George Louw (1939–2023)

  • 0

Foto: verskaf
Sêgoed van George Louw:

Droogte

Die seevoëls krys vandag
weer landlangs, die waters raak
benoud: ons het vergete hier
die see en land kom skei, op groot skaal drooggemaak.

(Uit: Kraai)

Onrus

’n versie vir Jan Rabie (by die graf)

Jy sou dit goed gevind het, Jan:
opregte Kaapse hoenderweer –
trane aan die blare, misreën
uit die berg. Probeer
gerus verstaan, dis net jou vrinde
wat so vrolik oor jou ween,
’n kelkie op jou lig; gesondheid
in die rondheid, seer beminde. Hier op Onrus, hoog en droog,
kan jy (én Uys) nou rus:
stil en goddank uit die oog. En op jou kis: geen krans of blom,
net seewier en bamboes (wat jy
kon toor tot spoggerige nagereg)
gaan saam op hierdie laaste reis en ons sal eendag op ’n bus,
of te voet deur stegies van Parys,
jou weer hoor debatteer
met oë wat blits – Later, by ’n tafel en ’n glasie wyn,
bly die onrus nietemin:
wie luister nog – en wie gee om?

(Beeld, 24 April 2006)

Gebore en getoë

George Louw is op 1 Maart 1939 op Sutherland gebore – die jongste van drie kinders, twee seuns en ’n dogter. Sy vader, Bismarck von Moltke Louw (of Bis, soos hy bekend was), broer van WEG en NP Van Wyk Louw, het na sy universiteitsopleiding ’n jaar by die landboukollege op Elsenburg met skape gaan boer op Meintjiesplaas in die distrik Sutherland. Hy was vooruitstrewend en was glo die eerste wat in sy omgewing sy kampe met jakkalsdraad omhein het.

Bis het mettertyd las gehad van hoë bloeddruk, en die gesin het op doktersaanbeveling in 1944 na Parow verhuis. Bis wou medies studeer, maar kon nie in 1945 met sy studie begin nie. Op 13 Augustus 1945 is hy ná ’n hartaanval oorlede. Hy het sy weduwee, Ria, en die drie kinders agtergelaat.

George begin reeds op 12-jarige ouderdom verse skryf. ’n Eerste vers van hom, “Ek droom”, verskyn in Die Klein Burger van 17 Januarie 1953, terwyl enkeles ook later in Standpunte opgeneem word. Toe hy 13 was, was hy die wenner van ’n landwye poësiewedstryd vir kinders onder 18 jaar. Van toe af lê hy hom in alle erns op die skryfkuns toe, veral die skryf van gedigte.

George matrikuleer in 1956 aan die Hoërskool JJ du Preez in Parow.

Verdere studie en werk

Na skool gaan hy as beurshouer van Die Burger na die Universiteit Stellenbosch. Nadat hy in 1959 die BA-graad in Nederlands en Afrikaans en filosofie verwerf, begin hy as joernalis by Die Burger werk.

’n Vroeë belangstelling in die natuurwetenskappe wat vir ’n hele ruk gesluimer het, word weer aangewakker en hy besluit om medikus te word. In 1963 skryf hy hom in as student in die medisyne aan die Universiteit van Stellenbosch en in dieselfde jaar trou hy met Sophia Dorothea (Dorette) Theron. Hy slaag sy eerste jaar en word gekeur om sy studie voort te sit.

In sy tweede jaar besluit hy egter dat die mediese beroep nie vir hom bedoel is nie en ná ’n kort termyn as mederedakteur van Amicus Certus, nuusblad van die Suid-Afrikaanse Onderlinge Lewensversekeringsmaatskappy, begin hy in 1965 met sy honneursgraad in Nederlands en Afrikaans aan die Universiteit van Kaapstad en aan die einde van dieselfde jaar voltooi hy dit in die eerste klas.

Hy word aangestel as junior lektor aan die Universiteit van Kaapstad voordat hy hom na die uitgewersbedryf wend en redakteur by Tafelberg word. Later word hy fiksiehoof by Tafelberg, waar Berta Smit sy mentor was. Na ’n tydperk as assistenthoofbestuurder by Van Schaik word George in 1992 aangestel as hoofbestuurder van Van Schaik – ’n pos wat hy tot sy aftrede einde Maart 1998 beklee het. Na 2000 publiseer hy boeke privaat.

