Geloofsbriewe (the true confessions of a reluctant Afrikaner)

  • 2

 

 

Geloofsbriewe (the true confessions of a reluctant Afrikaner)

Dana Snyman se skrywe in Die Burger van 12 April 2012 laat my ver terugdink.

Ek wonder of ek daarop moet – mag – reageer. Dit het immers niks met my te doen nie, of het dit?

Soms is dit beter om sekere dinge ongesê te laat bly; soms moet jy dit weer net sê ... net vir die rekord, maar veral en hopelik, vir die beter verstaan.

In hierdie land, en veral in Afrikaans,  word die een se beuelblaas mos so maklik die ander se wroeg en derms-uitryg.

 

 

Snyman skryf onder meer in sy rubriek met die titel “Ons trek nie laer op Loftus”: “Afrikaners is uiteraard ontmagtig in die nuwe Suid-Afrika. Maar om ons na ’n Loftus Versfeld van die gees te verban, is ’n fout. Ons is besig, stadig en soms vol twyfel, om nuwe betekenis aan die woord Afrikaner te gee, veel wyer as Loftus. Dit glo ek. Dit sien ek. Dit leef ek.”

Snyman skryf uiteraard dus hier oor ’n spesifieke deel van die Afrikaners – kom ons noem dit maar die deursnee wit Afrikaner – wat wrokkig voel oor die post-94-opset.

En as Snyman dan die kollektiewe geheue verwoord van die head side van die munt, wonder ek of ek nie my storie, die tail side, ook kan vertel nie?

’n Studie in skisofrenie.

Die sotlikhede wat jy darem in jou kinderlike onskuld kan aanvang!

 

 

Ek was seker vyf of ses toe ek op die toentertydse Republiekdag, 31 Mei, vir my ’n Suid-Afrikaanse vlag – oranje, blanje, blou – op ’n stuk wit karton gewaterverf, met plastiek oorgetrek en met ’n stuk van my ma se wol uit haar breimandjie teen ’n riet aan die stutpaal by ons voorhek opgehys het.

Ek onthou ’n polisieman – wit – het stilgehou, gekyk en verder gery. Ek het dit die hele dag daar laat hang en teen die aand gestryk, opgerol en weggebêre.

Op die einste Republiekdag het ons by die skool bruin toffies, glasbotteltjies gaskoeldrank en roomys gekry, die skoolhoof het my uit Sangiro se Uit Oerwoud en Vlakte laat voorlees, en ons het onder die paal gestaan en Die Stem en die Vlaglied gesing.

Trots, want ons het nie van beter geweet nie. Soli Deo Gloria ...

Daarna het die skool vroeg gesluit.

Aan die ander kant van die dorp het die uitverkore volk en hulle gesinne teen ’n koppie uitgeklouter, trou gesweer aan die land, aan die bloedlyn  en aan God en later vleis gebraai.

Ons was die kinders van ’n geslag wat nie onnodige en veel vrae gevra het nie. Dit was die dae van onskuld, van geloof, van blinde, kinderlike onderdanigheid. Ons ouers het “gebaas” en “gemiesies” en dit was naas die bietjie geld in jou hand die mees verhandelbare valuta in die land.

Soos Wopko Jensma dit gestel het, dit was die era van: “Where white is the colour / where black is the number.”

 Ons was almal “born in a situation”.

Dit was die dae voor die koms van televisie en ek het radio begin luister. Na hoorbeelde en ander programme.

 

 

Na die toesprake van ene Balthazer Johannes Vorster (beter bekend as John Vorster). Goeie orator gewees, skerp brein, sy kenmerkende Afrikaanse aksent wat deurkom in die Engels, die selfversekerdheid, die go-ahead-make-my-day-bravade in sy “then the world must do their damnest”-uitsprake.

’n Nasionalistiese cowboy, met ongure vriende in Suid-Amerika; later het hy Afrika ingevaar, in ’n treinwa oor die Victoria-val met Kaunda bladgeskud.

Détente was die nuwe buzz word ...

