Gewilde Oesfees bobaas wynlandvermaak vir die hele gesin

  • 0

Maak seker jy skud jou feesvere reg en kies koers na die Stellenbosch wynlandstreek wanneer Eikendal Landgoed hulde bring aan 31 jaar van gehalte wynmaak tydens sy immergewilde Weintaufe Oesfees op Sondag, 4 Maart 2012.

Hierdie feestelike instelling word jaarliks deur dié bekende wynplaas gehou ter afsluiting van nog ’n suksesvolle oes, en het homself oor die afgelope drie dekades as ’n opwindende hoogtepunt op die sosiale kalender gevestig, met hope ontspanning en plesier vir oud en jonk.

Buiten dat dit ’n lui-lekker, buitelug makietie is, is die Eikendal Weintaufe Oesfees ook ’n ontmoeting met wêreldklas wyn in wording. Eikendal is bekend vir sy roemryke Chardonnay en rooiwynversnitte en besoekers sal die vrugte van sy afgelope oes kan ervaar wanneer ’n vaatjie van die kelder se eerste wyn vir 2012 – sy vlagskip Chardonnay – nader geskuif word. Nie net kan volwassenes hierdie wyn dan geniet nie, maar sal dit ook gedoop word met ’n gepaste naam op die dag van die feesvieringe.

Bring die familie en vriende en kom strek uit langs die dam vir ’n al fresco samesyn en sluit jou naweek op ’n hoogtepunt af met Eikendal wynproeë, musiekvermaak, kuns-en-huisvlyt stalletjies, gelukstrekkings, trekkerritte deur die wingerd, vlieghengel, druiftrap, ponieritte en hope kaskenades vir die jongspan.

Daar sal heerlike kos en wyn te koop wees, al wat jy moet onthou is jou pienkniekkombers!

Kaartjies vir die Eikendal Weintaufe 2012 kos R60 per persoon en sluit ’n wynglas in vir volwassenes, terwyl kinders onder 12 jaar gratis toegang geniet. Die kaartjies is vooraf beskikbaar, direk vanaf Eikendal, of by die hekke op die dag van die Weintaufe. Die pret skop af om 10vm met die amptelike ‘doopseremonie’ omstreeks 12h00.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top