George Weideman (1947–2008)

  • 0
Foto: openbare domein

Sêgoed van George Weideman

Oor sy kosbaarste besitting: “Die mooi herinnerings – veral aan my vader en moeder, asook hier iets binne-in my wat ek probeer verstaan.” (Taalgenoot, Oktober 2002)

“Letterkunde is nie net woorde nie. Die hele wêreld en al die sintuie word betrek. In die letterkunde kan raakpunte met alles gevind word.”

“Skryf is nie oor maanlig en rose nie en dit kom ook nie daaruit voort nie. Dis harde werk, maar dis die lekkerste bloedsweet wat ek ken.” (Uit: Versreise. Tafelberg, 2002)

Oor sy skryfproses: “My idees kom soms uit koerantberigte, soms sal ’n blote woord of uitdrukking of insident my tot skryf verlei. Om te skryf is amper soos tuinmaak: jy woel met woorde wat groei en bome wat gesnoei moet word. Dis ook ’n manier om die kompleksiteit van die lewe en die Skepping te probeer verstaan.” (Uit: Versreise. Tafelberg, 2002)

Oor die grootste invloed op sy skryfwerk: “Ek was ’n laatlam, alleen grootgeword, en ek het baie geluister na stories van my ma-hulle of kuiermense. Die hele familie het graag bymekaargekom en stories vertel, spookstories, en so meer. Ek dink daardie stories het nogal by my gebly.” (Beeld, 16 Augustus 1994)

“Ek dink as jy wil hê ’n kind moet lees, moet jy toelaat dat die kind vir jou lees.” (Die Burger, 21 Desember 1987)

“Daar is iets geheimsinnigs aan woorde … Goed soos hiërogliewe, Sjinese beeldskrif, Runeskrif en enige soort geheimskrif maak die lewe interessant.”

“Die mense in Onseepkans is soos ’n kokerboom – hard en taai, maar baie gasvry en altyd met ’n oop hand. Die Noordweste is nog (in 1966) nie so vertrap soos die meeste ander dele van die land nie. Ek hou van ’n alleenwêreld.” (Beeld, 1 Mei 1966)

“Die regering van die dag is die vyand van die skrywer.”

“Woorde is grootmaakkinders. Die taal swerf … Ons is besig om die ou taal te herontken.” 

“Twee dinge, my liefde vir my hartland, die Noordweste, asook my nuk om juis teen formasiedenke in te skryf, het my as jong skrywer gevorm. Daar is geen rede waarom ek dit sou hoef te ontken nie. Nog minder waarom ek skaam hoef te wees dat dié twee dinge, my liefde vir die land en my volslae wantroue in politici, steeds deel van my skrywerswêreld is. Ek sal aan die land help bou, maar op my manier.” 

“’n Woord het nie net ’n semantiese waarde nie; in elke taal het dit soms iets magies, iets kleurvols, iets wat vars en onuitspreeklik soet is. Waarom mag net ander tale spog oor en put uit hul opgaardam van woorde? Kom, laat ons ’n slag al die sluise ooptrek!”

Die invloed van sy rondswerf op sy skryfwerk: “Ja, ja. Ek wil altyd plekke ontdek. In elke eenvoudige plek is daar iets interessants, gekompliseerds. Ek hou van reis. Ek weet nie of dit ’n skrywersding is nie; deels, ja. Maar selfs al woon jy in die stad, is daar duisende dinge wat met jou kan gebeur. Ek vereenselwig my miskien makliker met iemand wat swerf, sigeuner is. Ek het altyd ’n stel kaartjies by my; ek maak voortdurend aantekeninge, en as ek dan terugkom by my studeerkamer, dan kan daaruit ’n storie kom. Ek begin skryf soggens vieruur se kant; ek kan nie in die dag skryf nie.” (Beeld, 16 Augustus 1994)

Bestaan daar iets soos ’n Derde Afrikaanse Taalstryd? “Ek hou nie baie daarvan om dit ’n ‘stryd’ te noem nie. Ons moet oppas, die gevaar bestaan dat Afrikaans doodgestry kan word. Die feit dat mense verkeerde persepsies ontwikkel het rondom Afrikaans, is omdat verkeerde ouens vir Afrikaans gestry het. Die situasie is op die oomblik baie vloeibaar; dis vir my moeilik om ’n kategoriese uitspraak te maak. Ek kan nie in ’n ander taal skryf as Afrikaans nie.” (Beeld, 16 Augustus 1994)

Wat maak volgens hom ’n goeie boek? “’n Knap storie met kinkels, onthoubare karakters, meer as net ’n knertsie verbeelding. Die boek moet my aan die dink sit, maar ek wil ook agterkom dat die skrywer plesierig daaraan geskryf het.” (De Kat, Maart 1998)

In 2000 oor sy eerste digbundel Hondegaloppie: “Wat jy geskryf het, het jy geskryf. Natuurlik kry ek soms lag as ek na van die gedigte kyk, maar ’n mens moet daarmee saamleef.” (Die Burger, 5 Januarie 2000)

“Taal is ’n instrument wat ver bó debatte oor diversiteit of demokrasie verhef is; […] in min tale sit daar sóveel diversiteit soos in Afrikaans. ’n Skrywer wat sy sout werd is, sal die ruimtes daarvan ondersoek. Daar is ’n onlangse neiging om, ter wille van politieke diskoerse, dié taalverskeidenheid te ontken. Eintlik is alles eenvoudig: Die verskeidenheid van ons land word deur geen ander taal so mooi gedra nie. In dié proses is eng denke – of swak taalgebruik – teenproduktief. Ons skat aan gedigte óór Afrikaans bewys dit: Hoogenhout, Schlengemann, Van Wyk Louw, Opperman, Blum, Breytenbach, die strugglewerk, die ’nuwe verset’-verse van die jongste generasies, jonger bundels van ‘ouer digters’ – dit dui op ’n diepgaande betrokkenheid met Afrikaans se ruimheid.” (Die Burger, 2 Julie 2007)

“Wat skryf vir my lekker maak? Ek dink dit is die kreatiewe proses wat die lekkerste is, die ontdekkingsoomblik. Anders as ’n wetenskaplike of ’n ontdekkingsreisiger bevind jy jou in ’n landskap van drywende skeppingsdinge: idees, vae visuele voorstellings, woorde, emosies, feite. Hulle dryf omdat net die skryfproses hulle kan vasvang – die ‘fyn, fyn net van die woord’ waarvan Koki in NP van Wyk Louw se Raka praat. Daarby is dit ’n ontdekking wat ’n mens met groot verwondering of dankbaarheid vul omdat jy weet daar is ’n groter Skepper as jy; iemand wat die ontsaglike verskeidenheid dinge, ook dit wat jou gedagtes bevolk, beheer.” (Rooi Rose, 5 Julie 2000)

“Om die eindproduk (van die skryfproses) te sien staan, is lekker. Maar dit duur in my geval net ’n rukkie, dan tree ’n onbeskryflike leegheid in wat seker vergelyk kan word met die afskeid neem van geliefdes, soos kinders wat uit die huis uit gaan – jy het tog dae en nagte lank saam met jou boek se karakters geleef. Die lekkerte en rusteloosheid begin weer sodra die eerste roeringe van ’n nuwe idee kom. Vergete is die vorige boek!” (Rooi Rose, 5 Julie 2000)

Oor Celién, sy vrou: “Toe ek op my eerste skooldag as een en twintigjarige onderwyser aan die Hoërskool Fraserburg die klaskamer – dit was ook die biblioteek – binnestap en ek sien die meisie met die skaam glimlag en die mooi bokkie-oë, het ek geweet sy (Celién) is myne. Sy sê sy kon die toekoms sien. Ons het dus albei dadelik gewéét: twee bittersoet jare lê voor. Nou, ná vier en dertig jaar (in 2003) weet ons destyds se wag was dubbel en dwars die moeite werd. Sy is nie net ’n steunpilaar nie; sy is ’n huis, ’n tuiste, ’n wêreld.” (Rooi Rose, Februarie 2003)

Oor sy liefde vir musiek het hy aan Danila Liebenberg verduidelik: “Maar sonder musiek kan ek nie maklik (begin) skryf nie (uiteraard nie doef-doef-musiek nie; dit stimuleer my brein glad nie, net my voete); daar is iets in goeie musiek wat my gedagtes op avontuurlike, irrasionele, vreemde, fantasieryke paaie help lei. Ek is baie lief vir Antonin Dvorak se musiek, vir sy virtuose verskeidenheid; alle Oos-Europese musiek staan my trouens aan (dikwels omdat sowel brein as voete as hele liggaam gestimuleer moet word).” (Volksblad, 4 Junie 2007)

Gebore en getoë

George Henry Weideman is op 2 Julie 1947 op Cradock in die Oos-Kaap gebore as die laatlam van vier kinders. George het later pragtige gedigte oor sy ouma aan moederskant, Ouma Baai, geskryf. Hierdie ouma was met baie goed besig, onder andere met fortuinvertellery. Teen een van haar huismure was daar ’n hele “ensiklopedie” van blomme, voëls, diere en natuurtonele wat destyds op sigaretkaartjies was, te sien, skryf Abraham H de Vries in Die Burger van 29 Augustus 2008.

George se pa, Floris, was nie net ’n onderwyser nie, maar ook boer, skrynwerker, goëlkunstenaar en dramaturg. Hy het ook sy eie musiekinstrumente gemaak. Wanneer sy sporadiese boerderypogings misluk het, het hy hom weer tot die onderwys gewend. So het hulle baie rondgetrek en het George ’n kleurryke kinderlewe gelei en in ’n Noordwesterse “sigeuner”-familie grootgeword, skryf Abraham de Vries verder.

George het ook aan De Vries vertel: “My pa het dikwels vir my van kleinsbeen af gewys dat as ’n mens ’n klip optel, sien jy dit lyk onder heeltemal anders as bo. En selfs in die bloedige hitte van die wêreld weerskante van die Oranjerivier is daar soms ’n onverwagte koel wind.”

“As kind op Cradock het ek saans vir my ma en pa stories gelees. Na al die klassieke verhale in die destydse Libri-reeks het hulle geduldig geluister, oor en oor: Robinson Crusoe, Alleen op die wêreld, Kinders van die groot Sneeuveld,” het George aan André le Roux gesê.

Floris is in 1986 op 83-jarige ouderdom oorlede en is op Onseepkans begrawe. Hy het as medewerker saam met Hugo Gutsche die volgende bydraes tot die FAK-Sangbundel gelewer: “Hoe ry die boere”, “Die kat kom weer” en “Bobbejaan-kleinspanlied”. Van sy toneelstukke is Klaas Droster en Rommelwerk

Volgens Abraham H de Vries het George van sy ma, Johanna, “’n warsheid van voorskrifte en sisteme geërf, asook ’n onwrikbare afsku in maatskaplike onreg en in die misbruik van mag. Hy was dan lid van die eerste Namibiese afvaardiging wat in Stockholm met Sam Nujoma gaan praat het. Van hoe sy afkeure soms vir hom probleme veroorsaak het, is ek getuie. Sy ma was ook inspirerend op ’n speelse wyse: sy het onder meer weggooilepels versamel. Sy was nes sy pa ook ’n musikant en ’n natuurlike storieverteller. Albei ouers was kreatief, die makers van dinge (en pret) uit niks.”

George gaan skool op Cradock, Kimberley, Clocolan en Springbok (waar hy in 1964 aan die Hoërskool Namakwaland matrikuleer). In 1991 het hy ’n erepenning van die Oudleerlingebond van die Hoërskool Namakwaland op Springbok ontvang.

Op sewejarige ouderdom maak die jong George kennis met Hector Malot se Alleen op die wêreld (’n vertaling van Sans famille). In hierdie storie het hy die eerste maal bewus geword van die buitestanderfiguur en het dit in sy binneste kom nesskop, het hy aan Stephanie Nieuwoudt (Die Burger, 5 Januarie 2000) vertel: “Malot het my bewus gemaak van die underdog. Wat jy as kind lees voordat jy tien jaar oud is, slaat in jou vas.”

In sy standerd 6-jaar (in vandag se taal graad 8) in 1960 verskyn George se eerste skryfpogings in die eerste jaarblad van die Hoërskool Adamantia in Kimberley en weet hy reeds op daardie vroeë ouderdom dat hy eendag gaan skryf. Letters, woorde en vreemde tale het hom van jongs af gefassineer. As negejarige wou hy al tale soos Magjaars en Yslands leer. Toe hy in standerd 7 was, verhuis hulle na Clocolan en skryf hy verse oor sy hartland – die Karoo, Noord-Kaap en Noordwes-Kaap. As kind, vandat hy 13 jaar oud was, het George ’n uitlaatklep vir sy kreatiwiteit gekry deur skoolkoerante te begin – menigmaal op eie inisiatief en as redakteur, drukker en grootste bydraer. 

“Hy wou altyd weet waar woorde vandaan kom. Sy pa was net so verlief op woorde en liedjies en het altyd nuwe uitdrukkings, woorde, gesegdes en liedjies opgeteken. George hou van stories. En vandat hy kon onthou, het sy ouma en sy ma en sy tantes stories vertel: spookstories, grilstories, stories met stertjies. Dis seker maar hoekom hy skrywer geword het. As jy nie baie lus is vir werk nie, kan jy altyd jou verbeelding aanskakel,” het Nieuwoudt geskryf.

Hy het aan André le Roux (Die Burger, 21 Desember 1987) vertel dat hy ontuis in die Vrystaat was: “In daardie jaar (toe hy dertien was en op die klavier sy eerste gedig geskryf het) was ons in Clocolan. As ’n ou 13 jaar oud is en jy word verskuif, pas jy nie maklik aan nie. Ek dink ek het baie in myself gekeer geraak, met boeke meer te doen gehad as met enigiets anders.

“Miskien is dit die isolasie wat gemaak het dat ek begin poësie skryf het. Ek het verskriklik baie gelees, en myself teruggetrek tot gedigte en die klavier. Ek gaan sit graag voor die klavier terwyl ek die woord pleeg.”

George het aan Abraham de Vries (Die Burger, 5 Maart 2008) vertel van sy ma en pa se musikale talente: “My pa en ma het (behalwe ‘Saai die waatlemoen’ en ‘Die kat kom weer’) nog vele Voortrekkerliedjies gekomponeer. Albei was besonder kreatiewe mense en baie musikaal. Die groot Weidemans is nie verniet kort ná hul intrek op Cradock die ‘Canaries’ gedoop nie. Pa met sy heldergeel trui was die ‘Yellow canary in the green cage’. My sus Fesia was ‘Klein Canary’, ouboet Hennie ‘Geel Canary’. Ek was laatlam. Ek was nie ’n kanarie nie.

“Nie dat ek nie probéér komponeer het nie. My ouers was nomade, byna sigeuners in die beste sin van die woord; ons had baie verblywe en dit was altyd tintelend: Pa wat Schubert se Militêre Mars oefen vir Maandag se saalperiode; Ma wat loop en neurie-sing; Hennie wat op sy tjello oefen; Fesia wat ’n hele repertoire liedere uit die FAK lewer, haar eerste sikspens verdien met ‘Santa Lucia’ en my aan die slaap sing. En wanneer Marietjie tuiskom, word die handgemaakte grammofoonkas nadergestoot, Björling, Gobbi, Brahms, Mozart.”

George was as kind egter nie altyd intens-gelukkig nie. In ’n nawoord in Pella lê ’n kruistog vêr het hy geskryf: “As laatlam was ek ook alleen, selfs mensverskrik. Ek onthou minstens twee geleenthede dat ek die hasepad gekies het toe besoekers opdaag; boeke was baie keer my enigste geselskap. Tog het die kere wat ek dit wel gewaag het om te sit en tande tel, my onmisbaar baie oor mense se spraakgewoontes en oor party se wonderlike vermoë om met die taal te goël, geleer. Miskien daarom dat ek so tussen die genres verdwaal. Miskien is dit die wegkruiper wat digter geword het, die tandeteller prosateur.”

Verdere studie en werk

In 1965 begin George met voorgraadse studie aan die Universiteit van Pretoria, waar hy sy BA-graad en HOD behaal. Sy BA-Honneursgraad behaal hy aan UNISA en sy doktorsgraad aan Rhodes Universiteit in Grahamstad. 

In 1963 lê George sy eerste manuskrip aan ’n uitgewer voor en hoewel dit nie aanvaar is nie, gooi hy nie tou op nie. In 1966, gedurende sy tweede jaar by Tukkies, word Hondegaloppie by Voortrekkerpers gepubliseer, met verse oor veral die Karoo, Boesmanland en Namakwaland. Met hierdie verse gaan hy egter dieper as net die beelding van dié dele en sy mense. Die trefkrag van sy verse is oorspronklik en opwindend. Hy borrel ook oor met interessante name en woordspel.

Met sy verblyf in Pretoria het die verlange na sy wêreld, of sy “kleim” soos hy dit noem, en sy mense te veel geword en het hy begin dig. Al sy gedigte in Hondegaloppie is in die stad geskryf. (Beeld, 1 Mei 1966)

George se alleenwêreld van die Noordweste het vir hom ’n eie bekoring, al is dit so droog. “In Augustus en September blom dié deel. Die rivierdele is altyd mooi. Ek is baie lief vir die sterk kontrasterende kleure.”