Uit die gedigte wat George tot op 16-jarige ouderdom geskryf het, verskyn ’n klein keur in 1957 onder die titel Die trekpad by Culemborg-uitgewers. Volgens JC Kannemeyer (Die Burger, 17 November 1999) is dit ’n bundel wat, hoewel nie al die gedigte mooi “af” was nie, “onmiddellik opgeval het om die jeugdige, fris kyk op die lewe, die soms verrassende beelding en die stuwende versbeweging. In hierdie vroeë verse val die digterlike vermoë op en roep die soepele taalgebruik en die frisse omgang met die woord om aandag. In die openingsgedig van die bundel, ‘Langs die trekpad na Madrid’, spreek reeds iets van die ‘magiese’ en stimulerende krag van die kuns, asook die lewensdinamiek wat van die kuns uitgaan.”

WEG Louw het gevoel dat dit jammer is dat hierdie “bundeltjie”, soos hy dit noem, nie enige aandag ontvang het in die populêre pers nie, want al is dit ’n debuutbundel, het dit meer aandag verdien.

Vir sy tweede bundel, Koggelstok, wat in 1963 verskyn, word George in 1965 met die Eugène Marais-prys bekroon. WEG Louw (Die Burger, 13 Maart 1964) meen dat hierdie tweede bundel van aansienlik stewiger stoffasie is as die eerste een. “Dis nog die verse van ’n jong man dié, maar hoewel hulle jonk en fris, byna onbevange is, sou ’n mens wil sê, is hulle saaklik en volstrek onsentimenteel, met ’n klaarblyklike vreugde om die woord sélf wat ’n mens selde by die slegs digterlik begaafde kry. As ’n mens by daardie eerste bundeltjie destyds gevoel het dat die jong digter, met al dié fris en vonkelende woorde byna nog te min te sê gehad het, sodat dié verse dan ook egte instemming van sy instrument genoem kan word, kry jy in Koggelstok soms die indruk dat hy dié tekort – byna alte opsetlik? – wou aanvul. Daar is verse oor die koue oorlog en die H-bom, oor die politieke aktualiteit en so meer, en alles op ’n wyse onder woorde gebring wat nuut is en geen spoor van literêre invloede toon nie.

“Maar wat in my in dié bundel boei, is tog nie in die eerste plaas die ‘inhoud’ van dié verse nie, juis omdat hulle vanweë die min of meer nugtere, soms ironiese toon ’n sekere afgetrokkenheid en afstand bewaar en selde, nee, nooit heftig, bitter, verbete of profeties word nie. Nee, dis die verse sélf, en die hantering van die woord wat speels, verrassend en af en toe werklik virtuoos is. (...) As George Louw later dieselfde taalvermoë sou bestee aan temas wat hom heftig ontroer, sodat hy ook werklik stelling inneem en sy verse die intensiteit van groot poësie kan gee, sal ons móét luister.”

Die nugter en saaklike toon van die gedigte was nie eintlik na R Schutte (bron of datum onbekend) se smaak nie. “’n Mens mis dan ook in hierdie bundel intensief en ontroering. Die gedigte gryp ’n mens nie aan nie.”

Ander menings was dat die verse op die oppervlak spreek van ’n skynbare onbetrokkenheid en ’n gemaklike gang. Daarom dat die skerpheid wat uit die verse spreek, ’n verrassing is, veral vanweë die feit dat die taal ongesmuk en sonder pretensie is.

George se derde bundel, Opstand verby, word in 1969 gepubliseer. Marié Heese (Die Burger, 11 of 14 Julie 1969) skryf: “Die bundel het min te make met die tradisionele vorme en temas van die ouer poësie in Afrikaans. Heel kontemporêr is die vrye vers en die soms surrealistiese beelde. Sy taal probeer eenvoudig en tog raak, veelseggend wees. Hy skep vir my nog min beelde wat veelvuldige insigte meteens kan dra. (...) ’n Mens bemerk by hierdie digter ’n sterk religieuse inslag, maar verwring deur twyfel en verwarring: is daar in der waarheid ’n God om na te soek? ‘... of is hier ’n God aan die konkel?’ So sit hy vasgevang in die knelgreep van die dubbele onsekerheid – nie alleen soek hy na dit wat sinvol is in die lewe nie, maar terselfdertyd betwyfel hy die relevansie van die soektog self. Hierin en ook in sy opstand teen veelwoordigheid gepaard met gebrek aan kommunikasie – ‘soos telegramme oorweeg/ ons emosies’ – verwoord ook hy temas wat die jongere digters in Afrikaans besig hou.

