Geld kan nie als koop nie, verslag een deur Anzil Kulsen

  • 0

Om te skryf, 5-33:

Voor jy begin skryf, skep:

’n Lysie van jou karakters en opsomming van die storie se knoop.

’n Raamwerk vir die tonele waaruit die knoop sal ontwikkel. Dui kortliks aan wat jy met elke toneel wil bewerkstellig.

In die begin van hierdie verhaal, kry ons dadelik met ’n groep uiteenlopende karakters te doen. Die opset is ’n tronksel en die gevangenes het byname vir mekaar.

Dis egter juis in dié geval nodig om elkeen op so ’n wyse aan die leser voor te stel, sonder lang beskrywings, dat elkeen ’n indruk maak.

Die dialoog is ’n treffende wyse om die verhaal mee te begin. Die leser word dadelik meegevoer met mister Cool se idee om te ontsnap. Die leser wil saam met hom planne maak en sien of hy suksesvol gaan wees. Maar meer ook, weet hoekom hy en sy maats hulle in hierdie situasie bevind.

Die karakter Roux, wat die antagonis teenoor mister Cool as protagonis verteenwoordig, kan duideliker en eerder vroeër sy verskyning maak. Wanneer hy wel reageer, weet die leser niks van hom nie, maar het ons eerder al van Willemse, Fazel en mister Cool gelees.

Eers later kom die leser agter dat die verhaal in ’n groot mate deur Roux se perspektief vertel word. Die aanval op Babyface word geregverdig deurdat sy misdaad aan die leser duidelik oorgedra word en die leser kan uiteindelik die wraakoptrede van Roux en Willemse verstaan. Hoekom mister Cool egter gestuur word, met die afskuwelike inhoud in sy rugsak, is nie goed genoeg gemotiveer nie.

Die afwisseling van tonele, asook die verskillende tydsgrepe, werk baie goed in die verhaal: Waar Roux, wie se perspektief hier aan bod kom, met Rachel Swart in gesprek tree. Daarna, waar hulle al in die bed is en meer oor Willemse en sy vonnis aan die lig kom, die oefening die volgende dag; so ook die ander gebeure.

Paragrawe verder in die verhaal bevat grafiese inligting wat teen ’n vinnige tempo aangebied word, wat seker in die aard van die verhaal nodig mag wees, maar die skrywer kan gerus ag daarop slaan dat die gegewe op so ’n wyse aangebied moet word dat die leser homself kan plaas in die ruimte waarin die storie afspeel. Die sintuie van die leser word baie goed ingespan deur die beskrywing van die reuk van die toilette, die voorkoms van die gevangenes, “kerkbroers en paptrokke”.

Die tempo van die storie is vinnig, en tesame met die aantal karakters kan die skrywer net daarop let dat dit nie verwarring by die leser veroorsaak nie. Lesers wat nie bekend is met dié soort taalgebruik nie, kan belangrike inligting mis.

Vroeër in die verhaal word die “draadhanger as strikdas” gevolg met “hy’s in die stort opgehang”, wat ’n baie duidelike idee aan die leser gee van wat hier gebeur het, sonder om te veel te vertel.

Dan het ek ’n vraag oor die geloofwaardigheid van die handeling “Spoel die liggaamsdele in die toilette af.”

Hierdie gegewe is seker moontlik nadat dit “met dumbbells verbysel is”, maar die tempo waarteen dit aangebied word, laat dit baie maklik en vinnig voorkom. Asof hulle geen teenspoed beleef nie, behalwe een enkele sin, nadat hulle ook die klere probeer afspoel: “Die toilette oorspoel.”

Dalk kan die skrywer hierdie beskrywings heroorweeg en in so ’n mate aanbied dat dit meer geloofwaardig voorkom; dit kan dan ook bydra tot spanning. Roux kan tog vir ’n breukdeel van ’n sekonde in homself twyfel: Was dit die regte ding om te doen? Gaan dit nie in sy gesig opblaas dat hy self ook by die vuil werk betrokke geraak het nie?

Hoewel hierdie verhaal grafies en in ’n groot mate ontnugterende leesstof is, vind ek dit nodig dat hierdie stories wel geskryf word. 

Terug na die invalsblad van die LitNet-slypskool Om te skryf. >>
Lees ook:

Geld kan nie als koop nie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top