Germanicus vir vandag

  • 1

“As ons samelewing dan só siek is [...] as dinge werklik nie langer só kan aangaan nie – wat staan ons dan te doen?” So vra Dirkie Smit in sy rubriek “Geestelike waardes” van 2 Mei.

Hierdie vraag staan ook sentraal in NP Van Wyk Louw se historiese drama Germanicus. Germanicus (15 vC – 19 nC) was ’n briljante Romeinse veldheer wat roemryke militêre oorwinnings in Germanië behaal het. Hy het groot agting by die volk geniet en is met eerbewyse oorlaai – ironies genoeg, veral na sy vroeë dood op 34-jarige leeftyd. In Louw se drama lê Germanicus se grootste probleem op ’n etiese vlak: Hoe kan die medemenslikheid behoue bly, in hom en om hom, in ’n tyd van algemene vyandskap en oorlog? Germanicus leef in ’n tyd van bitterheid en haat tussen die Romeine en diegene met wie hulle oorlog voer; ook is die Romeinse volk self besmet deur korrupsie, gierigheid en magsug. Dis ’n tyd wat as ‘t ware hondsdol geword het: “Dié dolheid is aansteeklik; die hond byt/ en ék word dol, wat netnou nog sy baas was/ en redelik.”

Germanicus verlang daarna om sy morele suiwerheid te behou; hy wil “self skoon bly in die vuil”. Hy weet egter dat hy nie die wêreld waarin hy leef, kan verander as hy nie gewillig sou wees om die mag te gryp nie – en dan sou hy teen sy morele kode as onderdaan van die keiser handel. In sy dilemma besluit hy op ’n kompromis en gaan heers as die keiser se wettige verteenwoordiger in die Midde-Ooste; hy heers dus sonder om sy hande vuil te maak. Maar uiteindelik dring die besef tog tot hom deur: “’n Mens die moet ook modderig wees/ as jy wil mens-wees – óf as jy wil heers ...” Sy strewe om homself skoon te hou in ’n tyd van algemene onsuiwerheid sou inderdaad as egoïsties geïnterpreteer kon word.

Daar is interessante parallelle én verskille tussen Van Wyk Louw se voorstelling van Germanicus en die lewensloop van Dietrich Bonhoeffer, oor wie Anton van Niekerk insiggewend in Die Burger van 28 April geskryf het. Ook Bonhoeffer het geworstel met die vraag hoe om op te tree in ’n tyd wat “dol” geword het. Wat kan jy doen in ’n samelewing waar haat en rassisme heers, waar regering, kerk en volk daardeur besmet is? Bonhoeffer het besluit om betrokke te raak by ’n komplot om Hitler te vermoor – hy het dus “modderig” geword in ’n poging om die oorlog tot ’n einde te laat kom en medemenslikheid in sy land te herstel. Hy is egter gevange geneem, twee jaar in die tronk gehou en kort voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog tereggestel. So het hy letterlik waar gemaak wat hy in sy boek The Cost of Discipleship (die titel van die Engelse vertaling) geskryf het: “When Christ calls a man, He bids him come and die.”

Bonhoeffer se invloed het egter nie met sy dood geëindig nie – inteendeel, ’n mens sou kon beweer dat sy invloed enorm vergroot is deur die martelaarskap waarmee hy die egtheid van sy geloof bevestig het. Sy briewe uit die tronk, versamel deur sy vriend Eberhard Bethge, het ’n belangrike invloed uitgeoefen op die teologie na die Tweede Wêreldoorlog – in Engels is dit vertaal as Letters and Papers from Prison.

