Gister is verby deur Juanita Aggenbach: ’n resensie

  • 0

Gister is verby
Juanita Aggenbach

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176323

Die roman bied nie net ’n blik op die lewe van Nadine, ’n jong en fikse twee-en-dertigjarige vrou wat met borskanker gediagnoseer word nie, maar vertel ook die verhaal van haar man, Pierre, wat haar moet versorg en self magteloos voel oor die skoknuus. Dit vertel verder van Nadine en Pierre se familie en vriende se reaksies op die nuus, wat die volle spektrum van reaksies uitbeeld: van ondersteunend tot totale ignorering en geen ondersteuning nie. Maar dit is ook die verhaal van Nadine se onkologiedokter, Althea Loubscher, wat haar eie stryd voer teen haar seun se dwelmhel.

Gister is verby vertel die verhale van veral die twee vrouekarakters, Nadine en Althea, en die twee mans in hulle lewens, Pierre en Roelof. Die twee vroue is verskillend maar albei is besig met ’n groot stryd. Nadine is broos en tranerig en kom voor as nie sterk genoeg vir hierdie stryd nie. Sy is amper willoos en tree nie op nie. Althea beskryf Nadine met die eerste besoek: “Nadine Duvenhage is ’n huilertjie. Ja, pasiënte is oor die algemeen ietwat tranerig wanneer hulle vir die eerste keer voor haar kom sit, maar sy kan van ’n myl af sien hierdie een se kop is nie reg nie.” Tog skram Nadine nie weg van die uitdagings wat oor haar pad kom nie: sy hou aan met haar werk terwyl sy chemoterapie en bestraling ontvang; sy draf die Twee Oseane-halfmarathon. Pierre neem die versorgingsrol oor as gevolg van Nadine se siekte: hy moet haar dreineringspype skoonmaak, hy ry haar rond, hy maak die kos, maar altyd bly hy die ondersteuner. Soos Althea dit stel: “Maar al is die ondersteuning deur die eggenoot hoe goed, neem dit niks weg van die feit dat hy slegs ’n omstander bly nie.” Teenoor Nadine, kom Althea as sterker persoon voor: sy tree dadelik op en gaan oor tot aksie; sy bel die rehabilitasiesentrums om plek vir haar seun te kry; sy soek haar seun in die strate as sy vermoed hy gebruik weer dwelms, reël ’n wegbreeknaweek. Tog ondergaan sy ook verandering wanneer sy aan die einde van die roman besef dat sy nie haar werk eerste moes gestel het nie. Roelof bly op die agtergrond (“Selfs met die stilstuipe wat hy soms kry, is hy darem altyd daar. Eers nou in sy afwesigheid voel sy die leemte.”)

Die roman is ’n verhaal wat veral vertel wat tussen ’n man en ’n vrou gebeur as sy die skoknuus van borskanker kry. Nadine moet die onmenslike gevolge daarvan op haar liggaam en vrouwees dra: die fisieke letsels en pyn, die uitwerking van chemoterapie op haar liggaam maar veral ook haar eie vroulikheid. Wat vernuwend in die roman is, is dat ons waarskynlik vir die eerste keer in ’n populêre roman iets lees vanuit die man se perspektief as sy vrou met borskanker gediagnoseer word. Daarom is Pierre se reaksie op die skoknuus net so belangrik: hy weet nie hoe om Nadine te help nie; of hy kans sien vir Nadine se behandeling of nie; en hy bevraagteken hulle verhouding: “Hy weet nie hoe hy haar moet help nie. Sy oë begin weer brand. Hoé help jy iemand wat hierdeur moet gaan?” Nadine en Pierre se storie word realisties maar tog met deernis en geloofwaardigheid uitgebeeld. Lesers wat hierdie pad al gestap het, sal met die karakters en die boek identifiseer. Diegene wat nog nie die pad gestap het nie, sal van die storielyn hou en veral van die menslike en empatiese wyse waarop Nadine se storie vertel word. Hulle sal iets nuuts leer en as ingeligte lesers na borskanker kyk en weet wat agter die verdoemende nuus vir beide man en vrou aangaan.

Gister is verby handel oor borskanker en beeld dit realisties en aangrypend uit. Aggenbach skram nie daarvan weg om besonderhede oor ’n mastektomie, chemobehandeling en bestraling te verskaf nie. Ook is daar nie die tipiese “mooi” slot nie, al is Nadine aan die einde van die verhaal “skoon” – daar is nog die vooruitsig van hormoonterapie, nog ’n mastektomie, ’n moontlike histerektomie. Dit is ’n wêreld waarvan ons daagliks lees en hoor; en moontlik al self beleef het. Die uitbeelding van kanker en kankerbehandeling wys daarop dat dit jou hele lewe oorneem en dat daar ’n fisieke en ’n psigiese dimensie daaraan verbonde is. Dit is veral ’n verhaal van oorwinning oor borskanker. Dis ’n verhaal van hoop – soos wat Nadine se naam beteken. Lesers kan gerus die roman lees, want dit verwoord nie net die verhaal van vroue se stryd teen borskanker nie, maar verwoord veral ’n verhaal van oorlewing en aanpassing in ’n wêreld waar “gister verby is”.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top