Gesien: Michael le Cordeur word vereer vir sy bydrae tot veeltaligheid en die bevordering van Afrikaans en isiXhosa

  • 0

Die Departement van Kuns en Kultuursake van die Wes-Kaap Regering gee jaarliks toekennings aan presteerders in verskeie afdelings van Kuns, Kultuur en Taal.  Vanjaar se toekenningsfunksie het Vrydag 10 Februarie plaasgevind.

Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van kuns en kultuur, oorhandig die toekenning in die afdeling Taal en Kommunikasie aan Michael le Cordeur vir sy bydrae tot veeltaligheid en die bevordering van Afrikaans en isiXhosa as amptelike tale in die Wes-Kaap.

In sy toespraak, asook in die amptelike program, het die minister verwys na Le Cordeur se rol by die Wes-Kaapse Taalkomitee wat oor ’n periode van nege jaar gestrek het, aanvanklik as lid van die Taalkomitee wat die Taalbeleid vir die Wes-Kaap opgestel het saam met baanbrekers soos Neville Alexander en Christa van Louw, Stan Ridge en Sandile Gxilishe, asook wyle Johan Combrink. Daarna was Le Cordeur vir twee agtereenvolgende termyne die voorsitter van die Wes-Kaapse Taalkomitee. Ingevolge die grondwet mag hy hom nie weer beskikbaar stel vir ’n volgende termyn nie. Voordat Le Cordeur se termyn op 29 Februarie ten einde loop, bied hy ’n kollokwium aan op 20 Februarie in die parlement, waar verskeie sprekers sal optree om te besin oor die nuwe Talewet van Suid-Afrika. Le Cordeur is onlangs verkies tot voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, ’n sambreelorganisasie wat meer as 40 Afrikaanse organisasies verteenwoordig, en het beloof om hom te beywer vir die bevordering en beskerming van Afrikaans, asook die bemagtiging van al die sprekers van Afrikaans. Hy is ook die ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, voorsitter van die Trusteeraad van die Breytenbach Sentrum, en ondervoorsitter van die Media24 Rachel’s Angels Bemagtigingstrust.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top