Geniebottel

  • 0

Geniebottel

Was Noag, daai goeie buurman,
ook só gereken?

“Eienaardig”, omdat
ons oues ’n besem
by die deurkosyn
skeeflê, of sop op lou
warm maak, of die wasgoed opvou,
vóór die duimerol op die foon.

Of “oudmodies”, want
ons kyk iemand nog in die oë
én groet in die boekwinkel.

Ons loop nie verby waar bloed nog
ongestold is nie. Ons plant
groentebeddings. Ons werk
met klei. Ons hou
mekaar se hande vas
by die ultraklankmasjien.
Ons vee die droë lippe af
van prewelende vaders
in hul komas voor die dood.

Die wêreld krimp
na palmgrootte. Siele
word ingekurk
in die geniebottel.

Ek wys my kleinseun hoe om vis
te vang, my klein Engelsman,
sy Tlaba se taal te praat,
te kotiljons met sy jonger boetie
in ’n leë kamer.

Hy maak die venster
oop en nooi die wind binne,
omdat dit
waai.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top