Gerhard J Beukes (1913–1998)

  • 1

 

Sêgoed van Gerhard J Beukes

“Ek skryf vir my mense; ek skryf volkstoneel.” (PP Breytenbach: Inwyding van die Gerhard Beukes-kamer by Naln, 1978)

Raad aan skrywers: “Lees alle kritiek, die aanprysende én neerhalende, glimlag oor albei, moet nie een van die twee te ernstig opneem nie en gaan aan met jou werk.” (Volksblad, 19 November 1983)

“Geen skrywer kan in ’n lugleegte skryf nie – elkeen het weerklank nodig en dit het ek by mede-Afrikaners gekry wat my werk gelees, waardeer en ook gekritiseer het.” (Volksblad, 19 November 1983)

“Die belangrikste is dat jy moet glo in wat jy doen.” (Volksblad, 19 November 1983)

“Sonder drome kan ’n mens nooit lewe nie. En sonder jou mense ook nie.” (Rapport, 6 September 1998)

Oor sy kontrei waar hy gebore is: “Jy weet, daardie kontrei waar baie mense soos ’n sleg ska’wagter sal wegloop. Die wêreld met die leë reënwolke wat bo verbytrek en stofstorms wat onder verbytrek.” (Rapport, 6 September 1998)

“My tyd as dosent was van my vreugdevolste jare, toe ek daarin geslaag het om te doen wat ek die graagste wou doen: om studente te leer hoe om te dink en nie wat om te dink nie.” (Die Burger, 3 September 1998)

“Dis vir die volk dat ek skryf. Ek wil niks meer lewer as volkstoneel nie. Jy moet te alle tye eerlik staan teenoor die tema wat jy behandel, jy moenie probeer om meer te wil wees nie, diepsinniger as waartoe jy in staat is nie. Jy moet put uit jou persoonlike ervarings, anders doen dit oneg aan.” (Volksblad, 5 Februarie 1981)

In 1988 het die destydse president PW Botha die hand van goeie wil na Andries Treurnicht uitgereik wat sekere voorwaardes gehad het. Gerhard Beukes se reaksie hierop: “Om die hand van Afrikaner-vriendskap, om watter rede ook al, weg te stoot omdat jy glo dat jy daarsonder in die toekomsjare kan klaarkom, is onrealisties en kortsigtig. Niemand van ons is ooit belangrik of sterk genoeg om die hand van ’n medemens wat om opregte vriendskapsredes na ons uitgesteek word, weg te klap nie. Die prys wat in die toekoms hiervoor betaal sal moet word, kan vir almal – aanbieder en weieraar – te hoog wees.” (Volksblad, 14 September 1988)

Behoort die FAK bruin lede toe te laat? “Ek is sterk ten gunste van die oopstelling van die FAK vir anderskleurige Afrikaanssprekende kultuur- en taalgroepe – net soos ek twaalf jaar gelede reeds die toetrede van anderkleurige Afrikaanssprekende akademici en skrywers as lede van die SA Akademie gesteun het. Hoofsaak hier bly immers die versterking van die Afrikaanse gedagte en die bevordering van ons kuns en letterkunde deur ons eie taal.” (Volksblad, 22 Julie 1987)

Gebore en getoë

Gerhard Johannes Beukes is op 21 November 1913 net ’n klein entjie van die Augrabieswaterval op die familieplaas Biesjespoort naby Upington in die Noord-Kaap gebore. Hy het vertel (Naln-knipsel: skrywer en bron onbekend) dat hy in ’n watent aan die kant van die Kalahari gebore is. Hy was een van sewe kinders.

Hy het sy geboortewêreld so beskryf: “Dis ’n wêrelddeel daardie waar alles skaars is – reën en geld en ander dinge wat mense gewoonlik met ’n sorgelose bestaan verbind. Tog besit dié berge en vlaktes ’n bekoring waaraan ek nog nooit kon of wou ontkom nie: die vrede van ’n oerstilte wat daar tussen die koppe en duine nog nooit heeltemal verdryf is nie. Die dramatiese teenstellings tussen felle sonlig en koel kameelboomskaduwees, tussen vlaktes en loodreg-kranse, tussen sandjaar en blomjaar, het deur my kinderjare deel van my begrip van die lewe geword: die goeie en kwade is nooit interessanter as wanneer hulle langs mekaar gevind word nie.

“Die afgesonderdheid waarin ek groot geword het, was oorsaak van ’n ander voorreg waaraan ek vandag met vreugde terugdink: ek kon baie lank kind bly om met peulewaens, kakebeenwaens, dolosse, kleiperde en boomtorre elke dag my deel van die pret uit Kinderland karwei.

“Ek was byna elf jaar oud toe ek die eerste maal op ’n skoolbank gaan sit het – hoofsaaklik deur die onvermoeide ywer van my oorlede moeder wat uiteindelik daarin geslaag het om ’n skooltjie op ons plaas te kry.”

Voordat hy skool toe is, het hy sy tyd op die plaas verwyl deur in die kokerboomrante rond te klouter en onder die kameeldorings tussen die ou Boesmangrafte te speel.

Hy het aan Maretha Maartens (Voorligter, Desember 1993 / Januarie 1994) vertel dat hulle arm grootgeword het: “Ons was sewe kinders. Daar was nie geld vir almal om geleerd te kom nie en tog het die Here dit wonderbaarlik gedoen: al sewe het onderwysers geword.”

Beukes het sy hoërskoolopleiding voortgesit op Keimoes en in 1932 op Upington gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Ná skool, in 1933, is Gerhard Beukes na die Universiteit Stellenbosch om hom in die onderwys te bekwaam. Op Stellenbosch het hy sy BA-graad behaal, asook die Sekondêre Onderwysdiploma. Hy het vertel dat sy studentelewe baie bedrywig was en dat hy “geleer het om belang te stel in die mens en sy doen en late. Hier het ook my letterkundige belangstelling wat reeds in die hoërskool ontwaak het (daar het ek destyds al ’n hele oefeningboek vol ‘gedigte’ geskryf!), rigting begin vind en my eerste ernstige literêre proewe – sketse en kortverhale – dateer uit hierdie tyd.” (Naln-knipsel: skrywer en bron onbekend)

Fransie Malherbe het as dosent baie tot die jong Gerhard Beukes se belangstelling in die letterkunde bygedra. Hy het ook ’n groot rol gespeel in sy vroeë letterkundige vorming. “Hierbenewens het ek in Matieland nog baie ander dinge gevind om in later jare dankbaar voor te bly en nie die minste hiervan was om jonk te kon wees tussen ander jong mense en saam met hulle, maar tog apart, ’n eie lewensbeskouing te kon opbou.”

Hy wou aanvanklik vir predikant gaan studeer het, maar “dit was depressiejare en sewe jaar se studie sou te veel kos. Ek moes so gou moontlik geld begin verdien en het toe ’n onderwyser geword,” het hy aan Elsabé Ackermann vertel (Ons Stad, 11 Augustus 1988).

Hy het sy onderwysloopbaan in 1937 aan Michaelhouse in KwaZulu-Natal begin en in 1939 is hy na Pretoria Boys’ High School.

