die album verskyn – vergifnis, vrede, gebede, "iets wat die moeite werd is om in te glo". Luister ’n mens verkeerd as jy ’n mate van ’n gospel-/Christen-boodskap optel, of kom dit eerder van ’n plek van groei (dit is immers ’n nuwe album) en ''rustig word''?

Wel, ek sou die woord “gospel” vermy – ter wille van genre-verwarring, aangesien mense “gospel” maklik aan ’n spesifieke klank koppel, en ook gewoond is daaraan dat gospel-liedjies ’n les uitspel of ’n beginsel bevestig. Christelike temas? Ek kan definitief sê dat sommige van daai goed vanuit my geloofsienings kom (wat Christelik is). Ek glo maar net nie dis al manier om dit te sien nie. As ek byvoorbeeld praat van "iets wat die moeite werd is om te glo", het ek met die skryf regtig nie gedink aan ’n god/geloofsoortuiging nie, maar letterlik die dinge waarmee ek myself besig hou op ’n daaglikse basis.

Die temas van vergifnis, vrede en gebede – dit is wel goed wat in my lewe vir my belangrik is, en wat veral vanuit my Christelike agtergrond kom. Tog moet ek onderstreep dat ek nie verwag dat die liedjies gaan preek vir mense nie en dat ek glo daardie temas is in elk geval nie noodwendig net belangrik vir Christene nie. Selfs gebede wat in hierdie geval verwys na daai "rustig word", is iets wat nie net kom vanuit ’n spesifieke geloofsoortuiging nie. Soek almal nie maar soms ’n rustigheid en ’n vrede om na terug te keer nie? En dit is nie uitsluitlik "transendentaal" (is daai ’n woord?) nie. Dit is juis deesdae ook vir my die eenvoudige en tasbare wat belangrik is en waaroor ek skryf. Só – jammer vir die lang antwoord, en vir ingeval dit nie vir jou klaarheid gee nie, probeer ek dit opsom: alhoewel ek weet my geloofsoortuigings syfer deur in wat ek skryf, is dit belangrik vir iemand wat daarna luister om te onthou dat dit deursyfer saam met talle ander goed ook en dus nie uitsluitlik as liedjies oor geloof (of "romantiese liefde" of "politiek" ens) gesien behoort te word nie.

Jy is ook betrokke by die komiese groep Dans Dans Lisa. Hoe balanseer jy jou werk met die twee groepe? Watter groep vat die meeste van jou tyd? Hoe maak jy die "switch" om meer ernstige musiek vir Glaskas te skryf en dan oor te slaan na die meer absurde lirieke vir Dans Dans Lisa?

Die feit dat Dans Dans Lisa soveel anders as Glaskas is, is juis wat my help om dit te balanseer. Die twee bied lekker afleiding van mekaar. Glaskas vat beslis die meeste van my tyd. Alhoewel DDL ook vir ons belangrik is, het ons dit juis nie gestig met die doel dat dit baie energie moet neem nie. Om die "switch" te maak is minder van ’n switch as wat dit maar net iets is wat self gebeur. Mens is soms in ’n meer ligsinnige bui, so dan is dit makliker om so te skryf. Ek dink ook die feit dat Glaskas elektriese fokus en DDL akoesties is, help mens om verskillend te dink wanneer mens met elkeen besig is.

Ek sien ... Ek neem egter aan dat jy ook dink en/of hoop dat albei groepe ’n lang rakleeftyd sal beleef. Wat is belangrik vir ’n rockgroep om vir ’n lang tydperk relevant en interessant te bly, ook in terme van groei wat die musiek betref? Hoe hoop jy om dit met Glaskas te bereik?

Vanuit ’n sekere oogpunt het ons dit reggekry om al vir ’n redelik lang tyd met Glaskas aan die gang te bly. Jy's reg as jy sê ek hoop vir ’n lang rakleeftyd. Soos daai Malcolm Gladwell sê: baie sukses het met tydsberekening en selfs toeval te doen. Ons speel byvoorbeeld nog ons heel eerste single by shows en mense sing steeds saam ten spyte daarvan dat die liedjie al vir lank nie meer baie op radio en TV gehoor word nie. Hoekom? Ek weet nie, want daar is mos nie ’n resep vir liedjies nie. Ons het nog altyd gehoop dat ons musiek skryf wat nie bloot treffers is met ’n kort leeftyd nie, maar liedjies is met betekenis wat kan hou. Kry ons dit reg? Partykeer, partykeer nie. Ons hoop om dit reg te kry deur musiek te maak wat vir mense iets kan beteken, maar wat betekenisvol vir ander is, is uiteindelik maar buite ons beheer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top