
Om te skryf 11–12:
Bondige, onopgesmukte sinne en logiese ontplooiing maak moeilike onderwerpe meer toeganklik vir lesers, selfs al val die onderwerp buite hul vakgebied.
Om te skryf 5–30:
Karakters en gebeure vorm deel van die kern van die storie. Dinge soos die ruimte, simbole en beeldspraak kan ’n meer of minder belangrike rol speel, maar uiteindelik is dit die karakters en gebeure wat die storie maak of breek.
In die hersiene weergawe het ons al met ’n beter mate van karakterisering te doen en word die gebeure ook in so ’n mate aangebied dat daar meer begrip vir die uiteindelike grudaad van die hoofkarakter en sy makkers ontstaan.
Die kriptiese vertelstyl wat met kort sinne gepaard gaan, pas by die tema van die verhaal, tog kan belangrike inligting as gevolg van die tempo van die verhaal die leser ontglip.
Waar Gert Malan die voete wat van die boonste bed af hang, met die liniaal slaan, dan die liniaal in vet druk en brood smeer, spat daar eers vet in alle rigtings, wat verwarrend kan wees. Soos dit tans staan, lyk dit of die vet en die slaan van die voete iets met mekaar te doen het. Hier moet die skrywer na die chronologiese volgorde van die gebeure oplet.
Die voorval met die skêr in die berader se kantoor is nog ’n geval van waar handeling onduidelik is. Soos dit tans is, laat die skrywer na om aan te dui van waar hy die skêr beetkry. Aanvanklik het dit gelyk asof hy daarmee by die onderhoud aangekom het en in sy broeksak met die vals bodem daarmee speel.
Teen die einde van bladsy 2 vind daar ook perspektiefwisseling plaas wanneer die leser bewus word daarvan dat die berader haarself maan dat sy die vermiste skêr moet rapporteer. Hierdie handeling sou die leser deur die perspektiefverteller se oogpunt moes waarneem.
Dis ook ongeloofwaardig dat die berader nie eens ’n teken van agterdog teenoor die gevangene by haar, of twyfel, toon nie. Die leser sien dadelik hoe sy aanneem dat dit een van die skoonmakers moet wees wat die skêr verplaas het.
Taalgebruik is deurspek met anglisistiese uitdrukkings, wat in die geval van dialoog meer aanvaarbaar sou wees.
My voorstel vir die herskryf van die verhaal is dat die skrywer let op die chronologiese volgorde van gebeure en elke handeling opweeg:
Hoe geloofwaardig is dit?
Is die handeling van elke karakter duidelik en goed gemotiveerd?
Openbaar die woorde en gedrag van die karakters wie en wat hulle is?
Verder wens ek die skrywer voorspoed toe met die herskryf van die verhaal.
Lees ook:
LitNet-slypskool Om te skryf: Die tweede weergawe van ons deelnemers se verhale