Gerhard Beukes se liefde en aanvoeling vir die toneel het van sy studies gekom. Normaalweg kom die belangstelling of die liefde vir iets eerste, en dan kom die studies. Maar gedurende sy studiejare, toe hy aan sy doktorstesis gewerk het, het hy die toneel “ontdek”, het Beukes aan Braam Muller vertel (Volksblad, 5 Februarie 1981). Hy het hom twee jaar nadat hy aan sy tesis begin werk het, so vasgeskryf aan die tema “Kunsaspekte van drama” dat hy nie geweet het hoe hy daar sou uitkom nie. Hy het toe besluit om sy hoofstuk oor die eenbedryf te gebruik en sy proefskrif daaromheen te bou.

Elke eenbedryf is in Afrikaans, Engels en Duits gelees en ook ander wat vertaal is, en nadat hy die tegniek klaar onder die knie gehad het, het hy besluit dit is tyd dat hy die teorie in die praktyk moes toepas. En dit was die begin van sy loopbaan as skrywer van eenbedrywe. Hy was ook in die bevoorregte posisie dat hy sy eenbedrywe op die verhoog kon sien en só kon hy dus verdere skaafwerk aan sy eenbedrywe doen.

Hy het sy MA in 1939 met deeltydse studie deur die Universiteit van Suid-Afrika behaal met die verhandeling “Die individualisme in die algemeen en sy uiting in die jongste Afrikaanse poësie”. In 1946 het hy sy doktorsgraad (DLitt) aan die Universiteit van Pretoria behaal met sy tesis “Die moderne eenbedryf”.

Ná tien jaar in die onderwys is hy op 1 Julie 1947 as senior lektor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat aangestel en vanaf 1960 as professor in die Afrikaanse letterkunde, ’n pos wat hy tot sy aftrede in 1978 beklee het.

In 1956 het Beukes die Carnegie-beurs verower. Hy is vir drie maande na Amerika, waar hy ’n studie van die moderne toneeltegniek gemaak het. Hy het die belangrikste universiteite in Amerika besoek, maar het veral aan Yale-universiteit gestudeer. Hy het terselfdertyd die professionele teater by die Off-Broadway-teater bestudeer.

Gerhard Beukes en Isabella Pretorius het mekaar in 1933 as studente op Stellenbosch ontmoet en in 1940 is hulle getroud. Twee seuns is uit die huwelik gebore: Johann en Gerhard. Pattie, soos sy vrou bekend gestaan het, is in Oktober 1992 in Bloemfontein oorlede. Beukes is in 1994 met Marie Lategan getroud.

Oor die publikasie van sy eerste boek vertel hy aan Beeld (2 Augustus 1988): “Ek was 29 jaar oud toe ek besluit het om ’n manuskrip vir publikasie voor te lê. Ek het daar in Pretoria se hoofstraat voor die uitgewer Van Schaik se gebou rondgedrentel. Ek was te skaam om in te gaan. Later is ek toe maar daar in en was heeltemal uit die veld geslaan toe Oubaas van Schaik self my manuskrip lees. Die manuskrip was vir ses eenbedrywe. Daarna het ’n hegte band tussen my en die uitgewers ontstaan.”

Die eenbedryf het hom baie na aan die hart gelê. In die vroeë 1940’s was daar ’n skaarste aan eenbedrywe wat geskik was om opgevoer te word en het Beukes hier ’n groot rol gespeel wat byna as onmisbaar beskryf kan word. Hy het self eenbedrywe begin skryf, maar dit was nie al nie – hy het ook ander skrywers aangemoedig om in die genre te skryf en dit dan op te neem in eenbedryfbundels sodat amateurtoneelverenigings dit kon opvoer.

Dit was as dramaturg dat Gerhard Beukes vir hom in die Afrikaanse letterkunde naam gemaak het, en in sy skeppende werk het die wêreld en die mense waar hy grootgeword het, altyd as inspirasie gedien – “daardie taai mense wat deur die harde, reën-arme Noordweste gedwing word om nooit hulle afhanklikheid van hulle Skepper te vergeet nie en hulle harte oop te maak vir hulle medemens; ’n landstreek wat as die reënbui geval het, binne enkele dae die gousblom geil oor die vlaktes te laat sprei en die boesmangras laat blink in die son om só sy mense se harte weer met blydskap en lus vir die lewe te vul,” het FEJ Malherbe in ’n stuk oor Gerhard Beukes geskryf.

Beukes het in ’n radio-onderhoud oor sy inspirasie gesels: “Altyd maar weer stap jy terug na jou kinderspeelplekke vir presiese belewenis van een of ander ervaring wat jy in jou skryfwerk herlewe. Vandag nog, wanneer ek een of ander toneel presies probeer aanvoel, is dit selde my onmiddellike omgewing of ervaringslewe wat die beelde verskaf. Byna altyd is dit herinneringe uit my kinderjare. ’n Toestand van geluk byvoorbeeld assosieer ek altyd met die geur van ’n seldsame bergblom op ons plaas wat net in uitsonderlik reënjare bloei. Swaarkry bly weer gekoppel aan die wit hitte van ’n Desemberagtermiddag wanneer ‘die bobbejane oor die bulte perdry’ soos ons as kinders die dans van die hittegolwe oor die swart rante genoem het’.”

Gerhard Beukes se dramas met hulle gebondenheid aan die natuur en die volk kan dalk van die redes wees hoekom die mense van Suid-Afrika só aanklank daarby gevind het. Veral die stukke waarin sy humoristiese aanslag duidelik was, was baie gewild. Sy dramas, wat sy eenbedrywe insluit, was volgens Dalro tot die laat 1970’s die meeste opgevoer van enige dramaturg in Suid-Afrika.

Hy het drie vollengte-toneelstukke wat as blyspele beskou kan word, geskryf, naamlik As ons twee eers getroud is! (1952, deur Siegfried Mynhardt geregisseer); Verkiesing sonder politiek! (1955, met Robert Mohr as regisseur) en Die vonkel in haar oë! (1960, met Michal Grobbelaar as regisseur). Al drie die stukke is deur die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) op landswye toere geneem. Hierdie toere het almal langer as ’n jaar geduur.

Dan was Beukes ook verantwoordelik vir ernstiger dramas, soos Salomé dans!, Die swart engel, Judas van Keriot en Jesus van Nasaret.

Sy eerste stuk, Die swart engel (1947), is in die Volksteater opgevoer, en al was die stuk baie melodramaties, is dit goed ontvang. Daarna is ook Bo-op die berge in die Volksteater op die planke gebring, maar volgens Braam Müller (Volksblad, 5 Februarie 1981) was daar soveel “swaar filosofieë” in die stuk dat dit nooit gepubliseer is nie.

Beukes het aan Müller vertel dat hy lank met ’n gedagte loop en broei voordat dit uiteindelik as ’n toneelstuk vorm aanneem. PP Breytenbach het vir Beukes baie aangemoedig en was die inspirasie agter onder andere Verkiesing sonder politiek!. Dit was heel moontlik die eerste stuk uit eie bodem wat die spot gedryf het met die Afrikaner se beheptheid met politiek, rugby en skoonheidskoninginne.

Die raad van die NTO was destyds nie seker of hulle die stuk moes opvoer nie, maar Eitemal was van mening dat die Afrikaner volwasse genoeg was om met homself te spot en vir homself te lag. “Ek kan nie vernietigend spot soos George Bernard Shaw of Oscar Wilde nie. Dis ’n goedige spot soos mens onder vriende en huisgenote sal kry”, aan Braam Muller.

Oor As ons twee eers getroud is skryf FV Lategan in Patrys van Mei 1959 dat die klug karakters bevat wat kleurvol en volkome menslik is. “In hierdie stuk waardeur die NTO tot dusver sy groot sukses dwarsdeur ons land bereik het, gee Beukes vrye teuels aan die ongedwonge lag. (...) Die handeling in hierdie drama jaag dan ook met ’n vaart van een lewendige, komieklike situasie na ’n ander.”