“Ander temas wat opval, is ’n ervaring van eensaamheid (‘dink aan my’), diepe besorgdheid oor eie land en die probleem van veelrassigheid (‘Verkleurmannetjie’) en ’n hunkering na ’n eenvoudige rustigheid (‘Visioen van ’n degenerasie’). Soms is die moraal ’n bietjie te duidelik na my sin gestel, maar soms word die soeke na sinvolheid heel eenvoudig en treffend gestel: ‘dat my waardes kan songlans kry’. Hierdie gestroopte taal kan kragtig word.”

George lewer ook ander belangrike werk in Afrikaans, en wel op die gebied van die drama met ’n Skip is ons beloof (1969) en Die generaal (1972).

’n Skip is ons beloof is gesitueer in die vroeë 19de eeu toe die bandieteskip Neptune in Simonsbaai aangekom het. Die plaaslike inwoners was nie gediend met Brittanje se besluit om die Kaap as ’n strafkolonie te gebruik nie. Sir Harry Smith was destyds goewerneur aan die Kaap en hy wou nie die bandiete toelaat om van die skip af te klim voordat die Britse regering hom nie verder ingelig het nie, maar daar moes darem intussen aan hulle kos verskaf word. ’n Antibandiete-beweging is gestig wat probeer het om al hierdie pogings in die wiele te ry. ’n Afgetrede leëroffisier, Peter Newton, wat gaan boer het, besluit om kos aan die bandiete te verskaf, teen die algemene mening in. Die hele gemeenskap draai teen hom en hy en sy gesin word aan baie wrede vervolging onderwerp.

Van ’n Skip is ons beloof sê WEG Louw (Die Burger, 12 Desember 1969): “Die tema van dié stuk is weliswaar geen nuwe in die dramaliteratuur nie, naamlik die botsing tussen ’n enkeling en die samelewing, ’n botsing so heftig en onversoenbaar dat die enkeling moet ondergaan. Dit is terselfdertyd ook ’n ewige en universele tema, in dié sin dat so ’n botsing te alle tye en in alle omgewings sou kan voorkom. Wat dit besonderlike betekenis in ons land gee, is die feit dat George Louw dit plaas in die tyd van die sogenaamde Anti-Bandiete-Agitasie (1848–1849). (...) Kortom, ’n Skip is ons beloof open vir die Afrikaanse teater nuwe, boeiende vergesigte.”

’n Skip is ons beloof is in 1969 deur die Afrikaanse toneelgeselskap van Kruik in die Hofmeyr-teater opgevoer met Jannie Gildenhuys as regisseur – die enigste inheemse Afrikaanse stuk wat Kruik in 1969 aangepak het. Die hoofrol is vertolk deur Johan Malherbe, met Pieter Geldenhuys, Ernst Eloff, Paul Malherbe en Alec Bell die ander akteurs wat belangrike rolle vertolk. Dit is ook vir skole voorgeskryf en as gevolg daarvan het die drama etlike herdrukke beleef.

Ander kritici is die mening toegedaan dat die teenwoordigheid van ’n digter duidelik aanvoelbaar is in ’n Skip is ons beloof en dat dít juis die rede is vir die lengte en woordrykheid van die drama. Een resensent het gemeen dat die dekor nie ingewikkeld is nie, maar die toneelspelers het ’n goeie begrip van die woord en taal en kan dit goed oordra.

Vir ’n ander resensent het die drama oor ’n “ontstellende krag” beskik – “’n drama wat die leser laat voel hy moet iets doen, moet veg teen hierdie magte waarteen die dramaturg waarsku. Nog voordat jy hom op die verhoog sien, is jy reeds volkome by die gebeure betrek.”

(Bostaande twee besprekings is by NALN sonder enige bronverwysings. Naam van resensente is ook nie duidelik nie.)