Die verse in Hondegaloppie is vir hom volksverse met die Noordweste as bodem en agtergrond, vertel hy aan Beeld se kunsredakteur. (1 Mei 1966) “Die woord hondegaloppie is baie bekend in Namakwaland: dit beteken ’n mengsel van bier en brandewyn. En so is sy eerstelingbundel: ’n mengsel van losstaande gedigte – daar is nie eintlik sprake van ’n bundel-eenheid nie.”

Hy dig ook heelwat in die taal van die bruin mense, die Griekwas en die Namas. “Hulle idioom en seggingskrag is baie treffend. Die mense wil vandag hê mense moet vernuwing bring. Die enigste wat ek gedoen het, is om die taal en die idioom van die Noordweste te gebruik.”

In 2000 vertel George aan Stephanie Nieuwoudt (Die Burger, 5 Januarie 2000) oor hierdie debuut op ’n jong ouderdom: “Een resensent het gereken dat Hondegaloppie ‘’n suiwer noot’ in ons ‘boerverse’ kon gewees het as daar strenger keuring was. 

“Strenger keuring sou my inderdaad ernstiger oor jeugsondes en vakmanskap laat nadink het. Selfs skamele roem gaan maklik na ’n snuiter se kop toe. Tog: Wat ek geskryf het, het ek geskryf. Diegene wat my as belofteryke natuur- en volksdigter beskou het, het nie geweet dat die jongeling in sy eerste jaar aan die Universiteit van Pretoria as inwoner van die koshuis Sonop as ‘godslasteraar’ beskryf is oor sy eksperimentele prosa nie. Maar selfs ‘folk’ (Dylan, Mitchell, Baez) was in 1965 en 1966 so volksvreemd soos Breyten, Brink, Leroux en kie. 

“Volksvreemd is die woord wat die destydse regeringsmarionette, die studenteleiers, graag gebruik het. Jy was volksvreemd as jy jou nie aan ontgroening (toe ’n soort paramilitêre oefening) gesteur het nie. Jy was volksvreemd as jy nie diensplig gedoen het nie (ek is, goddank, nooit geloot nie). 

“’n Jaar voor my voortvarende debuut, in Junie 1965, het daar in die studentekoerant Die Perdeby ’n verhaal, ’n swak verhaal, bygesê van my verskyn. (Dalk was dit nog swakker omdat die marionette-redaksie die sensuurskalpel ingelê het.) Omdat ek, eerstejaartjie, dit durf waag het om die verbittering en ongeloof van ’n jong werker op sy ysterperd uit te druk, het die tokkelokke my gestenig. ‘Eers het ek God geleen, nou het ek Hom langs die pad verloor; Hy het van my BMW afgeval en langs die pad bly lê; En weer het ek Hom gesoek; gekyk of ek Hom nie tussen die klippe en sand en grond kon uitkrap met my pik nie.’ 

“Belowende volksdigter? Vars briesie? Lasteraar, het die Sonop-koor gesing, lasteraar! 

“Hierdie soort reaksie (op groter skaal was daar die eindelose veldtogte teen Leroux se Silbersteins en Brink se Lobola) het my finaal van die establishment vervreem. Baaiplek se skorriekoning, newwermaaind Boerneef se kind.” 

Ook sy tweede bundel, As die son kliplangs spring (1969), bevat merendeels landskapsverse en verse oor sy hartland. Marié Heese het in Beeld (26 Oktober 1969) geskryf dat hierdie Weideman “Boerneef se kind” is. “Weideman is sterk gebonde aan ’n spesifieke streek en hy koester plekname soos Kliphakskeen en Dikwillemberg. Hy verkneukel hom in die tekstuur van Afrikaans, maak soms woorde soos hy wil (‘vygies vlam sproetbont’, ‘oudag se droefte’, ‘die grootsoet lê diep’). Raar en kosbaar in ’n nuweling-digter is egter ’n heerlike fyn stout sin vir humor.

“Oor die algemeen is die korter gedigte vir my beter as die langeres. Dit is suiwerder van bou en sterker van sêkrag. Veral waardeer ’n mens by Weideman, naas sy humorsin en lewensdrif, die kosbare belofte van oorspronklikheid.”

PD van der Walt (uitgewers se inligtingstuk) het onder andere die volgende te sê gehad oor As die son kliplangs spring: “Weideman is ’n egte en ’n goeie digter en baie beslis ’n ‘verrysende ster’. Hier is nou groter rypheid, sekerheid, vaardigheid en oorspronklikheid; ’n eie persoonlikheid het sy métier gevind, het bowendien iets te sê op ’n heel besonder manier.

“In ’n tyd van mode-rioolpoësie, anti-liries en tog so esoteries en eng-persoonlik, kom Weideman se verse fris en suiwer: hy skryf ’n, vir ons tyd, nuwe, ‘onpersoonlike’ vers; ’n heel besondere stuk Suid-Afrikaanse werklikheid (landskap) kry stem in sy bundel. Dis egter nie die ou bekende landskappoësie van byvoorbeeld Leipoldt nie; dis nie belydenis sonder meer nie. Die bepaalde stuk werklikheid (natuur) het uitdrukkingsmiddel geword soos in ons beste Afrikaanse poësie. Weideman bring ’n bydrae tot die stem- en taalregister van ons poësie.”

Na universiteit, in 1970, begin George onderwys gee, onder andere in Fraserburg in die Karoo. En dit is hier waar hy sy hart verloor op Celién Nel – sy ’n skoolmeisie in standerd 9 en hy haar onderwyser. Vir twee jaar moes hulle liefde “opgeskort” word, omdat ’n verhouding tussen ’n onderwyser en ’n skoolmeisie taboe was. Hulle trou in 1973, en het twee dogters, Melita en Siobhan. 

Klein manifes van ’n reisiger is in 1978 gepubliseer en Van der Walt (Transvaler, 8 Maart 1971) meen dat Weideman met dié bundel ’n nuwe koers probeer inslaan. “Dit is opvallend dat hy by die reistradisie aansluit, iets wat ’n verhewigde klemtoon in die destydse literatuur gekry het. Die bundel verteenwoordig ’n oorgangstadium in Weideman se digterskap, maar ek hoop dat hy hom sal losmaak van invloede soos dié van Breytenbach en dat die eie stempel van sy verskuns, tegnies en tematies, in sy volgende bundel nog meer waarneembaar sal wees as in hierdie een.”

Oor George se volgende bundel, Hoera hoera die ysman (1977), skryf André P Brink in Rapport van 29 Januarie 1978 dat hoewel dit ’n bundel is met heelwat ongelykheid en met heelwat brokkelrigheid, veral in die lang gedigte, is dit ’n “belangrike nuwe stasie in die gestadige vordering van ’n digter wat al meer ernstige aandag verdien; en in sy beste verse stapel hy digterlike klippers op wat van ver gesien kan word”.

George gee later onderwys in Kaapstad, Kenhardt en Port Elizabeth. In 1978 word hy dosent aan die Paarlse Onderwyskollege en later dieselfde jaar aan die Windhoekse Onderwyskollege, waar hy begin werk aan sy MA-verhandeling met die titel “’n Ondersoek na aspekte van die verhouding tussen betrokkenheid en universaliteit in die literatuur” met André Brink as sy promotor. In 1981 handel hy sy navorsing af en lewer die verhandeling in. Die standaard van die verhandeling word egter as goed genoeg beskou om dit eerder vir ’n doktorsgraad aan te bied en so verwerf George sy doktorsgraad aan Rhodes Universiteit – ’n baie uitsonderlike prestasie. 

Tydens die gesin se verblyf in Namibië (1978–89) sien George se eerste kortverhaalbundel, Die tuin van klip en vuur (1983), die lig, asook die digbundel Uit hierdie grys verblyf (1987). 

Volgens André Brink (Rapport, 2 Oktober 1983) is Die tuin van klip en vuur ’n dankbare verrassing, nie net omdat dit Weideman op sy beste tot op daardie tydstip verteenwoordig nie, maar ook omdat dit meteens ’n nuwe groeipunt in ons kortprosa aankondig.

“Dit is die verskeidenheid van die verhale wat opval, nie net ten opsigte van tematiek of aanbieding nie, maar ook (en veral) stilisties: keurig-versorgde ‘literêre’ styl (dan en wan té literêr); ’n direkte praattrant; variasies van kindertaal; en in die geslaagde kragtoer ‘Angie word ’n gangster. ’n Fairytale’ ook ’n agterbuurtetaal uit die Baai.

“Dit is die vertel wat hierdie verhale verdig tot ’n reeks indrukwekkende en komplekse taalondervindings, tekenondervindige; en dit is die eenheid van die bundel wat dit besonders maak – ’n eenheid verwerf uit ’n volgehoue gesprek (op vele vlakke) tussen die verhale onderling. En hoewel daar mankemente in die bundel is – ’n té literêr versorgde styl en moralisering wat plek-plek met sentimentalisering vermeng – weeg dit nie baie swaar teen die klinkende verdienstes van die bundel nie, wat in sy geheel sowel opwindend as haarfyn versorg is.”

Joan Hambidge (Die Burger, 14 Januarie 1988) meen dat George met sy volgende digbundel, Uit hierdie grys verblyf, sy talent as digter bestendig. Dit is, in die geheel gesien, vir haar ’n pragtige bundel.

George is in 1989 as lektor in Afrikaans na die Skiereilandse Technikon in. Weens ’n onomkeerbare gesigprobleem was hy genoodsaak om in 1997 uit te tree. Hy mag nie meer motor bestuur het nie en normaal lees was onmoontlik. Maar gelukkig is daar baie hulpmiddels en kla sou jy hom ook nie hoor nie. Hy en sy gesin het hulle in De la Haye in Bellville gevestig.

In 1997, tien jaar na sy vorige digbundel, is ’n Staning onder sterre gepubliseer en soos in sy vorige bundels word die leser aan die wêreld van Namakwaland en die droë dele van die Noordweste voorgestel.

Oor hierdie bundel het George aan Hilda Grobler (Vrydag, 12 Desember 1997) vertel: “Dis ’n nostalgiese bundel wat my terugvat na my kinderdae en na my ouma. Daar is gedigte in oor my ma, pa, ouma en die plaaswêreld waarvandaan ek kom. Dit werk regtig. Ek het van Meimaand (1997) by sowat 6 leeskringe gepraat en baie goeie reaksie gekry. Mense hou van dié gedigte. Ek dink dié bundel is vir my ’n kulminasiepunt in my digkuns.”

TT Cloete (Beeld, 23 Junie 1997) beskryf ’n Staning onder sterre as nie alleen die beste van Weideman nie, maar een van die bestes in die Afrikaanse digkuns van daardie jare. “Die titel sê presies hoe hierdie gedigte is: ’n staning, ’n geliefde plek op en van hierdie aarde, maar dan onder die sterre. Dus, Weideman se wêreld het ’n diep en wye dimensie: dit is gedigte van ’n bepaalde plek wat opgeneem is in ’n omvattende tyd en ruimte, sodat hoeke verslyt en windrigtings deurmekaar raak, soos in die openingsgedig, maar intussen verloor die gesiene en beleefde dinge vreemd genoeg nie hulle skerpheid nie.” 

Cloete gaan voort: “Weideman kan die dinge trouens op meer as een manier omkeer: uit die kleine kom die grote, uit die nabye kom die verre, uit die droogte kom groei, uit afbreek kom opbou. So ‘herskep (hy) die land’. Uit die eenvoud van sy kontrei kom ’n groot digterlike rykdom. Opperman het ’n keer gesê dat Totius se onderwerpe al poëties is. By Weideman is dit eintlik andersom: wat nie vanself poëties is nie, word gedig. Vanuit Namakwaland vang hy die sterre in die net van sy vers, om sy eie beeld te gebruik. Uiteindelik hang dit alles af van Weideman se ‘manier van kyk’. 

“Hierdie eie manier van kyk kom baie skerp aan die man in die groot aantal gedigte waarin hy korrespondeer met Scully se Between Sun and Sand of selfs ook met ander digters soos Norman MacCaig, Hesse en Iwaszkiewiecz. Ek kan net hier noem dat Weideman se digterlike kommentaar op Scully een van die beste elemente in die bundel is.” Vir Cloete was dit ’n digbundel om oor opgewonde te raak met so baie plusse soos die ryke beeldspraak en sintuiglikheid dat hy dit slegs ten dele kon aanraak.

In Pella lê ’n kruistog vêr (1998) het George self ’n keuse gemaak uit sy verse wat in sy eerste vyf bundels opgeneem is. Altesame is daar ’n tagtigtal gedigte wat ’n baie duidelike profiel van die digter gee. Daar is ook ’n agternawoord met die titel “Kruistog: ’n agternawoord oor my verhouding met die poësie”.

Vir TT Cloete (Beeld, 11 Mei 1998) is hierdie agternawoord ’n kosbare toevoeging tot die bundel wat dit duidelik maak waarom die skrywer so aangetrokke is tot die droër dele van ons land.

George was een van veelsydigste skrywers in Afrikaans en het met goeie gevolg in al die genres gepubliseer. Sy eerste dramas het hy gedurende sy verblyf in Namibië geskryf, naamlik Die gyselaarsM29 en ’n Smeerige geskiedenis, wat met groot sukses tydens die ATKV se Kampustoneelfeeste vanaf 1986 tot 1988 opgevoer is, asook deur die Departement Drama van die Universiteit van Namibië. Ander vollengte-dramas was Herberg van die wit madonnas (1991), Soos voëls op koringlande (1990) en My plaas se naam is Vergenoeg (2005), wat in 2004 met die Sanlamprys vir Afrikaanse teater (SPAT) bekroon is.

M29 en ’n Smeerige geskiedenis is in 1989 as Tweesprong aan De Jager-HAUM voorgelê vir publikasie, maar na verskeie lese is dit nie vir publikasie aanbeveel nie, omdat die swak verkope van dramas dit blykbaar nie regverdig het nie.

Etlike hoorspele het uit sy pen verskyn soos Sneeu (1996), Lig (2001), Sand (2004) en Moord in die ateljee (2006). In 2003 is Sand bekroon met die eerste prys in RSG en Sanlam se Radiodrama-skryfkompetisie vir ervare skrywers. In 2005 word Moord in die ateljee in dieselfde kompetisie weer met die eerste prys bekroon. In 2006 ken die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n erepenning vir radiohoorspele in Afrikaans aan George toe. Sy hoorspel Die bode het in 2008 die derde plek in Sanlam se Radiodrama-skryfkompetisie vir ervare skrywers verwerf.

George het ook twee dramas vir die jeug geskryf, naamlik Wees (1991) en Die saalspook (1991). Hy het sy bekende kinderboek Die geel komplot tot ’n verhoogstuk verwerk en dit is in 2004 deur die Universiteit van Kaapstad se dramaskool aangebied. Wees is in 1986 deur die Akademiespelers van Kaapstad opgevoer. Dit was aanvanklik ’n kortverhaal in die bundel Tuin van klip en vuur en Shirley van Jaarsveld het dit vir die verhoog verwerk. Dit was in 1994 die wenner tydens die Jeugdramafees in Port Elizabeth, waar dit deur die leerlinge van die Hoërskool Framesby op die planke gebring is.

In 2000 het die première van sy eerste solodrama, Die laaste ure van meneer Fabricius, of, Asiel in die Sterrewagteater in Bloemfontein plaasgevind. Die drama is geskryf op versoek van die akteur Mees Xteen, met wie George ten tye van sy verblyf in Namibië saamgewerk het. Shirley Ellis was die regisseur. Dit speel af in die neurotiese 1990’s en in ’n nuwe Suid-Afrika waar niemand weet wie om te vertrou nie. Xteen het verskillende rolle vertolk, onder andere dié van ’n akteur wat hom in ’n versorgingsoord vir sielsiekes bevind.

In 2006 was George ook verantwoordelik vir die radiovervolgverhaal Soekers wat weeksmiddae oor die senders van RSG uitgesaai is met Charl van Heyningen, Susan Beyers, Peter Butler, Juanita Swanepoel en ander in die verskillende rolle. Dit is die verhaal van twee gesinne van Kaapstad, naamlik dié van Gawie Malan, ’n skrywer wie se kop sukkel met alledaagse dinge, en dié van sy vriend, Johnny Mowers. Mowers is ’n speurder by SAPD, sy vrou is ’n maatskaplike werker, en hul seun het nie altyd goeie oordeel as dit by die keuse van vriende en kennisse kom nie.

George het ook sukses as jeug- en kinderboekskrywer behaal en het ál die belangrike kinder- en jeugboekpryse gewen. Sy debuut as jeugboekskrywer, Los my uit, paloekas!, is in 1992 aangewys as die naaswenner van die Sanlamprys vir Jeuglektuur.

