
PEN South Africa en PEN Afrikaans is uiters ontsteld oor die onlangse besluit van die minister van sport, kuns en kultuur, mnr. Gayton McKenzie, om die inskrywing van die werk wat aangewys is om Suid-Afrika by die 61ste Venesiese Biënnale te verteenwoordig, te kanselleer. Volgens ’n berig deur Daily Maverick is die besluit geneem nadat die werk reeds deur ’n streng en onafhanklike kuratoriese proses gekies is, en is die redes vir die kansellasie van die inskrywing “as gevolg van inhoud wat verband hou met die dood van vroue en kinders in Gasa.” Berigte dui daarop dat minister McKenzie die betrokke kunswerk, Elegy, deur die bekroonde Suid-Afrikaanse kunstenaar Gabrielle Goliath, as “hoogs verdelend van aard” beskou as gevolg van die onderwerp daarvan en dus as onvanpas vir nasionale verteenwoordiging in die buiteland.
As organisasies wat verbind is tot die verdediging van uitdrukkingsvryheid en die outonomie van skrywers en kunstenaars, is ons bekommerd oor die minister se blatante daad van sensuur. Hierdie verontrustende voorval kan egter nie in isolasie gesien word nie. In Oktober 2025 het PEN South Africa en PEN Afrikaans ’n gesamentlike verklaring uitgereik waarin ons kommer uitgespreek het oor die onttrekking van staatsteun aan groot kunste- en literêre feeste, en die gebrek aan beraadslaging met die sektor rakende hierdie besluite. Ons het destyds gewaarsku dat arbitrêre of eensydige optrede deur die departement van sport, kuns en kultuur ’n reeds brose kunste-ekosisteem skade berokken en dui op ’n minagting vir die rol wat onafhanklike kulturele instellings in ’n demokratiese samelewing speel. Die kansellasie van die Venesiese Biënnale-voorlegging versterk hierdie kommer en dui op ’n ontstellende patroon van politieke ingryping in die artistieke en kulturele lewe.
Gabrielle Goliath se Elegie is gekies deur ’n komitee bestaande uit kunshistorici, kurators, kritici en ander hoogs gerespekteerde rolspelers uit die kunstesektor. In ooreenstemming met hul standpunt spreek PEN South Africa en PEN Afrikaans hul “onomwonde steun vir die kunstenaar, die kurator en hul projek uit te midde van politieke druk en pogings om vrye uitdrukking stil te maak en artistieke integriteit in gedrang te bring”. Ons doen ook ’n beroep op die departement van sport, kuns en kultuur om sigself te verbind tot die beskerming van artistieke outonomie en om te verseker dat geen kunstenaar gesensureer word vir die aanroer van menseregtekwessies of globale ongeregtighede nie.

