Kaapse gehore het die geleentheid om gewilde kunstenaar, en almal se gunsteling Belg, Gaëtan Schmid, in sy nuwe opvoering, The Belgian, te sienwatvan 6 tot 30 November by die Kalkbaai-teater opgevoer sal word.
Gaëtan het groot genot aan gehore verskaf met sy aweregse energie en styl in opvoerings soos Rumpsteak, Body Language en The Dog’s Bollocks.
The Belgian, met Brent Palmer (Bench, Race Card)as regisseur, is Gaëtan se skreeunsnaakse blik op die wese van daardie erg misverstaande spesie: Belge! Agter die fasade van hulle oulike, skoon huisies met met hul netjiese klein tuinjies, bewaak deur 'n bataljon grinnikende tuindwerge, skuil daar iets obskuurs en stouts … Gaëtan vermaak die gehoor met gulde, oordadige stories oor alles en niks, van sy kinderdae tussen die beeste in België tot vandag se braai-etiket in die hedendaagse Suid-Afrika.
By die Nasionale Kunstefees in Grahamstad vanjaar het die tydskrif Cue die opvoering soos volg beskryf: “Hilarious … a highly recommended crowd pleaser”, terwyl Gaëtan volgens Die Burger daarin slaag om met om op humoristiese wyse die stereotipiese beeld af te breek wat ons van Belge koester.
“Gaëtan vermaak ons met sy kenmerkende panache en aweregse styl, en sy komiese, fassinerende en eindelose kennis oor wat dit beteken om Belgies te wees,” sê Simon Cooper, eienaar van die Kalkbaai-teater.”Kom lag en geniet die aand saam met hierdie talentvolle, unieke kunstenaar.”
“Wees verseker,” voeg Gaëtan by, “hierdie opvoering is nie 'n storie oor Frankryk nie.”
Gaëtan het drama en regie aan die École Internationale de Théâtre Jacques Lecoq in Paris, Frankryk, bestudeer. Hy bied die vertonings aan wat hy self skep, skryf en opvoer, en het nasionaal en oor die wêreld heen daarmee getoer, insluitend in lande soos Frankryk, Rusland, Swede, Roemenië, die VSA, Nederland, Engeland, Wallis, Uganda, Andorra, Spanje, Skotland en, natuurlik, België.
Ouderdomme 16 + (taal)
The Belgian sal Woensdae tot Saterdae om 20:00 van 6 tot 30 November opgevoer word. Maak gebruik van die spesiale aanbiedings vir vir die vertonings op 7, 8, 9, en 13 tot 15 November wanneer kaartjies R80, of R65 vir die beperkte Galery-sitplekke op die boonste verdieping, kos. Vir alle ander vertonings kos kaartjies R95, en R80 vir Galery-sitplekke.
Deure open om 18:30 en sitplekke is ongereserveerd.
Vir besprekings, besoek www.kbt.co.za

