
“Ek gaan ontsnap,” sê Mister Cool. ’n Bankier, 38 jaar oud.
Hy is lid van die Air Force-bende, RAF4. Dié berugte tronkbende het gedurende die Tweede Wêreldoorlog ontstaan en spesialiseer in ontsnappings. Die hardebaarde dril die nat-agter-die-ore-snotneusies superfiks en skool hulle hoe om ’n meestersleutel uit ’n plastiekemmer te maak.
Roux Steyn sit sy beker op die bed neer. Stort koffie. Staan op. “Vra jy my of sê jy my?”
“Sê. Dis my werk.”
“Nottefok.” Kriek swaai sy bene vanaf die bunkbed. “Nie weer nie.”
“Nee, fok, Kriek,” sê Gert Malan. ’n Xhosa uit Steve Biko se wêreld. Sy ma het op sy geboortesertifikaat seker gemaak almal weet dat die baas gevat het wat nie aan hom behoort nie. Rastahare hang soos spinnekoppote oor sy gesig. “Moenie jou vuil pote in die kos hang nie.”
Hy slaan met die liniaal teen Kriek se voete. Daar waar iemand in skewe letters DOOD en MOEG getatoeëer het.
Vet spat sproete oor die beddens.
Hy druk die liniaal met sy gekerfde kepe in nog vet, smeer die brood. Skep met ’n uitgedrukte tandepastabuisie ’n knerts tuna in die middel. ’n Spatsel mayonnaise. Plak die broodjies toe.
Priester spring van die bed af. ’n Bybelkor-kursus val op die vloer. Binne-in ’n Playboy-tydskrif. Hy glip tussen die twee mans in. Arms soos ’n skeidsregter; een palm teen Mister Cool se bors, maar hy teken nie sy doodsvonnis deur aan Roux te raak nie.
“Nee, ’seblief, ouens.”
Roux stamp hom weg. “Daai draai-die-wang-kak werk nie hier nie.”
Sy vuis tref Mister Cool soos ’n Samil 100-vuurpyllanseerder teen die bors.
Radio’s swyg. Stemme doof uit. Mans staan op, loer oor beddens. Waag dit nie nader nie.
Malan tel die brood van die strykyster op, gooi dit in die roomysbak. Hou dit gereed. Ingeval Roux dit nodig het om Mister Cool te brandmerk.
“Die boere gaan ons skud. Waar gaan ek weer dagga kry?” vra Roux.
“Ag, komaan, jy’s die smokkelkoning. Maak jou prys.”
“Geld kan nie als koop nie.”
“Die tronk is gebou een lagie sement, een lagie smokkel, een lagie sement. Almal het ’n prys – maak joune.”
“Roux!” skree ’n bebaarde bewaarder deur die tralies. “Los die gevryery. Juffrou Swart soek jou.”
*
“Hoe voel jy?”
Juffrou Swart. Of J-LO soos die gevangenes hul shrink gedoop het. In haar dertigs. Hare die kleur van ’n weermaguniform. Dit lyk of die Stormkaap dit vanoggend gekam het. Sy staan met haar rug na Roux. Kyk by die vensters uit. Daar is niks om te sien nie buiten ’n muur en waterpype.
Hy hou haar gat dop. Die broek span styf. Haar pantielyne wys. Hy wens hy kon sy vingers daarom haak, dit aftrek.
“Roux, ek praat met jou.”
“Oor?”
Indian mynahs skree.
Sy swaai om. “Lukas. Raak dit jou nie? Jy’t sy lyk gekry.”
“Soms is dit ek wat hulle in die stort ophang. Hoekom dink jy pleeg die kindernaaiers so baie selfmoord?”
“Erken jy ...?”
“Ek erken fokkol.”
“As jy pis, staan jy?”
Wat de …? Die taal pas nie by haar stem nie.
“Antwoord my. Sit of staan jy en pis?”
“Staan.”
“En ek?”
“Sit. Obvious.”
“Behandel my dan soos ’n vrou. ’n Heer vloek nie voor ’n dame nie.”
Sy gee vir hom ’n stuk papier, visitekaartjiegrootte.
Hy kyk na die kaartjie. “Wat de fok is dit?”
“Roux! Jou taal. Asseblief. Maandag, Anger Management.”
