deur mikroskyfies resoneer anorganiese engramme
waarin ontelbare nulle en ene in onbenullige sekwensies,
totaal konsekwensieloos, sonder emosionele geheue,
eindeloos in elektriese impulsiwiteit, blik en bloos.
onvrugbare magneetvelde versmelt uiteindelik
in gestolde vloeibare kristalle wat kortsluitend
in liglose tonnels versplinter.
die stank van trojaanse perde
geïnfekteer met gekodeerde virusse,
die klank van oudiovisuele spoeg-rymende segmente,
hang oop en bloot aan die wêreld
se wilde wye web.
'n reuse-fitobesoar
uit moeder aarde se bloeiende agterent,
pols deur die ruimte ...

