Gevaar by die dam

  • 0

Foto: Canva.com

Gert Visser sit langs die viswaters by ’n dam net buite die Paarl. Hy is verlig dat hy uiteindelik, nadat die regulasies merkbaar verslap is, weer kan visvang by die klub se dam. Hy hoef nie meer rond te sluip op die gholflandgoed waar hulle bly om iets te vang nie. 

Alhoewel hy beperkte sukses gehad het met sy klandestiene visvangekspedisies op die gholflandgoed, het hy heeltyd baie daarna uitgesien om langs ’n plaasdam, oop en bloot en met oorgawe, in die teenwoordigheid van ander hengelaars, spontaan te kan visvang. Die geleentheid het hom nou uiteindelik voorgedoen. In terme van die reëls van die hengelklub, waarby hy net voor die grendeltydperk aangesluit het, kon hy ’n bespreking doen en het hy dus vroeg op die betrokke Sondagoggend met sy hengelgereedskap en nuwe visstokke slaggereed na die dam gery.

Gert geniet die rustigheid langs die dam met geen bekommernisse in die wêreld, veral op ’n Sondagoggend aan die begin van die lente. 

Sy vrou, Annabel, het weer in Junie by die Waterfront begin werk nadat sy ook vir ’n geruime tyd tydens die grendeltyd saam met hom by die huis was. Teen die einde van Mei was dit vir hom duidelik dat sy verveeld was en daarna uitgesien het om terug te gaan werk toe, al is dit net om nonsens te gesels met haar kollegas. As gevolg van sekere regulasies wat nog in plek is, is daar tans nie juis toeriste by die Waterfront nie.

Gert het seker gemaak dat hy genoeg padkos ingepak het vir die hele dag langs die dam. Hy het die toebroodjies self gemaak: ham, kaas en eier, sy gunsteling kombinasie. Hy het ook ’n paar alkoholiese drankies saamgebring, onder andere ses biere, ’n bottel gin, tonic water, ’n paar glase en ’n sak vol ys wat hopelik nie te gou sal smelt nie.

Ter voorbereiding vir die ekspedisie het hy in sy stoorkamer rondgekrap en afgekom op ’n Cobb-braaitoestel wat perfek geskik is vir dié tipe buitelug-ekspedisies. Hy het ook ’n paar skaaptjops, aartappels en twee mielies ingepak wat sal dien as middagete.

Dis net jammer dat sy beste vriend, Marcus, nie kon saamkom nie. Hy het eers ja gesê en hom toe twee dae later teruggebel en gesê dat sy vrou iets gereël het vir dié Sondag. Hulle moet glo saam met vriende gaan blomme kyk langs die Weskus.

Gert pak al sy visvanggereedskap uit en parkeer dan sy motor veilig en binne stapafstand. Hy berei die regte aas voor, plaas sy twee visstokke langs die dam en wend die aas naby die hoeke aan. Met ’n gemaklike aksie gooi hy die aas in en sien hoe dit met ’n plons die water tref. Hy plaas die visstokke op hul staanders en gaan sit op die kampstoeltjie wat hy spesiaal vir dié geleentheid gekoop het. Nou kan hy vrede vir sy siel hê en die dag probeer geniet.

In die verte sien hy die nabygeleë berge net buite die Paarl. Dit lyk of die een bergpiek nog ’n bietjie sneeu op het. Miskien verbeel hy hom. Dis hoogtyd dat die lente ten volle posvat. Hierdie winter was besonder koud en nat. Al wat nog moet gebeur is dat Eskom die ligte vir langer tydperke afskakel. Dan bly ons werklik in donker Afrika.

“Ekskuus, Oom,” hoor Gert skielik iemand agter hom praat. Hy kyk om en sien ’n jong man en twee van sy vriende na hom aangestap kom. Hulle lyk soos studente maar is gebou soos rugbyspelers; lank, lenig, gespierd en atleties. Die voorste een kom nader en voor Gert staan. “Jammer om te pla, Oom, maar dit is eintlik óns visvangplek hierdie. Sal Oom omgee om so ’n honderd meter verder aan te skuif en daar te gaan parkeer?” 

Gert weet vir eers nie wat om te sê nie. Hy kyk om hom rond en sien geen kennisgewingborde of aanduidings wat plekke afbaken of nommers bevat of wat inligting verskaf oor wie waar mag en kan visvang nie.

“Ekke ... ekke ... sien geen kennisgewings wat sê waar ek mag visvang nie. Ek het my naam vir die klub gestuur en hulle het gesê dat ek vandag ingesluit is op die lys van mense wat hier kan visvang. Ek besef dit is ’n private visvangklub en dat slegs lede hier kan vang. Ek het net voor die grendeltyd begin het formeel aangesluit. Julle kan vir Jaap, die voorsitter, bel om seker te maak.”

“Dis nie waaroor dit gaan nie, Oom. Ons is al redelik lank lede van hierdie klub en vang altyd op hierdie plek vis. Die meeste van die gereelde lede weet dit nou al en gaan parkeer en vang elders langs die dam.”

