Geloof alleen deur André Pretorius: ’n lesersindruk

  • 1

Geloof alleen. Reise deur die kerkhervormings
André Pretorius

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316902

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

André Bartlett se lofrede oor André Pretorius se reisverhale Geloof alleen: Reise deur die Kerkhervormings in Beeld van 12 Februarie 2018 het my genoop om ook ’n stuiwer in die armbeurs te gooi.

Pretorius het reeds drie reisbundels die lig laat sien, nl Iets ver en nuut (Protea, 2010); Eilande en enklaves (Protea, 2012); en Italiaanse intermezzi (Naledi, 2016), wat goed ontvang is. Henry Cloete het byvoorbeeld oor Iets ver en nuut gewys op Pretorius se “oog vir die ongewone wat nie in enige toergids gevind sal word nie” en Stoffel Cilliers het geoordeel: “Bykomende pluspunte wat dit ’n bate vir enige boekrak maak, is die gedissiplineerde skryfwerk, asook die rype insigte wat so gemaklik deurgegee word”. Dit is handige riglyne oor waartoe Pretorius in staat is.

Hierdie werk is gereed gemaak om die Hervorming in reisverhaalvorm te herdenk, en het in 2017 saamgeval met die vyfhonderdjarige herdenking van Martin Luther se standpuntinname teen die Rooms Katolieke Kerk. Dit is inderdaad ’n pelgrimstog op die spore van die geskiedenis van die Hervorming.

En laat ek onmiddellik aandui: Hierdie is ’n kragtoer. Nie alleen was dit ’n skitterende idee om in die Hervormingjaar 500 op die spoor van Luther en andere soos Calvyn sy reise te boek te stel nie, maar die beplanning en besinning oor waarheen die skrywer wil reis, is briljant. Voeg daaraan toe dat Pretorius ’n meesleurende skryfstyl het en op kundige maar nie pedantiese wyse nie, sy reisverhale oordra.

Die verhaal begin by die skrywer se tweede besoek, nou vergesel van sy vierjarige seun, Daniel, aan die Katolieke klooster Notre-Dame de Scourmont, naby Chimay in België. Sy eerste besoek vyftien jaar tevore, waartydens hy Vader Charles Dumont ontmoet het en met hom gesprekke oor Katolisisme en Protestantisme gevoer het, was ’n vormgewende besoek vir die boek, “’n toevallige halte op ’n lewenslange, planlose reis deur die landskap van die Christelike heilsgeskiedenis, met sy bakens van die mens se soeke na die betekenis van ‘God’. Dit is ’n reis deur skoonheid ... en boosheid ...  met haltes van verrukking en verskrikking onderweg.  Dit is die reise van hierdie boek.”

Vervolgens plaas die skrywer met groot deernis sy Gereformeerde agtergrond in Marble Hall in Suid-Afrika teenoor sy ervaring in Chimay. En dan kom aan die beurt reise in Duitsland in die landskap van Martin Luther se opstand. Op oorspronklike wyse skryf hy oor Luther se ervarings in Wittenberg, Worms, Wartburg en Marburg; dan volg Noyon in Noord-Frankryk, waar Calvyn in 1510 gebore is, en Genève in Switserland, vanwaar Calvyn die Gereformeerde belydenis uitgedra het. Vervolgens die Franse dorp Colmar met Mathias Grünewald se Isenheim-altaarstuk wat die Lydensverhaal uitbeeld. Die verwoesting van die Dertigjarige Oorlog met sy uitwissing van kloosters, 1618-1648 kom daarna, met stukke oor Praag, Maagdenburg en Münster. ’n Hoofstuk wat die skrywer noem “herskepping in woord en lied” volg nou, wat handel oor die King James-Bybel wat in Cambridge, Engeland, die lig gesien het, en JS Bach wat in Leipzig die musiek van die Hervorming verbeeld. Daarop ’n hoofstuk oor die nuwe maniere van glo – die Belydenis van 1530, die Heidelbergse Kategismus, die Dordtse Leerreëls, die Katolieke Hervorming wat by Trento in Italië sy beslag kry. En dan in ’n volgende hoofstuk sy besoek aan ’n grot by Manresa, diep in die Katelaanse berge, wat ’n baken is op die pad van Ignatius van Loyola, stigter van die Genootskap van Jesus en – let op! – tydgenoot van Luther. Dan Goa in Indië, in 1510 deur die Portugese onder Albuquerque beset; vir 451 jaar was Goa een van die juwele van die Portugese Ryk in die Ooste en Portugese kolonialisme en sy gebedsvleuel, die Katolieke Kerk. Sy slothoofstuk noem hy “Uitsaaiings” – hoe die saad van die Hervorming op goeie grond geval het in Djakarta in Indonesië, In New England in die VSA, en dan Bentheim in Duitsland, waar die stamvader van die Suid-Afrikaanse Pretoriusfamilie vandaan kom.

