Vier weke van kneltering met ’n been in gips het veroorsaak dat ek my kredietkaart ’n baie sleg ding laat oorkom het met iTunes. Dit het wel meegebring dat ek meer musiek die afgelope ruk geluister het as in baie jare, en ek plaas hier onder ’n lys van die albums, sonder enige spesifieke voorkeure. Dalk is daar iets wat jou belangstelling prikkel.
The Animals – Best of …

Geen musiekversameling is volledig sonder die Animals nie. Ek is baie geheg aan verskeie van hul albums, spesifiek Winds of Change, The Twain Shall Meet en Love Is , maar hierdie versameling konsentreer meer op die musiek van die groep se eerste jare, plus ’n paar proeseltjies uit die vangnet van hierdie drie genoemde albums. Die kern van die groep is Eric Burdon, Hilton Valentine, Alan Price, Chas Chandler en John Steel. Alles top-musiek, maar my gunstelinge is “It’s my life”, “Sky Pilot” en “Boom Boom”.
Ashley Monroe – Like A Rose

Haar stem lui suiwer soos Dolly Parton s’n toe dié nog jonk en Jolene-erig was, maar ’n mens is geneig om te vergeet dat Monroe ook lid is van die roekelose Pistol Annies, en dat sy vir Jack White se Racanteurs en Third Man House Band as agtergrondsangeres uitgehelp het. Sy is ’n meester van baie style, maar haar eie is suiwer country. Die titelsnit hiervan is ’n reuse-treffer in die VSA, en dit sluit af met die humoristiese “You ain’t Dolly (And You ain’t Porter)”, ’n duet saam met Blake Shelton wat eintlik op die klank af bewys wat dit veronderstel is om te weerlê.
John Fogerty – Wrote A Song For Everyone
Daar is ’n sterk kans dat John Fogerty deesdae ’n pruik dra. Die wasige omslag-foto gee my ’n sterk spesmaas. Maar die punt is dat hy hier in die geselskap van ’n klomp genooide kunstenaars van sy bekendste komposisies vir Creedence Clearwater Revival nuwe lewe gee. Hy verander eintlik min, maar die krag lê in die sang, en die klemverskille wat ander groepe aan die musiek gee. ’n Goeie voorbeeld daarvan is die weergawe van “Fortunate Son” saam met die Foo Fighters, “Born on the Bayou” met Kid Rock, of die deeglik gespasieerde “Bad Moon Rising” saam met die Zac Brown Band. Daar is ’n absoluut asembenemende vertolking van “Who’ll stop the rain” saam met Bob Seger en die Silver Bullet Band. Interessant dat Fogerty se stem nou skielik so jonk klink naas Seger se stem-like-a-voice. Die album sluit met “Proud Mary”, waar Jennifer Hudson onverwags die liedjie ’n ander soort lewendigheid gee. CCR se weergawe was ’n ritmekitaar-fees; nou pomp dit op ’n paar ander plekke.
The Beach Boys – Live – The 50th Anniversary Tour

Ek is die soort sucker wat albums soos hierdie koop, omdat ek die Beach Boys se musiek versamel. Maar selfs ek moet erken dat ofskoon die musiek werklik goed klink danksy jong musici, en die komposisies klassieke rock is, die manne se sangstemme nie meer dáár is nie. Brian Wilson en Alan Jardine s’n het die beste gehou, maar Mike Love, wat sy hele lewe lank gesukkel het met ’n swakker stem as die ander lede van die roep, kom ellendig oor. Gelukkig is daar ’n wonderlike weergawe van die instrumentele “Pet Sounds” om ’n mens se hart te lig.
Bert Jansch – Best of ...

Bert Jansch was die leier van Pentangle. Nie werklik ’n besonderse sanger nie, maar hy was ’n akoestiese-kitaar-virtuoos wat net een eweknie in die ganse folk-toneel van die laat jare sestig had, naamlik die Amerikaner John Fahey. Baie van die liedjies wat hy hier speel, vind mens ook op ou Pentangle-versamelings (“Reynardine”, “A Woman Like You”, “Blues”, om drie te noem), maar dit is die skatte afkomstig van sy solo-plate wat mens laat regop sit. Gaan luister na “Angie” en “Alice’s Wonderland”.
Bill Evans – Conversations With Myself

