Glaskas spog met nuwe CD en musiekvideo

  • 0

Glaskas het pas die eerste musiekvideo vir Menslik uitgereik. Hulle gesels met Steyn du Toit oor wat aanhangers van die nuwe CD, Verganklik en afhanklik, kan verwag.

Hoe is 2012 sover vir Glaskas? Waarmee is julle besig?

2012 is baie opwindend sover. Ons was tot dusver druk besig om te werk om ons nuwe album klaar te kry en ons is baie opgewonde om hom nou uit te reik en nuwe songs in ons live shows by te werk.

Julle het pas die eerste musiekvideo vir “Menslik” uitgereik – vertel ons bietjie meer oor die song en die video-konsep?

Die liedjie gaan oor iets wat die meeste mense waarskynlik een of ander tyd ervaar, waar jy as gevolg van jou tekortkominge jouself en ander net wil herinner dat ons almal menslik is. Dit verwys ook veral na hoe mens dikwels oplossings en goeie dinge wat reg voor jou is, kan miskyk in die strewe na iets "beter", terwyl die werklikheid om jou dalk juis die beste plek is. So in die video beeld ons 'n denkbeeldige wêreld uit waar ons instrumente toegedraai in lappe hang. Dit vervreem ons bietjie van die instrumente en ons is ook buitengewoon aangetrek. Uiteindelik besluit ons om net die instrumente oop te sny en op hulle te speel, sommer so met die geskeurde lappe wat so hang, om hierdie sogenaamde vreemde werklikheid te omhels ten spyte van die ongemak wat dit meebring.

Dis ook die eerste single vanaf julle nuwe album. Wat is sy titel en waar het julle hom opgeneem?

Die nuwe album se naam is Verganklik en afhanklik en ons het dit opgeneem by Lightstain in Potchefstroom.

Musikaal, hoe verskil hy van julle vorige albums?

Alhoewel ons al voorheen 'n punk-rock band genoem is, was dit nog nooit uitsluitlik die geval nie. Ons al drie geniet egter 'n punk-invloed in ons musiek en ons het besluit om meer van daarvan in die nuwe album te gebruik. Dit het uiteindelik gelei tot 'n bietjie vinniger tempo as voorheen en heelwat energie. Dis ook die eerste keer dat ons werk saam met Ewald Jansen van Rensburg en Francois de Klerk van Lightstain - en dus speel die nuwe produksiespan ook 'n groot rol om 'n nuwe klank te kry.

Waar gig julle oor die volgende paar maande? Waar kan ons julle bewegings volg?

Die beste is om te kyk wat op ons Facebook en Twitter aangaan. Ons beplan om in die volgende paar maande heelwat te toer regoor die land om die album bekend te stel. Datums is nog nie 100% vas nie - so ons raai mense aan om maar gereeld te kyk op ons sosiale-media-platforms om te sien wanneer ons naby hulle 'n draai gaan maak.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top