Ek wil dat lesers met aanhalings uit die teks kennis neem van die wonder daarvan.

Bekyk die skrywer se deernis, waar hy tot die kern van medemenslikheid deurdring. By die graf van Vader Dumont: “’n  Verlepte ruiker staan voor die kruis waarop die wit sjabloonletters spel: ‘Père Charles Dumont  26-09-1918  25-12-2009’. ’n Kind gebore in die sterwensdae van een Wêreldoorlog wat in die middel ’n ander Wêreldoorlog – 1941 – na Scourmont gekom het as ’n novise en 68 jaar later, in ’n ander millennium ná ’n leeftyd van wyding en gebed en beurtsang, op ’n Kersdag hier gesterf het.”

Die skrywer wys op unieke manier op die stryd tussen Katolisisme en Protestantisme: “Vyf eeue voor my en die monnik se gesprek het die Christendom homself aan flarde geruk oor dogmatiese insigte en doktrinêre verskille. Die flarde het die benamings ‘Katoliek’ en ‘Protestant’ gekry …”

Willie Burger skryf êrens dat ’n reis ’n reisiger inlig, maar hom ook verander, sodat hy meer van homself te wete kom. Dit gebeur in ruime mate met André Pretorius. Hy ervaar: “Terwyl ons [hy en Vader Dumont in 2000] gepraat het, het die dinge wat ons skei gekwyn: die generasiegaping van 60 jaar het weggeval, vyf eeue se kerkverdeeldheid het in die kleine geheel. Toe hy die laaste keer gegroet het, het hy my lank in die oë gekyk en vir oulaas verwys na ons verskillende kerkverbande: ‘Onthou, dit wat ons saambind is baie meer as dit wat ons verdeel. Ons is een in Christus. Die res is mensgemaak’."

Dit ervaar Pretorius verder wanneer hy met ’n Suid-Afrikaanse meisie van Oostenryks-Duitse afkoms en ’n Rooms-Katolieke agtergrond trou, en wanneer hul seun, Daniel, in die Anglikaanse kapel van Queens’ College in Cambridge gedoop word met dieselfde dooprokkie waarin sy groot-oumagrootjie Hurter 120 jaar tevore in ’n Vrystaatse NG-kerk gedoop is, en die Katolieke priester wat hom gedoop het die einste Vader Alban was wat die altaar so liturgies nougeset opruim.

