Geloofwaardigheid, korrektheid en outensiteit: ’n resensie van The heist men deur Andrew Brown

  • 0

...
Die skrywer se agtergrond as polisiereservis en advokaat dra ongetwyfeld by tot die geloofwaardigheid, korrektheid en outensiteit van die teks. Ondersoekprosedures, insluitend die frustrasie van burokratiese rompslomp en lomp staatsmasjinerie, word onderhoudend aan die leser weergegee.
...

Titel: The heist men
Skrywer: Andrew Brown
ISBN:  978-1-77609-672-5 (sagteband), 978-1-77609-673-2 (elektroniese formaat)
Uitgewer: Penguin

Daar is ’n toename in transitorooftogte in die groter Kaapstad-area. Die patroon is onrusbarend: Elke rooftog word met militêre akkuraatheid, perfek gechoreografeer, uitgevoer. Die rowers, vasgevang op nuuskieriges se selfoonkameras, toon ’n ongekende kalmte, sofistikasie en koel berekendheid; hulle verwyder selfs rommel op die tonele en neem tyd om hul sitplekgordels vas te maak voordat hulle vlug met die buit. Die ploftoestelle is modern, bekend aan slegs enkele professionele deskundiges, en hulle beskik oor ’n sogenaamde slotmaker – ’n spesialis wat die geldsakke se veiligheidseëls kan breek sonder dat die kleurstofontploffing, gemik daarop om die geldnote onbruikbaar te maak, geaktiveer word. Hulle is telkens die polisie etlike stappe vooruit, laat geen leidrade nie, en verskyn en verdwyn soos skimme.

Die jong, ambisieuse Andile Xaba het vele gesigte. Vir sy bejaarde moeder is hy haar redder, haar seun op wie sy so trots is; hy versorg haar finansieel waar sy ’n nederige leefwyse in ’n informele nedersetting handhaaf, in die vaste geloof dat hy ’n suksesvolle regstudent met ’n blink toekoms is. Vir sy jong, wit vriendin uit die voorstedelike gegoede middelklas is hy ’n simbool van haar toewyding aan die illusie van die reënboognasie; ’n bevestiging van haar status as liberale linksgesinde. Vir sy jeugliefde is hy die pa van hulle jong seuntjie, Lonwabo. Vir ’n groep mans, die sogenaamde heist men, is hy die onverskrokke leier van ’n reeks suksesvolle transitorooftogte, hulle sleutel na rykdom en mag.

...
Die woord heist het nie werklik ’n gepaste Afrikaanse ekwivalent nie. In regsterme verwys dit na (gewapende) roof met verswarende omstandighede.
...

Eberard Februarie is ’n ontnugterde man. In sy middeljare, bewus van ’n toenemende afhanklikheid van alkohol, eensaam na ’n smerige egskeiding, gestroop van illusies na dekades as polisiebeampte, is sy tienerdogter, Christine, die enigste rede waarom hy homself nie aan depressie oorgee en homself die hiernamaals inhelp met sy dienspistool nie. ’n Oproep van sy kollega, Valencia Witbooi, is egter die voorspel tot ’n heel nuwe uitdaging: Hy word bevorder tot kaptein en maak deel uit van ’n spesiale eenheid met ’n baie spesifieke taak – spoor die transitorowers op. Die uitdagings hieraan verbonde is eindeloos: Sy bevelvoerder is ’n gewese apartheidoffisier; sy gewese vrou, Tanja, se bitterheid teenoor hom bereik nuwe hoogtes; Christine het sy ondersteuning en teenwoordigheid meer nodig as ooit tevore; en daar is toenemende aanduidings dat daar ’n verraaier in hulle midde is.

Die woord heist het nie werklik ’n gepaste Afrikaanse ekwivalent nie. In regsterme verwys dit na (gewapende) roof met verswarende omstandighede. In die konteks van hierdie roman verwys dit spesifiek na gewapende rooftogte op transitovoertuie wat kontant vervoer. Die skrywer se agtergrond as polisiereservis en advokaat dra ongetwyfeld by tot die geloofwaardigheid, korrektheid en outensiteit van die teks. Geklassifiseer, en tereg, as misdaadfiksie, verdien die roman ook die spesialiteit-etiket van prosedurele polisiespanningsroman. Ondersoekprosedures, insluitend die frustrasie van burokratiese rompslomp en lomp staatsmasjinerie, word onderhoudend aan die leser weergegee. Die fokus en doel van die ondersoeke is, anders as in die tradisioneel meer oppervlakkige aksieromans, op ’n uiteindelike suksesvolle vervolging, nie bloot die identifikasie en opsporing van die rowers nie. Verdagtes word byvoorbeeld nie lukraak gearresteer en op ad hoc-wyses ondervra nie; die letter van die wet word telkens gevolg. Voldoende getuienis moet dus telkens op ’n regtens toelaatbare wyse bekom word. Die wisselwerking tussen die onderskeie polisie-eenhede en die prosedurele probleme wat daaruit voortspruit, word eweneens in die teks vervleg. Hierdie tegniek dra met groot sukses by tot die leser se insig in die karakters se frustrasies, onmag en beperkinge. (Lesers wat belangstel in ’n feitelike uiteensetting van transitorooftogte in Suid-Afrika kan gerus ook loer na Anneliese Burgess se Heist – South Africa’s cash-in-transit epidemic.) Die skrywer se ondervinding en kennis van die agtergrond waarteen die roman afspeel, sorg ook vir tonele wat van fyn humor (al is dit ietwat donker) getuig. Op bl 2 word daar byvoorbeeld na die irriterende gewoonte van bestuurders om noodflikkerligte as ’n regverdigingsgrond vir ’n verskeidenheid ondeurdagte optredes agter die stuurwiel te misbruik, verwys as ’n Suid-Afrikaanse verskynsel, en op bl 103 is die polisiebeamptes se eerste reaksie wanneer hulle deur ’n massa oproeriges aangeval en met klippe bestook word, dat die krappe en duike op hulle voertuie ’n onmoontlike hoeveelheid papierwerk tot gevolg gaan hê.