André P Brink skryf in Aspekte van die nuwe drama dat daar van die moontlikhede van die stuk net mooi niks tereg kom in die dramatiese verwesenliking van die materiaal tot die skrywer se beskikking nie.

Met die publikasie van Die generaal in 1972 skryf Auditorium in Volksblad dat dit ’n leemte is dat dramas in Suid-Afrika nie éérs opgevoer word sodat dit getoets en geskaaf kan word voordat dit gepubliseer word nie. “Hierdie drama het ’n dubbelloop-intrige: dié van Napoleon wat in Parys aankom na sy Egiptiese veldtog en ’n ontroue Josephine vind, en dié van George Grand, ’n verspotte kopieskrywer van Kalkutta wat terselfdertyd in Parys arriveer op soek na sy ontroue vrou wat hom vyftien jaar tevore verlaat het. Grand sien homself as ’n generaal in sy eie klein wêreld.”

Op die buiteblad skryf die uitgewer: “Om die teenstelling tussen die twee ‘generaals’ te beklemtoon, word die verhaal van George Grand vertel in die tradisie van die teater van die absurde, veral ook omdat Parys, waar die handeling plaasvind, beskou kan word as die teelaarde van dié soort teater. Terselfdertyd kan die werk beskou word as ’n eksperiment om vas te stel in hoe ’n mate twee toneelstyle in dieselfde werk gekombineer kan word.”

Vir Auditorium is die drama nie heeltemal geslaag nie. Dit is nie as gevolg van “vermenging van style nie, maar omdat die geheel te oppervlakkig is”. “[D]ie intrige geweef om Napoleon bied volop moontlikhede vir ’n grootse drama wat die dramaturg nie benut nie. As dit egter sy doel was om die ewig menslike in dié kleurryke en dinamiese figuur te beklemtoon en nie soseer die historiese gang nie, slaag hy daarin ook nie. Napoleon laat die leser nooit betrokke voel by sy wel en wee nie. ’n Stuk kan natuurlik beter gespeel word as wat dit lees, maar min geleentheid word aan ’n speler gebied om die karakter van Napoleon verder uit te bou.

“Wat die George Grand-intrige betref, die absurde styl word nie met ’n seker hand gehandhaaf nie. Bewustelik word sekere kenmerke van die styl aangewend: die roetinebestaan van die mens, die verveeldheid, die wag, die simboliek wat aan die koffer kleef. (...) Die absurditeite van die wortels – dit alles word aangetref by ander eksponente van dié genre. Maar George Louw maak dit nie sy eie nie. Ook die dialoog is plek-plek te rasioneel en doodgewoon vir dié styl.”

In Die Vaderland skryf JH: “Dit is ’n sterk stuk wat met die regte regie, afronding en agtergrond ’n reuse-sukses op die verhoog behoort te wees. Die dialoog is goed, eenvoudig en vinnig, en die verhaal wat die skrywer geskep het, word deurgaans gevolg.”

Hierna het Louw se skrywerstem stil geword. As redakteur by uitgewers het hy só betrokke by ander skrywers se werk geraak dat hy nie meer tyd gehad het vir sy eie werk nie. Joan Hambidge het haar dikwels in ’n kursus oor verdwene digters afgevra: O, wat het geword van George Louw?

Toe, amper 50 jaar na Die trekpad, net oor die 40 jaar na Koggelstok, en 37 jaar na sy laaste bundel, Opstand verby, verskyn Kraai in 2006 by Tafelberg. In sy resensie in Die Burger (12 Junie 2006) skryf Etienne Britz: “Afgeteken op die voorblad van George Louw se vierde digbundel, Kraai, staan twee figure wat ’n belangrike rol in dié bundel speel, naamlik die kraai en die 15de-eeuse bedelmonnik van Florence, Girolama Savonarola (1452–1498). Die afdeling oor dié bedelmonnik beslaan feitlik die helfte van die bundel. Daar is 48 gedigte oor sy wedervarings, gedagtes, wroegings, meditasies, gebede en visioene. Lesers sal Kraai beter verstaan as hulle Savonarola ken. Daarom wy ek my bespreking veral aan hom. Louw is volgens die gedig ‘Voorwoord’ jare lank gefassineer deur dié Dominikaan, en wou eers ’n storie en toe ’n drama oor hom skryf. Uiteindelik het die monnik hom ‘jaar op jaar/ in vers op vers/ aan [hom] kom openbaar’. (...)