Dit het Pretorius laat besef: “Dus is dít waarheen my nuuskierigheid my gelei het: na die plekke van hierdie verskillende godsbegrippe en teologiese insigte se ontstaansgeskiedenis ... ek wou terug na die fisiese bronne, die plekke van die Kerkhervormings en hulle figure. Wat sou ek nou, ’n halwe millennium later, kon terugvind van die bakens en relieke en slagvelde van daardie Europese stuiptrekking van dogma? Ook hulle opponente, die vaandeldraers van dít waarteen hulle gerebelleer het:  wat voel en sien ’n mens ’n halwe millennium later in daardie verstommende bouwerk, St. Petrusbasiliek, wat pous Leo X Medici laat bou het met die inkomste uit sy aflaatbriewe? Wat is oor van daardie wêreld en sienswyse waarteen die Protestantse Hervormers in opstand gekom het? Wat van daardie noord-Italiaanse stadjie, Trento, waar pous Paulus III in 1543 ’n konsilie byeengeroep het om Katolieke teologie te herskryf in dekrete en dogmas wat steeds die fondament van die moderne Katolieke Kerk vorm? Die spanning tussen daardie uiteenlopende sienswyses – die oue en die nuwe, die Katolieke en die Protestantse – was nie alleen vernietigend nie, dit was ook skeppend. In die Europese suide het Trento en die Katolieke Hervorming die teelaarde geskep vir die Barok en die beeldemakery van ’n Caravaggio en ’n Bernini. In die noorde het die Protestantse Hervorming in osmose gegaan met Lucas Cranach en ’n komponis gebore in Eisenach, dieselfde Duitse dorpie waar Luther vroeër die Bybel in Duits vertaal het: Johann Sebastian Bach ... En wat, laastens, van die uitsaaiings van hierdie Europese revolusie in ander uithoeke van die planeet? Dít was die spore, die relieke, die dogmatiese eggo's, die erfenis in beeld en noot, die wrakke en wrokke, die wonings en grafte, die ravyne van daardie kloof tussen my en Vader Charles Dumont in die Belgiese bierklooster, wat ek wou gaan naloop.”

Op onderhoudende wyse bring hy met sy belesenheid die geskiedenis toeganklik nader vir die leser.

Die skrywer vorm ’n band tussen hom en Luther en die leser. Die leser is dáár waar dit alles gebeur het: “Die Schlosskirche was die opslagplek van keurvors Frederik se reliekversameling en die toneel van Luther se oorgelewerde rebelsdaad en sy graf, maar die Stadtkirche was waar hy gepreek het.  Overgesetsynde, by die Schlosskirche het Luther afgebreek, by die Stadtkirche het hy ’n nuwe kerk gebou op die murasie van die een wat hy amper onbedoeld afgetakel het.  In hierdie kerkgebou het hy die formuliere verander om die wynkelk aan Nagmaalgangers te bied (in die Katolieke Mis is alleen die brood aan die gemeente gegee uit vrees dat die wyn – die ware bloed van Christus – dalk sou mors).  Tussen hierdie mure is gesange die eerste keer gesing. In hierdie kerk het hy die preek ingestel as ’n element in die erediens (preke en gemeentesang was ’n rariteit in die Katolieke Mis).”

Die leser belééf dit: “In een vertrek van Luther se woning staan ek tussen oorspronklike kopieë van daardie geskrifte ... Hoe aangrypend om tussen hierdie dokumente te staan! Hulle lê hier as monument aan die mag van die pen in die era van daardie nuwerwetsheid, die drukpers.” En die skrywer vra: “Watter ander dokumente het ooit so ’n grondige verandering in wêrelduitkyk meegebring?” Ek, beoordelaar van die manuskrip, betrap my dat ek ’n antwoord gee, en lees verder sý antwoord: “Die Franse Revolusionêre se ‘Verklaring van die Regte van die Mens en van die Burger’ in 1789 miskien? Einstein se vier referate oor relatiwiteit en verwante onderwerpe in die Annalen der Physik in 1905?  Magna Carta in 1215?  Charles Darwin se On the Origin of Species in 1859?” Jammer, die beoordelaar het Einstein vergeet!

En verder: “Dan bring my drenteling deur die lewenskamers van Martin en Katie my uit by die allerheiligste: die studeerkamer van Luther met sy oorspronklike houtpanele teen die mure, sy lessenaar en die hoekige ‘boksbank’, amper soos ’n ouderwetse skoolbank, waar hy voor die venster kon sit en uitkyk op die binnehoftuin ... Daar was ’n konstante deurgang van besoekers, medewerkers en aanhangers deur hierdie woning in die laaste kwarteeu van Luther se lewe – name soos Melanchthon, Bucer en Bugenhagen, maar ook ongekendes wie se name vergete is, studente aan die universiteit wat sit aan die voete van die groot professor. Ná ete het hulle hierheen gekom en gepraat – teologie, politiek, oorlog en vrede, gemeentesake en filosofie, polemiek. Daardie ‘Tafelgesprekke’ is opgeteken deur ywerige toehoorders en uiteindelik gebundel en uitgegee om by te dra tot die epiese uitset van Luther se gemoed ... En ek staan waar daardie gesprekke afgespeel het. Hierdie kamer is meteens ’n intieme, persoonlike ruimte en ’n grootse openbare verhoog; hier het die Protestantse Hervorming afgespeel en hier het sy grootste protagonis sy lewe geslyt.”

