Geld kan nie als koop nie, verslag twee deur Eben Venter

  • 0

Soos ek in my vorige verslag gesê het, die skrywer het sy vinger op die pols van Korrektiewe Dienste, as mens enigsins so ’n ordentlike naam aan die gevangenis in die verhaal kan gee. Roux Steyn tree nou na vore as sentrale karakter tot die einde. Die wrang humor wat die verhaal kenmerk, sypel die allerlaaste sin binne. Dis egter die voorlaaste, menslike, alte menslike refleksie oor Roux Steyn wat my ontroer: “Roux Steyn se oë verdof. Die Here weet, na al die jare is die vier hoeke sy huis.”

Coetzee het struktuur aan die verhaal verleen deur dit in groot fragmente te verdeel – al is dit ook ’n verhaal wat in een asem vertel word – en dis beter so. Ek is ook bly Steyn het die slot herskrywe sonder die gewelddadige gegewens waarmee die leser reeds bekend is. Die karakter Malan se laaste woorde is ’n desperate, selfafranselende versugting.

Ek sou die laaste fragment nóg korter maak, en hier raak ek aan die probleem met die verhaal: Dis net te lank. Soos met die reeks Dahmer op Netflix voel ek as kyker/leser naderhand: Oukei, die punt is gemaak, maak asseblief klaar en gee ons blaaskans. Daar kan per sin en per paragraaf heelwat weggesny en afgeplat word om ontslae te raak van overwriting, sonder om afbreuk te doen aan die trant of inhoud van die verhaal.

Ek gaan ’n paar voorbeelde noem, en dit sal taalgebruik insluit, en daarmee volstaan. Dis ’n donker ondier van ’n verhaal dié, en so moet dit ook bly, en ek wil geensins dat my voorstelle van die donkerheid wegneem nie.

Bl 1: Spil koffie – stort koffie.

Bl 1: Dié tronkbende het gedurende die Tweede Wêreldoorlog ontstaan en spesialiseer in ontsnappings. Die hardebaarde dril die snotneusies om fiks te wees en leer hulle hoe om ’n meestersleutel uit ’n plastiekemmer te maak.

Bl 1: Moenie jou vuil pote in die kos hang nie. Ek wil nie stink tone en growwe hakke eet nie.  – Sny, dis toutologies.

Bl 1: kwetterende stemme – Ek sou dié en ander byvoeglike naamwoorde wegsny. Weer eens: Pasop vir overwriting.

Bl 2: Haar pantielyne wys. Wens hy kon sy vingers daarom haak, dit aftrek. – Laat die leser verder invul.

Bl 3: Haar longe skree vir nikotien – Clichéagtige sepietaal.

Bl 3: Hierdie inligting kan in blokvorm kom, en ingekort word:

Roux Steyn: 92156604.

Geloof: geen

Vonnis: TDV

1995: Verander tot lewenslank, met ’n handtekening.

... ens.

Bl 4: Jou weergawe:

Sy skud haar kop.

Sy loop altyd hier uit met die woorde wat sy wou sê afwagtend in haar mond, ’n bitter smaak op haar tong. Want die mans het name. Lewens. En elke keer proe sy die bittere magteloosheid agter in haar verhemelte. Want daar is eintlik niks wat sy vir hulle kan doen nie.

My voorstel:

Sy skud haar kop. Loop uit, áltyd, met wat sy wou sê. Die mans het name. Lewens. Daar's niks wat sy kan doen nie.

Ek skuif aan na bl 10: Swaeltjies swiep deur die lug. (Dis genoeg dié.) ’n Weerlig blits. Donder rommel.

Ek dink jy snap my bedoeling met die teks. Weer eens, dis jou keuse.

***

Skryf voort – hierdie is kragtige, hardcore realisme. Wat kom volgende?

Lees ook:

LitNet-slypskool Om te skryf: Die tweede weergawe van ons deelnemers se verhale

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top