Geloof alleen deur André Pretorius: ’n resensie

  • 0

Geloof alleen. Reise deur die kerkhervormings
André Pretorius

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316902

André Pretorius het ’n gawe publikasie die lig laat sien: ’n reisboek, deeglik in volkleur geïllustreer, in die belangrike Hervormingsjaar van die Protestante. In ’n sekere sin sluit dit aan by die reisbeskrywings van die vorige eeu in Afrikaans (Ernst van Heerden, Uys Krige, Elsa Joubert, André Brink). Die reise van André Pretorius saam met sy seun Danie, word soms in uitvoerige, selfs in triviale, detail geskets. Daar is egter oomblikke waar die tekening van natuur, landskap en die situasie juweeltjies oplewer. Mooi geskryf. Die oue en die nuwe word telkens bymekaar, direk en indirek, uitgebring: byvoorbeeld die moderne Autobahn in Duitsland waarlangs hulle van plek tot plek per motor gereis het, naas die verwysing dat Martin Luther indertyd van Wittenberg na Augsburg die pad te voet moes aflê: 550 kilometer in 12 dae (p 212).

Ek vind die boek in ’n gemaklike skryfstyl opgestel, maar ’n bietjie ongeordend sonder ’n werklik vaste loopgang – natuurlik as gevolg van sy natuurlike geselsstyl. Dit is in elk geval geen “doodsonde” nie: “le style est de l’homme même” (de Buffon). Dit indeks van die inhoudsopgawe is nietemin deeglik en goed georden. Verder lees dit gemaklik in ’n vloeiende vertel-idioom, soms selfs met humor (p19, “in fine”). Pretorius is klaarblyklik goed en deeglik belese, maar gee nooit pertinent sy eie eksegese oor die kwelvrae wat die kerk destyds beleef het nie. Juis dít waaroor dit in die Hervorming gegaan het. Aan die binnekant van die boekomslag het Joan Hambidge dit, bloot per aanbeveling, mis dat dit net ’n lekker boek vir “reisbesetenes” (soos sy self) is, of behoort te wees. Dit  handel hier ook sekerlik oor dié belangrikste geestelike gebeurtenis in die Westerse wêreld sedert die einde van die duisendjarige Donker Eeue (ong. 476-1492). Dit gaan hier intrinsiek oor uiters gewigtige godsdiensbesluite wat deur die hoofeksponente van die Hervorming (en Teen-hervorming) gemotiveer moes word en ook geneem is. Dit mis ek helaas – maar dit was waarskynlik nie die doel van die skrywer nie. Tog bly dit so belangrik vir ’n boek,  geskryf onder die Hervorming se slagspreuke “sola fides, sola scriptura, ad fontes”. Oor die debat oor die uitleg van die Drie-eenheidsleer (die “homo-oúsios” of “homoi-oúsios” van Jesus vis-á-vis God, die Vader) by die Konsilie van Nicea in die somer van 325 (wat die Protestante met die RK verskillend genuanseerd deel), asook die kwessie van die dubbele natuur (of te nie) van Jesus, kon hy gerus meer uitgespel het (p 208), asook die “praedestinatio” (predestinasieleer) van Johannes Calvyn (p 19, “et passim”). Deurgaans het ek dus die akademiese ondergrond gemis (wat, weer eens, waarskynlik nie Pretorius se doel was nie, maar tog wel só aktueel is). Hy kon byvoorbeeld ook by Calvyn verwys het na die eerste geleerde, heel profane, kommentaar oor Seneca se De Clementia wat hy in 1532 in ’n dakkamer in Parys opgestel het – iets wat later (in 1969) op die reusekommentaar van 448 bladsye sou uitgeloop  by AM Hugo (van Suid-Afrika) en Ford Lewis Battles (van die VSA).