Vir Lategan kan ’n mens As ons twee eers getroud is beskryf as ’n “klugtige blyspel, want dit is nie net bereken om die lagspiere te prikkel nie, maar om ’n diepere waarheid (soos Beukes dit in die lewe aanvoel) te vertolk, naamlik dat hoewel die mens ook in die huwelik allerlei swakhede en dwaashede openbaar, die ware geluk tog maar binne die gesinslewe te vinde is.”

In Ons Eie Boek (17:2, 1951) bespreek FEJ Malherbe die tien eenbedrywe van Beukes wat gebundel is onder die titel Kerse teen die wind. Vir Malherbe is Gerhard Beukes een van die beste skrywers van eenbedrywe in Afrikaans. “Vir sy stof kies hy die verhewigde lewensoomblikke van krisis wat hy vindingryk en sterk konsipieer, en skep daaromheen gelaaide atmosfeer. Met oefening sal hy nog voller verwikkeling kan aanbring om die krisis steeds oortuigend te laat afloop – veral waar hy graag, en knap, met verrassing werk.”

Kerse teen die wind, met die subtitel tien eenbedrywe, bestaan uit ses ernstige stukke en vier klugte. Van die ernstige eenbedrywe is Die hand wat Hy eenmaal geneem het, wat oor die dood van Judas Iskariot handel, en vir Lategan is die “beligting van ’n verskeidenheid van karakters in so ’n kort bestek merkwaardig en dramaties suiwer”. In Okotobernag gaan dit oor ’n meisie wat gedurende die rebellie haar minnaar self doodmaak sodat hy nie deur die vyand gevang kan word en as lafaard blootgestel sou word nie, maar vir Lategan het Beukes nie deur die hele stuk haar daad goed genoeg gemotiveer nie.

Die titelstuk, “Kerse teen die wind”, takel die amper holruggeryde tema van die verarmde boere wat stad toe trek, maar volgens Malherbe het Beukes, “met sy voortreflike sin vir die eenbedryf, daar ’n oorspronklike wending aan gegee in ’n afgeronde dramatiese situasie”. Met Laat die kerse brand het Beukes ’n diep en emosionele Kersspel geskep waarin die toeskouer blootgestel word aan die lewe van ’n jong ma in die nag van die kindermoord in Rama.

Malherbe het Die vrees as Beukes se “beste en rypste” eenbedryf beskryf. En ook hierdie stuk se opbou gaan rondom die motief van verrassing.

Malherbe beskryf Beukes as ’n “ernstige, eerlike en simpatieke jong werker wat met selfkritiek gedurig besig is om verbeterings in sy stukke aan te bring en van opvoerings leer om ook die speelbaarheid daarvan te verhoog. Veral in hierdie tyd van geestelike vervlakking wat sy versoekinge vir elke skrywer voorhou, is sulke erns dubbel te waardeer.”

Oor Laat die kerse brand skryf Jaco van der Merwe in Ons Eie Boek (datum onbekend) dat hierdie bundel eenbedrywe spreek van besliste talent en toon dat die skrywer dit erns het met sy werk en daaraan toegewy is. Daar is geen tekens dat die skrywer haastig of oppervlakkig te werk gegaan het nie, en daar is oomblikke wat so suiwer en dramaties is dat ’n mens dit sal onthou; maar vir Van der Merwe het dit net by oomblikke gebly.

In Junie 1946 is Beukes se drama Die swart engel in die Pretoriussaal in Pretoria op die planke gebring. Oor hierdie opvoering het S Ign Mocke in Horison (Julie 1946) geskryf dat Beukes met hierdie drama ’n eervolle plek in die Afrikaanse drama ingeneem het en dat Hélène Güldenpfennig haar bewys het as een van die beste regisseuses van amateurtoneel in Afrikaans.

Vir Mocke het Beukes “met hierdie drama eise aan die spelers en in besonder aan Marie Stegmann gestel, waaraan selfs ’n groot aktrise tekort sou kon skiet. Hy het één doel voor oë gehad: ’n Stuk wat artistiek en sielkundig sou bevredig, en al die faktore, wat ’n ‘populêre’ ontvangs sou kon verseker, met waaghalsigheid veronagsaam.”

Mocke het kritiek gehad teen Beukes se lang alleensprake en die grappige tonele wat dalk te lank kon wees, maar wat in Die swart engel uitgestaan het, is ’n “stuk smartvolle menslikheid, ’n tema-kompleks wat die hoogste eise stel, en die slot-indruk van Beukes se drama wat groots en pragtig is”.

Mocke was seker dat Beukes aan die paar gebreke sou werk en dat hy dan, “geniale” jong dramaturg wat hy is, ’n drama sou kon skryf wat “hart en siel en verstand sou bevredig”.

Salomé dans! is in 1950 deur Van Schaik gepubliseer, soos die meeste van Beukes se boeke. WJ du P Erlank (Huisgenoot, 13 April 1951) het geskryf dat Beukes se drama Oscar Wilde se Salomé as inspirasie gehad het, maar dit het nie sy oorspronklikheid verloor nie. Erlank het ernstige voorbehoude gehad oor veral die ontwikkeling van die karakter van Herodes, wat ’n “slap en ’n vlak getekende” karakter bly. En dit werk negatief in op die ontwikkeling van die ander karakters, soos Johannes en Salomé. Dit is vir Erlank jammer, want Gerhard Beukes “beskik werklik in hoë mate visie, hy beskik oor konsepsionele krag, hy het komposisievermoë, en tog is geeneen van sy drie langer dramas, ten spyte van hulle onmiskenbare verdienste, ’n gawe, tot in al sy onderdele deurwrogte geheel nie. Ook Salomé styg ver bokant die middelmaat van ons toneelliteratuur uit, en tog val dit benede wat Beukes in sy eerlike kunstenaarskap aan homself gestel het.” Maar al is Salomé dans! nie Beukes se beste nie, is dit ’n verhoogstuk wat Erlank sterk aanbeveel.

Jesus van Nasaret (1954) is aanvanklik as ’n hoorspel in die vorm van ’n dramasiklus in ’n reeks van 14 uitsendings oor die Afrikaanse radiosender uitgesaai. Oor hierdie reeks het J Kromhout in Ons Eie Boek (datum onbekend) geskryf dat dit nie sonder gebreke is nie, maar daar is soveel dele wat die luisteraar en die leser sal besiel en só diep sal raak dat enigiemand Gerhard Beukes moet bedank dat hy so ’n grootse taak aangepak het. “Deur hierdie pragtige Jesus-drama word ’n nuwe sektor in ons godsdiensonderrig geopen, met die radio as magtige bondgenoot.”

Gerhard Beukes se drama Judas van Keriot is in 1959 uitgegee en is in 1976 verwerk met die titel Man van Keriot. Die figuur van Judas Iskariot was baie lank een wat Beukes geboei het. In 1941 het hy sy eerste eenbedryf geskryf “na aanleiding van ’n artikel van dr Van der Merwe ... waarin hy ’n ander siening vir die verraad van die dissipel aanvoer”. Ook in sy radioreeks Jesus van Nasaret het Beukes probeer om ’n sielkundige uitleg vir Judas se verraad te verskaf. In Judas van Keriot het hy uiteindelik die kollig volkome op Judas laat val. Die rede vir Judas se verraad het regdeur dieselfde gebly, naamlik dat Judas vertrou het dat Jesus ’n grootse ryk op aarde sou stig en toe dit nie gebeur nie, het hy Jesus verraai.

