
Foto: Canva
Genadegebed
drogbeelde verskuil om die hoeke van nag
skaduwees wat sluip onder vaandels van terreur
terwyl die sekondewyser die aanslag van tyd verduur
wag die harteloses op die regte tyd; die wapens sekuur
vanaand is die donker onheilspellend verswart
en die hulpeloosheid van die broses hang in die lug
die hand van dood wag geruisloos in stille verraad
en boosheid sluimer in genadelose asem van haat
die nag het oud geword toe die haan drie keer kraai
en lemme het geflits net toe die sterre wou slaap
die maan het stil-stil agter die mantel van donker verduister
en sag in gebed het ’n boer na sy Meester gefluister
meteens het die swart gordyn voor die hemelpoorte geskeur
en vreesloos het die boer voor Goliat gestaan
bloedstollend die gille wat oor vlaktes weergalm
maar teen dag se breek was dit geruisloos en kalm
op die plaashuis se stoep sit ’n dankbare boer
in sy gebed lê genade, en langs hom staan sy roer ...


Kommentaar
Dankie Litnet, altyd 'n eer.🙏🌹