“’n Era waarin moderne tieners besonder belangstel, is dié van Elvis Presley, die rock-era van die laat vyftigerjare. George Weideman bring met hierdie debuut-jeugroman dié historiese poptema as ’n vernuwende element in die Afrikaanse jeugliteratuur. Kimberley se eendsterte en teddieboys is wel merendeels boewe, maar sommige het ’n goeie kern, en hul ‘image’ is aanvanklik vir Archie ’n ideaal wat hy probeer nastreef. Die politieke dimensie in die roman behoort moderne tieners te help om die historiese wortels van hedendaagse rassespanning in Suid-Afrika beter te verstaan. Die tragiese uitwerking hiervan op die lewe van die karakter Eileen, met die swaard van rasseherklassifikasie bokant haar kop, behoort tot nadenke te stem. In teenstelling tot die onbuigsaamheid van die burokrasie is daar ook wonderlike niekonformistiese karakters in die verhaal.” (Die Burger, 1 Desember 1992)

Met Die optog van die aftjoppers het George die Goue Sanlamprys vir Jeuglektuur in 1994 ingepalm. Marina le Roux (Die Burger, 14 Desember 1994) skryf daaroor: “In Die Optog van die Aftjoppers doen Weideman in ’n hoë mate die beloftes gestand wat geaktiveer is met sy eerste jeugboek. Nou kry hy die haas onmoontlike reg: Hy skryf ’n boek wat ‘èn letterkunde èn opvoedkundig-aanneemlike leesstof’ is, om Hennie Aucamp aan te haal. Jacobus Johannes Joachim Joubert, alias Jacques, alias Jakkie, alias Jak is ’n aftjopper, ’n oorgewig, wêreldvreemde dromer, ’n bysiende onderpresteerder, ’n lomp hanswors. Maar as hy ingeskryf word vir die Jong Entrepreuneurswedstryd aanvaar hy die uitdaging. Hy organiseer ’n kolos van ’n karnaval, ’n optog van aftjoppers wat vir een opwindende dag die stad op horings neem. Weideman se keuse van ’n tema is trefseker, en die karakters wat dit vergestalt is onweerstaanbaar. Naas Jacques, ontdekkingsreisiger, uitvinder en skrywer, is daar ’n kaleidoskoop van ‘ploerte en flentergatte’ met genoeg chutzpahvir ’n karnaval. Daar is oom Zak met sy Volla, schemer en impressario, vaderfiguur en mentor, ’n sjarmeur wat almal mesmeraais. En die mooie Salome met die vlek, en ’n pa wat te veel drink, werklose sirkusartieste, deugniete en verstotenes. Daar is die Maestro op sy viool, die Muskiet op die bekfluitjie, die Riverside Jazz Band, straatakrobate en talle meer. Hierdie atmosfeer word gepas uitgebeeld in Jacqui Colley se kleurvolle, vitale bandontwerp. Dialoog is lewendig, byderwets en besonder kleurryk, en onthul dikwels meer van die karakters as lang beskrywings. Jacques, al is hy ’n ywerige leser, kreatief en intelligent, is egter soms net té welsprekend met woorde soos seraf, mummel, sketter, ketsende, falanks en ketelpakke! Iets soos ‘en die sax flankeer met sy koper weerkaatsing in die donker geverfde ruit’, is mooi, maar dit is maar een voorbeeld van ’n perspektiefbreuk met skrywerstoetrede. Die leser voel hy word toegeval onder ’n ‘lawine van woord en wysheid’, soos Jacques sou sê. Die beeld van skepe wat bymekaar verbyvaar en alternatiewe wêrelde simboliseer, word vroeg in die verhaal ingevoer. Die vergelyking word konsekwent deurgevoer tot by die skitterende klimaks en die afloop, waar die optog op die promenade eindig. Weideman se groot verdienste is dat hy met hierdie lesenswaardige jeugboek, soos in Die donker Melk van Daeraad, die verlossende krag van die verbeelding verheerlik, en die leser ruimhartig daarin laat deel.” 

Die optog van die aftjoppers is ook bekroon met die Scheepersprys vir Jeuglektuur in 1995 en is deur die Kinderboekforum benoem vir die International Board on Books for Young People (IBBY).

In 1998 is Dana se jaar duisend gepubliseer, en dit het aan George ’n driekuns in die Sanlamprys vir Jeuglektuur besorg toe dit aangewys is as een van die beste vyf boeke in die wedstryd. In 1998 het die Wes-Kaapse Kinderboekforum dit op die erelys geplaas vir boeke wat in 1998 gepubliseer is. George was ook ’n skrywer vir die reeks boeke vir beginnerslees wat deur Kagiso uitgegee is.

Die geel komplot is in 2003 uitgegee. Dit is gemik op daardie tussen-in ouderdom, op kinders van so ongeveer agt tot twaalf jaar oud. Die leser reis saam met George na ’n verbeeldingswêreld met Tara Tandmuis as die hoofkarakter. Sy vertrek uit Verlatedorp om te gaan soek na ’n paar wisseltande om die paleis van muistande klaar te maak en terselfdertyd ook die “Wonderlike Wêreld” buite Verlatedorp se grense te ervaar. Sy kom nie verder as die buurdorp nie, maar muisperspektief is anders as mensperspektief. Op die buurdorp, Muisbosdorp, ontmoet sy vir Turbo-Tjaart, die marathonmuis wat baie erg is oor renmotors, Madame Ricotta uit die teaterwêreld, en haar vriend, Camembert, die “katelmuis met die swak gestel”.

George het aan Jaco Jacobs (Volksblad, 4 Augustus 2003) vertel dat die hele idee van Die geel komplot sy oorsprong by sy dogter, Siobhan, gehad het. Van die ander idees het ook hulle ontstaan in sy jeugjare gehad: “My pa het destyds so ’n ou, geroeste Datsun-bakkie gehad wat onder ’n boom gestaan het. Eendag wou ek kyk of Pa olie in die ding gooi, en toe ek die enjinkap oplig, sien ek ’n hele familie muise wat onder die enjinkap nesgemaak het. Nugter weet hoe lank hulle daar gewoon het. Turbo-Tjaart word ook Mazda-muis in die storie genoem. Daarvoor het ek net die Datsun in Mazda verander, omdat Mazda beter klink by muis.”

Die verhaal wemel van skeerbekmuise, armsalige kerkmuise wat net met Nagmaal verskyn, rietmuise en Gorgonzola-seerotte met name soos Barnabas Brie en Charlie Cheddar. En dit is net die goeie ouens, skryf Jeanne Hugo (Die Burger, 23 Augustus 2003). “Want elke goeie kinderverhaal het tog ’n booswig of twee om die storie interessant te maak.

Die geel komplot het dus, uit die aard van die saak, ’n duistere komplot. Die dorpsraad is besig om ’n bose plan te smee om van Muisbosdorp se muise ontslae te raak en sodoende die weg te baan na ’n blink toekoms en ’n nuwe, meer aanvaarbare naam soos McDonaldsville of Katzenellenbogenfontein. Vir hierdie doel word die dorp se katmafia, gelei deur die koelbloedige Siamese van die MGB (die geheime polisie van die kattemag) ingespan. Dit is besonderhede soos dié, sê Hugo, wat die storie ook vir die ouer garde leesbaar maak. Weideman se subtiele spottery met die ‘grootmens-wêreld’ is uiters genotvol en sit enige volwasse leser heerlik op sy of haar plek. Die prettige kat-en-muis-spel eindig op die dag van die jaarlikse muismarathon in ’n oorlog van epiese afmetings tussen die slim muise en die geslepe katte. 

“Dit was uiters verfrissend om ’n kinderboek te lees waar die skrywer nie probeer om die jong leser te betrek deur die gebruik van sogenaamde moderne Afrikaans (waar elke tweede woord eintlik maar Engels is) nie. Die geel komplot is in die mooiste, suiwerste Afrikaanse geskryf. Weideman leef hom behoorlik in in die tema en pluk elke moontlik kat- of muisgesegde en sêding uit die hoed. Die pas is vinnig, die aanslag vars en lighartig. Weideman probeer nie regtig om verskuilde lewenslesse oor te dra, of om die nasie op te voed nie. Hy vertel bloot ’n verbeeldingryke storie en ’n mens kan agterkom dat hy elke oomblik daarvan geniet. Lees die boek sáám met jou kind. Verkyk jou aan die pragtige sketse en wees bly dat daar nog sulke kreatiewe, ongekompliseerde kinderboeke geskryf word. Die wêreld sou veel armer gewees het sonder juweeltjies soos Monsieur Mozzarella se geloof dat ‘kaas melk se sprong na onsterflikheid is’.”

George het ook vir hom naam gemaak as vertaler en veral van Walter Wangerin se boeke uit Engels in Afrikaans vertaal. (’n Lys van die vertalings volg aan die einde van hierdie profiel.) 

George het aan Schalk van Wyk (Lig, November 2003) vertel dat dit nie vir hom maklik was om in te stem om die vertaling van Die boek van God te doen nie, “want my geloof in Christus is vir my ’n belangrike saak en die Bybel ’n kosbare boek. Toe hulle met die voorstel kom, was dit ’n skok. Die boek van God? Hoe kan enigiemand daaraan dink om ’n roman te skryf wat voorgee om die Bybel te dek. Maar hulle het mooi verduidelik dat dit darem nie die bedoeling van die boek is nie, en ek het tyd vir die besluit gevra. Eers ’n week later het ek ‘ja’ gesê.”

Oor die vertaalproses het George Weideman aan Elize Parker in Sarie van September 2003 meer vertel: “Enige skrywer wat weet waaroor vertaling en skryf gaan, werk altyd met ’n klomp woordeboeke. Ek het verskillende vertalings van die Bybel asook Bybelensiklopedieë geraadpleeg. Maar dit gaan hier oor meer as die feite van die tye. ’n Mens moet die storie vertel sodat mense dit kan lees en dit kan glo. Onthou ook, geloof hang nie af van bewysbare feite nie.”

Oor wat hy uit die vertaling geleer het – as skrywer, vertaler en gelowige: “Ek het min vertaalervaring, so dit was vir my ’n leerskool. As skrywer het ek weer daarvan bewus geword dat woorde ook deel van die skepping is en dat daar wonder en verwondering oor taal en woord is wat jou beetpak wanneer jy bekende stof probeer giet in nuwe woorde. As gelowige het ek – as ek die geheel bekyk – besef dit is die blywendste geloofsverhaal en dat geloof die goue draad is wat dwarsdeur loop. ’n Mens kan dit nooit miskyk nie en dit word en bly vir my die rigsnoer van my lewe.”

Met die verskyning van Die donker melk van daeraad in 1994 het George hom wel deeglik as kortverhaalskrywer gevestig. Joan Hambidge (Die Burger, 20 Julie 1994) skryf in haar resensie: “Hierdie is ’n bundel kortverhale, vertellings en mitiese herdigtings wat in die besonder die donker psige van die mens belig, oftewel die skadukant, in Jungiaanse terme. Maar, soos Jung geleer het, kan dit alleen aanvaar óf geïntegreer word in die persoonlikheid wanneer daar erkenning aan die bose skadukant verleen word. Weideman soos Borges en Italo Calvino glo dat die mens se redding in die verhaal of storie lê. Om te vertel, beteken konfrontasie. Dit gaan ook in hierdie vertellinge dikwels om die oergegewe wat nuut vertel word, die mitiese, die legende, die spookstorie, en die bo-natuurlike, alles elemente wat ons in die rasionele wêreld probeer ontken, of verdag maak. Weideman is ’n begaafde verteller. Hy onthuts ’n mens met sy eerlike hantering van, sê byvoorbeeld, ’n pedofiel se bewussynslewe; ’n jong meisie se seksuele ontwaking. In hierdie bundel huil bome wat wederregtelik afgekap word; wreek die natuur hom op mense wat die mag en invloed van die nie-rasionele óntken. Die bundel word opgedra aan die skrywer se moeder – ’n duidelike anima-invloed en Elsie en Ruiter van Onseepkans, wat kennelik vele van die oervertellinge geïnspireer het. 

“Die skrywer waarsku vooraf dat ons die stiltes en die oneindige variasies van ou, ou stories prysgegee het. Dis hierdie oerpatrone of argetipes wat Weideman aanspreek, en die skarabee op die buiteblad waarsku dat dit hier gaan om die simboliese, om ’n amulet of talisman. Dit is ’n besonder volwasse bundel wat op verskillende maniere die diktum van Eriwetski ontgin: ‘Al wat sin maak van die lewe is stories’. Die verhale is met ’n vaste, sekere hand geskryf, en die digterlike beeld herinner ons ook aan Weideman se digterlike talente. 

“Die bundel is in nege afdelings (die heilige getal) verdeel. Dit is verhale wat by ’n mens spook lank na die eerste lees. Die verhale het iets van ’n Hennie Aucamp se meedoënlose blik op eensaamheid; ek dink hier aan ‘Bedelaar’, wat terugspeel op Aucamp se oujongnooi-verhale én teruggaan op die bekende roetes van jou jeug en die invloed wat dit op die skrywer het (‘By Isak-se-kuil’). Die donker Melk van Daeraad suggereer die spanning tussen bewuste en onbewuste; ervaring en kreatiwiteit, en nie om dowe neute nie stoot die miskruier op die omslag ’n juweel en nie ’n bol mis nie. Verhale en motiewe speel op mekaar in, en dit is ’n wonderbaarlike leeservaring waarin bo-natuurlike magte én alledaagse ervaringe saamgesnoer word. Ons lees van gypsies, paddas wat die reën aankondig (by Jung ’n sterk transformerende simbool), waterslange, en so meer. In die negende afdeling, ‘Tarantella’, word die spel tussen fiksie en werklikheid ook verder gevoer: Ons weet dit is alles ‘waar’. Dié vertelling val wel ’n bietjie buite die toonaard van die res van die verhale, maar sluit aan by die nuwe mode om die grense tussen fiksie en werklikheid te verskuif, en om die leser daarop attent te maak dat die voorafgaande tall stories wel waar mag wees. Kry gerus hierdie boek in die hande – dit is ’n leeservaring duisend: Soos duisend-en-een-nagte.”

George se laaste twee bundels kortverhale, Newelig – stories loop nie altyd padsaam nie en Bloujare se stories (albei in 2007 uitgegee), het eweneens positiewe reaksie by die kritici uitgelok.

Oor Newelig het Hennie Aucamp (Rapport, 16 Augustus 2007) onder andere geskryf dat dit ’n ramp sou gewees het as dit nie gepubliseer was nie. “’n Ramp vir die letterkunde en die individuele leser, maar bowenal ’n ramp vir die geestelike lewe van die taal self. Want ’n taal het skrywers nodig wat die taal as presisie-instrument gebruik en dit voortdurend onder hoogdruk plaas, sodat dit geldig kan bly as medium. George Weideman, seker die veelsydigste skrywer in Afrikaans, bly ’n digter in alles wat hy aanpak, ook in sy kortverhale. Hy kry ook die tweekuns reg met Newelig, want sy bundel het die skyn van populêre kuns, maar bevat terselfdertyd komplekse verhale waaraan alle kortverhaalskrywers hulself kan skool.”

Abraham de Vries (Die Burger, 16 April 2007) meen dat George Weideman die veelsydigste ­eie­tyd­se skrywer in Afrikaans is. “Sy romans, jeugverhale, gedigte, dramas, radiodramas, wetenskaplike navorsingswerk, tot ’n ­dig­bundel cum kookboek, is konsekwent van hoë ­ge­hal­te, etlike kere reeds bekroon. Minder ­op­val­lend tot nou met die verskyning van sy derde bun­del kortverhale, Newelig, is dat hy binne dié genre met ewe veel gemak beweeg tussen verskillende sóórte kortverhale: die tradisionele vertelling en oorvertelling, die historiese ver­haal, die moordstorie, die ­reisverhaal, die grie­selverhaal, die spook­storie, om ’n paar te noem. En in ’n genre wat in Afrikaans goed verteenwoordig is, is Neweligeen van die beste én boonop leesbaarste wat in ’n lang ruk verskyn het.”

Oor Bloujare se stories was De Vries (Die Burger, 1 Oktober 2007) se bevinding dat daar boeke is waarvan ’n mens by die ­optel al weet: “Steek al jou slimmighede in jou sak, hier is ‘geleerde’ betoog swak smaak. Hier is verheldering, uitleg ­(elucidation) nie nodig nie; hier hóéf die ­resensent nie voor te gee hy/sy kan die ­leser voorsê hoe om ‘reg te lees en reg te interpreteer’ nie. George Weideman se Namakwa- en Boesmanlandse streeksverhale, Bloujare se stories, is so ’n boek. Dis baasvertellers se stories, dié wat ­op­geteken is deur ’n bobaasverteller. Die oorspronge word by die naam genoem en die boek is aan hulle opgedra. Toegegee, ’n mens kan jou met eenvoud net so maklik verneuk as met verwikkeldheid.”