“Maar ek’t dit al reeds drie keer gedoen.”
“Die sertifikaat word nie uitgereik vir bywoning nie, jy moet die inhoud toepas.”
“Ek’s ’n Steyn, ons is bedonderd gebore.”
“Jou pa ook?”
“Nee.” Woede stoot soos ’n vulkaan in hom op, maar hy hou sy stem sag. Toonloos. “Die dronkgat was ’n sissie. Hy’t nie eens die bliksem gemoer wat sy vrou afgevry het nie.”
Sy laat die vloekwoorde gaan. Vir nou. Dis die eerste keer dat hy oor sy ouers praat. “Is jy kwaad vir haar?”
“Hoekom? Dit was sy vrou, nie myne nie.”
“Sy’s jou ma.”
“Selfs hoere kan geboorte skenk. Sy’s fokkol van my.” Hy stap deur toe. Swaai om. “Ek vloek langer as wat jy rook, maar ek sal try.”
Trek die deur toe.
Sy begin om haar tafel te orden. Lêers volgens tronknommers. Verslae in die Klagte & Versoeke-boek. ’n Gedagte vir elke handeling.
Roux Steyn. Gert Malan.
Sy wens sy ken nie hul name nie. Maar nie net ken sy hul name nie, sy weet ook waarom hulle hier is – danksy die gevangeniskaarte wat elke gevangene moet vergesel. Elkeen se naam, misdaad en vonnis is daarop aangeteken.
Roux Steyn: 92156604.
Geloof: Geen
Vonnis: TDV
1995: Verander tot lewenslank.
Misdaad: Aanranding. Roof. Poging tot moord x3. Moord x2.
Opmerkings: Troublemaker.
Hy is moeilikheid. Daarvan is sy deeglik bewus. Almal weet waarom hy van die Leeuwkop Maksimum Gevangenis hierheen geskuif is. ’n Medegevangene is vermoor. Grusaam. Sy hart is uitgesny. Dis nooit gevind nie.
Sy wonder of hy dit geëet het.
Hoekom is Malan met hom bevriend?
Sy skud haar kop. Loop uit, áltyd, met wat sy wou sê. Die mans het name. Lewens. Daar's niks wat sy kan doen nie.
Roux is hard. Die ander gevangenes sê hulle vrees hom meer as die tokoloshe. Selfs die bewaarders verstil as hy ’n vertrek binnestap. Maar om hier te oorleef móét jy kliphard wees. Hoe het hy dit tydens een groepsessie gestel? In die tronk word almal die een of ander tyd gesteek – jy moet net besluit waarmee – ’n mes of ’n piel.
*
Roux pis. Skree: “Flush!”
Die toilet spoel. “Sorry, Roux.”
“Vreet minder kool.” Hy draai ’n kraan oop. “En drink meer water.”
Bo die een wasbak is ’n A4-blady met tandepasta vasgeplak. “Skottelgoed” is in blokletters geskryf. Die reël is dat niemand sy mond in die skottelgoedwasbak mag uitspoel nie. Nog minder half-body daarin was. Dít word in die “Bek & lyf”-wasbak gedoen.
Die water straal uit die skottelgoedkraan. Babyface was sy varkpan rustig. Dan begin hy om dié plastiekbak waarin spesiale diëte vir MIV-pasiënte opgeskep word, af te droog. Hy is nog so nuut sy nommer op die bord dop nog nie eers af nie. Hy gesels met iemand in die stort. Tokkie.
Roux draai albei krane toe. Droog sy hande met sy hemp af.
’n Kakkerlak glip agter die “Bek & lyf”-papier uit. Skarrel oor die muur. Babyface klap dit dood. Draai die kraan weer oop. “Ek was nog.”
“Jy mors water.”
“Die see is vol water.”
“Ek sweer jy’s die domste poes in die tronk. Draai daai fokken kraan net weer oop.”
“En dan?”
“Babyface, moenie kak waar ek moet skoonmaak nie. Los die man!” bulder Tokkie. “Roux, is ons okay?”
“No stress, brother.”
“En ons?” vra Mister Cool.
Hy hurk langs mans wat op ’n kartondoos skaak speel. Trek ’n reep toiletpapier van die rol af. Vleg dit. Steek die punt aan die brand. Tronk air freshener. Plak dit teen die toiletmuur. Die teëls is op die hoeke afgebreek en lankal in moordwapens omskep.