Vir MPO Burgers (Huisgenoot, 23 Oktober 1959) is daar “wat stofaanbieding betref, een leemte: ons verneem, te midde van die dubbele verraad in die vierde toneel, nêrens duidelik wat Judas se eie vooropgesette plan met die verraad van Jesus was nie. (...)

“As geheel is Judas van Keriot ’n interessante werk, met talle treffende besonderhede wat die Bybelverhaal aanvul en verlewendig. Die donker probleem van Judas se voorverkiesing as Christusverraaier, wat aangedui is in Jesus van Nasaret en wat vir baie skrywers en teoloë die grootste vraag in verband met Judas is, word hier nie aangeroer nie, maar vervang deur die bestempeling van Judas as vernietiger, en deur die subtiele aanduidinge van sy aangetrokkenheid tot Jesus by sy verset teen Hom.”

Toe Gerhard Beukes in 1973 tot voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verkies is, het hy gesê dat hy baie verras was. “Die besef dat ek nou praat namens 400 volle en 700 assessorlede van die Akademie, wat die boonste intellektuele lae van die land insluit, stem tot nadenke. Die twee jaar wat ek as voorsitter optree, sal ek eerstens die gewone aktiwiteite van die Akademie behartig. Voorts sal ek trag om die stygende lyn in die denke van die Akademie verder uit te bou en te bestendig.” (Bron onbekend. Opskrif van artikel: “Gerhard Beukes stap voor”.)

Tydens sy voorsitterskap van die Akademie was Gerhard Beukes gemoeid met die verbod op Kennis van die aand van André P Brink. Hy het ’n ope debat bepleit waarin die Publikasieraad skrywers en die publiek in hulle vertroue neem. Dit was vir Beukes die enigste verantwoordelike wyse waarop letterkundige werke aan sensuur onderwerp kon word. “Dit wat verkeerd was in ’n werk, sou dit self vernietig en dit wat reg was, sou vanself daaruit spreek. (...) Die Akademie het nog altyd die doelstellinge van die Publikasieraad ondersteun, naamlik om te beheer wat ongewens is. Die Akademie lê twee voorwaardes vir sensuur op: dat dit altyd verantwoordelik en geregverdig is. Met verantwoordelik bedoel ek sensuur met volkome verstandhouding van die implikasies wat dit kan meebring op die vryheid van die skrywers sowel as die lesers. Dit beteken ook dat literêre en artistiese kwaliteit rekening mee gehou moet word. Met geregverdigde verstaan ek dat die raad altyd volle redes moet verstrek vir die redes van die verbod.” (Daily Dispatch, 2 Februarie 1974)

In 1979, om saam te val met Gerhard Beukes se 65ste verjaardag en sy aftrede by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, het Van Schaik Uitgewers ’n huldigingsbundel eenbedrywe deur Beukes getiteld Kortgesprek deur Charles Malan laat saamstel. Die bundel bevat eenbedrywe soos Die vrees, Die nefie kom kuier!, Laat die kerse brand!, Die winde van u toorn, Uur van die waarheid en Oorlog is oorlog. In Oggendblad (30 Mei 1979) het Johann Johl geskryf dat die lofuitinge ietwat getemper kon gewees het en dat hy nie met al die uitsprake oor Beukes saamgestem het nie.

Hein Viljoen (Transvaler, 7 April 1979) het vir die eerste maal Die winde van u toorn en Uur van die waarheid in Kortgesprek gelees en Die winde van u toorn is vir hom die eenbedryf wat hom die meeste beïndruk het. Dit is vir Viljoen ’n “waardige huldigingsbundel”, maar hy kon die nut daarvan sien om die eenbedrywe weer te bundel nie.

In Oktober 1978 is die Gerhard Beukes- en Nasionale Toneelorganisasie-kamer by Naln in Bloemfontein geopen. PP Breytenbach (Breytie), vorige direkteur van die NTO en Truk, het die openingsrede gespreek. “Die waarde van Gerhard Beukes se bydrae tot ons toneelwêreld is dat hy geskryf het om mense te bereik, hulle na toneelopvoerings te lok en só ’n liefde vir die toneel by hulle te kweek. (...) Noudat Gerhard Beukes gaan uittree, hoop ek van harte dat hy weer die pen sal opneem en toneelstukke skryf. In die toneelwêreld tree jy nie af nie; jy tree uit om maar weer te begin as die drang vir skeppende werk hom voordoen en die uitdaging te aanvaar.” (Volksblad, 27 Oktober 1978)

Beukes se Verkiesing sonder politiek! is in 1986 in die Bloemfonteinse Stadskouburg aangebied. Op dié manier het Sukovs hulde gebring aan Gerhard Beukes. In Volksblad van 19 Mei 1986 skryf “Auditorium” dat hierdie stuk, waarin daar op goedige en skertsende wyse met die Afrikaner se beheptheid met politiek en rugby gespot word, 31 jaar vantevore die eerste keer in die Bloemfonteinse stadsaal aangebied is. In 1955 is dit beskryf as die eerste satiriese blyspel in Afrikaans. Beukes het die stuk verwerk om dit meer toepaslik vir 1986 te maak en die resensent het gemeen dat dit grootliks bewys het dat dit die toets van die tyd deurstaan het. Schalk Jacobsz was die regisseur en die gehoor het die stuk met groot waardering ontvang. (Volksblad, 19 Mei 1986)

Maar soos so baie keer gebeur, het die “verjongingskuur” wat Beukes sy stuk gegee het, geboemerang. Daar was soveel ontevredenheid onder teatergangers oor sekere nuwe invoegsels op die eerste aand dat daar besluit is om weer die stuk te fynkam. Van die invoegings was blykbaar die werk van die regisseur en Beukes het niks daarvan geweet nie. (Volksblad, 16 Mei 1986)

In 1989 is die stof van een van Gerhard Beukes se bekendste byspele, Die vonkel in haar oë, afgeskud en is dit in die destydse Nico Malan-teater (vandag Kunstekaap) in Kaapstad op die planke gebring met Dulcie van den Bergh in die hoofrol as Klara Breytenbach en Paul Malherbe as regisseur.

