
Omslag: https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9780796322838
Geseënd is dié wat treur
saamgestel deur Susan Jordaan
Lux Verbi
ISBN:9780796322838
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
...........
Die ou waarneming dat mense die onderwerp van die dood vermy, is nog net so relevant in 2022 as in vergange jare. Maar daar is goeie redes daarvoor. Benewens die ooglopende onaangenaamhede soos dat die dood met onder meer hartseer, trauma, verlange en ontwrigting van menselewens gepaard gaan, is daar ook die saak van mense se totaal onversoenbare idees oor die dood. En mense kan vinnig van mekaar wegdryf in dié verband. Dit kos een boek, een gesprek, miskien een YouTube-video wat jou perspektief totaal kan laat skuif van hoe jy dit eens saam met moedersmelk ingekry het.
..............
Die ou waarneming dat mense die onderwerp van die dood vermy, is nog net so relevant in 2022 as in vergange jare. Maar daar is goeie redes daarvoor. Benewens die ooglopende onaangenaamhede soos dat die dood met onder meer hartseer, trauma, verlange en ontwrigting van menselewens gepaard gaan, is daar ook die saak van mense se totaal onversoenbare idees oor die dood. En mense kan vinnig van mekaar wegdryf in dié verband. Dit kos een boek, een gesprek, miskien een YouTube-video wat jou perspektief totaal kan laat skuif van hoe jy dit eens saam met moedersmelk ingekry het. Des te meer in hierdie tye waarin ons vandag leef, wat gekenmerk word aan ’n oormaat van kompeterende inligting. Daar is darem ook al behoorlik oor die dood in Afrikaans geskryf in die verlede. Ek dink byvoorbeeld aan die filosoof Anton van Niekerk se boek Die dood en die sin van die lewe (Tafelberg, 2017). Ek gaan krap in my boekrak en lees weer die woorde van Van Niekerk op die agterblad van sy boek: “Die feit dat ons sterf, is die een ding wat ons almal in gemeen het. Elkeen van ons lewe in die seker wete dat wat ek tans is en beleef, verbygaan. Om daaroor na te dink en te praat is nie onfatsoenlik of eksentriek nie, maar noodsaaklik in ons pogings om verantwoordelik, en daarom uiteindelik ook sinvol, te lewe.”
............
Geseënd is dié wat treur is eintlik ’n boek wat fokus op die onderwerp van verlies – wat ’n veel wyer begrip is as die dood. Sommige van die bydraes in die boek fokus dan ook op verlies wat nie noodwendig die dood behels nie.
...............
Geseënd is dié wat treur is eintlik ’n boek wat fokus op die onderwerp van verlies – wat ’n veel wyer begrip is as die dood. Sommige van die bydraes in die boek fokus dan ook op verlies wat nie noodwendig die dood behels nie. Maar baie spoedig word die boek grootliks ’n boek wat op die dood fokus, in een na die ander vertelling. Ek het die voordeel gehad dat die persoon wat my kopie eerste gelees het, die boek met ‘n potlood getakel het. Op dié manier kan mens nogal goed onder die indruk kom watter gedeeltes vir daardie leser aangrypend was. En mens kan dikwels sien hoekom. En daar is ’n patroon. Dit doen die siel goed om jou eie ervaringe te kan raaklees in andere se skrywes. Carina Stander skryf op bladsy 124: “[E]k wou aan die woordloses ’n stem gee, ’n omskrywing waarmee hulle hul eie verlies kon uitdruk.” Dit is die gevoelens van verlies wat die ervaring van die dood waarskynlik universeel maak. Alhoewel daar dus reuseverskille bestaan, veral ten opsigte van die vraagstuk van lewe anderkant die dood, is daar ook so baie waaroor die mens wel kan saamstem, veral ten opsigte van die emosionele ervaring van die dood.
Die bydraes in die boek wat vir my uitstaan, is gevolglik al daardie bydraes wat iets van die ervaring van die dood van ’n geliefde of geliefdes verwoord. Ek dink amper onwillekeurig aan woorde uit daardie lied van die rockgroep Mike and the Mechanics getiteld “The living years” wat lui: “I wasn’t there that morning when my father passed away.” Skuldgevoelens is so ’n tipiese ervaring van mense wat agterbly. En magteloosheid. Die besef dat alles verby is. Daar is geen meer salf aan te smeer nie. Die finaliteit van die dood. Sommige van die verhale is besonder persoonlike vertellinge. Interessant is die feit dat byvoorbeeld Danny Fourie in sy bydrae getiteld “Op pad … na wat?” verwys na die boek The accidental mind: how brain evolution has given us love, memory and God deur David Linden. Die probleem van die vraag om lewe na die dood word dus nie totaal ongenuanseerd in die boek benader nie, hoewel die oorhoofse benadering tot die probleem grotendeels Christelik en/of apologeties is, en dus wel lewe na die dood veronderstel. Gesprekke oor lewe na die dood is dikwels glad nie aangenaam nie, en sou jy lewe na die dood bevraagteken, word mens sommer gou gekonfronteer met stapels boeke wat getuig van ervaringe anderkant die graf. Die belangrikste in hierdie verband is miskien nie wie is reg of verkeerd nie, maar dat mense leer om mekaar se verskille te aanvaar en respekteer, iets wat nie aldag gebeur nie.