George het die verhale in Bloujare se stories uit Rapport-Tydskrif gaan haal waar die meeste van hulle verskyn het. “En,” skryf Jaybee Roux (Beeld, 28 Augustus 2007), “natuurlik probeer hierdie bundel geensins om ernstige letterkunde te wees nie, maar as jy lus het om te grinnik, trek hom nader en verneem van ’n buitengewone groot pampoen; van oom Kallie se plan om karakoelskape oor die Suidwesgrens te smokkel; van oom Jopie wat twee miskruiers aantree toe sy Fordjie sonder brandstof gaan staan. Daar is enkele rugbystories ook en natuurlik ’n vrystorie of twee. (…)

“Vou die boekie dubbeld en druk dit in jou gatsak; pluk dit uit wanneer jy in ’n tandarts se wagkamer wag op wortelkanaalbehandeling, of vassit in die verkeer, of teen slapenstyd nie krag het vir ’n roman-hoofstuk of gewigtige tydskrifartikel nie. Die vertellings is selde langer as ’n etiket op ’n bottel vaaljapie, maar plesierig genoeg om die blouste dag op te kikker. Sonder Bloujare was Afrikaans dalk nie gedoem tot gewisse uitsterwing nie, maar die bundel staan sy man tussen vele soortgelyke boekies op die boekrakke van geleentheidslesers.”

George se eerste roman vir volwassenes, Die onderskepper, of, Die dorp wat op ’n posseël pas, is in 1997 gepubliseer. Met hierdie roman het hy die tweede prys in De Kat en Sanlam se derde Groot Romanwedstryd losgeslaan, asook die WA Hofmeyr-prys in 1998.

André P Brink was saam met Jakes Gerwel en Ena Jansen die beoordelaars van die De Kat en Sanlam se Groot Romanwedstryd. “Die onderskepper is ’n plattelandse moordmisterie met mirakelagtige gebeure en onvergeetlike karakters,” skryf Herman Wasserman (De Kat, Oktober 1997). Brink beskryf dit as ’n “vernuftige stuk werk wat tot in sy tone toe versorg is.”

Brink gaan voort: “Die humor en vindingrykheid waarmee Weideman teen die agtergrond van die Waarheids- en Versoeningskommissie ’n skerp blik op die alledaagse werp, maar terselfdertyd ’n veel groter en dieper allegorie konstrueer, het vir my uitgestaan.”

George self het gesê hy voel wonderlik oor die prys: “Dit is die eerste roman wat ek skryf en is bly vir die erkenning. Maar ek is bly Christoffel het gewen. Sy roman kom ’n lang en interessante pad. Literêre kompetisies is belangrik omdat dit ernstige skrywers in staat stel om tyd te koop. Dié kompetisie is goeie aanmoediging.”

Die verhaal speel af op ’n fiktiewe dorpie, Salpeterput, in die laaste veertig dae van die 20ste eeu. Arend Visser is die posbeampte wat gesorg het dat mense hul briewe kry, maar nie voordat hy hulle eers gelees het nie. Die dorp kry ’n erflating, maar daar moet eers gebieg word oor ’n onreg van die verlede. Daar is ’n onopgeloste moord en vele interessante karakters. Die roman is ’n speurraaisel met humor gekrui en met herkenbare mense en situasies gegeur. Verskillende gebeure in sy lewe het die boek geïnspireer.

Oor die ontstaan van Die onderskepper het George aan De Kat (Maart 1998) vertel dat sommige van die karakters weggeloop het uit ’n romansiklus waarmee hy al lank besig was, en hulle eie dorp gestig het. “Daarby: ’n onopgeloste moord uit die vroeë vyftigs, en die eeue-oue vraag: Wat is die waarheid?”

Sy dogter Melita, “’n regte filatelis”, het hom byvoorbeeld oor seëls aan die dink gesit. Hy het vir die eerste keer besef hoe baie daar oor menswees gesê kan word na aanleiding van seëls. Die skoolhoof met sy uitvindsels het iets van sy pa in hom, en die rolprent Fargo het die polisiekaptein Yvonne die lig laat sien. Prinses Diana is dood toe die boek afgerond is, en dit sluit aan by die mens se beheptheid met ikone, wat ook in die boek voorkom. (Die Burger, 3 Desember 1997)

“Ek sukkel om myself te dissiplineer. Ek sit met al hierdie geweldige ingewings wat ek net wil inwerk. Ek kan myself nie beheer nie,” vertel George aan Mariana Malan. (Die Burger, 3 Desember 1997) “Die skryf van ’n roman is ’n kranksinnige ding. Dit gaan soos wanneer ’n man in die winter rugby kyk. Niks word gedoen nie. Wanneer jy gedigte en kortverhale skryf, kan jy jouself onderbreek. As jy dit met ’n roman doen, verloor jy die draad. Die jeugromans was ook vir my makliker omdat hul opset eenvoudiger was.” 

Henriette Roos skryf in Insig (Maart 1998): “Die jongste werk van George Weideman, lank reeds ’n bekende digter maar in die afgelope jare ook al hoe meer bekend as boeiende verteller, lyk al met die eerste deurblaai na ’n onderhoudende verhaal. Die bont buiteblad, die besige dorpsplan wat verskyn teenoor die aanvangshoofstuk en dan die afbeeldings van buitengewone stempels en seëls wat elkeen van die veertig hoofstukke voorafgaan, voorspel vir die leser ’n kleurryke en gebeurtenisvolle verhaal. Hierdie verwagting word op verskeie en uiteenlopende wyses soms bewaarheid en soms ondermyn.

“Die onderskepper van die titel is ook die verteller van die verhaal – geen tradisionele held nie, maar ’n bejaarde en ietwat potsierlike posmeester en seëlversamelaar wat na willekeur posstukke oopmaak, aflewer of laat verdwyn. En in hierdie eensame dorpie, afgesny van die hoofpad en die treinspoor, is dit die soort mag waardeur die geheime van die dorpsmense onthul en hul doen en late gemanipuleer kan word. (…)

“In die slottoneel waar die posmeester en die dorpsdokter die agtergelate dokumente van hulle vriend die onderwyser sorteer, verwoord die verteller ’n gedagte wat ou weerklanke in die SA geskiedenis kry. Woorde wat egter vandag opnuut, en veral in die konteks van die WVK, betekenis besit: ‘Kom sit, dokter Schoonraad,’ sê ek, ‘Ons moet praat oor wat ons gaan weggooi en wat ons gaan behou.’ En hiermee word George Weideman se vertelling inderdaad ’n moderne ‘misteriespel’, ’n variasie op die eeue oue verhale van hoe die wonder van geloof ingrypende veranderinge in die lewe van eenvoudige mense bring.

“In hierdie geval word dit ’n verhaal van hoe ’n dorp, en moontlik ook ’n hele land, tussendeur die verwarring en die stryd tot ’n nuwe begin kan kom.”

Phil du Plessis (Die Burger, 22 April 1998) het ná die lees van Die onderskepper geskryf: “Ek verkies die jong digter met sy sinlike verlustiging aan taal op elke bladsy van sy bundels bo die skrywer van die roman.” 

Vir Fanie Olivier (Beeld, 2 Maart 1998) sluit die roman aan by ’n tradisie wat mense soos JHH de Waal, Dolf van Niekerk en Karl Kielblock insluit: “kleindorpse intriges knap beskryf, heg geknoop en slim ontknoop. Hier word die dorpsgegewe verruim, vindingryk verdig, deur die byroep van die wêreld van die filatelie. Tog slaag Weideman nie daarin om ’n werklik andersoortige maatskappy, ’n toekomsbeeld of die geprofeteerde eeuwendingsangs vas te vang nie.”

Met Draaijakkals: oftewel die ongelooflike eerste jeug van Nicolaas Alettus Lazarus – stofpoepertjie, tusseninner en aartskalant van die Onderveld wat in 1999 verskyn het, het George die ATKV-Prosaprys en die M-Net-prys ingepalm. Hieroor het hy gesê: “Draaijakkals is ’n skelmroman waarvan die storie al jare by my spook. Nou eers het ek kans gekry om dit te skryf.” Hy het voorsien dat dit op die ou end deel sal wees van ’n reeks waarin dit dalk vyfde sal lê.

George het aan Barrie Hough (Rapport, 24 Oktober 1999) meer oor Draaijakkals vertel: “Dit is ’n skelmroman in die tradisie van die Spaanse pikareske roman van Cervantes. Groot Duitse skrywers soos Thomas Mann en Günter Grass met sy beroemde The Tin Drum het hierdie tradisie ontgin en verder gevoer. In The Tin Drum het die hoofkarakter net eenvoudig ophou groei. In teenstelling wil die hoofkarakter in Draaijakkals nie ophou groei nie. Hy is baie kort en loop soms op stelte rond,” verduidelik Weideman. Hy is in sy element en vertel meer van dié stofpoeper wat met sy manewales in Draaijakkals die Afrikaanse letterkunde so verryk. “Omdat hy met ’n goeie lyflikheid geseën is, kom hy ongehoorsame meisies by. Hy is amoreel soos die hoofkarakter van ’n skelmroman maar altyd is.”

George was ingenome met die manier waarop hy valse moraliteit, pretensie en preutsheid in dié burleske boek ondermyn, het hy verder aan Hough verduidelik. “Ja, daar is baie pret en potsierlike avonture in Draaijakkals, maar daar is ook hartseer omdat dit handel oor mense in ’n tussenposisie, basters wat nie mooi weet waar hul plek is nie. Dit gaan nie vir my oor kleur of klas nie, maar oor mense wat in omswerwinge soek na hul plek en identiteit in ’n deurmekaar landskap. Ek het die wêreld en gees van hierdie sigeunermense leer ken omdat ek langs hulle grootgeword het. 

Draaijakkals is nie ’n politieke roman nie, maar omdat die wese van die skelmroman handel oor die verhouding tussen ’n baas en ’n klaas, die pikaro, is daar politiek ter sprake. Hoewel dit nie ’n hooftema in die boek is nie, kom onteiening daarin voor by wyse van die invloed wat byvoorbeeld die land act op mense se lewens gehad het. 

“Ontworteling en onteiening is per definisie deel van die tussenmens, die underdog, se wese. Ek ontgin in Draaijakkals die lot van die grootmaakkind. Dit is ’n ryk tema. Ons is op ’n manier almal grootmaakkinders. Daar iets universeel daarin. 

“Deel van die boek het ek gaan haal by ’n storie wat ek gehoor het van ene Swart Vermeulen, ’n swerwer in die Noordweste wat sy lewe gemaak het deur rympies voor te dra. Twee van sy kinders het beland by ’n ryk boer wat die seun begin uitbuit het. Hy het so hard gewerk en is so uitgehonger dat wanneer hy kans gekry het om te eet, hy hom ooreet het. Op ’n dag is sy vleis in skywe gesny. Brommers is tussen die skywe gesit en die skywe is weer netjies toegeplak. Grootmaakkinders word soms blootgestel aan baie wreedheid. 

“Al is daar baie pret ín die lewe, is dit ook gevaarlik óm te lewe. Die mens is gedurig gewikkel in ’n stryd met die natuur. En dit is ook iets wat vir my sterk spreek uit Draaijakkals. Die manier waarop die mens en die natuur op mekaar inwerk, maak saak. Die Groot Gat van Kimberley is onder meer ’n bewys daarvan.” 

George het al in 1986 aan Draaijakkals begin skryf. Hy het ’n sonderlinge werkwyse gehad. “Die verskillende stories en elemente van die roman het ek elkeen op een van hierdie geel plakkertjies wat in die helfte gesny is, geskryf. Ek het hulle op ’n groot wit kaart geplak en hulle rondgeskuif sodat hulle verskillende moontlikhede en patrone gebied het. Die plakkertjies het soms vir my soos geel motte gevoel wat op die papier kom sit het.”

Oor die wonderlike aardse en sensuele Afrikaans wat in die roman gebruik word, het George aan Hough oor die oorsprong daarvan vertel: “Dit is woorde en uitdrukkings wat ek van kindsbeen af onthou. Ek het grootgeword by ouers wat dié soort taal gebruik het. Dit was hul spreektaal. Ek onthou dat daar altyd drama in ons kombuis was en dat mense baie gepraat het.”

Elize Botha het in Beeld (8 November 1999) as volg geskryf: “Die voornemende leser moet nie haastig wees met Draaijakkals nie. Jy gee jou oor aan ’n sleurstroom en wat word nie alles meegesleur nie! Daar is al die mees basiese bekorings van die storieverteller: raaisels, onvoorspelbare gebeurtenisse waarvan die dekor vertroude en onvertroude landskappe is met die fynste beskrywingskuns vir jou voor oë gestel; daar is ’n heilskare karakters aan gedaantewisselings onderhewig.”

En in Rapport (21 November 1999) het Barrie Hough gesê: “Hoewel Draaijakkals ’n ontugtige en baldadige roman is, vol wulpse seks en eksplisiete beskrywings wat pas by die aard van die pikareske roman, is dit ook ’n digterlike en liriese boek vol skoonheid. Met sy sonderlinge taal, wat Oranjerivier-Afrikaans en die taal van Boerejode insluit, skryf Weideman ’n betowerende landskap en die skemerbestaan van sy tussenmense los. Uitdrukkings soos ‘splie-nakend’ en rondloop ‘vir gons en negosie’ pleks van ‘vir kattekwaad’ is ryk vondste wat die leser bybly. Hier is ’n ryk en stewige roman wat waarskynlik met nog redigering meer vaartbelyn sou gewees het. Maar wat gelees móét word.”

“Reeds op die buiteblad word jy attent gemaak daarop: dis ’n skelmroman,” skryf Herman Wasserman. (Die Burger, 12 Januarie 2000) “En sommer gou is dit duidelik dat die ek-verteller en hoofkarakter ’n marginale figuur of buitestander is, ’n onwaarskynlike held (‘Ek is nie ’n dwerg nie, maar name soos pikkie, muggie, stofpoepertjie en knopgat duik op sodra ek in die geselskap kom’ (3)), ’n klein skelm en ’n weeskind, uitgedruk tot die fraiings van die samelewing. Maar het die mannetjie nie avonture gehad nie! 

“Op sy swerftogte in die Noordweste, die ou Duitswes (Namibië), Betsjoeanaland (Botswana) tot uiteindelik in Kimberley, tussen twee Wêreldoorloë, in ’n land wat aan sy bas die Groot Griep, die mynstaking en die opkoms van Nazisme gevoel het. Soos in ’n teksboekvoorbeeld van die skelmroman lewer Nicolaas ook kommentaar vanuit sy posisie as gemarginaliseerde. Hy ontmasker die onreg verbonde aan die konstruksie van ’n ‘suiwer’, eksklusiewe identiteit (kyk maar na die manier waarop daar oor vreemdes gepraat word deur voormalige Kaapse Rebelle (41–4)) en die diskriminasie wat hy as ‘halfwas’ ervaar. Maar hy is ook die een wat onreg regstel, veral dié teen die vrou, soos om Joy te red uit die verkragter se kloue (278). 

“Steeds tipies van die genre is daar nie ’n duidelike intrige nie, maar word die vertelling deur episodes aanmekaar gevleg. Daar word uitgespruit en vertak, afgedwaal en uitgewei oor Nicolaas se wonderbaarlike ervarings, waarvan erotiese rites de passage ’n groot deel uitmaak. 

“En die roman is ’n voorbeeld van hoe seks kreatief beskryf kan word sonder dat dit ontaard in hygende clichés enersyds of preutse doekiesomdraaiery andersyds. Om rympies te maak met ‘soutslaai en klapperhaar’ (192), byvoorbeeld, is iets anders as om geveinsde eufemismes voor te hou. Daar word binne die stuitige register van die skelmvertelling gebly: ruig, sensueel maar altyd speels. 

“Die draad deur al die afsonderlike avonture is Nicolaas se soeke na sy pa. Hy probeer enkele skamele leidrade opvolg oor waar hy vandaan kom, wie hy is. Op sy reise, deur raaisels, hoorsê, onbetroubare brokkies inligting, flardes herinneringe en verbeeldings, konstrueer Nicolaas ’n beeld van sy pa en sodoende ’n eie identiteit,” skryf Wasserman. “Nicolaas se identiteit word dus opgebou deur stories, maar ‘om ’n lewe te rekonstrueer is om spore te soek waar die wind elke dag waai’ (13) en dus nie ’n eenvoudige saak nie. (…)

“Ten spyte van die belangrike stellings is dit eerstens ’n genotvolle boek, vol humor, waarin met die verwondering en ligvoetse trap van ’n kind beweeg word oor skreiende hartseer soos die uitgelewerdheid van ’n weeskind, armoede, siekte. Die plattelandse milieu dra by tot die komiek, op plekke byna filmies in effek. Weideman se liefdevolle uitbeelding van die omgewing en lewenstyl, in pragtige streek-Afrikaans, toon ’n besondere kennis. 

“Ook karakterbeskrywings is opvallend beeldend, met aandag aan die kleinste besonderhede. Die manier waarop Vuilbaard kou (118) of die spoegborrels om professor Posthumus se mondhoeke (475), laat hulle voor jou opdoem.

Draaijakkals is ’n aardse, karnavaleske viering van die krag van stories om ‘jou kop skoon te kry’ (6) of ‘om die dood, die onheil, die bang weg te hou’ (117). Soms voel ’n mens wel daar word dalk net ’n keer of wat te veel afgedwaal en uitgewei, al is dit tipies van die genre. Dit is een van daardie boeke met karakters waaraan jy terugdink, selfs terugverlang. ’n Roerende evangelie van ligtekooie, leuenaars, om-die-bos-leiers en ewig-sukkelende optimiste wat almal in die storie genade vind.” 

