Gender en die Bybel: Lilly Nortje-Meyer reageer

  • 0

Die artikel blyk ’n interessante oefening te wees vir veral gelowiges wat ’n Christelik-meditatiewe benadering tot die lees en interpretasie van Bybelse tekste wil toepas. Die vraag is egter hoe so ’n positiewe benadering vanuit ’n Bybel-gerigte benadering werklik transformerend op ’n wyer groep mense gaan inwerk. Die meeste mense het immers ’n positiewe belewenis en siening van vroue, maar dit het nog nie veel van ’n uitwerking gehad ten opsigte van geweld teenoor vroue of die verandering van die patriargale ideologie nie. Die praktiese vraag is dus: As slegs die helfte van die oorspronklike steekproef tot die einde daaraan deelgeneem het, watter kans is daar dat die metode met sy positiewe karakter op ’n baie groter vlak suksesvol kan wees om die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap en kerke te help transformeer? Die vraag is dus na die toepasbaarheid en die nuttigheid van so ’n metode om groter gemeenskappe te transformeer.

In ons konteks het ons te doen met ’n partriargale ideologie wat deur strukture soos kultuur, politiek, godsdiens en ekonomie in stand gehou word. Dit is voordelig vir mans om die ideologie in stand te hou, want dit gee aan hulle beheer en mag. Hierdie beheer en mag wat deur dieselfde kultuur aan hulle toegeken is, bepaal dus hulle manlikheid en optrede. Die kanse dat ’n projek soos hierdie wye aanklank sal vind wat daartoe sal lei dat die partriargale kultuur bevraagteken sal word, is nie groot nie.

Die vraag is ook of die Bybelse teks werklik ’n deurslaggewende rol speel. Beelde wat mense oproep, word gestruktureer en die betekenis daarvan word gegee deur die kultuur en gevul met mense se ervaringe. Dit is ook waarom die ervaring van die deelnemers aan die loodsprojek die Rut-verhaal lees in terme van sulke begrippe soos “molestering”, “stereotipering” en “vreemdelinghaat”. Met hierdie begrippe word die Rut-verhaal anakronisties toegepas in die beleweniswêreld van die groep. Dit lyk gevolglik asof die meditatiewe lees ’n subjektiewe ervaring inhou en weerspieël wat die Bybelse teks nie toelaat om sy eie verhaal te vertel nie. Dit vertel eerder die verhaal van die deelnemers as wat dit weergee wat in Rut gebeur. Die verhaal wat gelees word, kan dus eintlik enige verhaal wees, nie noodwendig dié van Rut nie. Kom die verhaal van Rut dus werklik tot sy reg in hierdie artikel?

Dit bring my by die volgende aspek: dat die manlike deelnemers deur die oefening geïnspireer is om hulle tradisionele gender-stereotiperende benadering tot vroue te bevraagteken. Ek wonder net of die mans in hierdie loodsprojek, gegee dat hulle reeds gevorderde teologiese studente is, nog nooit deur al die verskriklike geweld teen vroue in ons land geïnspireer is om hulle benadering tot vroue te verander nie.

Wat daarvan dat hulle ervaar wat met Ina Bonnette gebeur het, vir wie haar vervreemde man, die “Modimolle-monster”, deur drie ander mans laat verkrag het, voorwerpe in haar vagina opgedruk het, haar tepels afgesny het en haar hoogs intelligente seun doodgeskiet het? Of Anene Booysen, 17, van Bredasdorp in die Suid-Kaap wat deur ’n bende verkrag en se liggaam oopgesny is. Of die oumas van oor die 100 jaar oud wat verkrag word? As hierdie gebeure (en soveel ander gruwels teen vrouens en kinders) mans nie oortuig om hul sienings oor vroue te verander nie, sal niks dit doen nie.

Miskien moet ons begin om ons in ons samelewing se slagoffers se ervarings in te leef en nie net in die ervarings van ’n mitiese vrou van 2 500 jaar gelede nie. Sulke verhale uit ons eie konteks kan al genoeg rede tot transformasie wees.

Die massa-saamtrek van mans by Angus Buchan se Mighty Men-konferensies, waar honderde duisende mans tot bekering gelei is, het klaarblyklik geen invloed op die aksies van mans om ’n veiliger en beter samelewing vir vroue in Suid-Afrika te bewerkstellig nie. Sal hulle ooit in staat wees om deur ’n meditatiewe lees van die Bybel veranderings aan te bring aan die posisie van vroue? Dit lyk des te meer die geval te wees omdat hierdie mans ’n negatiewe siening van vroue het. Hulle word aangesê om hulle “regmatige plek” in die huishouding weer terug te neem. Dit lyk asof dit impliseer dat hulle slagoffers van vroulike diskriminasie is waarteen hulle hulle moet verset. Weer eens is vroue gebrandmerk as die oorsaak van ’n probleem.

Die artikel laat ’n mens ook krities teenoor vroue self staan. “Godsdienstige vroue” stel nie daarin belang om die Bybel krities te bevraagteken of te lees nie omdat dit dan die geïnspireerde woord van God is. Christenvroue, selfs professionele vroue, stel byvoorbeeld nie daarin belang om kennis te neem van die gender-kritiese kommentaar op geselekteerde Bybeltekste wat die NTWSA se gendergroep (wat ’n bydrae van Helen Efthimiadis-Keith insluit), gepubliseer het nie. Hulle verwag dat mans moet verander of dat die omstandighede moet verander, maar wil self nie hul sienings oor die tradisionele rol van die vrou verander nie, omdat dit in hulle oë deur die Bybel gesanksioneer is, al is hierdie sieninge in werklikheid eintlik kultureel aan vrouens toegeskryf. Hoewel die deelnemers aan die projek blyke gee dat hulle sensitief is vir gender-kwessies, is die vraag of Christenvroue in die algemeen ooit daartoe beweeg sal kan word.

Ek is van mening dat hierdie oefening alleen geen blywende verandering aan deelnemers se siening oor vroue gaan bewerkstellig nie. Ons het beslis baie meer drastiese optredes in ons land en kerk nodig.

Lees ander bydraes in hierdie seminaar.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top