Die akoestiese tweemanskap Gevoel van Veiligheid maak al ’n geruime tyd golwe in die Afrikaanse musiekbedryf. Deon Roos en Raymond Horn beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Deon. Hoe’s dinge?
Nee kyk, dinge is mos goed.

Raymond Horn en Deon Roos
Eerstens, een van jul mees onlangse musiekvideo’s, vir “Benoude Woede”, begin met ’n ongelukstoneel en paramedici wat sukkel om ’n jong dame te help. Dit is nogal swaar materiaal – wat was die inspirasie of denkproses daaragter?
Raymond: Die denkproses was actually oor ’n ongeluk, maar net in ’n ander situasie, maar die hoof-idee agter die song is: Kan jy iemand vergewe wat ’n lewe geëis het by jou, of dit nou opsetlik of per ongeluk was? Die tweede hoof-idee is, as so iets met jou gebeur, waar is jou toevlug en hoe cope jy daarmee?
Gepraat daarvan – jul lirieke skep dikwels ’n lekker kontras met ’n ligter aanslag in van die musiek. Is dit iets wat julle doelbewus probeer bereik, of hoe beskou julle die verhouding tussen liriek en musiek?
Raymond: Ek skryf nog altyd my lirieke met deeglikheid en ek probeer ’n boodskap stel met elke sin, en die vinnigste manier om iemand te laat dink aan ’n teer saak of iets wat teen sy beginsels is, is deur dit in ’n ander lig uit te beeld. So om ’n donker situasie met ’n kontras te vergelyk is ’n “mind game”, eintlik – dit is opsetlik, maar gewoonlik subtiel.
Dit is natuurlik ’n uitdaging om ’n klank te behou wat deurgaans afwissel in ’n groep wat meestal net met twee kitare as instrumente werk. Hoe benader julle dit?
Deon: Ek dink nie ons het ooit daaraan gedink nie. Toe Gevoel van Veiligheid begin, was ons albei nog in ander bands, so Gevoel van Veiligheid was daai “side project” wat ons gedoen het as nie een van die anders bands kon gig nie, en soos ons begin gewoond geraak het aan die klank het ons altyd by ge-add met ons half-members – eers Janco op sy harmonica, toe Mercia met haar amazing vocals, en nou het ons vir Hugo op sy trekklavier en Kajon wat shows en songs nogal fun kan maak.
Hierdie “halwe lede” wat inval op backing vocals, mondfluitjie en trekklavier ... Wat het tot hierdie besluit gelei en hoe dink julle bou dit jul musiek uit?
Deon: Hahaha, die “halwe lede” ding is soos ’n jaar lange oudisie, en hulle kon dit nie altyd na al die shows maak nie, so ons wou nie songs so skryf dat dit noodsaaklik is vir hulle om in te wees en dan as hulle nie by ’n show kan wees nie, kan ons nie daai song speel nie. Maar op daai noot … Hugo Breedt is nou ’n member, van Saterdag 15 Junie af – hy’t ’n sertifikaat en alles! So Gevoel van Veiligheid is nou drie members.
Ek hoor nogal baie Elliot Smith, Lukraaketaar en so meer in jul tunes. Hoor ek reg? Wie beskou julle as sterk invloede?
Deon: Ek is nog altyd ’n groot Blink 182 fan, maar ek dink ons musiek trek meer Lukraaketaar se kant toe, behalwe dat nie een van ons kan daai note tref wat hulle het nie …
Raymond: My hoof-invloed sal eerder Alkaline Trio en Bon Iver wees, al klink dit nie so nie. Dis meer in die lirieke as die tunes. Ja, ek het dit ook al gehoor en ek dink dis omdat ons basically dieselfde instrumente gebruik sonder byklanke en ons hou dit acoustic. Ek is ’n groot fan van hulle vocal ability.
Julle is al min of meer drie jaar in die rondte. Wat is julle gevoel oor die Afrikaanse musiekbedryf en ook oor acoustic acts in dié opsig, soos julle dit tot dusver leer ken het?
Deon: Hahaha, drie jaar al? Voel nie so lank nie. Hmmmm, die scene verander letterlik week na week, maand na maand. Almal met wie ons praat sê die scene is nie wat dit ’n week of ’n maand terug was nie. Ek onthou toe ek so vyftien was, moes bands gig om êrens te kom, dit was al manier, toe kom MK en maak dit makliker vir mense om jou musiek te hoor, en ek’t so gevoel in my agterkant dat dit terug gaan gaan na wat dit was – bands gaan weer moet gig gig gig om hulle naam uit te kry.
Op daardie noot – julle het sekerlik al ’n paar interessante toere en optredes beleef. Enige staaltjies om te vertel? Enige plekke waar julle nie weer sal speel nie?
Deon: Maders Hotel in Pretoria-Wes? Dit was ’n Sondagaand, en die plek was voller as die kerk om die hoek … Terwyl ons besig was om te speel, kom ’n ou omie op stage, en terwyl Raymond sing fluister hy sag vir hom: “Seun, ken julle enige Elvis tunes?” Hahahaha … dink dis een van daai jy-moes-daar-gewees-het-moments.
Wat hou die lang- en korttermyntoekoms in vir Gevoel van Veiligheid?
Deon: Ons oordink nie alles nie, so ons langtermyn-toekoms is soos wat ons oor ’n maand gaan doen, so wat korttermyn aanbetref gaan ek nou vir my gaan breakfast maak … en ons belowe mense al vir ’n jaar ’n album, maar ons was nooit happy met die songs wat ons daarop wou sit nie – dit het afgejaag gevoel – so al die songs wat op hom sou wees is anyway verniet op die internet êrens, en ons het begin skryf en pre-production aan ’n 100% nuwe album met nuwe songs – mag dalk even nog ’n half member saam kry …
Wat is die sin van die lewe?
Deon: Maak ’n verskil, en daar waar jy nie ’n verskil kan maak nie, maak musiek, dit sal ’n verskil maak …
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