Hierdie album uit 1963 is iets van ’n sonderling. Die meester het op Glenn Gould se klavier gespeel in drie ateljee-sessies, en die destyds nuwe tegniek van oorklanking gebruik om in drie klavier-stemme te “gesels”. Evans is Evans en wat my betref bo kritiek verhewe. Hierdie opnames toon hoekom hy so lank die top-jazzpianis op internasionale vlak was – maar dit ruk mens nogal om, noudat jou ore gewoond geraak het aan al die wondere wat in ’n moderne ateljee uitgerig kan word, te hoor hoe primitief hierdie opnames eintlik was. En dit het Evans in 1964 sy eerste Grammy-bekroning besorg!
The Breeders – LSXX
‘n Heruitgawe van Last Splash (1993), die album waarmee Kim Deal van die Pixies weggebreek het. Die Breeders het onlangs weer teruggekeer na die amper oorspronklike groepering (Kim en Kelley Deal, Jim Macpherson en Josephine Wiggs), en hierdie heruitgawe sluit ’n klomp demo- en konsertopnames deur die groep in op 3 CD’s. Laasgenoemde is vir my interessanter as Last Splash.
Captain Beefheart – Safe as Milk

Nou in volle herstelde klankglorie – en as mens dit behoorlik oopdraai, kan jy hoor hoe groot Ry Cooder se bydrae tot die Kaptein se musiek was. Safe As Milk (1967) is een van Beefheart se mees toeganklike albums en steeds ’n totale genot om na te luister. Die video is op die strand by Cannes opgeneem.
Charles Mingus – Mingus Ah Um
Die oorspronklike 1959-uitreiking met net sewe snitte. Mingus Ah Um is een van die klassieke jazz-plate van alle tye. In sy groep is musici soos John Handy (saxofoon en klarinet), Booker Ervin en Shafi Hadi (sax), Willie Denis en Jimmy Knepper (tromboon), Horace Parlan (klavier) en natuurlik Mingus (klavier, kontrabas). As jy die moeite gedoen het om Miles Davis se Kind of Blue en Coltrane se Love Supreme onder die knie te kry, lê Mingus Ah Um volgende op jou weg. Dis ook die moeite werd om Sony se heruitreiking van 2009 in die hande te probeer kry sodra Mingus Ah Um in jou bloed is – dit bevat uitskotsnitte.
Dawn McCarthy & Bonnie Prince Billy – What The Brothers Sang

Daar is snitte waar McCarthy en Bonnie Prince Billy soos enige duo klink: interessante folk-musiek, as mens dit só kan vereenvoudig, en sterk komposisies. Wat nogal ’n mondvol is as jy in gedagte hou dat hierdie album ’n huldeblyk is aan die Everly Brothers en hul musiek. Gelukkig is daar ook snitte, veral dié met teer en innige materiaal, waar die twee se samesang só verruklik is dat mens sit en hoendervleis kry vir die duur van die liedjies. Die ou gunsteling “What am I living for” is een daarvan, asook die openingsnit, “Breakdown”. En dan sluit die album met “Kentucky”, wat jou lewe vir twee minute en 35 sekondes tot stilstand bring.
The Flaming Lips - The Terror

The Flaming Lips maak dit nie vir mens maklik nie. Jy moet vasbyt om in die stroom te kom, want dit is al asof die groep jou al om die tweede snit wil toets. “Look … The Sun is Rising” en “Try to Explain” is moeilik om te assimileer, maar “You lust”, “Be Free, A Way” en die titelsnit maak toegewings op die maniere waarop ons op Yoshimi leer ken het. Teen die tyd dat jy by “Butterfly, How Long It Takes To Die” kom, begin jy snap wat aan die gang is, wat die terreur van natuurlike en onnatuurlike elemente is. Maar byt vas om daar uit te kom. Daar is soniese winste en orgasmiese momente te beleef.
The Mavericks – In Time

Hoekom laat hierdie groep my so verdomp goed voel? Seker die Flaming Lips se skuld. Die Mavericks het in 2011 weer bymekaargekom nadat hulle in 2004 ontbind het. Ek veronderstel mens sou kon sê hulle maak steeds country-musiek, maar dit is vir my meer ’n soort “all-purpose” dansmusiek met sy wortels iewers in country- én rock-musiek. Maar vergeet tog van die etiket: die feit is dat hierdie ’n briljante terugkoms is.
Steve Martin & Edie Brickell – Love Has Come For You

Martin, die komediant-intellektueel-skrywer, is hier vasgevang in die rol van komponis en banjo-speler, terwyl Edie Brickell vir die lirieke en sang verantwoordelik is. Dit is een van die lekkerste luisterplate wat ek in ’n baie lang tyd gehoor het, in die geheel veel meer gebalanseerd en bevredigend as Dawn McCarthy en Bonnie Prine Billy s’n hier bo.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