“Louw skryf in ’n nota op bl 79: ‘In sy swart py het dié tingerige klein priester met die prominente krom neus byna die voorkoms van ’n kraai gehad.’ Hiermee word die verband tussen Savonarola en die ander hoofmotief van die bundel beklemtoon. As simbool het die kraai verskeie betekenisse, sommige teenstrydig, ambivalent en kompleks. Die kraai simboliseer onder meer godsdienstige inspirasie. Soms word die kraai as boodskapper of verskyningsvorm van God (of van ’n ander bonatuurlike mag) voorgestel. Vir die alchemiste het die kraai die innerlike donkerte van die siel verteenwoordig. Die kraai word egter ook geassosieer met onheil. Dié lelike, swart voël met sy skor gekras word soms uitgebeeld as ’n voorbode van die dood, of ’n draer van slegte tyding. Goëlkuns word eweneens met die kraai geassosieer.

“Dis duidelik hoe die kraai met Savonarola skakel. Hy was in sy swart py ’n somber, verbete, krassende boodskapper van God.”

Britz is van mening dat Kraai ’n goedafgewerkte bundel is wat van eerlikheid en volwassenheid getuig. Soms is daar ’n satiriese toon te bespeur, maar baie maal “gelate of bewoë”. Hy kan nie die bundel as “with-it” beskryf nie, maar dalk as gevolg daarvan sal baie lesers nog meer aanklank by die bundel vind.

Fanie Olivier (Beeld, 6 Junie 2006) het Kraai beskryf as ’n “besonderse leeservaring wat baie wêrelde bestryk, ook die plaaslike maatskaplike bestel, en ’n bundel wat op ’n bedrieglik eenvoudige wyse baie ongemaklike vrae oor mense stel. Dis ’n ryp en ’n ryk bundel waarmee die digter ’n nuwe kleim kom afsteek in die Afrikaanse poësie.”

In Rapport (14 Mei 2006) skryf Henning Snyman entoesiasties oor Kraai. Hy sê: “Ons het hier nie te doen met politieke versetverse nie, maar met verset teen die wanbeeld van God. Ek verwelkom hierdie bundel van George Louw wat ná ’n lang stilswye terug is met ’n uiters indrukwekkende bundel: ryp, beleë poësie. Aanvanklik is die gedigte ’n menslike dog siniese blik op wat die mens van God en sy skepping maak. Meer satiries word na die mens gekyk in sy eie waan van vernaamheid en sy ydel strewes na rykdom en mag. Skerper word die oordeel oor wat die mens aan ander mense doen. Die mens in sy skynheiligheid, ydelheid en konstante spel met die bose en verraad word sag-satiries maar tog fel blootgelê. Louw se satires is amper in die litotes geklee, en daarom selfs meer effektief as ooglopende en felle satire. (...)

“Geleidelik beweeg die bundel na die individu en sy verhouding tot en met God. God word telkens gesien as die geamuseerde God wat Hom terugtrek in tyd en ewigheid as Hy sien wat die mens en die kerk van Hom probeer maak. (...) Die kerk word genadeloos aangespreek vir sy eie strewe na welvaart en sy beklemmende houvas op die mens, en in dié verband tree die gegewe van Savonarola die bundel binne. Hierdie dapper priester wat in voorkoms, met sy skerp neus, na ’n kraai gelyk het, het ’n roeping ervaar om die mense van Firenze tot ’n daadkragtige konfrontasie met hul eie sondigheid te lei. Met die bybring van hierdie historiese werklikheid meng historisiteit met die verbeelde vers. Die digter beweeg hier op riskante terrein, want as die historiese sou oorheers, sou die gedigte ontaard in aanvallende satire. Louw hanteer egter sy gegewe meesterlik.

Kraai raak aan die intiemste wêrelde van menswees. Dit is poësie wat sterk antropomorfies is soos dit poësie betaam, dit gaan oor die mens. Dit is ’n bundel vry van die ‘gekrulde ik’ (Hugo Brems).”