Van Niekerk wys op die radikale wending wat Bonhoeffer se denke skynbaar in die tronk ondergaan het. Hy skryf in sy laaste briewe oor die moderne sekulêre samelewing en die mens wat mondig geword het, en vra hom af wat dit vir die geloofslewe van die Christen beteken. Hy wys daarop dat die mens nie meer op God as ’n tipe deus ex machina moet vertrou as die Een wat alle probleme oplos en alle vrae beantwoord nie. Nee, skryf Bonhoeffer, die mens moet self verantwoordelikheid vir sy lewe aanvaar. Van Niekerk stel Bonhoeffer se beskouing soos volg: “God wil ons leer om sonder Hom in die wêreld klaar te kom. Dis die betekenis van wat op Golgota gebeur het. Daar rangeer God Homself uit ons wêreld deur aan die kruis te sterf.”

Hierdie weergawe is korrek, maar het aanvulling nodig. In sy mees aangehaalde brief, wat op 16 Julie 1944 geskryf is, sê Bonhoeffer onder andere: “Before God and with God we live without God. God lets himself be pushed out of the world on to the cross. He is weak and powerless in the world, and that is precisely the way, the only way, in which He is with us and helps us.” Met ander woorde, Bonhoeffer is geïnteresseerd in die paradoks dat God aan die kruis swak geword het om ons te kan help en dat ons met God én sonder God moet leer leef. Hy het nooit die band met sy God prysgegee nie; sy beroemdste gedig, “Who am I?”, geskryf ’n maand voor sy dood, eindig dan ook met die woorde: “Whoever I am, thou knowest, O God, I am thine.” Na sy mislukte poging om van die bose HItler ontslae te raak, verwyderd van enige magsinstelling wat kan help, word Bonhoeffer soos sy God – swak en skynbaar hulpeloos sodat hy ander kan help.

Hierin is nog ’n ooreenkoms tussen Germanicus en Bonhoeffer: die teenstelling tussen hulle magtelose fisieke einde en hulle positiewe nadoodse nalatenskap. Germanicus sterf, skynbaar vergiftig, op taamlik jeugdige leeftyd. Sy siening van ’n algemene empatie en menslikheid was sy tyd vooruit: dit was volkome verwerplik vir diegene wat aan ’n eng Romeinse nasionalisme vasgehou het. Skynbaar oorwin sy vyande wanneer hy sterf – en tog bevat sy laaste woorde ’n element van hoop: “Dalk gaan niks verlore nie.” Hoe kan hy so ’n stelling maak?

In die drama is daar ’n paar subtiele suggesties dat Germanicus as ’n voorloper van Jesus beskou kan word – Germanicus se strewe na ’n algemene menslikheid berei die weg voor vir Jesus se boodskap van ’n insluitende liefde. In sy wanhoop aan die tyd waarin hy leef, uiter Germanicus ’n moontlikheid van hoop: “Een sou kon kom wat daarvan mense maak,/ weer mense maak, – hy sou ’n god moet wees.” Wanneer hy in die Midde-Ooste heers, ontvang hy as geskenk ’n skarabee van blou glasuur – ’n antieke Egiptiese simbool van onsterflikheid. Germanicus is bewus van geestelike werklikhede in die Midde-Ooste waarvan die Romeine min weet; hy besef dat die gebied vol nuwe moontlikhede is: “[E]n áls is vrugbaar soos ’n voor vol koel blou mis.” Hy sterf wel te vroeg om die verspreiding van die nuwe boodskap van inklusiewe liefde te beleef, maar dalk is hy ’n voorloper wat deur sy voorbeeld die weg vir die nuwe idees voorberei. Sy lewe bly staan as ’n riglyn vir die nageslag; inderdaad “gaan [dalk] niks verlore nie”.

Dit is dan miskien die antwoord op die vraag wat Dirkie Smit gestel het: Hoe moet ’n mens lewe wanneer die samelewing deur en deur verdorwe is? Die antwoord van Dietrich Bonhoeffer en Van Wyk Louw se Germanicus lui: Lewe só dat jou lewe ’n erfenis agterlaat wat ’n lewensmoontlikheid skep vir dié wat ná jou kom. Dit is in hierdie antwoord dat hulle grootsheid geleë is.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top