Net toe hy die laken voor die toilet wil toetrek, gryp Roux Steyn sy arm, sy greep ferm. “As jy uit dié sel ontsnap, beter jy nie terugkom nie.”
“Asseblief, my ma lê op sterwe.”
Van agter meteens ’n geraas.
“Hoeveel fokken goed wil jy nog was?” Malan storm op Babyface af. Vuiste gebal. Die twee getatoeëerde horings op sy voorkop steek amper deur Babyface se wange so naby gaan staan hy. Sy asem ruik na vis en twak. “Fokof nou weg van daai kraan, jou kindnaaier.”
“Sy’t daarvoor gesoek. Net so ’n jagse bitch soos haar ma. Flirty, flirty met daddy. ‘Lyk ek mooi in my rok, deddie?’ Toe wys ek haar. Kleinnaai.”
Die skaakspelers lag.
Roux gluur hulle aan. Hy het lank voor die tronk met sy ligte aan geslaap.
*
22h00 is dit ligte-uit. Maar eintlik brand tronkligte dag en nag, want die nagdiensbewaarders moet kan sien wat in die selle aangaan.
Sou hulle wou.
Hier en daar speel radio’s sag.
Roux Steyn slaap in die hoek, agter. Mes in die hand. Skoene gereed. Nie plakkies nie, want hy wil nie uit sy skoene hardloop nie. En hy moet kan skop en trap. Hy slaap nie onder ’n kombers of laken nie, want hy wil nie sukkel om op te spring as hy skielik oorval word nie. Dan vrek hy eerder van die koue.
Langs hom lê Malan, Kriek en Pumbaa. Al drie ook gewapen. Op die boonste bed is Priester se bed leeg. Dis die reëls. Newbies bo. Oumanne heel onder.
Oorkant hulle begin die Son-affers om lakens rondom hul beddens span. Die Son-oppers werk in die dag. Geld en bloed. Son-af werk as die ligte af is. Gee vir mans nommer onder die komberse.
Die sel ruik na dagga, poep, Vaseline en seks.
Malan raak aan Roux se voet. “Boss.”
Roux is dadelik wakker.
Trek die appelboks onder sy bed uit. Haal ’n koekie seep uit. Handdoek. Stap stort toe.
Voor die stort hang waslappe. Plekhouers. Hy skuif Tokkie s’n tot heel agter.
Priester sit op die vensterbank by die toilette. Sing een of ander kerkliedjie oor ’n thousand reasons. Blaas daggawalms by die venster uit.
“Hoe lyk dinge?” vra Roux. “Iemand al vir jou koffie gebring?”
“Stil.” Hy kyk op sy horlosie. “Nagskof is laat.”
“Wie?”
“Hagar.”
“Hy slaap in die kantoor. Jy oukei? Koud?”
“Ek’s oukei.”
“As jy koud kry, stort. Fok die lyn.”
Die stortkoppe is afgebreek. Strale spuit. Roux staan so dat die water op sy rugspiere val. Malan sing. Ek kan doen met ’n miljoen.
“Klink of jy gespyker is,” spot Roux. “Wat’s sy naam?”
“Iets beter. Ek gaan vir my ’n plaas koop en Durban poison plant. Pappa, ek gaan soos ’n zombie loop.”
“Ons gaan ’n bank moet roof vir daai plaas.”
Roux smeer ’n lemoensak vol seep. Skrop sy lyf. Nek. Arms. Bors. Bene. Skrop. Ruik steeds bloed. In hierdie fokken plek ruik als na bloed. Soms ruik hy dit as hy eet, stap, of probeer slaap. Dit bly in sy fokken neus.
“Dis nie geld nie, nè?”
“Geld?”
“Mister Cool se deal.”
“Iets beter.”
*
Middernag. Stemme.
“Seblief indota Tokkie,” pleit Babyface: “nie vanaand nie.”
Donderslae weergalm deur die stilte soos Tokkie hom klap.
“Jou ma se poes. Hou jou bek of ek maak jou vrek. In my bed. Nou!”
Babyface klouter af, kyk pleitend na Roux.