In 1999 het George onder die skuilnaam SE Lessing ’n rugbyspeurverhaal, Gaping vir ’n moordenaar, die lig laat sien. “Man, ek het al van kleinsaf ’n swak plek gehad vir speurverhale, mysteries, daai soort van ding. Hendrik Brand, Karl Kielblock, James Hadley Chase. Ek het sulke stories vir die skoolkoerant op Springbok geskryf, bloederige verhale soos ‘Die sestiende slagoffer’. Lessing het verlede jaar gestalte gekry toe ek vir ’n paar maande as genooide dosent by die Vrystaatse Universiteit ’n slypskool aangebied het. Ek moes sing vir my supper omdat die Stigting vir Skeppende Kunste dit moontlik gemaak het. 

Draaijakkals was toe so te sê klaar, ek was klaar met ’n eenmandrama vir Mees Xteen en die verantwoordelikheidsin het my gejaag. Toe dag ek hoekom nie? Die rede vir die skuilnaam is ook eintlik heeltemal prosaïes – ek was met soveel goed besig dat ek nie lus was om die mark te oorspoel met duisende verskillende dinge onder my naam nie,” het George aan Elmari Rautenbach vertel in Boekewêreld. (Maart 2000)

Dwarslat skryf in Beeld (27 Maart 2000): “Dis Wêreldbekertyd. Almal praat, eet en drink rugby. Gaan die Bokke die gesogte William Webb Ellis-trofee terugbring huis toe? Nie as die reeksmoordenaar toegelaat word om sy duistere planne uit te voer nie. Vir hom het rugby ’n obsessie geword. Hy is nie tevrede om langs die kantlyn te staan en toe te kyk hoe spelers gekies word aan wie hy ’n broertjie dood het nie. 

“Sy oplossing is eenvoudig: raak ontslae van die swak skakels en bewimpel dinge so dat die ‘regte’ span op die veld draf. Wanneer sleutelspelers een ná die ander op skynbaar onverklaarbare wyse sterf, skep dit probleme vir die beleërde Springbokspan en hul afrigter. 

“Dit is die agtergrond waarteen hierdie boeiende speurverhaal afspeel. Dit is ’n soort Agatha Christie-riller wat met ’n knal afskop en die leser tot aan die einde aan die raai hou. ’n Mens moet jouself trouens dwing om nie agtertoe te blaai om te kyk wie die skuldige is nie. Daar is ’n dosynstuks verdagtes: ’n briljante, narcistiese losskakel wat hom ná ’n paar blapse op die paviljoen bevind; ’n soepel, aanvallige maar seningtaaie gladiator; ’n koketterige dramastudentjie wie se naam aan sommige spelers verbind word; ’n onlekker redakteur van ’n rugby-weekblad wat niks sal ontsien om smeerstories op te dis nie; ’n borg wat hou van magsvertoon; ’n gewese afrigter wat ná ’n paar toetsnederlae by almal in onguns geraak het; en les bes ’n fanatieke versamelaar van rugbyaandenkings. 

“Hoewel dit ’n ‘debuutbundel’ is, is die vaardige skryfstyl opvallend. Ook geen wonder nie: die man agter die pen is ’n bekende Afrikaanse skrywer wat vir die eerste keer die skuilnaam SE Lessing gebruik. Benewens sy bedrewenheid met die pen, is Lessing opsigtelik ’n rugbykenner wat sy feite haarfyn agtermekaar het en deeglike navorsing gedoen het. Die gapings wat op die veld geslaan word, word vindingryk verweef met die intriges en gekonkel van moordenaars en minnaars. 

Gaping vir ’n moordenaar is egter allesbehalwe ’n boek oor die spel rugby. Jy hoef nie in die spel belang te stel om dit te geniet nie. Dit is boeiende leesstof vir man, vrou en kind.”

Nadat George verplig was om af te tree weens sy oogprobleem, het hy die kok in die huis geword en in 2006 is Verskombuis: ’n kookboek met gedigte uitgegee. Die illustrasies is deur Diek Grobler gedoen. Dit bevat gedigte sowel as resepte wat oorwegend deur George ontwikkel is, het hy aan Hanlie Retief (Rapport, 19 November 2006) vertel: “Die digbundel het spontaan gebeur, agter die kospotte. Jy wérk met iets, dan wórd dit iets. Baie soos wanneer jy ’n gedig skryf.

“Die verskil tussen kook en dig, lê in die hantering van flops: ’n gedig skryf jy bloot óór, maar in die kombuis moet jy, voordat jy wéér probeer, eers jou brouwerk opeet. Minder sooibrand as jy dig, maar die skryf en herskryf vat ’n ander, kronkelpad met jou.

“Die fokus in die kombuis is ook korter, skerper: Waar gedigte gewoonlik ontstaan uit beelde wat jy iewers gesien of van gelees het, was Verskombuis se inspirasie hier óm my: In die boerpampoen sien jy Karoohuisies met pampoene op die dak. ’n Lepel lê in jou hand en jy sién weer jou ma se lepelversameling. Die ashope soos ’n argeoloog deurwerk, en dan soms lepels uitkrap. Sy het stories vertel rondom haar lepels … dis seker waar my skryf vandaan kom.

“’n Patat wat ek present gekry het, nie ’n gladde winkelpatat nie, maar ’n plaas-een, so knollerig en knobbelrig en met baardhare, het méns geword, ’n ou tante wat deur haar kinders en die lewe seergemaak is:

Opgeneuk. Heeltemal opgefoeter
is sy, dié knoetserige ou boggelrug
wat haar hare uit haar kop kan trek
dat sy ooit getrou het …

“Die term ‘medies ongeskik’ was nogal ’n skok. Ek wou nie net sit en tob nie. Ek moes my prakties besig hou, en deur die kookwerk oor te neem sou ek Celién (’n musiekonderwyser) se las tuis help verlig. My kok-loopbaan het maar groenerig afgeskop onder die vaandel van vrou en ma en skoonma se resepteboeke.

“Maar as jy ’n skrywer is, wil jy jou eie ding doen, iets ánders probeer. En dan sit jy natuurlik ook met jou verbeelding. Ek het gaan oplees oor kruie en speserye, en toe begin die eksperimente. Kom ons kyk … so bak jy met woorde, span jy die seile van jou verbeelding rondom geur en kleur. Dit word toe al hoe meer soos skryf.”

Tydens die kokery het dit op ’n gereelde basis gebeur dat daar skielik ’n vers by hom opgekom het. Dan moes hy dadelik na die rekenaar hardloop en het die kos vergete op die stoof bly staan, totdat die brandreuk hom weer kombuis toe gestuur het.

Verskombuis se resepte volg die dag se verloop: doudagdisse (soos die Namakwalanders ontbyt noem),” skryf Retief. “Hoofdisse en toe-kosse, slaaie en agteroppies, oftewel poedings. Die woordespel kry jy ook in resepname: Mollie se pienk padda-ogies, Berooide hoender, Melkkos uit Spinnekopkraal. Die bundel word afgesluit met ’n groepie historiese poedingresepte uit die kookboekie van Anna Maria Kersop, Celién se oergrootjie. George en Celién het die uitmekaargevalde boekie in ’n ou skoenboks ontdek toe hulle ’n pakkamer op die familieplaas in Fraserburg reggepak het. In haar eie handskrif staan daar: ‘Ik ben Anna Maria Kersop Den 14 Augustus 1879, riet huizies, woon ik vandag.’ 

“In Verskombuis hoor jy die stem en die verlange van ’n boorling van Cradock wat iewers vasgehaak het in die aardsheid, die ylheid van die Karoo, Boesmanland, Namakwaland. Dit lê, dit dig in granate ‘druppels bloed gestol in die dor Karoo’, in Pella se ‘dadels staan voet in die hemel, kop in die hel’.” 

Op die Versindaba in 2006 is die Akker-prys aan George toegeken, ’n digter wat deur sy/haar loopbaan baie gedoen het om die digkuns te bevorder en ander digters in hul loopbaan gehelp het.

In 2006 het George die 25ste DF Malherbe-gedenklesing aan die Universiteit van die Vrystaat gelewer met die titel “Die skrywer se verantwoordelikheid teenoor sy taal”. Hy het as volg gepraat oor Afrikaans: “Oor die voortbestaan van ’n taal bestaan ’n hardnekkige en wydverspreide dwaling, gewoonlik saamgevat met die uitspraak: ‘Die taal sal bly bestaan solank dit gepraat word of toegelaat word om gepraat te word’. Dié soort dooddoener-argument ignoreer die taal se hoër funksies en laat glad nie ruimte vir die hele persoonlike en historiese betekenis van ’n taal nie. (…)

“Grondwetlike beskerming is ook nie ’n waarborg nie. Dit sal nie keer dat ’n taal bloot tot omgangstaal gereduseer woord waarin nie-standaardvorme geleidelik tot norm verhef word nie. ’n Taal groei slegs as sy standaardvorm deur nie-standaardvorme verryk word; nie as sy standaardvorm wegkwyn nie. Die groei of agteruitgang van ’n taal blyk uit die toename of afname van sy gebruik in hoër funksies. Hoe minder funksies ’n taal het, hoe kleiner is sy oorlewingskans. (…)

“Daar is ook goedgelowigheid en misplaaste vertroue by Afrikaanssprekendes. Hoe hardnekkig die verskynsel van goedgelowigheid onder Afrikaanssprekendes is, blyk uit die dikwels onkritiese houding oor opmerklike verskuiwings in universiteitsbeleide, universiteitbestuur en onderrigpraktyke.”

In 2007 ontvang George dan heel tereg die ATKV Afrikoon-toekenning vir die enorme bydrae wat hy gelewer het om die Afrikaanse letterkunde te verruim deur die beoefening van etlike genres, sy betrokkenheid by skrywersontwikkeling en sy verbintenis tot die bevordering van die mondelinge tradisie. Die bekroning is gedoen deur die Kraaifontein Amateur Dramavereniging (KADAV) wat ’n ATKV-tak was.

In April 2005, tydens ’n reis in Kroasië, het George só ernstig siek geword dat hy en Celién hulle reis moes kortknip. ’n Bloedsiekte is by hom gediagnoseer. Maar hy het voortgegaan met sy kreatiewe skryfwerk. Toe hy al baie siek was, het hy nog ’n radiovervolgverhaal en gedigte geskryf. Hy het een aand uit die hospitaal vir Abraham de Vries gebel om te vra wie se illustrasie op die buiteblad van Elsa Joubert se Dansmaat is, “oor ek dit wil gebruik in ’n gedig”. Sy laaste twee gedigte, twee kwatryne, moes Celién vir hom neerskryf omdat hy nie meer ’n pen kon vashou nie.

In ’n onderhoud met Danila Liebenberg in Volksblad van 4 Junie 2007 het George aan haar vertel oor die simboliek wat ys vir hom inhou. In sy vroegste tienerjare wou hy Yslands leer praat en dit kom ook na vore in die titel van Hoera, hoera die ysman. “As jy van jongs af in die somer in die Boesmanland gekuier het en later daar gebly en gedurende somervakansies langs Grootrivier op die erf gewerk het, het jy sekerlik gesmag na ys. Soos een van my skoolvriende, Stollie van der Merwe, wat ook langs die Gariep grootgeraak het, opmerk: Ys was in ons wêreld van kokerboomkoelers (geen yskaste nie; daar was nie krag nie, of daar was nie geld nie!) iets buitengewoons; iets kosbaars. Hoe begin Marquez se One hundred years of solitude nou weer? ‘Many years later, as he faced the firing squad, Colonel Aureliano Buendia was to remember that distant afternoon when his father took him to discover ice.’

“Vuur en ys, hitte en sneeu – ja, tot in my jongste gedigte in Verskombuis (Protea, 2006) kom dié motiewe voor. Só begin ‘Karoowinter’:

… dit het swaar geryp dit kners en dit knars
oral staan wit sprietsels ys
ek sleep kraakstewel oor die werf
my neus se punt rooi soos radys
van sulke môres sê die mense hier
die meelsak is omgedop
dit bring my op ’n gedagte
wat’s soeter as soen met sonop? 

“Sneeu en ys kan dus die begeerlike voorstel. (…) Maar ek dink die romantiese aspek van sneeu trek my die meeste aan; my vrou kom uit Sutherland se wêreld en ons het ook ’n huis daar gehad. My twee dogters het van kleins af met die skone stilte van sag-vallende sneeu te make gehad; en ons het saans voor die kaggel of die kombuisstoof speletjies gespeel of gelees. En soetwyn gedrink.”

Liebenberg wou ook by George weet watter een van al die genres waarin hy geskryf het, hom die meeste aangetrek het: “Dis moeilik om te kies. Die eerste aanvoelings van ’n tema of storie bepaal gewoonlik watter genre of medium die beste kan werk (nie dat dit noodwendig so gáán wees nie: Die kortverhaal ‘Wees’ in Tuin van klip en vuur was éérs drama, self opgevoer met leerlinge aan die Hoërskool Framesby in Port Elizabeth; daarna het dit weer ’n toneelstuk geword wat in Kaapstad en elders verskeie skool- en jeugtoneelopvoerings beleef het.) Miskien lê die antwoord daarin dat ek, soos albei my ouers – eintlik my hele familie – ’n weetgierige, ongeduldige, oorkreatiewe eksperimenteerder is. (…) Wanneer ek kinder- en jeugboeke skryf, is ek dalk op my gelukkigste; dis lekker om ‘vir die kind wat nog in jou leef’ te skryf. Kinders is mos self lewens-eksperimenteerders.”

Oor die kanker wat só deel van sy lewe geword het, het hy aan Liebenberg verduidelik: “As gelowige is dit nie vir my élke dag maklik nie. ’n Mens wil soms vrae vra (murmureer); maar dan lei die Onkenbare Iemand – en mense se gebede en goeie wense en kerse en blomme – jou om eenvoudig te gaan sit en kreatief te dink. As jy dan moet ophou, hou jy op. Kanker het nie noodwendig stopstrate nie; dalk baie toegeetekens.”

In Maart 2008 (’n paar maande voor sy afsterwe) is Doepa! Musiek en gedigte aangebied. Dit is ’n program oor George Weideman deur Helena Conradie. Sy het ’n CD met die titel Doepa! met van sy mooiste gedigte daarop, gemaak. Annalise Wiid en Francois le Roux was verantwoordelik vir die toonsettings van die gedigte, terwyl Conradie, Wiid en Le Roux, asook George Weideman self die gedigte voorgedra het. Wiid en Leroux sing die toonsettings en speel ook kitaar, klavier en tjello.

In Die Burger van 18 Augustus 2008 skryf Renée van den Berg: “Dié opname erken en onderstreep wat Weideman vir ons wil sê: Ons moet geluk en vertroosting, ja waarlik ons doepa, vind in die eenvoudige dinge wat ons omring. Doepa! lewer ’n waardevolle bydrae om een van ons geliefste digters se werk te vier.”

George Weideman is op 28 Augustus 2008 oorlede en sy roudiens is op 1 September in die NG Kerk Welgemoed in Bellville gehou. Ds Johan Symington het die diens gelei.

Huldeblyke

  • Abraham de Vries vertel in Die Burger(15 Junie 2009) van George se laaste gedig: “Vir George Weideman was so ’n modelboek (vanaf die uitgewers) nét groot genoeg om tussen huis en hospitale saam te karwei. Dit bevat, benewens ’n paar invalle en halwe verse, ook in sy netjiese handskrif ’n hele reisbeplanning vir weer ’n besoek aan Kroasië, die land waar hy siek geword het.

“Maar daar is in Weideman se poësie vir die volle 40 jaar van sy digterskap, van Hondegaloppie (1966) tot Verskombuis (2006) – en mooi versamel in die keusebundel Pella lê ’n Kruistog vêr – twee groot liefdes: vir sy beminde en vir sy hartland, die Noordweste. Sy laaste vers, gedateer 18 Julie 2008 om 17h34, is ’n roerende afskeid van hulle. Hy is op 28 Augustus 2008 oorlede. Omdat hy nie meer die pen kon vashou nie, het hy dit vir sy vrou gedikteer; dis in Celién se handskrif. Op die manuskrip is daar, op sy versoek, hakies om die woord ‘jekker’ en ná die eerste ‘groen’ is ’n sesuurstreep. Hy kon egter self nie weer daarna kyk nie.

“Jekker, klankmatig ook ’n spel met jakker, staan wel in die HAT en die sesuur pas presies op die bladspieël. ’n Villanelle is ’n herderslied. Verdere uitleg is oorbodig. Hier volg die gedig:

Villanelle – Namakwaland

Skielik was dit stil in die
ou blomveld
die wind ’n jekker in die groen,
groen gras 
in die gras om ons.”

