Glaskas maak musiekvideo vir nuwe jeugboek

  • 0

  • Ruimtewesens.
  • ’n Weermagkamp iewers in die hartjie van Suid-Afrika.
  • Hope geheime.
  • En ’n bekende Afrikaanse rockgroep.

Om die verskyning van die laaste naelbyt-avontuur in Fanie Viljoen se Nova-wetenskapfiksiereeks te vier, het die gewilde groep Glaskas pas ’n liedjie getiteld “Nova” vrygestel.

Die musiek en lirieke is geïnspireer deur Viljoen se reeks vir tienerlesers, waarvan bykans 25 000 kopieë reeds verkoop is. Die boeke volg die avonture van Lucas Niemand, wie se lewe onherroeplik verander nadat hy een nag ’n vreemde vlieënde voorwerp in die naghemel naby die weermagdorpie Nova gewaar.

In Nova: Eindspel, die laaste boek in die reeks, word al die raaisels opgelos en moet Lucas finaal baklei teen die donker magte uit die buitenste ruim wat dreig om die aarde oor te neem.

Deon Meiring, hoofsanger van Glaskas, sê hy het dit baie geniet om die Nova-reeks te lees en, hoewel hy nie noodwendig in allerlei samesweringsteorieë glo nie, het die idee van wesens uit die buitenste ruim hom nog altyd gefassineer. Die woorde Eendag sal ons verstaan, wat in die boek die amptelike leuse van die fiktiewe Nova-weermageenheid is, was volgens Deon ’n lekker “handvatsel” wat hy gebruik het om die liedjie te skryf.

“Ek skryf al van ek kan onthou juis oor goed wat ek nie kan verstaan nie. Daardie ooglopend eenvoudige reël vang vir my iets vas van menswees en ons hoop om sin te maak van ons lewens. Dis waarskynlik die enigste lirieke wat eksplisiet met die boek kommunikeer. Die res is alles maniere hoe ek my eie ervaringe en gedagtes met temas en idees in die boek vergelyk. Ek het dit gedoen om juis die afstand tussen my en die boek ’n bietjie kleiner en meer opreg te maak.”

Eendag sal ons uitvind, eendag sal ons verstaan ...
Eendag sal ons uitvind, eendag sal ons verstaan ...
Eendag sal ons uitvind, eendag sal ons verstaan ...


Titel: Nova: Eindspel
Skrywer: Fanie Viljoen
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799366617

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top