Joan Hambidge (Volksblad, 29 Mei 2006) vertel: “Ek het die bundel in een slapelose nag deurgelees en sidderend beleef. En per ongeluk ’n pot swart koffie op die pragtige boek uitgegooi (‘the breaking of the vessels’, dink ek). Dis altyd ’n goeie teken wanneer ’n bundel jou so meesleur dat jou reflekse aangetas word. Hoe het Emily Dickinson op ’n keer gedig? Dat haar lyf haar vertel wanneer dit ware poësie is. Bepaald die geval hier. Ons het lank gewag vir hierdie bundel, maar dit was die moeite werd om ’n bydrae van ’n beleë digter te lees.”

Naas bogenoemde publikasies skryf Louw ook enkele verspreide prosastukke wat in Son op die water (1967) en Blommetjie gedenk aan my (1978) opgeneem word. JC Kannemeyer voel egter dat Louw sy beste werk gelewer het met ’n aantal verse waarin die jeugdige kyk van die jongman op die wêreld bekoorlik en sjarmant verwoord is. (Dit was voor die publikasie van Kraai.)

Van George Louw se gedigte is deur Rina Coetzee getoonset en by die Stellenbosse poësiekring gesing. Hy lewer ook ’n bydrae tot Gesprek sonder grense: huldigingsbundel ter ere van Johan Degenaar se 80ste verjaarsdag onder redaksie van Dirk Hertzog, Etienne Britz en Alastair Henderson wat in 2006 gepubliseer is.

George Louw is op 5 Mei 2023 in die ouderdom van 84 jaar in die Mediclinic Milnerton in Kaapstad aan ’n hartaanval oorlede. (Netwerk24, 6 Mei 2023)

Huldeblyke:

  • Hennie van Deventer, koerantman en vriend: “George Louw was ’n boekmens. Ons was as ’t ware stalmaats. My hart gaan uit aan Dorette, wat nou alleen oorbly in hul woonstel in Bloubergstrand met die skouspelagtige uitsig op Tafelberg en Talfelbaai – ’n gesellige plek waar ons en die gasvrye Louws heerlik saamgekuier het. Hul prikkelende geselskap was altyd ’n verfrissing. ’n Gedugte, oorwoë, besadigde, hoflike en betroubare man gewees – dié George.” (Netwerk24, 6 Mei 2023)

Publikasies:

Publikasie

Die trekpad

Publikasiedatum

1957

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Culemborg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Koggelstok

Publikasiedatum

1963

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 1965

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

’n Skip is ons beloof

Publikasiedatum

  • 1969
  • 1972
  • 1973
  • 1974
  • 1979
  • 1980
  • 1981

ISBN

  • 0624002888 (hb)
  • 0624013197 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

WA Hofmeyr-prys 1970

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die generaal

Publikasiedatum

1972

ISBN

0624001989 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kraai

Publikasiedatum

2006

ISBN

0798145862 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

  • Britz, Etienne: Fassinasie met bedelmonnik lewer volwasse poësie op (Die Burger, 12 Junie 2006)
  • Hambidge, Joan: Lang wag die moeite werd (Volksblad, 29 Mei 2006)
  • Olivier, Fanie: Ryp en ryk bundel (Beeld, 6 Junie 2006)
  • Snyman, Henning: Intiemste menswees oopgedig (Rapport, 14 Mei 2006)
  • Van der Elst, Jacques: Kraai. Tydskrif vir Letterkunde, 2007

 

George Louw as vertaler

  • Bratny, Roman: Die kruis van die dapperes: roman van die Poolse versetstryd. Kaapstad: Tafelberg, 1964
  • Coatsworth, Elizabeth: Eensame Maria. Kaapstad: Tafelberg, 1976
  • Marins, Francisco: Die geheim van die goudmyne. Kaapstad: John Malherbe, 1966

George Louw as redakteur

  • Leroux-Van der Boon, Marzanne: Granate bloei in Jerusalem (saam met Lambert Jacobs). Wellington: Lux Verbi BM, 2003 

Artikels oor George Louw beskikbaar op die internet

Artikels deur George Louw beskikbaar op die internet

Bronne

  • Steyn, JC. 1998. Van Wyk Louw: ’n lewensverhaal. Deel I. Kaapstad: Tafelberg
  • Kannemeyer, JC. 19-. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Deel II. Kaapstad Tafelberg
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top