Roux staar boontoe. Die metaalraam van die bed bokant hom is toegemaak met karton. Hy het al die foto’s wat die vorige bandiete daar geplak het, afgeskeur. Al wat oorgebly het, is die tandepasta waarmee dit vasgeplak was. Dit en één foto. Sporty Spice.
“Boss,” roep Malan, “leen Sporty vir my.”
“Spyker jou matras, man,” tjirp Pumbaa in. Die meeste matrasse het gate in – instant pussy pudding.
Pumbaa scroll op Instagram. Net boude en tiete.
“Kom Pumbaa, help ’n man uit. Ek’s lank in die tronk,” kap Malan terug.
Pumbaa spring op. “Ek bliksem jou.”
“Ek bandiet vir die laaste sterkgevreet wat dit gesê het,” sê Malan.
Pumbaa sak terug op sy bed. Dis waar. Malan is verlede jaar gevonnis. Piet Vark het met hom kak gesoek en ’n draadhanger as strikdas gekry. Hy’s in die stort opgehang as vlag vir almal om te sien wat gebeur as jy met Gert Malan skoor soek.
“Ouens,” sê Roux: “kom ons val terug in salute.”
Hy streel sy vingers oor Sporty Spice se foto. Gaan hy eendag trou en kinders hê?
“Boss,” sê Malan, “dink jy nou aan Sporty of J-LO?”
“Fokof.”
“J-LO is gepak, nè?”
“Pakistan,” koor Kriek en Pumbaa.
Mister Cool plak homself ongenooid op die bed neer. Die tee wasem sy bril toe. “Hoeveel soek jy? Ek sal reël dat dit môre oorbetaal word.”
“Klop jy nie?” vra Malan. “Boss, moet ek hom afstof?”
“Raak ontslae van jou skouervlieg,” sê Mister Cool.
“Hy’s doof.”
“Ek gee nie om of hy doof, stom en blind is nie – ek like hom nie.”
“Ek’s bly, hy’s getroud. Vat vir my ’n rugsak uit.”
“’n Rugsak? Wat’s binne?”
“Maak nie saak nie. Vat dit uit en begrawe dit. Maak seker dat jy dit met klippe toepak, ek wil nie hoor jakkalse het dit oopgegrawe nie.”
“’n Rugsak? Al jou smokkelgeld? Sê nou ek hardloop daarmee dit weg …”
“Dan moet jy seker maak jou spore lei nie terug vierhoeke toe nie, want ek gaan hier wag.”
*
G3 se uuroefening vind om 09h00 plaas. Nooit stiptelik nie. Ook nie daagliks nie.
Die gevangenes skrum deur die gange na die onder. Fluit. Skop ’n bal. Babyface lei soos ’n hanslam voor.
Roux loop agter. Hy wil nie hê iemand moet ’n mes in sy rug druk nie.
Die bewaarders drentel agterna. Knuppels in die hand. Hul skoensole piep.
Die gangligte is dof. Goggas gons daarom soos ’n Jack Russell om ’n hittige teef. Kragdrade hang spinnerak uit die ligte, klim by vensters in.
“Dankie hek!” skree Babyface toe hulle die hek nader.
Twee rotte skreeu-baklei oor ’n appelstronk. Glip onder die traliedeur. Nael die binneplaas in. In die asblik langs die hek ritsel papiere. Nog ’n rot, gevolg deur ’n trio kleintjies, spring uit die asblik. Vlug in die binneplaas in.
’n Bewaarder druk mieliepap in sy mond voor hy in sy stoel teruglê en ’n bos sleutels uit sy sak trek. Sy pens hang onder sy hemp uit en die sleutels is met ’n laksmanslus aan sy belt vasgemaak. Hy kies een, strek en kreun. Sluit oop.
In die binneplaas sirkel Roux kloksgewys. Malan gaan staan agter die sokkerpale. Pumbaa en Kriek weerskante.
Roux bespied die binneplaas. Die bewaarders speel domino’s. Kerkbroers staan in ’n sirkel en bid. Teen dwelms, bendes, smokkelary en seks. Slippers en Rooikappie lê soos klipdassies in die son. Kaal bolyf. Gespierd.
Niemand het ekstra klere aan nie. Geen handdoek is om ’n nek gedraai nie.
Roux sien hoe Priester die binneplaas instorm. Hy loop altyd op sy tone, en wanneer hy hardloop lyk hy soos ’n struikelende kameelperd. Hy stop by die bewaarders. Roep: “Chief! Chief!”