Die ruimte waarin en agtergrond waarteen die roman afspeel, is by uitstek die groter Kaapstad-gebied. Spreektaal, unieke uitdrukkings en afkortings word vir die leser wat nie daarmee bekend is nie se gerief verduidelik in ’n woordelys op bl 271. Die tyd is die hede, in die doodsnikke van die pandemie; een karakter dring steeds daarop aan om te alle tye gemasker te wees en ’n ander saniteer steeds outomaties.

’n Gesprek met ’n jong konstabel op bl 85 was vir my insiggewend. Hy is die enigste lid van die spesialiseenheid wat openlik erken dat sy loopbaan in die polisiediens vir hom ’n roeping en ’n voorreg is. Hy motiveer dit deur te sê dat hy betaal word om goeie dinge te doen. Wanneer hy gekonfronteer word met alternatiewe loopbaankeuses waarvan dieselfde geargumenteer kan word, byvoorbeeld verpleging of maatskaplike werk, is sy eenvoudige antwoord dat daardie beroepe daarop ingestel is om dinge wat gebreek is, heel te maak; as polisiebeampte verkies hy om te glo dat hy dit kan voorkom dat die skade in die eerste plek plaasvind. Hierdie insetsel is ’n belangrike teenvoeter vir die sinisme en ontnugtering wat die meerderheid van die polisiekarakters kenmerk.

’n Interessante invoeging was ’n vlugtige ontmoeting tussen Eberard en Bennie Griessel, à la Deon Meyer, op bl 138. Hulle het wel net vlugtig koffie gedrink en Bennie het bevestig dat dit goed gaan met Alexa, maar dit was nietemin ’n lekker, onverwagte kinkel.

Die siel van die roman word egter gevind in die wisselwerking tussen Eberard die protagonis en Andile die antagonis. Tydens die openingstonele is hulle oënskynlik aan teenoorgestelde kante van die sukses-mislukking-spektrum: Andile op ’n triomfantelike hoogtepunt en Eberard in ’n dal van duisternis. Die pendulum swaai geleidelik, maar onvermydelik, en die fokus verskuif na die ooreenkomste eerder as die verskille tussen hulle: Albei bevraagteken hulle keuses wat betref beide hede en toekoms; beide het ’n minderjarige afhanklike as middelpunt van hul bestaan; beide het ambisiegedrewe foute begaan; en beide besef dat verandering noodsaaklik is. Die uiteindelike onmoetingstoneel tussen die twee op ble 224–5 bevestig ook hierdie besef by beide. Andile stel dit dat Eberard hom nodig het; dat sy loopbaan op die gegewe stadium nie sonder hom kan bestaan nie; dat hulle keersye van dieselfde munt is. Eberard besef dit en reageer met ’n teenuitdaging: dat dit sy werk is om Andile te jag; dat hy daarvoor gebore was.

Enkele punte van kritiek verdien vermelding. Die keuse om twee karakters wat soortgelyk in voorkoms is – albei word as buitengewoon groot mans beskryf – dieselfde van (Kotze) te gee, was effe onoorspronklik (ble 62 en 82). Maria se verhouding met Eberard oortuig ook kwalik as eroties; dis eerder moederlik. Sy herhaal frases soos “jy is veilig” en “moenie bang wees nie”; laat hom teen haar bors huil en streel sy hare. Alhoewel toegewing daarvoor gemaak moet word dat sy ’n maatskaplike werker is en sy dienooreenkomstig moet optree, is haar oordrewe besorgdheid en haar geneigdheid om Eberard soos ’n verskrikte kind te behandel, kwalik die optrede van ’n minnaar.

Hierdie spanningsroman is by verre nie die eerste uit die skrywer se pen nie; dit is voorafgegaan deur Coldsleep lullaby; Refuge; Solace; Devils’s harvest en Inyenzi. Coldsleep lullaby, waarin Eberard Februarie ook verskyn, was die 2006 Sunday Times-fiksiewenner. Twee niefiksiewerke deur die skrywer is ook beskikbaar: Street blues en Good cop bad cop.

Lesers wat die romans van Deon Meyer en Mike Nicol geniet, sal ongetwyfeld ook sterk aanklank vind by Brown.

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top