Olie was goedkoop, die rand was sterk, die goudprys goed, Afrikaners was moreel, die kerk ’n rots, en die Swart Gevaar stewig onder die hak vasgetrap – altans, so het ons gedink.

En glo dit as jy wil, ek het vir sy edele BJ Vorster ’n gedig geskryf, ’n propperse gedig, ’n respektabele vers met kruisrym en hoofletters en punte en kommas.

Later sou ek lees óók Breyten het vir hom ’n gedig geskryf (“Brief aan ’n slagter”), meer disrespekvol as myne, maar dat die man jou tot poësie kon dryf, daaroor kan niemand stry nie.

Ek het die kultuur met groot eetlepels ingekry – Trompie in die Sondagkoerant,  die Uile en Keurboslaan, Sonja Herold, Gé, Groep Twee en Cobus Robinson, en later  het Anneline Kriel met haar republiekeinse, puriteinse bikini gewys ’n boeremeisie kan met die beste ter wêreld meeding.

Soms was dit neustoedruk en sluk, onsmaaklik soos kasterolie, maar ondanks Apartheid en eie sake was daar vir ons, veral in die platteland, geen aparte bruin kultuur (behalwe ’n Ekstra-Rapport) om te verorber nie ...

 

 

Ons was die ander Afrikaners – agter die lanings bome, verkeerde kant van die treinspoor, buffer- en wegsteekmense, die stil grys gebied tussen die twee groot kleure van die land.

Sulke mini-me’s van die opregte, nasionalistiese Afrikaners met die korrekte uitspraak en die regte velkleur en haarstruktuur. Ek kyk die anderdag na foto’s van bruin leiers uit daardie era: mev Alethea Jansen met haar hoed en mnr Tom Swartz, en as ek die woorde van die Belgiese digter Willem Roggeman effe kan aanpas, was hulle eintlik “shaded mirror images of the masters in the sad riddle of Apartheid”.

Ons skool, langs die NG-kerk, is buite sig geplaas deur ’n laning bome. Met groot moeite kon jy daardeur loer. By begrafnisse kon ons mense net buite staan en iets sing vir die gestorwene. Onlangs is dieselfde kerk (omdat daar nie meer genoeg wit lidmate is nie) na bewering verkoop aan ’n charismatiese groep met kleurvolle gemeentelede!

Die wiel draai, soms maar net baie stadig, maar hy draai ...

Dit was die tyd van Mej Afrika-Suid en Mej Suid-Afrika.

Wie het al die terme en konsepte uitgedink? Naturel, plurale sake, selfbeskikking, tuisland, totale aanslag? Die woordeboekmakers, die slim professore van die taallaboratoria in die Taalrepubliek?

Ek dink ek het in die eerste 19 jaar van my lewe nooit ’n gespek, nie eens op die mees elementêre vlak, met ’n wit mens gehad nie – daar was geen rede om dit te doen nie; ons het niks gemeen gehad nie, ondanks die gedwonge gedeelde kultuur.

Op ’n keer het ons gesin uit Port Elizabeth na Cradock gereis. ’n Wit troepie het langs die pad gestaan. Ons het hom opgelaai, en sy familie was dankbaar, maar hy’t die hele pad nie ’n enkele woord gesê nie. Net dankie, toe ons hom aflaai – ’n koue oorlog tussen ons.

Toe het ek weer begin gedigte skryf, ek het Stet gelees en Graffier en Taurus se ander publikasies en van die beste werke in Afrikaans – ek wou alles lees waarop ek my hande kon lê. Ombondi, Kaberkarnimfe, Skoppensboer ...

 

 

Kleintyd wou ek PH Nortje se Die groen ghoen lees (nadat dit op radio voorgelees is), maar omdat dit in die wit biblioteek gehou is, het ek begin dink dit sal my nooit beskore wees om dit onder hande te neem nie.

Uiteindelik kon ek my pa oorhaal om sy werkgewer so ver te kry om die boek op sy naam  uit te neem en vir my te leen. Ek het my hande seker drie keer met seep en warm water gewas elke keer as ek die boek gelees het en dit uiteindelik ongeskonde weer aan hom terugbesorg.