Steeds volg ons hom op sy voet. In Julie 2016 staan hy in die Heylshof-tuin in Worms op die presiese plek waar Luther op 18 April 1521 in wat destyds die gehoorsaal van die biskoppaleis was, voor keiser Karel V verklaar het hy kan of wil nie sy standpunte oor die dwaling van die RKK terugtrek nie. Aangrypend skryf Pretorius: “Die hemel weet, of ’n mens met hom saamstem of nie, of ’n mens hom vier of hoon, dit is onmoontlik om nie te bewe voor die oortuiging (hoe aanvegbaar ook al) en die moed (hoe misplaas ook al) van Martin Luther op hierdie plek op 18 April 1521 nie! In die tydlose drama van die geskiedenis van die mensdom kon daar min oomblikke gewees het waarin die denke en woorde van één mens so seismies gebots het met die ganse fisiese en metafisiese werklikheid van sy era. Dit was ’n oomblik waarin die oortuiging, die moraliteit, die sielewroeging van een man uitgeroep het teen ’n ganse bestel, die geloof van die vadere, ’n manier van doen en glo – haas letterlik ’n kreet ten hemele. Hierdie skynbaar onmerkwaardige plek waar ek nou staan was vyf eeue gelede niks minder nie as die middelpunt van die heelal, die aambeeld van die geskiedenis: hier is die moderne wêreld gesmee uit die hamerslae van teenstrydige wêreld- en geloofsbeskouinge.” Die leser is saam met hom daar! En: “Hoe ironies dan dat die beroemdste woorde in Luther se toespraak voor die keiser waarskynlik nooit uit sy mond gekom het nie! Toe die kroniekskrywers Luther se konfrontasie met keiser Karel opgeteken het, het hulle bygevoeg dat hy sy antwoord aan die keiser afgesluit het met die woorde: ‘Hier staan ek, ek kan nie anders nie’... Maar geskiedskrywers is dit eens dat Luther waarskynlik nooit dié woorde geuiter het nie, net soos hy waarskynlik nooit sy 95 leerstellings teen die kerkdeur in Wittenberg vasgespyker het nie.”

Besonderse beskrywings wat jou aan die hart gryp, staan vol in die blom. ’n Voorbeeld: “Die tweelingtorings van Wittenberg se ‘ander’ kerk, die Stadtkirche, staan gryswit belig teen die gitswart naglug met die asimmetrie waarmee die geskiedenis hulle gelaat het; vanuit die regte hoek bekyk, is Luther se profiel nors afgeteken teen die verligte torings, asof in ewige, woordelose preek; vir ’n man wat so met woorde en idees kon toor, moet dit ’n erge bestraffing wees om so gesnoer te staan in brons.”

Daar is altyd die verrassende in sy werk, nie die gewone: Dis ’n Amerikaanse prediker wat die Engelse diens in die Schlosskirche in Wittenberg lei. “Die sfeer van hierdie diens is veel nader aan dié van ’n 21ste eeuse, Amerikaanse charismatiese diens as aan die aanbidding van Ou Europa.  Eers vind ek dit effe steurend, maar dan tref dit my as ’n vergestalting van die omvang van Luther se prestasie: die revolusie wat hy hier begin het, weerklink steeds in plekke waarvan hy nie eens geweet het nie, op maniere wat hy homself nie sou kon indink nie.”

Die leser betrap hom dat hy sy eie geloofslewe en standpunt ten opsigte van die Gereformeerde kerke en die Katolieke Kerk ondersoek. En dit is per slot van sake die kenmerk van ’n goeie reisbeskrywing, daardie selfondersoek van beide skrywer en leser.

