In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Vandeesweek se vertelling is maar net weer ’n illustrasie van hoe belangrik dit is dat ’n mens te alle tye ’n regsgeldige testament moet hê wat aan jou behoeftes voldoen. Dit wys ook hoe belangrik dit is om, indien jou behoeftes verander, betyds ’n kundige persoon na jou testament te laat kyk.
’n Sekere mnr en mev Webster van Natal (soos dit destyds nog bekendgestaan het) het in 1986 ’n gesamentlike testament opgestel waarvolgens die langslewende die enigste erfgenaam sou wees. Soos dit, jammer genoeg, te dikwels gebeur, het hulle huwelik nie uitgewerk nie en is hulle in 1992 geskei. Ongeveer ’n jaar later het mnr Webster sy prokureur opdrag gegee om vir hom ’n nuwe testament op te stel. Hy het vir sy prokureur ’n afskrif saamgeneem van die gesamentlike testament wat hy en mev Webster in gelukkiger dae opgestel het. Op daardie afskrif het mnr Webster alle verwysings na sy vorige vrou, asook die bepaling dat die langslewende van hulle die enigste erfgenaam sou wees, deurgehaal. Sy opdrag aan die prokureur was dat sy kinders in die nuwe testament sy enigste erfgename moes wees.
Mnr Webster het intussen verloof geraak, en toe sy prokureur aan hom ’n konsep nuwe testament gewys het, het hy hom versoek om ook dié konsep te wysig, sodat sy verloofde sy vaste eiendom sou erf. Drie dae na sy konsultasie met die prokureur is mnr Webster skielik oorlede.
Toe sit sy erfgename met die volgende dilemma: in die besit van sy prokureur was ’n afskrif van sy gesamentlike testament met sy vorige vrou, waarop onder meer alle verwysings na haar deurgehaal is. Ook in sy prokureur se besit was ’n nuwe testament wat mnr Webster wel onder oë gehad het en waarmee hy heeltemal tevrede was, behalwe dat hy wou hê dat sy vaste eiendom na sy verloofde moes gaan. Die nuwe testament is nie deur hom onderteken nie en dit is ook nie deur hom self nie, maar deur sy prokureur, opgestel.
Mnr Webster se ma het daarna die hof genader met ’n aansoek dat die hof moet verklaar dat die gesamentlike testament tussen mnr Webster en sy vorige vrou deur hom herroep is en dat die nuwe testament wat sy prokureur opgestel het, as sy laaste geldige testament aanvaar moet word, hoewel dit nie deur hom geteken is nie. Hierdie aansoek is moontlik gemaak nadat ingrypende wysigings aan die Wet op Testamente1 in 1992 aangebring is.
Die hof het die bepalings van die Wet, soos gewysig, ondersoek en op 10 Mei 1995 soos volg beslis:2 Mnr Webster se wysigings op die afskrif van sy gesamentlike testament kom neer op ’n handeling waaruit sy bedoeling om die oorspronklike testament te herroep, blyk. Die hof het dus nie enige moeite gehad om te bevind dat sý gedeelte van daardie gesamentlike testament herroep is nie.
Die hof was egter nie bereid om te bevind dat die ongetekende testament geldig is nie. Artikel 2(3) van die Wet op Testamente bepaal dat ’n testament wat nie aan al die formaliteite voldoen nie, deur die hof geldig verklaar kán word, maar die dokument moes darem ten minste deur die erflater self opgestel gewees het en die erflater moes bedoel het dat die dokument sy laaste testament moet wees. As mnr Webster byvoorbeeld kort voor sy dood in sy eie handskrif sy laaste wense uitgeskryf het, sou die hof dit bes moontlik as sy testament aanvaar het, al is dit nie geteken in die teenwoordigheid van getuies, soos wat die Wet op Testamente formeel vereis nie. Maar nou is die testament deur sy prokureur opgestel, en volgens die getuienis was dit in elk geval nog nie volledig nie, aangesien wysigings daarop aangebring moes word waarkragtens mnr Webster se verloofde sy vaste eiendom sou erf. Mnr Webster se ma se aansoek dat dáárdie dokument wat deur die prokureur opgestel is, aanvaar moes word as sy laaste wil en testament, is dus deur die hof geweier.
Mnr Webster het dus intestaat te sterwe gekom, dit wil sê sonder ’n testament, met die gevolg dat sy boedel volgens die reëls van die intestate erfreg beredder moes word. Hieraan is baie nadele verbonde. Hoewel sy minderjarige kinders ingevolge die intestate erfreg sy enigste erfgename was, moes hulle erfenisse inbetaal word in die Voogdyfonds van die Meester van die Hoërhof, wat dit in bewaring sou hou en aan die kinders sou uitbetaal as hulle die dag mondig word.
2 Webster v The Master and others 1996(1) SA 22 (D+CLD). Goedgekeur deur die Hoogste Hof van Appèl in Bekker v Naude en andere 2003 (5) SA 173 (SCA)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

