Gladnietrap

  • 6

Vroeg vandeesweek het ek amper heeltemal moed verloor. Een van RSG (Radio Sonder Gemoedsbekakking) se flinkdinkers fluister in ons ore dat ons té negatief is en ons nie moet steur aan die dinge wat op die internet verkondig word nie.

Toe ek myself uiteindelik gelawe gekry het met ’n fris glas OBS, daardie tyd van die dag, besef ek dat sy in André P Brink-terminologie ’n kreef is. En dít moes ek nie gedink het nie. Deesdae lei een negatiewe gedagte na ’n ander – mens kan net nie wegkom daarvan nie.

Ek sit nou al weke lank en nadink oor hoe ek hierdie spesifieke negatiewe gedagte moet aanroer. Elke keer wat ek myself qwertywaarts wend, kry ek koue voete. Ek soek na iets om oor te lag en vind zilch. Ná ’n foongesprek met my neef in die Kaap het ek besef ek sal maar móét skryf daaroor. Hy was getroffe deur die biblioteekdiens se rekenaarstelsel wat opgepak het en hom lank in die arms van TV gedryf het.

Hier is die aansluitingspunt: Marné Pienaar se bespreking in Rapport middel-Februarie van Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik (onder redaksie van Karen de Wet) en Kerneels Breytenbach s’n daarvan op LitNet.

Hierdie twee resensies is vir my die waterskeidingsoomblik. Die Afrikaanse letterkunde (en kultuur) is baie diep in die moeilikheid. Die kanse is baie goed dat toekomstige lesers van Afrikaans hul in die posisie sal bevind waar die grootste deel van die Afrikaanse literêre korpus, feitlik alles wat voor die digitale era verskyn het in papiervorm, nie beskikbaar is om gelees te word nie.

Boeke24 het die boek nog nie laat resenseer nie. Ek wonder hoekom nie.

Bid jou aan: Die enigste bewyse dat daar ’n vroeëre letterkunde was, is verwysings daarna in JC Kannemeyer se Literatuurgeskiedenis of in Nienaber en Van Coller se Perspektief en Profiel. As hulle nog iewers in biblioteke te vinde is, want hulle is nie digitaal beskikbaar nie. Nes André P Brink se Die kreef raak gewoond daaraan.

Ter ondersteuning van die biblioteekdienste wat nog baie hard probeer om ’n diens te lewer, moet ek toegee dat die toekoms van ons letterkunde sekerlik nie uitsluitend vir hul rekening is nie. Hulle is afhanklik van politieke besluitnemers.

Maar ons weet mos alte goed in watse gemors politieke besluitnemers die land laat beland het. In alle tale.

So, kom ons beskou Pienaar en Breytenbach se resensies as gelees.

Wat die lug uit al vier my bande gehaal het, is die groot stilte wat daarop gevolg het. Geen verklarings deur uitgewers van Afrikaanse boeke (NB-Uitgewers, Jonathan Ball Publishers, Protea Boekhuis, Umuzi, LAPA, PenguinRandomHouse, Naledi, Litera) oor hoe hulle digitalisering van reeds gepubliseerde werke benader nie. Geen reaksie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, hul Letterkundige Kommissie, die FAK en so meer nie. Geen reaksie van die kundiges verbonde aan Afrikaans-departemente aan ons universiteite nie.

Geen reaksie uit skrywersgeledere nie. PEN Afrikaans swyg.

Die twee teenswoordige redakteurs van Media24 se boekeblaaie, Johan van Zyl en Jo Prins, het nie gedink dis belangrik om saam te praat, self iets te sê, oor die vergetelheid waarin Afrikaanse boeke van die 20ste eeu verdwyn nie. Vrye Weekblad was stumm. Maroela Media sal seker eers aanstaande jaar kennis neem. Van RSG in die breë verwag ek niks. Hul een vaandeldraer vir hogere kultuur is Ilse Salzwedel. Haar gespreksgenote in Skrywers en boeke het al bekommerde geluide gemaak, maar nie hieroor nie.

Mens sou moontlik kon beweer dat die transformasie van Suid-Afrika sedert Februarie 1990 verantwoordelik is vir die manier waarop Afrikaanse kultuur soetjiestrap verfyn het tot gladnietrap, en dat mens maar te dankbaar moet wees vir die manier waarop werke wat oorspronklik in papiervorm verskyn het, wel ’n digitale herlewing gehad het.