Jare later was ek bevoorreg om met die room of die trots (sommige behoudendes sal soos in daardie Opperman-konteks sê, die kots) van die Afrikaner om te gaan.

Hulle beste digters en kunstenaars, en ek sê dit nie om te spog nie, maar om konteks te verskaf aan dít wat ek hier skryf.

 

 

Ek het langs die donkergebrilde mugu van Koffiefontein gesit, die oubaas van Onrus en sy skildervrou se hand geskud, met ’n ongemaklike, nou ontslape struggle-dominee-digter van die Weskus brood gebreek aan die tafel van die doyenne van die Akademie en skoonsus van die groot krokodil, na Beyers Naudé geluister, Johannes Kerkorrel gehoor Halala Afrika, aan tafel gesit by sy wat ons oortuig het almal is nie so nie,  met Koos Kombuis, Wessel Pretorius en Johan van Wyk gekorrespondeer, Kleinboer ontmoet, Koos Prinsloo gesien, van ’n afstand na Brink gekyk, ’n sambreel gedeel  op ’n kremetartekspedisie na die Lae Lande,  ’n woord gespreek met Triomf se skrywer, die skrywer van die Laaste Afrikaanse boek het vir my tee en beskuit aangebied, ek het ’n Hertzog-pryswenner hoor hyg ...

En ek het eerstehands beleef en besef: fok, hulle is nie almal so nie!   

Hulle is ook mens, net so mens soos ek, bastermens. Geknak deur die land se mal ideologie, maar ongelukkig sal hulle die merk en die kettings van die stamvaders dra tot in die sewende geslag.  

 

 

Maar ek het ook besef dat dít waarvoor Breyten gehoop het, dat “jy wat te klein was om op te neem, nog iewers in hierdie groot land opneembaar sal wees”, nie bewaarheid sal kan word nie.

En dat my storie, met veral hierdie taal en kultuur, in soveel opsigte die storie van hierdie land is.

 

 

Van verspeelde kanse, van gekruiste lyne, van ’n brug wat ons sou kon bou, maar oor die jare het daar  net te veel modder in hierdie rivier geloop.

Ek, en miskien baie soos ek, wat so graag sou wou hóórt, maar uiteindelik maak dit nie meer saak nie.

Dit is te laat ... om geloofsbriewe te oorhandig.

  • 2

Kommentaar

  • Beste Clinton

    Vergewe die familiariteit. Dana kyk vorentoe en jy wil om verskeie en ontroerende redes terugkyk. Ons leef in die jaar 2012 en Afrikaans het AL haar sprekers nodig soos nooit vantevore nie, as sy hierdie riel met Engels wil oorleef. Ons mag en moet nie vergeet nie, maar kom ons vergewe. My hart breek vir wat Apartheid aan mense soos jy gedoen het. Jy erken tog ons is/was nie almal so nie! Ja die rugbystadions is dikwels nog vol, maar net so is daar diegene wat by kunstefeeste en op ander terreine nuwe en wonderlike skeppende, en ek wil hoop versoenende, werk probeer doen. Hierdie is nie ’n geloofsbrief nie, maar tog wil ek hoop!

  • Thys Human (PTA)

    Ag shame! Die arme man is, as jy sy storie nou heeltemal moet glo, solied opgeneuk in die apartheidstyd en skaars het hy daarvan begin herstel of hy word solied opgeneuk deur die regeerders van die NSA – net al hy besef nog nie mooi dat dit aan die gebeur is nie en dat die "apartheid" eintlik baie beter was as die komende verswelging, oorspoeling, verengelsing en verswarting tot in ’n barre Afrika-ellende. 

    Dit geld natuurlik sowel vir hom – Bruin Afrikaanssprekende – as vir my – wit, Afrikaner, Apartheidsondersteuner en -agent!

    Sterkte,  Ons sal dit alles nodig hê.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top