Gila Leah

  • 0

Foto: Canva.com

Sy het voor in die klas gesit. Gila. Matriek. Ek onthou die oë, donker en glasig. My eerste pos na vier jaar op Stellenbosch. ’n See van gesigte staar na my. Gila is ’n donkerkop weergawe van Hollywood se mooiste! Gelukkig dra sy ’n baadjie en swart Antjie Somerskouse.

Ek voel my wange verkleur en kry my lippe van mekaar: “Môre, klas,” sê ek met ’n stem wat nog moet breek.

“Môre, meneer,” koer hulle en kyk vir my asof ek hulle inkleurboeke by die huis vergeet het.

Wat ’n jaar was dit nie? Ek leef my roeping uit. Op Landsdienskampe in die Sederberge luister ek na Gila se kitaar onder die sterre. Oor die roeping in haar lewe twyfel sy nie: “Met my musiek sal ek op straathoeke sit en sing van liefde en geregtigheid en verdraagsaamheid.”

Na matriek het Gila soggens met ’n blom in die kop op Groentemarkplein gesit en Johannes Kerkorrel se liedjies gesing / en in die skemer as die son sak en die beeste huis toe loop / klink die roepstem van die vroue oor die heuwels van die land / halala, ewig is ons Afrika. Agtermiddae vaar sy die buurte in om honger kinders kos te gee. Saans speel sy in een van Kloofstraat se kroeë.

Dis waar ek haar een Saterdagaand weer raakloop. Die volgende dag sal my vir ewig bybly. Die koerante is vol daarvan. Gila Leah is dood. Filantroop. Dogter. Blommekind. Dood, sonder dat ek weer met haar gepraat het. Gila, geklap deur wie sy voed, gestenig deur wie se dors sy les. Sy het die taxi gevat en toe per voet verder gestap Sopkombuis toe, soos ’n honderd keer vantevore.

Toe loer die boytjies vir haar uit die skemerbosse. “Die wit goose, die setlaar wat warm slaap as ons om die konka staan.”

Ek is by toe hulle Gila se as gaan strooi. Vroegoggend ry ons Vlaeberg uit. Gila se ma het die kissie in haar hande, ’n ligte geelhoutkissie, ons laaste tasbare verbintenis met Gila se menswees. Ons klim uit. ’n Paar seevoëls kwê-kwê protesterend teen die Suidoos.

Die kepe op Gila se ma se gesig en die getuite lippe soos iemand wat soengroet, sigbare getuies van ’n moederhart se smart. Ons loop die paadjie af tot waar die bossies digter staan. Sy lig die dekseltjie en hou die kissie voor haar soos iemand besig met ’n prehistoriese offergawe aan ’n mitiese god. Die windvlae het die as tussen die bossies ingewaai. Stof tot stof. Weg. Halala Afrika.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top