Lucas Cranach, die Ouere “het ’n weergalose stel portrette [in die Wartburg-kasteel] nagelaat van die groot figure van die Kerkhervorming in Duitsland. Hier hang hulle dus, die figurante van Luther se lewe: Frederik die Wyse, met sy lewensmoeë uitdrukking, asof hy te veel gesien het.” En Luther se moeder, Margarethe: “Die uitdrukking op haar maer, dun gesig is stoer, stroef, asof sy ’n kind afgestaan het. Want sy hét: eers aan kerk en klooster, en daarna aan die Hervorming.”

Kyk sy beskrywing van die Gotiese boustyl: “Die kerk wat opgerig is oor haar graf is ’n toonbeeld van die Gotiek: die byna wiskundige eksaktheid van die proporsies wat neerslag vind in strakke, hemelrykende lyne; die aardse klipkleur van die suile wat die struktuur anker; die ligmosaïek van die loodglas in ontelbare fragmente. Soos in die musiek van Bach (al is laasgenoemde gebore uit die Barok), is die somtotaal van skoonheid veel groter, veel minder vaspenbaar, as die miriade van besonderheid waaruit dit saamgestel is. Daar is ’n aardsheid aan hierdie Gotiese boë, ’n verbondenheid met die bodem, asof die argitektuur organies gespruit het uit die bodem waarin dit staan.”

Sy beskrywing van ’n 14de eeuse beeld in die Elisabethkirche in Marburg: “’n Piëta in diep reliëf uit die 14e eeu. Die geverfde kalksteenfigure is eenvoudig en die gesigte geklee in pre-Renaissance strakheid, maar die geheel straal met die emosie van ’n vrou met haar gestorwe seun op haar skoot. Sy dra die wit-en-blou gewaad waarmee Katolieke ikonografie haar klee. Om haar gesig val die voue van haar sluier soos ’n oureool. Haar regterhand stut die rug van haar seun en haar linkerhand is verstrengel met sy doodse hande in sy skoot. Sý liggaam skyn reeds styf van rigor mortis en die bloed van sy wonde het drooggeword langs sy sy en bene. Sy kop hel oor na agter, asof onder die gewig van die doringkroon.”

Die reisverhaal is steeds innig menslik en vol humor: Op pad na Marburg, met ’n motorradio op ’n klassieke stasie: “Agter in die kar vermaak Daniel homself met sy iPad. Dan groei Bach se kantate tot ’n jubeling van trompette en die drie-jarige snip agter in die kar besig ’n ongereformeerde frase wat hy by sy Italiaanse oppasser gehoor het: ‘Rompi la palle, questo romore! – ‘Genugtig (of so iets, indien enigsins meer platvloers), wat ’n lawaai!’  Ek lag, Bach jubel voort en dan doem die buitelyne van Marburg op uit die mis.”

In sy “ontmoeting met Calvyn” bou hy behendig ’n geskiedenisbrug relevant vir die Afrikaner: “Toe daardie drie skepe Tafelbaai op ’n laatsomersdag in 1652 binnegevaar het, was dit nie met die teologie van Luther en sy erfgename in hul skeepsruime nie. Die Nederlande wat vier jaar tevore uit die puin van die Dertigjarige Oorlog verrys het was nie net die grootste handelsryk van die tyd nie, dit was ook ’n stoer Gereformeerde staat ... Die credo wat die Hollandse ryksbouers uitgedra het na die verre suide van Afrika en die argipels van die Verre Ooste, was dié wat gebeitel is in Zürich deur Huldrich Zwingli in die 1520s, geskaaf is in Genève deur Calvyn in die 1540s, en afgewerk is in die Nederlande toe die Dordtse Leerreëls in 1618/19 geformuleer is ... Calvyn, reeds amper ’n eeu lank dood en begrawe in Genève, was in die gees dus ’n passasier op Jan van Riebeeck se flottielje – miskien selfs die belangrikste passasier. Hy was dáár toe hulle aan wal gegaan het.”

Genoeg gesê. Dit is ’n merkwaardige en tydige werk wat my ontroer het.

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Dankie professor. Ek wil ook bitter graag hierdie boek lees. Godsdiens is altyd 'n interessante aanknopingspunt tot die verlede.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top