Eerbewyse en lidmaatskap van verenigings en komitees

  • 1947: Eerste prys, FATSA vir oorspronklike Afrikaanse eenbedryf vir Die vrees
  • 1948–1970: Voorsitter Beheerraad Openbare Biblioteek, Bloemfontein
  • 1949: Eerste prys, Krugersdorpse Diamantjubileum Toneelwedstryd vir Salomé dans!
  • 1949–1970: Voorsitter Nasionale Toneelbiblioteek, Bloemfontein
  • 1950–1970: Voorsitter Vrystaatse Kunsvereniging
  • 1952: Hertzogprys vir Drama vir As ons twee eers getroud is, Langs die steiltes en Salomé dans!
  • 1952: Eerste prys, toneelwedstryd, 300-jarige herdenking, uitgeskryf deur die Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap vir As ons twee eers getroud is
  • 1952: Word lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
  • 1958: Word lid van De Maatschappij der Nederlandse Letterkunde te Leijden
  • 1959: Eerste prys, NG Kerk-uitgewers vir oorspronklike Bybeldrama vir Judas van Keriot. Die wedstryd is uitgeskryf om die 140-jarige bestaan van die Suid-Afrikaanse Bybelvereniging te herdenk.
  • 1969–1970: Lid van die Ondersoekkommissie na instelling van televisie in Suid-Afrika
  • 1973–1975: Voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
  • 1973–1974: Voorsitter van die Kommissie vir Woordkuns van die Nasionale Kultuurraad
  • 1973–1975: Voorsitter van die fakulteitsraad vir kuns en geesteswetenskappe van die Akademie
  • 1973–1976: Lid van die hoofbestuur van die FAK
  • 1978: Oorkonde van die ATKV
  • 1983: Erelidmaatskap van Sukovs
  • 1984: Erelidmaatskap Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
  • 1984: Erelidmaatskap van die Afrikaanse Skrywerskring
  • 1988: Oorkonde van die Bloemfonteinse stadsraad vir jare lange bydrae tot die stad
  • 1988: Orde vir Voortreflike Diens (goud) van die staatspresident vir sy skeppende vermoë en leierskap in die Afrikaanse toneel- en dramaliteratuur gedurende die voorafgaande halfeeu
  • 1988: Goue Masker-toekenning van Dalro vir sy besondere bydrae tot die Suid-Afrikaanse toneel
  • 1988: Prestigeprys van die FAK vir sy bydrae ter bevordering van Afrikaans
  • 1988: Oorkonde van Sukovs om hom as een van die stigterslede te huldig
  • Lid van die komitee vir beurstoekennings van die RGN
  • Lid van die advieskomitee vir die Dokumentasiesentrum vir Taal en Lettere van die RGN
  • Lid van die Adviesraad van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln)
  • Lid van die beheerraad van Sukovs
  • Voorsitter van die die kommissie vir uitvoerende kunste van die Akademie
  • Voorsitter van die argiefkomitee van die Akademie
  • Lid van die beheerraad van Dalro
  • Lid van die beheerraad van CARFO
  • Lid van die ondersoekkomitee na die toekoms van amateurtoneel in Suid-Afrika
  • Vita-toekenning vir Toneelbevordering
  • Prestigetoekenning van die ATKV.

Die toekenning van die Hertzogprys vir Drama in 1952 aan Gerhard Beukes en WA de Klerk het tot ’n redelike polemiek aanleiding gegee. Hennie van Coller verduidelik in Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Desember 2010), in ‘n artikel getiteld “’n Kritiese blik op enkele van die literêre pryse van Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns”, hoe dit ontstaan het. Van Coller skryf dat van die belangrikste Afrikaanse letter- en taalkundiges, soos Antonissen, DJ Opperman, WEG Louw, Meyer de Villiers, IW van der Merwe en J du P Scholtz aan die debat deelgeneem het.

Daar is algemeen aanvaar dat die Hertzogprys vir Drama van 1952 toegeken moes word aan Uys Krige wat dit al in 1941, 1944 en 1948 kon gewen het. Blykbaar het FCL Bosman die “administratiewe proses gemanipuleer” en alles probeer om eerder te verseker dat De Klerk en Beukes die toekenning sou kry. Bosman wou al in 1948 gehad het dat Beukes bekroon moes word.

Uys Krige het dramas gehad soos Alle paaie gaan na Rome en Die sluipskutter wat vir die prys oorweeg kon word. Politiek het ’n rol gespeel in die nietoekenning aan Krige in 1941, hoewel dit nêrens in die verslag of stembriewe blyk nie.

Van Coller gaan voort: “Daar moet toegegee word dat die probleemdramas van De Klerk nie net steeds van sy beste werk is nie, maar selfs meer as beduidend binne die totale Afrikaanse dramaliteratuur. Boonop was dit die wegbereider vir die latere politieke dramas van Bartho Smit, Pieter Fourie én die probleemdramas van PG du Plessis en Pieter Fourie. Die meerderheid tekste van Beukes wat ter tafel was, kan met die beste wil ter wêreld nie bestempel word as ‘groot letterkunde’ nie, maar sy eenbedrywe en komedies is nie net verdienstelik nie; maar in hoë mate voorbereiding vir die talle eenakters wat later tydens Kampus Toneel en die SANLAM-dramakompetisie oorheersend sou raak. Sy blyspele (eerder klugte) is uiters speelbare dramas, het groot gehore gelok en was sodoende baanbrekend wat betref die klugtige tradisie in Afrikaans wat veral met die televisie-era in belangrikheid toegeneem het. Binne die kontekstuele paradigma is albei se werk belangriker as wat destyds binne ’n intrinsieke paradigma geoordeel is.”

In 1953, tydens die 300-jarige vieringe van die volkswording in Suid-Afrika, is Beukes se Langs die steiltes opgevoer by geleentheid van ’n volksaamtrek in die amfiteater van die Voortrekkermonument in Pretoria met André Huguenet en Aletta Gericke as regisseurs.

In 1987 het die 26ste uitgawe van As ons twee eers getroud is! by Van Schaik Uitgewers verskyn en het dit 42 jaar van samewerking tussen Beukes en dié uitgewershuis ingelui. Gedurende daardie tyd het daar altesaam 32 titels met ’n totale oplaag van meer as ’n miljoen eksemplare by JL van Schaik verskyn.

In 1988, die jaar toe Gerhard Beukes 75 jaar oud geword het, het die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) ’n spesiale huldigingsgeleentheid vir hom gehou, saam met Anna M Louw, wat ook 75 geword het. Jan Senekal van die UOVS het die huldigingswoord gespreek en gesê dat Beukes beslis die skrywer is wat die meeste sukses op die Afrikaanse verhoog behaal het. “Hy wou nooit iets anders doen as om by die breëre Afrikaanse publiek ’n liefde vir toneel te kweek en die gewone mens se emosies aan te spreek nie. Hy het nooit probeer om die bestaande norme van die gemeenskap omver te werp nie. Sy dramas was vir die gewone mens, die kerkmens en die skoolkind. Sy verhoog was die vir die skool, die plattelandse dorp, die gemeenskap wat ’n komedie terdeë geniet het. En dan was daar sy Bybelse dramas vir die ernstige gehoor.” (Volksblad, 16 Augustus 1988)

Hierop het Beukes geantwoord: “Een van die waarhede in my lewe is dat ons gevorm word deur die waardes en mense wat ons liefhet.”

In Acta Academica (nr 11, bl 10) som Charles Malan Gerhard Beukes se bydrae tot die Afrikaanse toneel so op: “’n Mens kry die indruk dat slegs enkele kunstenaars ná die Driemanskap die latente, byna argetipiese élan wat die Afrikaner tot volk stempel, tot in sy wese kon peil en verwoord. Van Wyk Louw en Opperman het die geestelike ru-stof tot ’n veredelde idealisme gepuur, Langenhoven en Beukes het dié stof vervorm tot die ongedwonge spel van woord en gebaar, pretensielose humor en eenvoudige ontroering.”

Gerhard Beukes is op 31 Augustus 1998 in Bloemfontein oorlede. Vroeër in dieselfde jaar het hy by sy huis geval en sy been gebreek. Die operasie om die breuk met ’n pen te heg, was nie suksesvol nie en die weefsel het begin doodgaan. Sy been is toe net onder die been afgesit. Hy is in die Pfeiffer-huis vir bejaardes opgeneem, maar nadat sy toestand geweldig verswak het, is hy na die hospitaal oorgeplaas waar hy oorlede is.