  • Theresa Papenfus: “’n Mens onthou die donker oë agter die bril, die halfverwaaide hare en die beleefde laggie. Maar wat my veral bybly, is sy verwondering, sy moed te midde van moeilike omstandighede en sy diepe respek vir die mens en die wêreld waarbinne hy leef. Sy hartland was die harde Karoo, die Noord-Kaap en Namibië. Dis ’n wêreld van verblindende son, sagte skemers en lugspieëlings – ’n streek vol stories oor stryd en ontnugtering, maar ook hoop. Nooit voorheen is hierdie landstreek presies so geteken soos deur hom nie; een van die veelsydigste skrywers wat Afrikaans nog opgelewer het.” (Volksblad, 1 September 2008)
  • Dan Roodt, namens die skrywersorganisasie Pretoria-PEN: “Sowel die Afrikanervolk as die Afrikaanse skrywersgemeenskap verloor in George ’n talentvolle mens en sprankelende skrywer. Nie net was Weideman met sy digbundels en toneelstukke ’n unieke stem in die Afrikaanse letterkunde nie, maar hy het veral met sy grootse pikareske roman Draaijakkals ’n taamlik onlangse hoogtepunt in ons prosa gelewer. Weideman was ’n innemende en geesdriftige mens wat by almal geliefd was. Hy was boonop iemand wat hom in die Afrikaanse taal verkneukel het en tot vindingryke woordspel en gevatte uitdrukkings in staat was. Onderliggend aan die meeste van sy werk is ’n toon van ironie en spot. Draaijakkals kan met die klassieke werke van Cervantes of Laurence Sterne vergelyk word en sal iewers in die toekoms nog hoër deur ons kritici aangeslaan word as wat dit reeds is. George Weideman was ’n stigterslid van Pretoria-PEN net enkele jare gelede. As skrywersgroepering wil ons ons medelye met George Weideman se naasbestaandes uitspreek en hulle verseker dat hulle verlies ook ons verlies is. Weideman verdien ons almal se hulde vir die groot mens en groot kunstenaar wat hy was.”
  • Abraham de Vries: “Dis nie toevallig nie dat die ontwikkeling in George se digbundels op sigself ’n storie vertel. Die Noordweste is waar alles speels en klankvol begin in Hondegaloppieen As die Son Kliplangs Spring. Wranger van toon en ­bewuster van grense word Klein Manifes van ’n Reisiger, maar in Hoera die Ysman is juis die satiriese aanslag bevrydend.

“Isolasie, marginalisering en ’n sterk stroom-op maatskaplike bewustheid (‘Herinneringe van ’n terug­gekeerde soldaat’), maar ook die wonder van die liefde (‘En nou het alles winter geword’) spreek in Uit hierdie Grys Verblyf. In ‘Homo Faber’, wat hy opdra aan sy ‘monnik-pa’, vind die ­skeppende mens sy plek. 

“Maar dis veral in die onderskatte ’n Staning Onder Sterre wat fyn besinnings en waar­nemings van die aardse ‘dwaalligte en sterre’vers-tegnies so ­geslyp is dat hy die vroegste aardsheid onverwags en speels kon vernuwe in Verskombuis.

“Vaarwel, ou troebadoer; vaarwel, ou strydros. Dankie vir al jou doepas teen die droeftes. Jy het die kantelende reis op ons ou skedonk genaamd aarde met eer afgelê. Jy laat Afrikaans baie ryker agter en ons staning vir die wyle wat dit duur ’n bewoonbaarder plek. Rus in vrede by jou Skepper.” (Die Burger, 29 Augustus 2008)

  • Dorothea van Zyl:

“Ons staan op vertrek: oor die swart suile 
van hierdie eerste stasie, ons vertrekpunt, 
ruis die vrolike afskeidslied.
Ons groet die donker aarde van ons jeug, en juig.
Ons waai vanuit die wit trein
na die stil gestaltes op die bewegende perron.

Die seremonie is verby (…)
Ek rig ’n vasberade brief aan die aarde wat ek geken het: 
ons gaan nou definitief nie terugkeer nie; 
hierdie reis het van ons sigeuners gemaak.
Ons reis telkens na ’n nuwe vertrekpunt, verder, 
met ’n kenbare lied vir hierdie repatriasie: 
die heilige robynrooi stiltes van die woord 
wat sing oor die blomme van die God waarvan ons gehoor het 
en die fantasie van ’n duisend wit kastele 
en die ekstase van ’n dun brug oneindige reis …

“Enkele dae terug het ons vriend George finaal vertrek – en in dié sin waar gemaak wat hy reeds in die eerste gedig van Klein manifes van ’n reisiger (1970) gesê het (hierbo aangehaal).

“En ons stil gestaltes wat voorlopig agterbly, waai vir die wit trein wat met ons swerwersvriend vertrek het op sy oneindige reis, met hoop op fantasie en ekstase en blomme van God noudat hy die dun brug oor is. Jy het net te kort kom kuier, George. Ons sal ons minsame en beskeie vriend en kollega mis, en is jammer die laaste afstand wat hy met die ‘ou skedonk genaamd aarde’ afgelê het, was so moeisaam en slopend. Tog het sy gees onblusbaar gebly en was hy tot bykans op die laaste besig met die woord.” (LitNet)

  • Johann Lodewyk Marais: “Weideman het by geleentheid gesê: ‘[Ek] begin skryf soggens vieruur se kant; ek kan nie in die dag skryf nie.’ Op Donderdag 28 Augustus 2008 was dit vieruur die oggend toe hy die stryd teen kanker in ’n Kaapse hospitaal verloor het. Hy was net 61 jaar oud en ‘in die fleur van sy lewe’, soos die oumense sou gesê het. In die Noord-Kaap en Namibiё het daar sekerlik ’n koue wind tussen die kokerbome gewaai. Die Afrikaanse landskap sal armer wees sonder George Weideman, maar daar staan op dié landskap baie bakens waarvoor ons hom nog lank dankbaar sal wees.” (Rapport, 31 Augustus 2008)
  • Johann Lodewyk Marais: “George Weideman was ’n virtuose hanteerder van die woord; ’n vaardigheid wat hy nie net in sy digbundels beoefen het nie. Die ‘volkse’ taalgebruik in sy werk dra daartoe by om die ryk geskakeerdheid van ’n alternatiewe Afrikaans in die hoofstroom in te trek en die kreatiewe moontlikhede daarvan onder ons aandag te bring. Met sy prosawerk bou Weideman voort op die verteltradisie in Afrikaans, wat met sy skryfwerk ’n kosbare besit van die Suid-Afrikaanse literatuur word.” (Boeke-Insig, Januarie 2009)
  • Rachelle Greeff: “Hy was ’n mens met suiwer integriteit, sy morele kompas altyd reg noord. Niemand se naprater of hierjy nie. In daardie eens groot gestalte van George, wat met sy slepende siekte verskraal het, het ’n ruim gees gewoon.” (Rapport, 31 Augustus 2008)
  • Celién Weideman: “’n Vegter wat tot die einde dapper was. Ná elke operasie het hy opgestaan en voortgeveg.” (Rapport, 31 Augustus 2008)
  • Hans du Plessis: “Hy was een van die spesiaalste mense wat ek geken het. Hy was ook een van die sagste mense wat my pad gekruis het en iemand aan wie se integriteit mens nooit hoef te getwyfel het nie. Ek dink George se werk is soms bietjie onderskat. En dit wat hy vir die ontwikkeling van jong skrywers in die Afrikaanse letterkunde gedoen het, was een van die besondere bydraes wat hy tot die Afrikaanse taal gemaak het.”
  • Etienne van Heerden: “Die Afrikaanse letterkunde het sy groot gentleman verloor.” (Volksblad, 30 Augustus 2008)
  • Joan Hambidge: “Hy het aan verskeie fronte ’n bydrae gelewer: as kortverhaalskrywer, romanskrywer, streekverteller, dramaturg en as digter. Weideman was eweneens ’n belangrike kritikus wat belangrike werk gelewer het.” (Volksblad, 30 Augustus 2008)
  • Joan Hambidge:

“Lykdig

Vir George Weideman 

Nou’s jy uit hierdie grys verblyf bevry
vir ’n staning onder die ewige sterre,
’n plek waar die bysiendes en dowes,
nes die siekes en verwondes saambly. 

Vir ’n staning onder die ewige sterre
met geen mot, cliché of taalstryd;
sonder petisies, bestraling óf roes.
Die aarde lê ’n kruistog ver …

’n plek waar die bysiendes en dowes
horende sien en dowende dool,
die hele santekraam sal jy hier vind.
Nou’s jy finaal van als bevry.

Is daar oorkant iemand vir bysiende lesers,
vir storievertellers en hartpraters soos jy?
Diés my beskeie afskeidslied vir jou:
vanaand draai ek my toe in jou amarantverse.” (LitNet-Argief, 2 September 2008)

  • Miemie du Plessis, LAPA Uitgewers: “Hy het hope tyd gehad vir ander mense en was sommer net doodgewoon dierbaar. Mense vergeet dikwels dat hy ook ’n groot bydrae gelewer tot die Afrikaanse jeuglektuur. Sy jeugboeke is ryk en geskakeerd, die protagoniste is randfigure, dikwels arm aan aardse goedere en ryk aan verbeelding. Die magiese en verlossende krag van die uitvoerende kunste is ook opvallend in sy werk vir tieners.” (Volksblad, 30 Augustus 2008)
  • Hennie van Coller: “George Weideman kon net die 61 raak; pas 50 jaar oud al geboardmet swak sig. Desondanks het hy bly werk terwyl sy hart hom in die steek gelaat het en allerlei siektes hom bly teister het. Uiteindelik het die wrede kanker hom aan die haak geslaan. In die Afrikaanse letterkunde is hy ’n eenling. Iemand wat bykans elke denkbare genre moeiteloos kon beoefen: Bekroonde digter, jeugverhaalskrywer, dramaturg, romanskrywer; tewens vertaler én skrywer van radiodramas en ’n unieke boek vol met gedigte en bypassende resepte (of is dit andersom?). En boonop een van net ’n handjievol skrywers wie se werk telkens bakens versit het en, soos met goeie wyn, net beter geraak het. Maar George was ook ’n mens-mens: Beskeie, vriendelik en altyd bereid om jong skrywers aan te moedig en selfs aktief te help. In die Wes-Kaap het hy reuse-werk verrig om bruin en swart skrywers te help deur onder meer slypskole te organiseer. Hartstogtelik lief vir Afrikaans, maar byna nog meer vir die Afrikaans van sy heimat, die Noordweste. Trots op sy dogters, lief vir sy vrou, Celién, tot in sy vesels. Ai, watter verlies!” (Volksblad, 6 September 2008)
  • Hennie van Coller:

“George Weideman
My vriend, die altyd bly-laggende Jorsie
kan son en hemel skep nét uit ’n korsie,
geweek in ’n gora by Pella se skaars water
gul gegeur met klipsweet en dassies se geskater.” (Volksblad, 6 September 2008)

  • Hennie Aucamp:

George Weideman
Hy druk sy ploeg in barre aarde
en haal baroe na bo:
vlak onder klippers wag daar verse
op dié wat woordeliks glo.” (Die Burger, 11 Augustus 2008)

  • Siobhan Weideman: “Ek sal my dad altyd onherroeplik liefhê en ons liefde vir jou is groter as wat jy ooit kon dink. Met deursettingsvermoë wat ons verstom het. Jy het die wil gehad. Jy is ongelooflik, dad, jy is alles. As ons bang was, was jy daar en ons was in jou hande.” (Die Burger, 2 September 2008)
  • Ds Johan Symington: “Iemand wat kon sing, skryf, dig en ander kuns beoefen. Iemand wat eerder sy dae in die veld sou deurbring as die moderne betonoerwoud. George Weideman het lank probeer en sy stryd teen kanker was amper bomenslik, veral omdat hy so erg oor die lewe was. Maar uiteindelik was dit ook tevergeefs. Hy het al vroeg besef hy is deel van die natuur. Daar­om is daar in al sy skrywes iets van die natuur. Dit was somtyds bitter, maar tog ook aards. George het in sy geloofsbelydenis geskryf dat hy nie ’n man is wat baie lief vir die kerk is nie: ‘Ek kan nie in ’n plek wees waar mense baklei, waar almal dink hulle is beter as die ander en my ophou met aanstellerige mense nie.’ Hy het eerder Sondae na die natuur gegaan, na die voëls geluister en dan saam met hulle gebid, wetend dat sy gebede gehoor word.” (Die Burger, 2 September 2008)
  • Willem Fransman, jr namens die Afrikaanse Skrywerskring: “George Weideman se heengaan is ’n gevoelige slag vir kreatiewe skryfwerk en die Afrikaanse letterkunde in die algemeen. Weideman het weliswaar oor die afgelope dekade en ’n half talle pryse en toekennings vir sy prosa en dramas ontvang, maar die belangrike debuut- en ander pryse wat deur die kanoniseerders van die Afrikaanse literatuur toegeken word, was hom nie beskore nie. Hy is trouens nooit as digter bekroon nie, hoewel dit die genre is waarin hy gedebuteer en waarskynlik sy sterkste bydrae gelewer het. Die Noord- en Noordwes-Kaap het van die begin af ’n rol in Weideman se werk gespeel, en met sy uitbeelding van die mense, fauna, flora, gesteentes en talle ander fasette van hierdie droë dele van die land het hy as ’t ware hierdie streke se geheue geword. Met die ‘volkse’ taalgebruik in sy werk het hy die ryk geskakeerdheid van ’n alternatiewe Afrikaans lewend help hou en die kreatiewe moontlikhede daarvan duidelik geïllustreer.” (Die Burger, 2 September 2008)
  • Trienke Laurie:

Liewe George

Ek stuur vir jou ’n brief;
dit het geen posseël op,
maar dit moet gaan na Sutterland
waarvoor jou hart so brand –
daar by die helder sterre en by skaap.
Op skoensoolblaar is dit geskryf
en windverwaai vol stof.
Dit geur na veld,
na ghaap en heuningbos
en is so ’n bietjie nageaap.

Lees jy dit, hoor jy ’n optog kriek:

tjello tjellien. En kwaak en kwak
en die spul wil jou vermaak
maar nes jy dink jy vat als mooi vas
het hulle met die jakkalse ’n ander draai gegooi.
So bly ook jou woorde my bedrieg
soos skoenlappers dwars gesny uit hout
net hulle word omgetoor tot blarevlinders
wat in jou brein bly tol en vlieg.

So sluit ek nou my brief aan jou
en sê: Ek het jou baie lief.

Trienke.” (Boeke-Insig, Januarie 2009)

  • Wium van Zyl: “Hy het meer as watter Afrikaanse skrywer nie een nie, maar baie stemme gegee aan die sondeurbakte, droë dele van ons land. Streekskrywer kan hy genoem word, maar hy was ook as digter, dramaturg en aksievoerder gereeld te vinde in die middel van die nimmereindigende worstelstryd teen die legio gedaantes wat die onreg in Suid-Afrika aanneem. (…) Met die oorlye van George Weideman in Augustus 2008, nadat hy lank en dapper teen ’n slopende siekte geveg het, het Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde nie slegs ’n skrywer nie, maar ’n vriend verloor. (…) Met die heengaan van George Weideman verloor Afrikaans ’n bron van literêre entoesiasme, deurdagtheid, etiese standvastigheid en kreatiwiteit wat nog baie lank gemis sal word.” (Tydskrif vir Letterkunde, 2009)
  • Kobus Victor, predikant wat George en Celién getrou het: “Ek het die voorreg gehad om vir George en sy vrou, Celine [sic], te ken. Trouens, ek het hulle jare gelede op Fraserburg getrou. Maandag, 1 September, lentedag, het ek sy begrafnis bygewoon. Eintlik was dit nie ’n begrafnis met al die somberheid en droefheid wat dit normaalweg kenmerk nie. Dit was eerder ’n feesviering. ‘Laat ons nie oor sy dood treur nie, maar kom ons vier sy lewe’, was wat mev Mbeki indertyd van oom By Naude se dood gesê het. Die kerk was vol vrolike en helderkleurige blomme, maar nie bloemisteskeppings nie, net gewone veldblomme wat in bottels of kardoessakke en ander houers geplaas was – aards maar so treffend. Want George was ’n mens van die veld. Hy het veral die dorre Noord-Kaap hartstogtelik lief gehad en baie daaroor geskryf en gedig. George was veelsydig en het nie net in een genre uitgemunt nie. Ons groet hom met die wete dat hy aan ons ’n skat nagelaat het waarmee ons lewe verryk kan word en as inspirasie kan dien om in hierdie wonderlike taal, Afrikaans, skeppend te wees.” (LitNet, 3 September 2008)
  • Carina Stander:

George Weideman, Namakwaland

vuur dwing die skilpad
om kop uit te steek
sê hy wat drink
uit die grond se hand

met rypheid van September
kom wysheid van ’n wond
as springbok deur pienk seë
van vygies by Goegap galop 

van skilpadvleis eet
word mens gou ’n berg
terg hy wat vroeër of later sterf

ek stry: nog een net een keer
kan ons die kanker keer …?

By ’n vleespers struik
ruik ons die spoor
van ’n gitselmier
of doplose dier …

in die voortyd strek die dag
geelbeen oor die horison

die man se oë brand alom
die verbastering van blom

kom kyk roep hy kom kyk
hoe die hemel nader kom!” (LitNet, 28 Augustus 2008)

  • Izak de Vries:

“Aan: George Weideman
Plek: Hierna
Van: Izak de Vries
Plek: Steeds hier
Datum: 28 Augustus 2008

“Beste George

“Ek hoop die paadjie wat jy net na drie vanoggend moes stap, was besaai met geel, glimmende Namakwablomme. Ek glo nie die engele sou so stupid wees om vygies te gooi nie, want hulle is blerrie glibberig.