Brink, Leroux, Joubert, Matthee, ’n stewige lys.

Breyten Breytenbach se vroeë publikasies, tesame met soveel ander skrywers se publikasies van die jare negentig, tagtig en vroeër is egter nog nie gedigitaliseer nie. Van Wyk Louw, Eybers, Walters, Aletta Lubbe, PJ Schoeman, FA Venter, CM van den Heever, Totius, Leipoldt, Bartho Smit, Henriëtte Grové, Dolf van Niekerk, Karel Schoeman se minder bekende werk, asook al sy geskiedskrywings, Wilma Stockenström se vroeë romans … Ek raak net meer terneergedruk as ek begin lyste maak, Kannemeyer in die hand.

Is daar geen vraag na sulke boeke nie? Is die Afrikaanse leeskultuur dood?

Boeke24 het vandeesweek ’n pragtige resensie geplaas deur Marni Bonthuys oor E (Sussie) Kotzé se nuwe roman, Hulle noem haar Carminda. Ek is verheug oor nog ’n akademikus wat haar weer tot die skryf van resensies wend, en dit doen met só ’n stylvol beredeneerde beskouing.

Maar omdat ek op die oomblik in terme van oeuvres dink, het ek gaan kyk hoe die skrywer wat deur Bonthuys beskryf word as “die Dalene Matthee van die Weskus-verhaal”, dit met digitale aanbod getref het. Hulle noem haar Carminda  asook Soetloop, Hoogty, Toring se baai is saam met die skitterende kortverhaalkeur Diepsee digitaal beskikbaar. Die titels wat uit druk is en gedoem is om net in biblioteke, uhm, beskikbaar te bly, is Silt van die aarde, Die slag van die breekbrander, Halfkrone vir die nagmaal, Halwe hemel en Die wind staan oos.

Wat gaan van daardie titels word? En die “vergete” werke van ander skrywers? Gaan ons die werk van vorige geslagte van skrywers, uitgewers en akademici maar laat gaan?

My man sê nou weet ek presies hoe die Blou Bulle van die jare negentig voel. Ja, ek is bevrees hy is reg. Ons is ’n kultuur arm aan ’n verstaanbare paradigma. Ons is die kreef wat gewoond raak daaraan.

  • 6

Kommentaar

  • Lindie Koorts

    Hierdie moedelose historikus het al male sonder tal in vergaderings gesit waar presies hierdie gesprek gevoer is. Ons argiewe stort in duie, en hierdie of daardie waardevolle dokumente versameling verkeer in gevaar. Ons moet digitaliseer. Maar digitalisering is duur en êrens moet die geld vandaan kom. Kerneels het die ridders op wit perde op die naam genoem - en hierdie is gewis 'n saak met meriete. Ander vraag (want ek weet nie wat die antwoord is nie): Wat doen uitgewers om korrespondensie met skrywers in die digitale era sistematies en toeganklik vir toekomstige navorsers te bewaar?

  • Coenraad Walters

    Die vraag oor ouer Afrikaanse boeke laat my dink aan iets wat ek al meermale beleef het: mense wat ek ken, emigreer. Of skaal af - die ouderdom bespring almal die een of ander tyd.

    En die hele boekversameling kan nie saamgaan nie: dis te swaar in die skeepshouer, of die aftreehuisie of -kamer(s) is te klein. Dan wil hulle weggee: "Ag, kom kyk tog of daar nie iets is wat jy in jou skool se biblioteek kan gebruik nie. En as jy self iets wil hê, vat dit gerus!"

    Dan kreun daardie rakke van 'n tydskapsule van die Afrikaanse letterkunde: Van Heerden, Stockenström, Joubert, Schoeman, Spies, Krog, Breytenbach - al die sterre en selfs ook minder flonkerendes uit die sewentiger-, tagtiger-, negentigerjare.

    En nee, ons skoolbiblioteek wil dit nie hê nie, want dit is te oud, ons skooltaal is Engels en die toestand van die boeke is soms nie goed genoeg nie. En ek het self dit reeds alles!

    Dan moet die bokse boeke maar aangery word na 'n liefdadigheidswinkel toe, en jy hoop maar daar kom iemand wat die waarde van die versameling insien.

    Ai, as 'n mens maar 'n tienerboekwurm geken het wat belangstel in die "ouer" letterkunde, dat daardie boekversamelings 'n verwelkomende huis kan kry! Maar ons kinders lees Engels, hulle lees fantasie, hulle lees elektronies, hulle lees onvoltooide en ongeredigeerde tekste aanlyn, noem maar op.