Huldeblyke

  • HP van Coller: “Beukes se grootste bydrae lê daarin dat hy drama na die mense gebring het en volksteater in die ware sin van die woord geskryf het. Sy belangrikste bydrae het hy as dosent gelewer omdat hy die wonder van die letterkunde aan studente kon oordra. Hy was ’n groot Christen, ’n geliefde mens en kollega, en hulle wat na hom gekom het, het groot waardering vir hom gehad.” (Volksblad, 1 September 1998)
  • Algemene Kerkbode: “Beukes was ’n fyn literator, ’n toegewyde gelowige, ’n akademikus van naam, ’n man vol deernis en liefde. Hy het ook teleurstellings en selfs verguising geken, maar het nie toegelaat dat dit hom ontspoor nie. Algemene Kerkbode lê vandag ’n krans op die graf van ’n man wat naby aan sy volk, sy kerk, sy God gelewe het.” (Algemene Kerkbode, 11 September 1998)
  • Volksblad-hoofartikel: “As opvoeder het dit nie vir Gerhard Beukes gegaan oor literêre teorieë of papegaaikennis wat by studente ingepomp moes word nie, maar oor die ontsluiting van die skoonheid van die taal en die letterkunde. Hy wou by studente ’n liefde vir boeke, ’n waardering vir die letterkunde, vir die geskrewe en gesproke woord, kweek – en het meesal daarin geslaag, want sy liefde vir sy vak was diep en eg, en sy geesdrif aansteeklik. As skeppende skrywer, bevorderaar van die toneel en deskundige op die gebied van die eenbedryf het hy ’n bydrae tot Afrikaans en kultuur in die algemeen gelewer wat in sy tyd belangrik was en hom ’n waardige wenner van die Hertzogprys gemaak het. Hy het mense teater toe gelok, vol sale laat lag en gehore tot nadenke geprikkel. In sy lewe het hierdie beskeie, toeganklike en fynbeskaafde mens ’n onuitwisbare indruk op honderde van sy studente gemaak. Dié geliefde professor sal onthou word.” (Volksblad, 2 September 1998)
  • Betta van Huyssteen, joernalis: “Op universiteit leer jy hy (Beukes) is nie die grootste letterkundige nie en ook nie die grootste skrywer nie. (Ek twyfel of dit ooit sy mikpunte was.) Maar die klein innemende mannetjie met die lieflike glimlag maak vir jou die wonder van die letterkunde oop. Jy sit as ’t ware aan die voete van Gemaliël, en al is die tydsgees ‘sestigers en daarna’, jy vermoed hierdie mens gaan die toets van die tyd deurstaan. Hy is hoeka dié een wat my geleer het ’n werklike goeie werk moet tot alle tye spreek.” (Volksblad, 4 September 1998)
  • Otto Liebenberg: “Hy was ’n mens wat sonder pretensie geleef en gedien het, gedoen het wat sy hand gevind het om te doen en wat sy era van hom gevra het. As jou pad naby hom verbygeloop het, het iéts van hom, van sy menswees, in jou vesels neerslag gevind en deel van jou geword. Ten goede. ’n Totaal onbekonkelende mens, wat die kwaliteite wat die Skepper en die natuur in hom weggelê het, teen enige teenslae en verguising in, met ’n naïewe kristelike deernis bly deel het.” (NALN-Nuusbrief, September 1998)
  • LS Venter: “Gerhard Beukes skryf in sy proefskrif Die moderne eenbedryf (1947, p 25): ‘Aan die meeste mense word die geleentheid gebied om gedurende die laaste dertig of veertig jaar van hul bestaan ’n studie te maak van een van die bladsye van die boek van die Lewe – dié bladsy waar hulle as medespelers optree in die groot toneelspel wat lewe genoem word. Vir vele is dit ’n ondervinding van geen grote of ontroerende betekenis nie – daarvoor bly hul lewenswil te passief en te onpersoonlik. Hulle beweeg willoos saam met die menigte sonder die wete dat hoe aktiewer die bewuste deelname aan die lewe en sy wederwaardighede is, hoe skerper die medemens en sy doen en late betrag en bestudeer word, hoe interessanter en vollediger die lewe as geheel geniet en ervaar kan word.’ Beukes het dit hier oor die lewensbeskouing van die dramaturg, maar terselfdertyd verwoord hy in hierdie uiteensetting sy credo as mens en skrywer. In die sin wat die aanhaling daaraan gee, kan sy perspektief op die lewe dramaties genoem word: mense en gebeure het hom gefassineer; hy het aktief en persoonlik medespeler geword op die lewensverhoog van ’n groot aantal vriende, skrywers, kollegas en studente; hy het aandagtig en simpatiek hul wel en wee betrag, óók omdat hulle sy eie bestaan interessant en voller gemaak het. In lewe en werk was Beukes ’n menssoeker, nie ’n enkeling wat die hoë en koue paaie bewandel het nie.” (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Desember 1998)

Waardebepaling van Gerhard J Beukes en sy werk

  • LS Venter het in sy artikel in Tydskrif vir Geesteswetenskappe van Desember 1998 ’n studie gemaak van Gerhard Beukes se briefversameling wat by Naln in bewaring is. Venter beskou die briefversameling as ’n belangrike literatuurhistoriese dokumentasiebron. Venter gaan voort: “Beukes was ’n gerespekteerde persoon in die binnekring van die formele literêre strukture van sy tyd, onder meer lid van die Letterkundige Kommissie van Akademie en dus beoordelaar vir die Hertzog- en ander Akademiepryse. Soos een van die briefskrywers waarsku: briewe is gevaarlike goed, want dit beland in argiewe. En inderdaad: die briefwisseling tussen die beoordelaars verwyder plek-plek die skerm en masker waaragter bekronings skuilgaan. Die rol van persone word duidelik, die wyse (of onwysheid) van besluitnemingsprosedures ook. Veral ten aansien van die belangrike toekenning aan Elise Muller in 1957 vir Die vrou op die skuit neem Beukes ’n kalm en bemiddelende standpunt in.

“Waarskynlik net so belangrik as Beukes se optrede as leser en beoordelaar, was sy invloed as beoefenaar van praktiese of skeppende kritiek. Met groot bereidwilligheid het hy help vorm aan die uiteindelike voorkoms van meer as een drama of eenbedryf van sy tydgenote. Dis ondankbare en onerkende arbeid dié, ten minste wat die openbare oog betref. Die briewe self getuig egter van dankbare dramaturge wat hul werk sien verbeter het onder Beukes se hand. Ook waar hy raad moes gee oor die verwerking van ’n roman tot ’n drama (FA Venter se Man van Cirene) was sy oordeel deurslaggewend. As praktiese kritikus/leser was Beukes die regte man op die regte tyd. (...)

“Wat Beukes wel oor baie jare heen in die openbare oog geplaas het, was sy drama en eenbedrywe. Daar is al baie gesê dat hy ’n populêre volksteater beoefen het. Hierdie tipering is juis genoeg, mits ‘volksteater’ en ‘populêr’ nie oppervlakkigheid en onbeholpenheid beteken nie. Alhoewel hy as volksteaterskrywer in die eerste plak die toneelganger wou aangryp, ontroer of vermaak, het hy hom ook gesteur aan die kwaliteit van die stukke as dramas. Daarom het hy sy eie werk steeds hersien en herskrywe, om dit ‘sowel toneeltegnies as literêr (...) bruikbaarder’ te maak. (...)