Dit is nou vyf eeue gelede dat Martin Luther in dogmatiese opstand gekom het teen die destydse gebruike van die Rooms-Katolieke Kerk. Ek meen beslis nie dat “die rebellie dus begin het oor ’n haas onbenullige kwessie” soos Pretorius (p 33) wil beweer nie. Die aflaatstelsel wat die RK Kerk ingestel het (om geld vir bouwerk aan die Sint Petrus Kerk in Rome te bekom het deur sertifikate van algehele verlossing op te veil) en dit dan, soos Tzezel, aan indiwidue te verkoop, was beslis uit die bose. En dit het Luther, eertyds ’n vrome en nougesette kloosterling, in beginsel teen die bors gestuit. Deur geloof alleen kan die sondige mens gered word staan daar Romeine 1:17 (“ek písteôs eis pístin” in die oorspronklike Grieks: uit geloof tot geloof). Met ander woorde,  God sélf gee die mens ook die geloof om te kan glo.

Pretorius se aangawe van die datering van die Vulgaat as (die Bybel in Latyn, in 404 voltooi in opdrag van [die latere] pous Hormisdas) as “authentica” (p 65) is onjuis. Dié rampspoedige pouslike edik is eers bevestig in 1546 met die Vierde Sitting van Trente op 8 April van daardie jaar – as teenvoeter vir Desiderius Erasmus se publikasie van die eerste (oorspronklike) Griekse teks van die NT deur Johann Froben te Basil op 1 Maart 1516. Die hersiene teks van die Vulgaat in opdrag van pous Sixtus V in 1590, het pous Clemens VIII, twee jaar later, gedwing om te bevestig dat daar minstens 3 000 korreksies in Vulgaat aangebring moes gewees het.

Ek het persoonlik heerlik saam met André Pretorius die mis herhaaldelik bygewoon in die Kapel van King’s College op Cambridge – waar ek destyds vir vier jaar nagraads studeer het. Dit is  werklik ’n besondere belewenis, met liturgie en al, in ’n kapel waarvan die hoeksteen al in 1441 gelê is. Vir die asemrowende binnekant van hierdie Gotiese gebou, die oudste en beste van sy soort in Engeland, vergelyk William Wordsworth se “Ecclesiastical Sonnet XLIII”.

Pretorius se “Leeslys” (p 307, vervolgens) is darem gans te skraal vir die 500 jaar wat hy met sy reise wou dek. Selfs die mees basiese literatuur hier is geweldig omvangryk. En dit ontbreek. Oor die 95 Stellinge wat Martin Luther aan die deur van die Schlosskirche in Wittenberg op 31 Oktober 1517 vasgenael het, kon hy ons iets meer vertel het. Dit het die hart gevorm van die Reformasie wat sou kom. Dit is vandag nie alleen net in Latyn (p 25) te lees nie (ongeag of ’n dronk Duitser, volgens pous Leo X dit opgestel het wat weer anders sal dink as hy die dag nugter is (p 45).

Dat Pretorius die sing van kerkliedere by Luther se Reformasie uitgelig het, en die groot Johann Sebastian Bach bygehaal het, is van die uiterste belang. Luther het aanvanklik al die liedere (soos “Ein feste Burg ist unser Gott”) geskryf. Daarmee het hy ’n nuwe lewe van opwinding in die (feitlik) daaglikse kerklike meelewing en liturgie in gebring. Die ikonoklaste daar gelaat. Beelde is altyd mooi, maar moet net die aanbid word nie.

Helaas! Ek sou egter wat wou gegee het om hierdie uitgebreide pelgrimsreis saam met André en Danie te kon onderneem het. Hy doen verslag oor ’n sonderlinge ervaring wat alles so reëel die oog inval. In hierdie sin sal dit ’n blywende bydrae in Afrikaans bly. Hy was inderdaad bevoorreg. Vir Daniel, “die wêreld se beste Reisgenootjie”, sal hy nog eendag die dieperliggende van hierdie reis weer moet verduidelik (terwyl hý destyds besig was om boeke in te kleur). Hierdie debat, soos dit is, is  deurvleg met argumentasies en kontra-argumentasies. Die Katolieke (uit Grieks “katholikós”: een, algemene) Kerk is lank nie meer nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top