    Daardie kosbare ouer boeke ... My hart bloei.

  • Ons argiewe is in so swak toestand, dat een van hulle vir weke gesluit was, nie weens beurtkrag nie, maar omdat die elektrisiteitrekening nie betaal is nie. Soms is leggers binne 'n aanwins nie te vinde nie, of leeg, materiaal wat voorheen te vinde is. Misgeplaas? Ek weet nie. Staan iewers in 'n boks?

    Baie waardevolle materiaal kan verlore gaan as dit nie digitaal bewaar word nie. Of daar ooit planne of geld was om dit te doen, weet ek nie.

  • Die stem des roepende in die woestyn wyl storms woed oor stoom. Gladnietrap. Spookasem. Hart. Heimwee. Vervliet.

  • Wannie Carstens

    Dit is 'n baie nodige gesprek wat hier plaasvind. Kom ek probeer hoop gee. Lindie sê: "Ons moet digitaliseer. Maar digitalisering is duur en êrens moet die geld vandaan kom." Sy is reg: dit is duur en geld maak natuurlik alles moontlik. Maar die grootste probleem is dat diegene wat reeds oor digitale weergawes van bronne beskik dit nie met ander deel nie. As ons net daar kan begin, sal ons al 'n entjie weg wees van wanhoop.

    Ons weet op hierdie stadium bloot nie wat beskikbaar is in argiewe, biblioteke (ook van universiteite) en museums nie. Dit lei tot die duplisering van bronne (oud en nuut), ongekoördineerde gebruik van hulpbronne (fondse, personeel) en natuurlik 'n verkwisting van tyd. Elke instansie wil dit wat hulle het, vir hulself hou. Ons sal hierdie patroon moet breek en 'n nuwe een van gedeelde gebruik bou.

    Ons by die ATR (in samewerking met VivA, die SA Akademie, die WAT) is aan die bou aan 'n plan om juis 'n digitale weergawe van die totale uitset van Afrikaanse publikasies (op alle terreine waar Afrikaans gebruik is/word) tot stand te bring. Dit gaan tyd en fyn beplanning verg om dit reg te kry, maar ons glo dit is haalbaar MITS ons almal ons eiers in een mandjie gooi.

    Ons hoop om binne die volgende paar maande 'n virtuele gesprek (juis weens 'n gebrek aan fondse om dit in persoon te doen – wat die ideaal is) met alle rolspelers rakende digitisering en digitalisering te voer sodat daar saam planne gemaak kan word hoe ten beste te werk gegaan kan word om die hulpbronne en kundigheid bymekaar uit te bring. Die hoop is om 'n sentrale koördineerder aan te stel wat die groot projekplan sal kan gaan skryf en die nodige te gaan vind – en die fondse is daar. Ons moet dit net as 'n eenheid aanpak en dan kan befondsers intree. Hulle gaan dit nie bietjie-bietjie vir elke instansie gee nie. Dit is waar ons nou is – elkeen soek fondse by dieselfde befondsers. En dit is dom.

    In die LitNet-nuusbriefuitgawe van so twee weke gelede is daar juis enkele berigte oor digitalisering opgeneem. Gaan lees dit asb. en sien dan dat daar darem 'n ligte roering aan die gang kom.

    Ek verwys lesers ook na die onderstaande twee bydraes in LitNet hieroor.

    https://www.litnet.co.za/n-oorsig-oor-enkele-digitiseringsprojekte-in-afrikaans-n-vertrekpunt-vir-afrikaans-se-digitale-toekoms/

    https://www.litnet.co.za/afrikaans-se-digitale-toekoms-n-onderhoud-met-wannie-carstens-en-rone-wierenga/

  • Octavia Roodt

    My hoop is dat kunstenaars en skrywers in die ou werk sal invaar en dit hervertaal, illustreer en kritiseer. Uitknip en inplak. Daarmee woeker met gesonde respek, maar ook 'n tipe aggressie waarmee ons die ou garde in die nuwe eeu in kan sleep.

    Weet iemand dalk wanneer die kopiereg op die stukke verval? Hou uitgewers of boedels dit gyselaar? En wie kan mens vra om te help kompetisies reël en kunsuitstallings hou rondom die viering en vernuwing van ou skatte?

    Ek droom self oor Jan Rabie, Etienne Leroux en Elizabeth Eybers.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top