“By die herlees van Beukes se werk blyk selfs vandag nog hoe verdienstelik hy die komiese en tragiese moontlikhede van die drama probeer ontgin het om iets meervoudigs te bereik. Die vrees se intrige word byvoorbeeld deur ’n driedubbele onthulling gedra: dat die hoofkarakter se rebellie-daad sy dood onvermydelik maak; dat sy vader geen held was nie, maar ’n verraaier; en dat die dood nie die einde van sy geslag beteken nie omdat sy vrou sy kind verwag. Wat maar net as ’n hoërskoolklug bedoel is (As die nefie kom kuier), word deur die tegniek van ’n spel-binne-die-spel dubbel komieklik en dubbel dramaties: soos die verhouding tussen die oujongnooi en haar vryer ontwikkel, so ontwikkel die verhouding tussen die jong afloerders onder die tafel ook. Raaisel, onthulling en dubbelspel was en is nog altyd dramatiese tegnieke van die eerste orde. Beukes het hiervan insig gehad, met die gevolg dat van sy stukke lank na hul tyd speelbaar gebly het.

“Wat die genre vir Beukes aantreklik gemaak het, is die posisie waarin dit die outeur plaas. Vir die dramaturg is dit moontlik om onbetrokke en onbevooroordeeld (of skynbaar dan) die lotgevalle te betrag van mense wat in uiterste of vreemde situasies is. (...) As dramaturg kon hy eerlik en oop staan vir temas wat die goeie volk sou wou vermy. Hierdeur het hy die volksteater tematies en dramaties verruim.”

  • Otto Liebenberg in NALN-Nuusbrief van September 1998: “Die grootste geskiedskrywer van alle tye bly Tyd self. Maar intussen, om by die beperkte visie van tydgenootlike oordele verby te kyk, bly die ‘as’-toets ’n nogal bruikbare meetinstrument. Byvoorbeeld: ás jy Gerhard Beukes uit die Afrikaanse letterkunde sou wegdink, sou alles nog dieselfde gewees het?
    • “Meer as twee dekades lank het hy sy passie vir die woordkuns en die Afrikaanse letterkunde aan duisende studente oorgedra. Kan die dividende van dié belegging bereken en goedskiks weggedink word: (...)
    • “Met sy publikasies het hy heelwat rekordlyste gehaal; selde indien ooit op ’n uitgewer se ‘remainder’-lys. Sy publikasies was by uitstek gebruiksuitgawes: voorgeskryf en opgevoer. Ruim meer as ’n miljoen eksemplare is daarvan verkoop. Hoeveel pare oë het dus via Gerhard Beukes se publikasies met ’n toneelteks kennis gemaak, dalk vir die eerste keer, dalk vir die enigste keer? As jy dié effek dan sou wegdink, dié kennismaking met die Afrikaanse woord, die Afrikaanse toneelteks, sou kanselleer ...?
    • “Beukes was instrumenteel in die vestiging van ’n Afrikaanse toneel- en teaterkultuur. Selfs in 1978 was hy, wat die betaling van letterkundige regte betref, nog onder die eerste ses uit ’n totaal van meer as 200 skrywers wat toe deur Dalro verteenwoordig is. As ’n mens nou hierdie ‘Beukes’-faktor sou wegdink, sou alles nog dieselfde gewees het?: die streekrade, die belangstelling in drama- en toneelonderrig sedert die sestigerjare, selfs die vroeë hoogbloei van Afrikaanse TV-produksies wat deur die toe bestaande toneelkultuur ondersteun is?
    • “Deur Beukes se toedoen is die eenakter ook as genre in die hoërskole van die destydse onderwysdepartement ingevoer. Oor die betekenis vir sowel dramaturg as skoolkind van hierdie blootstelling aan toneeltekste deur van ons belangrikste dramaturge kan die ‘as’-toets maar net bespiegel.
  • By ’n huldigingsgeleentheid deur die ATKV op 28 Oktober 1971 in die stadskouburg in Bloemfontein het Jan Cronjé Gerhard Beukes se bydrae tot die Afrikaanse toneel as volg saamgevat: “In hierdie beskeie, ewewigtige mens het die Afrikaanse toneelwêreld ’n opregte vriend, wat oor die afgelope kwarteeu ’n leidende rol gespeel het in die opbou van ’n bruikbare en gewaardeerde Afrikaanse toneelrepertoire. Hiertoe het bygedra sy grondige kennis van die drama, sy natuurlike aanvoeling vir opvoerbaarheid en genietbaarheid, sy aanmoediging aan jong dramaturge wie se werk in sy eenbedryfbundels opgeneem is en bowe-al sy skeppende arbeid waarvoor daar in die Republiek en Rhodesië ’n onverminderde aanvraag is.”
  • FV Lategan (in ’n stuk wat hy oor Gerhard Beukes geskryf het en in Naln se knipselversameling is): “Gerhard Beukes is een van die betekenisvolste figure onder die jongere geslag Afrikaanse dramaturge. Sy toneelwerk is herhaaldelik bekroon en ’n besondere verdienste van sy werk is die speelbaarheid daarvan, met die gevolg dat sy stukke steeds oral met veel plesier opgevoer word.

“Van die suksesvolste landreise wat die NTO onderneem het, was met drie van sy blyspele: As ons twee eers getroud is! (1952), Verkiesing sonder politiek! (1956) en Die vonkel in haar oë! (1961). Interessant in hierdie verband is die dramaturg se eie siening van sy werk. In antwoord op ’n vraag van die SAUK-verteenwoordiger (in die reeks ‘Skrywers oor eie werk’) of hy meen dat dit die ‘volkse agtergrond’ in sy toneelstukke is wat hulle so voortdurend gewild maak onder Afrikaanse gehore was sy antwoord: ‘Miskien, ek weet nie. Wat ek wel weet, is dat ek bewustelik vir die verhoog in die eerste instansie skryf – eers daarna vir hulle wat die drama ook as leesstuk wil bestudeer. En terwyl ons van opvoerbaarheid praat: Ek wil dit ook hier noem. Ek weet genoeg van die letterkunde en van literêre norme dat ek geen valse illusies het oor eie werk nie. Ek ken die beperkinge daarvan en ek ken die trefkrag en ontspanningsmoontlikhede daarvan. Hulle vir wie ek toneelstukke geskryf het, het my werk oor die afgelope 26 jaar met ’n gulhartigheid en ’n spontane genieting ontvang wat my dankbaar en stil laat. En dit glo ek is die grootste genieting wat enige dramaturg ooit kan begeer.’

“In sy uitbeelding van die lewe, gesien as ’n stryd om die menslik geluk, openbaar Gerhard Beukes ’n wye belangstelling in, en ’n liefdevolle siening van die mens in sy huislike en maatskaplike verband, sy volksgevoel en sy godsdienstige belewenisse. In hierdie stofgebied sien hy sowel die heroïese as die tragies-ernstige en die komies-ligte, maar hy ervaar die lewe as idealis, hoewel sy uitbeelding ’n sterk, realisties aanskyn dra. Dit is veral in die moeilike eenbedryf-kunssoort wat hy sy dramatalent die sterkste toon: sy skerp sin vir dramatiese situasie en die vermoë om deur natuurlike maar sinvolle dialoogbeelding en innerlike gemotiveerde handeling, so ’n krisissituasie langs ’n gekonsentreerde spanningslyn op te voer tot by sy openbarende hoogtepunt.”

