Gelyk en is

  • 0

Ek blaai nou die dag deur ’n geïllustreerde voëlboek. Dis altyd lekker om die lyfies wat ek in die tuin sien rondwip, vir ’n slag van naderby in glansende waterverf te bestudeer. Om te lees oor hulle eet- en ander gewoontes. Ek is egter onkant betrap toe die retoriek na die eerste beskrywende paragraaf lostorring en in ’n preek verander. Ja, ’n preek. “Die bosduif vlieg altyd weer terug na die veiligheid van die rots. Net so moet die Christen ook …” – dié soort van ding. Op die voorblad lees ek toe eers die volle titel: Kyk na die wilde voëls – 31 dagstukkies.

Dit laat my op die plek dink aan my vriend Attie se eerste jare in die onderwys, by ’n skool in ’n sogenaamde tuisland. Daar was ’n dogter met die naam van Pestina wat uit elke opstel ’n preek opgetower het. Attie het vergeefs probeer om onderwerpe uit te dink wat hul nie tot preke leen nie. Vra hy dat hulle ’n treinrit beskryf, begin Pestina so: “It was a beautiful sunny day. I was sitting in the compartment when a stranger entered. He was a Christian brother and started sharing with me a wonderful message of faith …” en daar volg die boodskap.

Ek het eenmaal iemand ontmoet wat gesê het haar stokperdjie is die metafoor.

Maar ek is moeg vir beelde. Partykeer wens ek elke ding kon net hom- of haarself wees. ’n Roos of ’n bosduif of ’n treinrit. As ’n mens eers jou hart aan die digkuns verpand het, soos wat ek gedoen het, word die ganse kosmos swanger aan simboliek en gelykenis. In die blombedding van die innerlike landskap knak elke roos se stingel onder die bagasie wat sy dra: sy verteenwoordig die korte duur van die liefde, die reinheid van die Heer en vele meer, veral in die repertoire van die Afrikaanse sniksanger.

Daarom soek skrywers vervaard na die vars beeld, die onontginde vergelyking, die geïnspireerde nonsens, soos Kurt Schwitters, die Duitse Dadaïs wat van sy geliefde Anna Blume gesê het: “Blou is die kleur van jou geel hare en rooi is die kleur van jou groen voël … jy dra jou hoed op jou voete en loop op jou hande.” Daar is mense vir wie taal self te geyk, woorde ’n hol en stamperige sinkplaatpad geword het. Christian Morgenstern, nog ’n Duitser, het al ’n honderd jaar gelede ’n gedig geskryf waarin daar nie een herkenbare woord voorkom nie. Dit begin so: “Krokokwafzi? Sememi! Seiokronto – prfriplo:”

Breyten doen dieselfde wanneer hy sê: “ronde visse in rooi truie met oë hande van blindes teen glas”; en Jeanne Goosen ontgin die onuitgespreekte in alledaagse nonsens wanneer sy sê: “Wys my een mens wat nie van toast hou nie.”

Ja, ons is op soek na ’n nuwe metafoor. My vriendin het haar rug op die Weste gedraai. Manlik-chauvinistiese stropers en verkragters van die aarde, moordenaars van die godinne, kapers van die baarmoeder en Lewensessens – so verwys sy na die Eerste Wêreld, na die tegnokratiese, kapitalistiese, materialistiese verbruikerskultuur waarin ons leef. Sy omhels Afrika. En dis nie net lippetaal nie. In haar huis, waarin ek ook woon, is daar ewig “familie” uit die Transkei op besoek. Hulle kom vir ’n naweek en bly vir ’n maand of so. Hulle is chaoties en bedagsaam tegelyk. Etes is luide, vreugdevolle okkasies om die kombuistafel. Tot die heel grootste kastrol haal nie die paal nie. Die radio blêr in ’n inheemse taal en die badkamer is beset. Die huis was nog nooit so blink nie. My voormalige premie op privaatheid lyk skielik so elitisties, so anaal-retentief, so previously advantaged. Niks maak so vreeslik saak nie, leer die Xhosa-glimlagte met wye gapings tussen die voortande (soos tussen my eie) my.

Ook die bedelaar, die straatkind, die swaksinnige en die gangster word meestal nie weggewys by die voordeur nie. Hulle paradeer deur die huis, eet bredie in die gemakstoel in die kombuis, vang ’n stort en kry muti. Daar is ’n prewelende swart pateet met wilde oë wat ons Van Gogh gedoop het. Hy kom vra altyd R15. Vandag kry hy dit, maar môre word hy moontlik na sy moer gestuur. Daar is ’n idiot savant-musikant wat babbel soos ’n bergstroompie. Daar is ’n liggeel gangster wat pas weer uit is op parool. Op sy voorkop is ’n tatoe wat sê “28”, en op sy arm, “Hensop & drop die panty.”

Die beelde van my jeug het verlep. Ja, ek omhels die volksvreemde, want ek het moeg geword van wyksouderlinge wat kom kollekteer, van ouer-onderwysersvergaderings en pannekoek bak op basaars.

Ek soek ’n nuwe metafoor om mee te toor.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top