“Wel, toe ek aangesluit het, het Jaap vir my ál die reëls en regulasies gestuur,” gaan Gert onverpoos voort. “Ek het niks gelees van bespreekte plekke langs die dam nie. Die e-pos wat onlangs tydens die grendeltyd uitgestuur is, het ook geen melding gemaak van spesifieke plekke nie. Die enigste beperking is die hoeveelheid mense wat op ’n gegewe dag mag visvang.”

“Luister, Oom, ek vra jou vir die laaste keer om jou goed op te pak en ten minste ’n honderd meter verder aan te skuif,” sê die voorste een. Hy kom nog nader en kyk Gert diep in die oë. Hy leun nog vorentoe met sy gesig nou enkele sentimeters van Gert s’n af.  Die ander twee staan verder terug met hulle hande op hul heupe en kyk dreigend in Gert se rigting.

Gert besef dat hy nou met ’n netelige situasie te doen het. Hy is duidelik nie voorbereid vir hierdie tipe konfrontasie nie. Alhoewel hy geensins in ’n posisie is om homself fisies teen hierdie jong manne te verdedig nie, besef hy egter dat sy ervaring as ’n eertydse spesialetaakmag-lid van die Suid-Afrikaanse Weermag hom vandag hopelik handig te pas sal kom. Wat hy gaan doen, weet hy nog nie. Hy is nie gewapen nie. Hy is nie fiks nie. Hy was lanklaas in ’n geveg betrokke. Hy is veel ouer as die drie jong gespierde manne. Hy weet ook nie of hulle gewapen is nie. Tot dusver het nie een van hulle ’n wapen te voorskyn gebring nie. Hulle hoop seker dat hy sal skrik en padgee soos enige ouerige man in sy situasie seker maar sal doen.

Gert haal sy selfoon uit sy broeksak. “Wel, laat ek net gou vir Jaap ...”

“Vir die heel laaste keer, Oom, pak jou goed op en skuif! My geduld is op,” sê die voorste een. Die ander twee kom nadergestap en hulle omring hom. Die een links van Gert is effens korter as die ander en kom skielik met ’n mes te voorskyn. Dit lyk vir Gert asof dit nie ’n jagmes is nie, maar eintlik ’n vismes waarmee ’n mens gewoonlik ’n vis vlek.

Die volgende oomblik suis een van Gert se visstokke se katrol soos ’n vis die aas vat en met die hoek in sy bek vasgevang probeer wegkom. 

Almal se aandag is nou op die visstok. Sonder om te dink hardloop Gert na die stok, lig dit uit die houer en pluk dit na hom toe. Hy begin dadelik katrol. Dit voel soos ’n grote. Hy kan nie hierdie een laat wegkom nie. Sonder om aarsel ruk hy die visstok weer. Die drie jong manne kom nou dreigend nader. Hulle lyk nie gelukkig nie. Gert besef dat sy situasie verder verswak het. 

Die volgende oomblik duik die voorste een Gert van sy voete af en hy slaan op die grond neer met die visstok wat wegspat en aan die ander kant van sy visvanggereedskap te lande kom. Gert probeer orent kom, maar die voorste een is op hom en druk hom teen die grond vas. Hy kyk op en sien die ander twee om hom staan. Die kort een het nog steeds die mes in sy hand en skuif dit van die een hand na die ander. Die derde een staan reg langs hom, met sy hande in sy sakke en ’n breë glimlag op sy gesig.

“Wat om hemelsnaam gaan hier aan? Wat wil julle eintlik hê?” skree Gert. “Ek is hier om vis te vang. Los my uit!” Die voorste een het sy hand op Gert se bors en met sy ander hand haal hy ’n pistool uit en druk die koue loop teen Gert se voorkop.

“Oom het duidelik nie ore nie of is heeltemal doof,” sis hy, sy mond sentimeters van Gert se oor af. “Oom kan nie hiér visvang nie. Dit is óns plek. Loop nou of ek trek die sneller!”

Gert draai sy kop en sien hoe sy visstok deur die vis in die dam ingetrek word. Wat ’n nagmerrie. ’n Mens kan nie eers meer vreedsaam op ’n Sondag langs ’n dam buite die Paarl visvang nie. Hy besef hy sal nou iets moet doen. “Oukei, ek gee op. Julle wen. Laat my gaan. Ek sal onmiddellik oppak en huis toe gaan. Julle kan verseker wees dat ek nóóit weer hier sal kom visvang nie!”

Die voorste een ontspan en staan op. Gert kom geleidelik orent en sonder om te dink, dis seker maar die ou taakmaginstink, gryp hy die pistool uit die voorste een se hand en rig dit op hom. “Nou luister júlle vir mý,” sê Gert. “Maak dat julle wegkom voordat ek die polisie bel!”

Die volgende oomblik stop daar ’n bakkie langs hulle en ’n ouerige man spring uit. “Whoa, whoa, stop die lorrie! Julle het nou te ver gegaan met Gert. Dit was veronderstel om net ’n inlywingsgrap te wees om sy eerste visvangekspedisie by die dam te vier. Dit was regtig nie nodig om hom plat te duik en so te dreig nie, Janneman!” bulder Jaap de Goede met ’n effense glimlag op sy gesig. “Visvang is definitief nie vir sissies nie!”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top