Die bydraes in die boek waarvan ek die minste gehou het, was die bydraes wat basies suiwer teologies van aard is. Die Bybel is veral problematies omdat dit skyn asof die skrywers van die Bybel self ook verskillende idees gehandhaaf het, nie net ten opsigte van die dood nie, maar oor talle ander sake en selfs oor historiese feite. Die teoloog Stephan Joubert waarsku dat “goedkoop troos en halfgebakte waarhede oor God” (57) nie geduld kan word nie. Hy weerlê gevolglik verskeie van die tipiese verdagte opmerkings wat dikwels oor die dood gemaak word. Joubert argumenteer volgens die bekende Gereformeerde tradisie dat die dood nie die werk is van die “vyand wat kom roof nie”, maar dat dit God is wat mag het oor lewe en dood. Oor of God of die duiwel vir die dood van mense verantwoordelik is, is ’n saak waaroor gelowiges tradisioneel glad nie saamstem nie. Die veronderstelling dat God oor lewe en dood heers, lei logies vir menige gemiddelde mens tot die volgende probleem, soos goed verwoord deur Helene de Kock: “Waarom verloor ek dit wat vir my kosbaar is as God ’n God van liefde is?” (183) – ’n vraag waarop De Kock, terloops, ook maar skynbaar geen substansiële antwoord te bied het nie.
Daar is nie minder nie as twee bydraes deur die omstrede teoloog Solly Ozrovech (1927– 2015). Benewens die feit dat Ozrovech ’n besonder verdelende figuur is om redes wat vir baie mense bekend is, is die bydraes van Ozrovech boonop ook nog oorgeneem uit ouer bronne, wat reeds gepubliseerde boeke is. Mens kan nie anders as om te wonder nie: Daar is tog so baie briljante Afrikaanse skrywers wat wonderlike vars bydraes sou kon gelewer het. Dalk Anton van Niekerk self. Of Jaco Strydom. Of selfs Dana Snyman. Om maar enkeles te noem. Hoekom reeds gepubliseerde artikels weer gaan opdelf? Maar laasgenoemde moet geensins mense laat om die boek te koop en te lees nie. Daar is werklik besonderse bydraes deur geliefde Afrikaanse skrywers, soos Barend Vos, Ivor Swartz, Helene de Kock, Bettina Wyngaard, Julian Jansen, Susan Coetzer en andere. Bettina Wyngaard se verhaal is een van die min in die boek wat nie handel oor die dood nie, maar eerder ’n ander soort verlies dokumenteer waarmee baie mense hulle ook waarskynlik sal kan assosieer. Ook Francine Prins se verhaal het nie die dood as onderwerp nie, maar eerder hoe die lewensloop se ontnugteringe met verliese gesaai is. Verskeie van die verhale in die boek speel af in die konteks van die Covid-pandemie, ’n tyd wat juis ook met baie soorte verlies gepaardgegaan het, waaronder veral die dood. Marzanne Leroux-Van der Boon (1940–2022), wat ook intussen oorlede is, se bydrae getiteld “Die dood kan nie dít doodmaak nie” handel oor haar enigste suster se heengaan.
............
Oor die algemeen het ek baie gehou van Geseënd is die wat treur. Boeke soos hierdie wat ’n verskeidenheid van perspektiewe en verhale saambring, is amper gewaarborg om interessant te wees.
.............
Oor die algemeen het ek baie gehou van Geseënd is die wat treur. Boeke soos hierdie wat ’n verskeidenheid van perspektiewe en verhale saambring, is amper gewaarborg om interessant te wees. Selfs al is die verhale ooglopend vanuit die Gereformeerde Christelike perspektief geskryf, sal dit verkeerd wees om te dink dat daar nie juis nuansering in die boek te vind is nie. Hierdie skrywers dokumenteer nie net hulle emosionele gewaarwordinge wat deel is van die traumatiese proses van verlies aan die dood nie, hulle kyk hier en daar ook krities, en krap liggies aan die aanname dat daar wel iets anderkant die dood vir die mens wag. Dit is slegs daardie klein klompie bydraes wat amper suiwer teologies is wat die boek so ietwat ontsier. En dit is ook maar net my opinie, waarmee enige iemand vry is om te verskil. Die teologie het selfs na ’n 2000 jaar lange dinkskrum nog steeds nie regtig goeie, soliede en oortuigende antwoorde wanneer dit by die dood kom nie. Inteendeel, die teologie het al baie skade gedoen in die verlede, spesifiek waar daar gepoog is om maklike antwoorde aan getraumatiseerde mense voor te hou. Daarteenoor het die eenvoudige daad van die deel van ervaringe in die vorm van verhale besondere potensiaal en krag, omdat dit mens so onder die indruk bring van die feit dat jy nie alleen is in jou gewaarwordinge nie. Dat daar mense voor jou was wat presies kon verwoord wat jy dalk self nie geweet het hoe om dit te verwoord nie. Dit is laasgenoemde wat my altoos lok na boeke soos hierdie, en ek kan volstaan deur te sê dat Geseënd is die wat treur geensins teleurstel wat dit betref nie.