“Wat my nou eintlik bring by die rede vir my voorbarige skrywe: Ek dink jy moet sê dat hulle vir jou ’n moerse groot boerpampoen moet bring. Laat hulle dié ding omskep in ’n koets. Jy weet, so ’n lekker groot langslapgatlimo van ’n pampoenkoets wat langs die straat sy vinne wys. Dan kan jy ook gaan blomme kyk. Jy sal niks wil saamvat nie, ek weet. Jy sal net weer kan síén dit wat jy die afgelope paar jaar moes onthou.

“Sê vir die engele (ek weet nie hoe slim hulle is nie) dat hulle vier groot volstruismannetjies moet inspan. Hulle hakskene is hoeka nou so lekker rooi, hulle sal ’n hondegaloppie kan looi.

“‘Skink, Galiepie, skink!’ moet jy vir die butlerengel sê, terwyl julle op pad is, ‘Skink ’n doepa vir droefte.’ Die heuningbier smaak mos soeter, hoe dieper jy dit moes verduur, nie waar nie?

“‘Gaan kýk weer na daardie vygies, die halfmense en die ongelooflike madeliefies, melkbos, kokerboom en vingerpol; blommetjie gedenk aan my!

“Slaan die sweep as die volstruise steeks raak. Skilliewip Skilliewap, laat hulle voete klap! Bontplesier en Swaarkry! Boesmanland, Namakwaland, klipkoppies en rooiduinsand.

“Ek weet die jare het begin om stowwerig op jou tong te lê. Die paljasblaar het sy skadu nou eenmaal op jou gegooi… Soveel anderste as James Dean, nie waar nie?

“Ek was altyd verstom oor hoe goed jy kan beskryf, al was jy feitlik blind die laaste ruk. Maar nou kán jy mos weer. Gooi af daai bril, stop die koets en ry die
s
  k
     u
         i
            n
                s
                  t
         e
af, woeps!, op ’n botterboom.

“Ek weet jou klein kandas gaan jou mis. Sy sal haar moet terugtrek in die armsorgskermpie wat jy vir haar gebou het. Maar dis ’n annerlike dans wat jy nou moet dans.

“Jou bielies van boklammers is ook lank nie meer muistandmeisiekinders nie, en jy lank nie meer ’n square in hulle oë nie. Soos jy eens met jou pa, gaan hulle die homo faber in jou nog lank onthou. Ek ook.

“Gedigte, dan, is wegvlug van die waarheid. Dis hoekom ek vir oulaas jou werk soos ’n hamerkop vergader en aan jóú bied. Ek is nog te nat agter die ore om hierdie brief stewig hok te slaan. Aanvaar dit maar as ’n glanspamflet.

“Dankie, George, dat jy my ’n bladsak vol versies gelos het, polfyntjies vir die onthou. Jy had darem die vermoë om ’n blom blommer te maak, om klam sand aan ’n boer se velbroek te laat kleef in die land van die watersoekers.

“Vaarwel! Vlieg ’n songeel streep oor die stoep!

Izak.” (LitNet, 28 Augustus 2008)

  • Anita de Kock: “Wat kan ’n mens sê oor George Weideman wat nog nie gesê is nie? Sy dood is ’n verpletterende slag vir letterkunde in die land. Die skrywerswêreld en ook sy aanhangers gaan hom verskriklik mis. Ook die Versindaba sal ook nie weer dieselfde wees sonder sy teenwoordigheid nie. George Weideman was een van die groot geeste wat ek bevoorreg was om te kan ontmoet. Sy menslikheid en nederigheid was deel van dit wat van hom ’n buitengewone mens gemaak het. Sy briljantheid as digter en skrywer sal bly voortleef in sy werk. My diepste medelye aan sy gesin en familie. Ons huil saam met julle.” (LitNet-Argief, 29 Augustus 2008)
  • Margot Luyt: “Toe gaan jy weg vir jou welverdiende rus, George. Dankie vir die saamwerk, dankie vir die onwrikbare en deernisvolle geloof wat jy altyd in jou regisseurs gehad het. Dankie dat jy so onkrities saam met ons gewerk het, dankie vir die krag wat jy daardeur vir ons gegee het. Dankie vir die skeppings wat jy vir ons gelos het, vir jou erbarming met ander mense se swaarkry en vrese. Mooi loop, George. Ek glo ons sien mekaar weer later. Rus en dink aan ons.” (LitNet-Argief, 28 Augustus 2008)
  • Ellen Botha: “Die gedenkdiens vir skrywer-digter George Weideman op ’n grys Lentedag was soos iets uit die aarde self; ’n wêreld waarin sy Namakwalandse madeliefies hom op sy laaste ondermaanse reis vergesel het. Saam met ’n kerk vol familie, vriende, letterkundiges, geleerdes en ons gewone mense met wie hy in sy lewe paaie gekruis het. Die grootste indruk wat jy sou kry, was een van ’n oorweldigende gevoel van liefde en waardering vir hierdie nederige maar baie spesiale mens. Geen dodemars, geen orrelmusiek, geen trek-sang deur die gemeente nie. Geen doodskis nie. Tóg was sy teenwoordigheid tasbaar: in die amper opgewekte ‘veld-musiek’ voordat die diens begin het, in die blomme en struike een-een verpak in bruin kardoese langs die kerkbanke, in sy gedigte en toonsettings daarvan. En veral in die opregte hart-woorde van elke spreker wat hom kom groet het. Dis presies hoe hy dit sou wou hê, sonder enige tierlantyntjies. Ná die diens is ’n Irish wake in die kerksaal gehou. Sy wens was dat almal teenwoordig ’n glasie rooiwyn op hom drink en ’n blom saamneem huis toe. In-der-daad sý doepa vir óns droefte. Só het hierdie gentle man ons vir oulaas stil-stil gegroet, maar met ’n skatkis vol nagelate woorde wat steeds vreugde sal bring.” (LitNet-Argief, 8 September 2008)

Tydens die Woordfees op Stellenbosch in Maart 2008 het George sy onderhoud met Abraham de Vries só afgesluit: “Ek staan steeds verwonderd oor die raaiselwêreld van woorde: die magiese krag van die enkelwoord en die enkelsin, of die keurig-opgeboude intrige van ’n roman.” (Die Burger, 5 Maart 2008)

Die tweede dag van die destydse Versindaba is in September 2008 aan George Weideman opgedra en in ’n woordkunsproduksie is op ’n roerende manier aan sy digkuns hulde gebring. (Die Burger, 8 September 2008)

Publikasies: Onder die skuilnaam SE Lessing

Publikasie

Gaping vir ’n moordenaar

Publikasiedatum

1999

ISBN

0795800088 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Speurverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Dwarslat: “Gaping vir ’n moordenaar” ’n boeiende speurverhaal. Beeld, 27 Maart 2000
  • Rautenbach, Elmari: Geheime skrywer laat glip kans deur sy vingers. Volksblad, 28 Februarie 2000
  • Rautenbach, Elmari: SE Lessing laat nie met hom mors nie. Boekewêreld, Maart 2000

 

Onder George Weideman

Publikasie

Hondegaloppie

Publikasiedatum

1966

ISBN

Geen; hardeband

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Digbundel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Erlank, Johan: “Hondegaloppie” toon nie veel meer as belofte. Dagbreek & Sondagnuus, 31 Julie 1966
  • Ons jongste digter sing van sy “kleim”. Beeld, 1 Mei 1966
  • Pienaar, Leonie: Hondegaloppie. Bron en datum onbekend

 

Publikasie

As die son kliplangs spring

Publikasiedatum

1969

ISBN

Geen; hardeband

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Digbundel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Eerstelingwerk. Transvaler, 23 Desember 1969
  • Heese, Marié: Hierdie digter is Boerneef se kind. Beeld, 26 Oktober 1969
  • Joubert, Pieter: Voorgeskrewe werk (oor die gedig “Legende van die watersoeker”). Vrydag, 14 Augustus 1998
  • Plekker, Freda: ’n Eie stemtoon vir Afrikaanse poësie. Die Vaderland, 20 Februarie 1970

 

Publikasie

Klein manifes van ’n reisiger

Publikasiedatum

1970

ISBN

Geen; hardeband

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Digbundel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Van der Walt, PD: Digter se nuwe koers. Transvaler, 8 Maart 1971

 

Publikasie

Hoera hoera die ysman 1970-1976

Publikasiedatum

1977

ISBN

0628012217 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Digbundel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Brink, André P: Belangrike nuwe stadie vir Weideman. Rapport, 29 Januarie 1978
  • Gilfillan, FR: Weideman se jongste bundel verras. Oggendblad, 31 Augustus 1978
  • Grobler, Hilda: Hoera vir George Weideman se Ysman. Hoofstad, 16 Maart 1978
  • Johl, Johan: Bundel open nuwe dimensies op vele vlakke. Volksblad, 22 Maart 1978
  • Kannemeyer, JC: Weideman-vers vol aktuele toeligting. Beeld, 9 April 1992 (“Verse vir die vraestel”)
  • Roodt, PH: Dit tref in ons diep menswees. Transvaler, 22 April 1978
  • Van Zyl, Ia: Weideman klim op engagé-skotskar. Suidwester, 5 Desember 1977

 

 Publikasie

Tuin van klip en vuur

Publikasiedatum

1983

ISBN

0624019306 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Aucamp, Hennie: ’n Ryk en volwasse debuut. Die Vaderland, 7 November 1983
  • Brink, André P: Weideman bring nuwe groeipunt in kortprosa. Rapport, 2 Oktober 1983
  • Du Plooy, Heilna: Digter slaag met bundel verhale. Volksblad, 4 Februarie 1984
  • Joubert, Doria: Talente wat deurskemer. Die Burger, 13 Junie 1986 (Opvoering van die kortverhaal “Wees”)
  • Smuts, JP: ’n Goeie bundel, met foute. Die Burger, 15 Desember 1983
  • Twee bundels uit die aarde. Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1984
  • Wolheim, OD: Story kaleidoscope. The Argus, 2 Augustus 1984

 

 Publikasie

Uit hierdie grys verblyf

Publikasiedatum

1987

ISBN

9780624025597 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

 Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Brink, André P: Weideman se Grys verblyf is onder die beste van 1987. Rapport, 7 Februarie 1988
  • Gouws, Tom: George laat ’n vlinder vry. Insig, Januarie 1988
  • Grové, AP: ’n Wêreld van weleer met kleur opgeroep. Beeld, 15 Februarie 1988
  • Hambidge, Joan: Bundel bevestig Weideman se digtalent. Die Burger, 14 Januarie 1988
  • Hugo, Daniel: “Grouheid ook vrugbaar”. Volksblad, 16 April 1988
  • Malan, Lucas: Verrassing in die oes. De Kat, Mei 1988
  • Rall, Henk: Poems show skill but lack emotion. Windhoek Advertiser, 21 Januarie 1988
  • Van Zyl, Ia: Wat kan ek lees? Suidwester, 14 Julie 1988
  • Wag groot eer op onse George? Die Republikein, 21 April 1988
  • Windhoek poet publishes again. Windhoek Advertiser, 1 Julie 1988

 

Publikasie

Los my uit, paloekas!

Publikasiedatum

1992

ISBN

0624031705 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Sanlamprys vir Jeuglektuur Silwer

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Al die wenners in jeugverhaalwedstryd. Die Burger, 1 Desember 1992
  • De Roubaix, Elizabeth: Los my uit, Paloekas! Kaapse Bibliotekaris, Maart 1993
  • Die Sanlampryswenners. Tydskrif vir Letterkunde, November 1993
  • Victor, Errol: Politiek deur die oë van ’n kind. Transvaler, 21 Januarie 1993

 

Publikasie

Die donker melk van daeraad: ou stories en nuwe stories

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624032884 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Aucamp, Hennie: Só word Afrikaans ’n Stradivarius. Insig, Oktober 1994
  • Barnard, Riana: Die donker melk van daeraad. Volksblad, 27 Maart 1995
  • Gouws, Tom: “Die vakman wat hoop op magiese verbindings”. Beeld, 12 September 1994
  • Hambidge, Joan: Redding lê in die storie self. Die Burger, 20 Julie 1994
  • Heyns, Dirk en Pienaar, Fanus: Die donker melk van daeraad. Boek-van-die-maand-klub, September 1994
  • Jansen, Ena: Gekomponeerde bundel. De Kat, Desember 1994
  • Le Roux, André: Die donker melk van daeraad. Sarie, 14 September 1994

 

Publikasie

Die optog van die aftjoppers

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624033279 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

  • Scheepersprys vir Jeuglektuur, 1993–1995
  • Sanlamprys vir Jeuglektuur, 1994
  • Benoem deur die Kinderboekforum vir die International Board on Books for Young People (IBBY)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • De Vries, Anastasia: Optog van die aftjoppers. Karring, Lente 1995
  • George Weideman wen Sanlam-prys. Beeld, 5 November 1994
  • Le Roux, Marina: “Aftjopper” ware wenner. Die Burger, 14 Desember 1994
  • Le Roux, Marina: Wenners vir tieners. Sarie, 18 Januarie 1995
  • Malan, Mariana: Wen-skrywer wil kinders hoop gee met nuwe boek. Die Burger, 23 November 1994
  • Steenberg, Elsabe: Drie wenverhale is ’n geslaagde bydrae tot Afrikaanse jeuglektuur. Beeld, 20 Februarie 1995
  • Steenberg, Elsabe: Sanlampryswenners 1994. Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1995

 

Publikasie

’n Staning onder sterre

Publikasiedatum

1997

ISBN

0624035565 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Digbundel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Cloete, TT: “Staning” Weideman se beste verse. Beeld, 23 Junie 1997
  • Grové, AP: Poësiekroniek. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, September 1997
  • Hambidge, Joan: Poësiekroniek nommer 8. Tydskrif vir Letterkunde, Augustus 1997
  • Hugo, Daniel: Boeke g’n wroegings. De Kat, Oktober 1997
  • Kannemeyer, JC: Weideman “keer terug” met beweeglike verse. Rapport, 25 Junie 1997
  • Le Roux, André: ’n Staning onder sterre. Sarie, 22 Oktober 1997
  • Odendaal, Bernard: Duursamer digterlike staning. Insig, Augustus 1997
  • Van Vuuren, Helize: Poësie reageer op vervloë verlede. Die Burger, 10 September 1997

 

Publikasie

Die onderskepper, of, Die dorp wat op ’n posseël pas

Publikasiedatum

1997

ISBN

1874901716 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

WA Hofmeyrprys, 1998

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Botha, Wilna: Die onderskepper. De Kat, April 1998
  • De Vries, Izak: Die onderskepper
  • Du Plessis, Phil: Roman laat misterie wegrafel. Die Burger, 22 April 1998
  • Grobler, Hilda: Boek groei uit posseëls. Vrydag, 12 Desember 1977
  • Loock, Irma: Genoeg plesier in Weideman se roman om dit weer te lees. Volksblad, 28 Maart 1998
  • Olivier, Fanie: Kleindorpse intriges knap beskryf en slim ontknoop. Beeld, 2 Maart 1998
  • Roos, Henriette: Dorpstorie word “misteriespel”. Insig, Maart 1998
  • Ses vrae aan George Weideman. De Kat, Maart 1998
  • Viljoen, Louise: Dorp het veertig dae tyd om geskiedenis op te teken. Rapport, 1 Maart 1998
  • Weideman se roman palm Hofmeyr-prys in. Beeld, 28 April 1998

 

Publikasie

Pella lê ’n kruistog vêr: ’n keuse uit sy poësie 1966–1987

Publikasiedatum

1998

ISBN

0624036472 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Digbundel

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Cloete, TT: “Pella lê ’n kruistog vêr” duidelike profiel van ’n vernuftige digter. Beeld, 11 Mei 1998
  • Crous, Marius: Kruistog slaag in ses “stanings”. Die Burger, 24 Junie 1998
  • Le Roux, André: Pella lê ’n kruistog vêr. Sarie, 9 September 1998
  • Malan, Lucas: Hoera vir herlewing van “hondegaloppies”. Rapport, 7 Junie 1998
  • Odendaal, Bernard: George Weideman bewys ’n dubbele guns met Pella. Volksblad, 2 November 1998
  • Viljoen, Louise: ’n Oeuvre op reis. Insig, Augustus 1998

 

Publikasie

Ben, Babi en die geel helikopter

Publikasiedatum

1998

ISBN

0798653533 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Kagiso

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Rykdom uit rommel

Publikasiedatum

1998

ISBN

0798653531 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Kagiso

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Dana se jaar duisend

Publikasiedatum

1998

ISBN

0624036995 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Sanlamprys vir Jeuglektuur Goud