Publikasies:

Publikasie

Individualisme in die algemeen en sy uiting in ons Afrikaanse poësie

Publikasiedatum

[19-]

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: GJ Beukes

Literêre vorm

  • Letterkundige studies
  • Tesis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Laat die kerse brand! en ander eenbedrywe

Publikasiedatum

  • 1945
  • 1946
  • 1947

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die moderne eenbedryf

Publikasiedatum

  • 1946
  • 1947
  • 1954
  • 1960
  • 1970
  • 1971

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Pretoria: GJ Beukes
  • Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

  • Tesis
  • Letterkundige studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die swart engel

Publikasiedatum

1947

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kerse teen die wind: tien eenbedrywe

Publikasiedatum

  • 1950
  • 1953
  • 1955
  • 1958
  • 1959
  • 1961
  • 1965
  • 1971
  • 1972
  • 1973

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Salomé dans! ’n Spel in drie bedrywe

Publikasiedatum

1950

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys 1952 saam met Langs die steiltes en As ons twee eers getroud is

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Langs die steiltes: hoogtepunte uit ons driehonderdjarige volkswording

Publikasiedatum

  • 1952
  • 1959

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys 1952 saam met Salomé dans! en As ons twee eers getroud is

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

As ons twee eers getroud is! ’n Spel in vier bedrywe oor ’n Afrikaanse familie in die stad

Publikasiedatum

  • 1952
  • 1953
  • 1954
  • 1955
  • 1956
  • 1957
  • 1958
  • 1959
  • 1960
  • 1962
  • 1963
  • 1964
  • 1967
  • 1979
  • 1970
  • 1971
  • 1972
  • 1975
  • 1977
  • 1979
  • 1981
  • 1982
  • 1983
  • 1985

ISBN

0627012698 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzogprys 1952 saam met Langs die steiltes en Salomé dans!

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skrywers en rigtings. Saam met FV Lategan

Publikasiedatum

  • 1952
  • 1955
  • 1956
  • 1959
  • 1960
  • 1967
  • 1970
  • 1972

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Literatuurgeskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Jesus van Nasaret: ’n dramasiklus oor die lewe en sterwe van Christus

Publikasiedatum

1954

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Verkiesing sonder politiek! ’n Ligte satire in drie bedrywe

Publikasiedatum

  • 1956
  • 1964

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Judas van Keriot: ’n drama in vyf tonele

Publikasiedatum

  • 1959
  • 1961
  • 1966

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: NG Kerk-uitgewers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die vonkel in haar oë! ’n Spel van my kontrei

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1963
  • 1964
  • 1965
  • 1972
  • 1977

ISBN

0627000320 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die moderne eksperimentele toneel

Publikasiedatum

1961

ISBN

(sb)

Uitgewer

Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat

Literêre vorm

Letterkundige studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Viertal: ’n keur van vier verwerkte spele uit die eenbedrywe

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1969
  • 1972

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die nôientjie het planne: vier ligte eenakters

Publikasiedatum

  • 1969
  • 1974
  • 1976
  • 1977
  • 1980
  • 1981

ISBN

0627003540 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ek glo

Publikasiedatum

  • 1969
  • 1971 (spesiale groodrukuitgawe)
  • 1973
  • 1975
  • 1978

ISBN

  • 062400130X (hb)
  • 0624004775 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Oordenkings

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Man van Keriot: ’n drama in vyf tonele (verwerking van Judas van Keriot)

Publikasiedatum

1976

ISBN

0627009360 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kortgesprek: ’n huldigingsbundel eenbedrywe

Publikasiedatum

  • 1978
  • 1981
  • 1986

ISBN

  • 0627010296 (hb)
  • 0627014658 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Eenbedrywe

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Gerhard J Beukes as samesteller

  • Ses eenbedrywe. Pretoria: Van Schaik, 1946, 1947, 1949, 1950, 1954, 1956, 1957, 1958, 1960
  • Skerm en masker: ’n keur uit die Afrikaanse eenbedrywe. Pretoria: Van Schaik, 1958, 1960, 1961, 1962, 1963, 1964, 1965, 1971, 1974, 1976, 1978 [ISBN 0627003214 (hb)]
  • Kom ons speel toneel: vier eenbedrywe vir die jeug. Pretoria: Van Schaik, 1959, 1960, 1962, 1963, 1964, 1965, 1970, 1972, 1973, 1974, 1975, 1980, 1983, 1984 [ISBN 0627000746 (hb)]
  • Spele vir die jongspan. Pretoria: Van Schaik, 1959, 1961, 1970, 1974
  • Nuwe eenbedrywe: ses eenakters. Pretoria: Van Schaik, 1960, 1973, 1974, 1975 [ISBN 0627001262 (hb)]
  • Woord en masker: ’n keur uit die Afrikaanse eenbedrywe. Pretoria: Van Schaik, 1964, 1965, 1967, 1968, 1969, 1971, 1974, 1977
  • Twee sente vir ’n pêrel: drie eenakters vir die jeug. Pretoria: Van Schaik, 1968, 1973, 1974, 1977, 1979, 1980, 1981, 1982
  • Uur van die waarheid: vier kortspele. Pretoria: Van Schaik, 1970, 1976
  • Vier Nederlandse eenbedrywe. Pretoria: Van Schaik, 1970, 1974 [ISBN 0627000819 (hb)]
  • Iewers langs die pad: vier eenbedrywe. Pretoria: Van Schaik, 1970, 1972
  • Skuif oop die gordyn!: ’n bundel eenbedrywe. Pretoria: Van Schaik, 1982, 1986, 1988 [ISBN 0627012043 (hb); 062701495X (sb)]
  • Roep van die naguiltjie en ander eenbedrywe. Pretoria: Van Schaik, 1983, 1985 [ISBN 0627013104 (hb)]
  • ’n Lag en ’n traan: eenbedrywe vir juniorhoërskoolleerlinge. Pretoria: Van Schaik, 1988 [ISBN 0627015743 (sb)]
  • Spel en spelers: vyf kortspele vir die verhoog en studie. Pretoria: Van Schaik, 1988 [ISBN 0627015972 (hb)]

Gerhard J Beukes as redakteur

  • Uitgesoekte eenbedrywe. Pretoria: Van Schaik, 1948, 1950, 1951, 1952, 1954, 1955, 1957, 1958, 1959, 1960, 1961, 1962
  • Nuwe eenbedrywe 1952. Pretoria: Van Schaik, 1952, 1954, 1956, 1960, 1973, 1974
  • Vyf nuwe eenbedrywe. Pretoria: Van Schaik, 1957, 1961

Gerhard J Beukes as vertaler

  • Gulbranssen, Trygve: En ewig sing die woude. Pretoria: Van Schaik, 1968
  • Molière: Die huigelaar. Pretoria: Van Schaik, 1970
  • Gibran, Khalil:
    • Die tuin van die profeet. Pretoria: Van Schaik, 1979 [ISBN 0627010938 (hb)]
    • Sand en skuim. Pretoria: Van Schaik, 1981, 1983, 1986
    • Die swerwer: sy gelykenisse en uitsprake. Pretoria: Van Schaik, 1983

Artikels oor Gerhard J Beukes beskikbaar op die internet

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-08-07
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za.

 

  • 1

Kommentaar

  • Gerhard Bergh

    Ek het lekker gelees van Gerhard Beukes. Hy was my ouma se broer.My oorlede vader is ook op Biesiepoort gebore. Ek is op Kakamas gebore en was as Jong seun tweekeer op Biesiepoort saam met my pa. Dis nie baie ver vandaar. Groete. Gerhardus Johannes Bergh. Saldanha

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top