Roux weet wat hy oordra. Hulle steek mes in die gym.
Die bewaarders storm uit die binneplaas. Sekondes later draai Priester ’n ketting om die deur, sluit dit met ’n slot.
Kriek en Pumbaa flank, een regs, een links. Malan loop na die toilette, die helfte van ’n skêr in die hand. Roux volg hom, die ander gedeelte van die skêr in sy hand. Hy het dit self in die stort geslyp. Sy armhare afgeskeer om seker te maak.
Pumbaa fluit. Kriek volg. Dan Malan.
Dan val als in plek. Militêr presies uitgewerk.
’n Rugsak slinger oor die muur. Twee gevangenes maak dit leeg, verdeel die dagga onder dié wat daarvoor gewag het. Gee die rugsak vir Priester.
Gevangenes onder leiding van Pumbaa storm op medegevangenes af. Roof hul selfone. Steek dié wat weerstand bied. Gooi die buit in ’n catch, hys dit na bo.
Kriek koördineer die dagga. Maak seker dat dit in elf verdeel word, ’n arm vir elke seksie.
Die sokkerbal rol doelloos.
Mense vlug na die deur. Die kerkbroers en die paptrokke heel voor. Hulle ruk en pluk aan die deur. Skreeu. “Chief!”
Die gewoontemisdadigers, die bloubaadjies, staan met hul rûe teen die muur. Druk dagga in hul gatte op.
*
Die toilette ruik na dagga, pis en ’n nat asbakkie. Snoop Doggy Dog blêr uit ’n selfoon.
Die sirkel sien vir Roux, die skêr. Vlug.
In die middel van die sirkel sit Babyface op sy knieë. Besig om ’n gevangene af te suig. Die gevangene hardloop na buite, broek om die enkels.
Babyface se oë vergroot. “Roux, ‘seblief.”
Die skêr glim in die lug. Deurboor sy nek.
“Sy’t geflirt nè?” skree Roux. “Op ses? Fok jou, jou poes.”
Kap die skêr weer en weerweerwéér.
Hy begin Babyface se nek afsny. Met kaphoue. Ruk en pluk die nekwerwel. Druk die skêr in. Probeer die werwels losbreek. Sny deur die senuwee.
Malan gooi die kop in ’n inkopiesak, knoop dit toe. Gooi dit in die rugsak. Rits dit toe. Gee dit vir Priester.
Roux en Malan begin die liggaam opsny.
Kriek en Pumbaa sluit aan. Spoel die liggaamsdele in die toilette af.
Slippers en Rooikappie verbrysel die bene met dumbbells.
Bewaarders donder teen die staaldeur.
Die fluitjie skril.
Roux se arms raak moeg. Hy sny stadiger. “Fok!”
Die toiletbakke neem ’n ewigheid om te vul.
“As die boere die deur oopbreek,” skree Roux uitasem, “dan los julle my alleen.”
Die alarm skree.
Uiteindelik. Alles afgespoel.
Die vierman druk hul klere in die toilette om dit te verstop. Spoel. Aaneen.
Die toilette oorspoel.
Almal duik onder die stort. Skrop. Trek vars aan. Nat klere word by die vensters uitgehang.
Slippers en Rooikappie mop die vloer. Daarna gooi hulle twee dromme ontsmettingsmiddels oor die vloer.
Met al die bewyse weg, is Babyface deel van die ontsnappingstatistieke.
“Ouens, staan sterk,” sê Roux. “Die boere gaan ons nou stukkend bliksem. Salute.”
*
Die gevangenes lê op die sokkerveld. Kaal. Bewaarders trap op hulle. Identifiseer die ringkoppe. Gevangenes wat waag om hul koppe te lig, of te praat, word gebliksem.
“Boss,” fluister Malan, “as jy ontsnap, wat gaan jy eerste doen?”
Swaeltjies swiep deur die lug.
Roux Steyn se oë verdof. Die Here weet, na al die jare is die vierhoeke sy huis. “Wat gaan jy doen as jy ontsnap?”
“As ek my dik gat oor daardie muur kry,” lag Malan, “soek ek ’n Nobelprys. Pronto. Daarna eet ek McDonald’s leeg.”


Kommentaar
Sjoe!