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Azar-Luxton, Grizéll, samest: Sanlam prize for young literature 1998. Kaapse Bibliotekaris, Januarie/Februarie 1999
  • Cilliers, Cecile: Jeugverhaal lewendig en met sterk morele inslag. Rapport, 7 Februarie 1999
  • Le Roux, Marina: Dana se jaar duisend. Sarie, 13 Januarie 1999
  • Le Roux, Marina: Jeug kry drie wenboeke. Die Burger, 18 November 1998

 

Publikasie

Draaijakkals: oftewel die ongelooflike eerste jeug van Nicolaas Alettus Lazarus – stofpoepertjie, tusseninner en aartskalant van die Onderveld

Publikasiedatum

  • 1999 
  • 2de druk 2000

ISBN

0624037819 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • ATKV-Prosaprys 2000
  • M-Net-prys 2000

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Botha, Elize: Ons moet opnuut tuiskom. Beeld, 8 November 1999
  • Cochrane, Neil: Draaijakkals van George Weideman as pikareske roman: ’n voorlopige verkenning. Stilet, Maart 2003
  • Hough, Barrie: Pikareske roman, ook digterlik, liries, vol skoonheid. Rapport, 21 November 1999
  • Smuts, JP: Humor en fantasie dra sprankelende roman. Insig, Januarie 2000
  • Van Coller, HP: Dié geskiedenis moet gehóór word. Volksblad, 20 Desember 1999
  • Viljoen, Louise: George Weideman – Draaijakkals
  • Wasserman, Herman: ’n Enkele draad loop deur hele skelmroman. Die Burger, 12 Januarie 2000
  • Weideman, George: Oor die ontstaan van Draaijakkals. Kaapse Bibliotekaris, Mei/Junie 2001

 

Publikasie

Die geel komplot

Publikasiedatum

2003

ISBN

0624039889 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Botha, Danie: Muise is baas, dis nou kaas [toneelopvoering]. Die Burger, 9 November 2004
  • Hugo, Jeanne: Verlore in muisdrome. Die Burger, 23 Augustus 2003
  • Jacobs, Jaco: Skryf van kinderboek “groot avontuur”. Volksblad, 4 Augustus 2003
  • Vorster, Magdel: Dié kinderboek is geen kat in die sak nie. Rapport, 28 September 2003

 

Publikasie

Koeries se rivier

Publikasiedatum

2004

ISBN

0798656956 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Kagiso

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

My plaas se naam is Vergenoeg

Publikasiedatum

2005

ISBN

1920059032 (sb)

Uitgewer

Dainfern: Praag

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Sanlamprys vir Afrikaanse Teater

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Botha, Danie: “Vergenoeg” laat jou dink én wonder. Die Burger, 6 Augustus 2004
  • Coetser, Johan: Drie welkom én veelseggende dramatekste in Afrikaans. Beeld, 20 Februarie 2006
  • Cruywagen, Eben: Gepubliseerde dramas is soos manna uit die hemel. Die Burger, 30 September 2006
  • Muller, Braam: Finalisstuk oor grond aktueel. Volksblad, 16 Julie 2004
  • My plaas se naam is Vergenoeg
  • Smith, Charles: Weideman-drama wen Sanlamprys. Volksblad, 19 Julie 2004
  • Tredoux, Francois: Vergenoeg is oorgenoeg en hope daarvan

 

Publikasie

Verskombuis: ’n kookboek met gedigte

Publikasiedatum

2006

ISBN

1869191072 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Digbundel (met resepte)

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Coetzee, Ampie: Weideman vul en vervul kosboek. Rapport, 12 Mei 2007
  • Loots, Mariana: Geregte en poësie wat pure proe-plesier gee. Die Burger, 13 Januarie 2007
  • Retief, Hanlie: ’n Gedig in ’n pampoen. Rapport, 17 November 2006

 

Publikasie

Newelig – stories loop nie altyd padsaam nie

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780958462679 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Litera Publikasies

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Aucamp, Hennie: ’n Wingerdstok in die woestyn. Rapport, 16 Augustus 2007
  • De Vries, Abraham H: Weideman beweeg met gemak tussen soorte kortverhale. Die Burger, 16 April 2007
  • Hambidge, Joan: Weideman in virtuose variasie. Volksblad, 15 Mei 2007
  • Human, Thys: Uiteenlopende bundel trakteer leser met om- en afdraaipaaie. Beeld, 15 Mei 2007

 

Publikasie

Bloujare se stories

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780799339222 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

George Weideman as samesteller

  • Alles op die spel: kortspelkeur. Durbanville: Klipbok, 1991 [ISBN 090799329X (sb)]
    • Cloete, TT: Dié digters bewys Afrikaans ’n guns. Beeld, 8 Desember 1997
    • Crous, Marius: Nuwe digters sit voet in die stiebeuel. Die Burger, 28 Januarie 1998
    • Malan, Lucas: Belowende digters in groepsbundel opgeneem. Rapport, 25 Januarie 1998
  • Nuwe stemme. Saam met Anastasia de Vries. Kaapstad: Tafelberg, 1997 [ISBN 0624036170 (sb)]
    • Pakendorf, Gunther: Dramas vir jonges bedoel. Die Burger, 30 Junie 1992

George Weideman as vertaler

  • Dennis, Trevor: Die Boek van alle tye: die storie van die Bybel … en die storie daaragter.Wellington: Lux Verbi, 2006 (ISBN 0796302502)
    • De Villiers, Pieter GR: Bybel bly roman ontglip. Die Burger, 9 Junie 2003
    • Parker, Elize: Om te lees. Sarie, September 2003
  • Wangerin, Walter: Die boek van God: die Bybel in verhaalvorm.Wellington: Lux Verbi, 2003 (1ste en 2de druk) (ISBN 10796300658)
  • Wangerin, Walter: Die verhaal van Paulus.Wellington: Lux Verbi, 2005 (ISBN 0796302006)
  • Wangerin, Walter: Jesus: ’n roman.Wellington: Lux Verbi, 2006 (ISBN 9780796304131)

’n Keur van artikels deur George Weideman

  • Afrikaans-debat: “Ons verstik in eie stof”. Die Burger, 24 Oktober 2000
  • Baie aspirant-skrywers is ondertoe net kale keiser. Die Burger, 12 Januarie 1999
  • Blommekykers bekyk. Die Burger, 8 September 2007
  • Carl Boplaas [gedig]. Die Burger, 4 Oktober 2004
  • Deur tussen taalbure is oop. Beeld, 6 Desember 2001
  • Die maghebber durf nie skrywer se onafhanklike stem geringskat. Die Burger, 4 Desember 1998
  • Die skryf van dramas
  • Dit glo ek: Tuis by God. Kerkbode, 10 September 2004
  • Eerste skooldag, Beslan [gedig]. Die Burger, 13 September 2004
  • Engelevlerke of medaljes maak nie van jou ’n skrywer nie, dr Boesak
  • Gedigte
  • Gewone mens se verset bepaal oorlewing. Die Burger, 11 Februarie 2002
  • Holistiese benadering word bepleit. Volksblad, 26 April 1993
  • Is daar lewe na Harry Potter? Daar’s haaie in die punch!: Lesing gelewer by Konferensie oor Afrikaanse kinder- en jeuglektuur: Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom op 22 September 2003
  • Kommunikasie tussen SA uitgewers en skrywers het laagtepunt bereik. Die Burger, 18 November 1998
  • ’n Land word deur al sy inwoners geskryf. Die Burger, 4 Maart 2002
  • Maneer die president [gedig]. Die Burger, 31 Januarie 2005
  • Met ’n opregte boer neuk jy nie. Rapport, 6 Junie 2008
  • Namakwaland kom altyd weer terug. Volksblad, 10 Augustus 2002
  • Oom Boytjie se afnaweek. Rapport, 25 November 2001
  • Oom Klaas, die padskraper en die toeris. Rapport, 4 November 2001
  • Oor kopstamp en komplotte. Taalgenoot, Oktober 2003
  • Oor ’n kulturele ruimte vir die Afrikaanse boek (OuLitNet)
  • Platteland dalk die plek vir toneel se herlewing. Die Burger, 10 November 1997
  • Reaksie op gespreksdokument oor die verhouding skrywer/uitgewer
  • Skryf duktee sonder enige vrons. Die Burger, 11 Februarie 2003
  • Skrywer wil iets van sy mense se stem behou. Die Burger, 21 Januarie 2002
  • Skrywers ontevrede met uitgewers
  • Slang-mite is gedeelde erfgoed. Die Burger, 17 Desember 2001
  • Staan saam vir Afrikaans. Die Burger, 14 Maart 1995
  • Vergelding is nog geen regstelling. Die Burger, 13 Maart 1995
  • ’n Vervalle oewerkoninkryk. Uit: My jeugland: jeugherinneringe van Afrikaanse skrywers. Afrikaanse Persboekhandel, 1953.
  • Waar? Bydrae tot Filosofiekafee tydens Woordfees in 2003
  • Waar was Afrikaans-onnies? Die Burger, 14 September 2005
  • Wat lees jy? Rooi Rose, 8 Julie 1998
  • Weideman se proteslied teen geweld in land [gedig]. Beeld, 19 Februarie 2007
  • Wie onthou watermeul op Onseepkans wat moes wyk vir pad? Die Burger, 20 Oktober 2001

Biografiese artikels oor George Weideman

  • Afrikaans is sy passie. Informa, 26 Julie 1999
  • Akademie skitter met ’n Smeerige geskiedenis. Die Republikein, 23 April 1987
  • Aucamp, Hennie: Gedig “George Weideman”. Die Burger, 11 Augustus 2008
  • Beuke-Muir, Christina Maria: ’n Ondersoek na George Weideman as dramaturg [doktorale proefskrif]
  • Boesmanlander [Uit: “Van alle kante”]. Die Burger, 24 April 1982
  • Botha, Ellen: George Weideman se gedenkdiens op Lentedag
  • Brand, Gerrit: Instink lei Weideman oor jare. Die Burger, 2 Julie 2007
  • Breytenbach, Karen: Leading poet, author George Weideman dies at 61. Cape Times, 29 August 2008
  • Britz, Elretha: Skelmroman Weideman se jongste pennevrug. Volksblad, 8 Maart 1999
  • Crafford, Mariëtte: Grootste liefdesblyke. Rooi Rose, Februarie 2003
  • De Kock, Anita: George Weideman
  • De Vries, Abraham: George Weideman nou anderkant die etmaal. Die Burger, 29 Augustus 2008
  • De Vries, Abraham: Oor laaste woorde en Weideman se laaste gedig. Die Burger, 15 Junie 2009
  • De Vries, Abraham: Weideman het kantelende reis met eer afgelê. Volksblad, 30 Augustus 2008
  • De Vries, Abraham H en George Weideman: Hoe vulletjiedae verhelder. Die Burger, 5 Maart 2008
  • De Vries, Willem en Gerrit Brand: Poësie van alle kante beloer. Die Burger, 8 September 2008
  • De Wee, Maygene: Digter gegroet. Die Burger, 2 September 2008
  • De Wee, Maygene en Gerrit Brand: Skrywer-letterkundige George Weideman sterf ná lang stryd. Die Burger, 29 Augustus 2008
  • Die vrese en vreugdes van skrywers. Rooi Rose, 5 Julie 2000
  • Doktor George wys hulle toe. Die Republikein, 22 April 1982
  • Fourie, Corlia: George en sy skeppende familie. Rooi Rose, 6 Januarie 1999
  • Fransman, Willem, jr: Skrywers se hulde aan Weideman. Die Burger, 3 September 2008
  • George Weideman
  • George Weideman
  • George Weideman lewer gedenklesing. Volksblad, 10 Mei 2006
  • George Weideman. Uit: Versreise / saamgestel deur Adinda Vermaak. Kaapstad: Tafelberg, 2003
  • George Weideman. Zuid-Afrika, 1 September 2008
  • Hanekom, Leandré: George Weideman en ’n lewensles
  • Hollander, Haydee: George Weideman
  • Hough, Barrie: Weideman-figure soek na ’n eie plek. Rapport, 24 Oktober 1999
  • Hugo, Daniel: Weideman se werk bly skitter aan ons literêre hemelruim
  • Kruger, Joan: George Weideman: die nuwe stem uit Namibië. De Kat, Oktober 1988
  • Laurie, Trienke: Liewe George [gedig]. Insig, Januarie 2009
  • Le Roux, André: Gedigte in die stilte van die oggend vroeg. Die Burger, 21 Desember 1987
  • Le Roux, André: George Weideman – swerwer met stories. Die Burger, 16 Augustus 1994
  • Liebenberg, Danila: Huldeblyke stroom in vir “groot gentleman van Afrikaanse letterkunde”. Volksblad, 30 Augustus 2008
  • Liebenberg, Danila: Skrywer van vuur en ys. Volksblad, 4 Junie 2007
  • Lombard, Jean: George Weideman (1947–2008): goëlaar met genres. Kaapse Bibliotekaris, Januarie/Februarie 2009
  • Loots, Sonja: Die jeug is sat vir wroeg. Boekewêreld, Maart 2000
  • Lubbe, Dave: “Gegroet George, vriend van my bakermat”. Volksblad, 20 Desember 2008
  • Luyt, Margot: Aan George Weideman
  • Luyt, Margot: Radiodramastryd van onskatbare waarde. Die Burger, 8 Februarie 2006
  • Malan, Mariana: Prys “losgeskryf” met eerste roman. Die Burger, 3 Desember 1997
  • Marais, Johann Lodewyk: ’n Droewe wind waai tussen die kokerbome: George Weideman (1947–2008)
  • Marais, Johann Lodewyk: George Weideman (1947–2008) [gedig]. Insig, Januarie 2009
  • Merton, Millicent: Deon Opperman web Hertzogprys. Volksblad, 1 April 2006
  • Nel, Elias P: Soek navolgenswaardige mense nader aan huis. Die Burger, 26 April 2007
  • Nieuwoudt, Stephanie: “Ek sal help bou op my manier”. Beeld, 2 Augustus 2000
  • Nieuwoudt, Stephanie: “Ons herontken ou Afrikaans”. Beeld, 21 Oktober 1999
  • Nieuwoudt, Stephanie: Weideman wil sy swerftaal se woordkinders herontdek. Die Burger, 5 Januarie 2000
  • O’Connor, Michelé: George Weideman “gee hand” in UV-departement. Volksblad, 1 Maart 1999
  • Ontmoet George Weideman. Taalgenoot, Oktober 2002
  • Papenfus, Theresa: Vir George Weideman. Volksblad, 1 September 2008
  • Prins, Gavin: Weideman was ’n vegter tot die einde. Rapport, 31 Augustus 2008
  • Retief, Hanlie: ’n Gedig in ’n pampoen. Rapport, 17 November 2006
  • Roos, Jana: “Afrikaans se voortbestaan in Afrikaanssprekendes se hande”. Volksblad, 20 Mei 2006
  • Roux, Riaan: Oortuig die dinamiet? [resensie van ’n Smeerige geskiedenis]. Die Republikein, 11 Mei 1987
  • Scholtz, Hettie: Jors Weideman, dit was / na! Insig, Mei 2000
  • Schoombie, Schalk: Woordtowenaars se Paasvreugde. Taalgenoot, April 2007
  • Smeerig laat jou nie regop sit. Transvaler, 9 Julie 1987
  • Smeerige geskiedenis: oefening in toneelspel. Die Vaderland, 9 Julie 1987
  • Tyd laat George blom. Die Republikein, 2 Maart 1984
  • Uys, Theunis: Brief aan George Weideman. Die Burger, 30 Augustus 2008
  • Van Coller, Hennie en Anthea van Jaarsveld: Vergenoeg: George Weideman as dramaturg (deel 1): vroeëre dramatiese werke van George Weideman
  • Van Coller, Hennie en Anthea van Jaarsveld: Vergenoeg: George Weideman as dramaturg (deel 2)
  • Van Coller, Hennie: “Vlymskerp oor poësie. Met diep menslikheid. Volksblad, 6 September 2008
  • Van den Berg, Renée: “Doepa!” geen tradisionele toonsetting van gedigte. Die Burger, 18 Augustus 2008
  • Van der Merwe, Romi: Die skrywer wat skuilplek soek. Rooi Rose, 7 Februarie 1996
  • Van Heyningen, Charl: Spelers vaar goed in Weideman-radiodrama. Die Burger, 30 April 2008
  • Van Wyk, Schalk: Vertaler vir God. Lig, November 2003
  • Van Zyl, Dorothea: Klein manifes van ’n reisiger: 2 Julie 1947–28 Augustus 2008
  • Van Zyl, Dorothea: Wyse Weideman se alsydige 60. Rapport, 1 Julie 2007
  • Van Zyl, Wium: Huldeblyk: George Weideman (1947–2008)
  • Versatile George Weideman dies. Free State Libraries, August–December 2008
  • Wasserman, Herman: Hier’s ons romanwenners. De Kat, Oktober 1997
  • Weideman se kuns kom uit skooldae. Die Republikein, 4 Desember 1981
  • Weideman slaan mites oor behoud van Afrikaans voos. Bult, Junie 2006
  • Weideman wen weer met boek vir jong lesers. Die Burger, 18 November 1998
  • Weideman wen weer radiowedstryd. Volksblad, 28 Januarie 2004
  • Wikipedia

George Weideman se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2011-11-11 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top