"Geen truuks, net treats!"

  • 2

Izak de Vries praat met Louwrens Potgieter oor CNA se promosie met die interessante naam “Geen truuks, net treats!”. Gedurende hierdie tydperk kry klante 20%-korting indien hulle drie of meer Afrikaanse boeke koop.

Louwrens, hierdie ding klink soos Halloween, wat redelik Amerikaans is. Hoe het julle slimkoppe op dié idee afgekom vir 'n Afrikaanse promosie?

Halloween in sy huidige vorm is 'n Amerikaanse tradisie wat in die afgelope paar jaar na die res van die wêreld versprei het. In Suid-Afrika blyk die viering van hierdie dag elke jaar groter te word en by CNA groei die verkope van Halloween-verwante produkte – plastiekpampoene, heksehoede, speel-spinnedrade en dies meer, elke jaar met rasse skrede.

Vir die CNA boeke-afdeling, en meer spesifiek die Afrikaanse boeke-afdeling, is dit 'n goeie verskoning om ons lojale Afrikaanse klante behoorlik te trakteer om dankie te sê vir al die jare, en veral die afgelope ses maande, se fantastiese ondersteuning.


Louwrens Potgieter (Foto: Naomi Bruwer)

Jy het 'n lang en indrukwekkende loopbaan in die boekbedryf. Vertel 'n bietjie meer?

Nee wat – ek sou darem nie sê lank en indrukwekkend nie – dit kan eerder van al my wonderlike mentors in die bedryf gesê word. My loopbaan het in die jaar 2000 by Exclusive Books in Bloemfontein begin, en ek het vir 'n hele klomp verskillende takke gewerk oor die jare heen. Dis waar van die heel beste boekverkopers in die bedryf hulle kennis met my gedeel het – mense soos Linda Nell, Louret Bell en Marlize de Jongh kom by my op. Ek het ook kort rukkies vir Juta Boekwinkel in die Kaap en Fascination Books in Johannesburg gewerk. Aan die uitgewerskant het ek as verteenwoordiger vir Jacana Media en toe NB Uitgewers gewerk voordat ek LAPA se verkoopsbestuurder was vir so twee jaar. Daar het ek 'n magdom dinge geleer by legendes soos Cecilia Britz en Miemie du Plessis. Voordat ek so drie jaar gelede vir Edcon kom werk het, het ek twee jaar by Exclusive Books se hoofkantoor as Olinka Nel se regterhand in die produk-afdeling gewerk. Daar was ek die skakel tussen almal – hoofkantoor, winkels, klante, uitgewers, die media, Nielsens, ensovoorts – en my hoofdoel was om boeke- en ander relevante inligting tussen al die partye te fasiliteer. Een ding wat ek geleer het wat bo alles uitstaan, is dat sonder die liewe leser boeke slegs deurstoppe is. Alles wat ons in hierdie klein bedryf doen, is op ons lesers gemik – hulle is 'n kritieke deel van ons boekfamilie.

Wat is jou titel by CNA?

Ek is een van die vier spesialis-boekaankopers, en ek koop die meeste van die Afrikaanse boeke (behalwe Bybels, motorlisensieboeke, studiegidse en veldgidse) en ook Engelse fiksie aan vir ons sowat 195 winkels regoor die land.

Julle doen deesdae heelwat vir Afrikaanse boeke. Ons by die uitgewers – alle uitgewers – sien dit raak.

In April hierdie is daar 'n herstrukturering in CNA gedoen in die boeke-afdeling. Daar is nou 'n toegewyde, ervare span wat spesifiek na Afrikaanse boeke omsien, en 'n ruim begroting is daargestel om te verseker dat daar 'n groter en beter verskeidenheid Afrikaanse boeke aangekoop kan word vir die CNA-winkels landwyd. Veral kinderboeke is onmiddellik met rasse skrede vermeerder. Ons klante het dit opgemerk, wys ons verkoopsyfers van die afgelope paar maande – vanaf Junie het die syfers begin klim, en van Augustus af het die jaar-op-jaar-groei die hoogtes begin inskiet.


Izak de Vries (Foto: Flickr)

Goed, kom ons praat gou oor die promosie. Verduidelik?

Dis tyd vir CNA om dankie te sê. Gedurende hierdie jaar se Halloween promosie, wat van 24 Oktober tot 3 November in al die CNA-winkels landwyd plaasvind, kry ons klante 'n enorme 20%-korting wanneer hulle enige drie of meer Afrikaanse boeke koop. Dankie, liewe lesers en kopers van Afrikaanse boeke – ons waardeer dit en ons stap baie graag die pad verder saam met julle.

Jy noem nou kinderboeke hier bo. Dink jy ma's koop opsetlik meer noudat julle boeke naas speelgoed aanbied?

Absoluut! Ons ervaring is dat Afrikaanse ouers eerder vir hul kinders boeke koop as vir hulself, as hulle moet kies. Hulle sien dit as 'n belegging in hulle kinders se opvoeding en ontwikkeling. Die Priddy-reeks opvoedkundige boeke verkoop byvoorbeeld baie goed. Daar is ook die nostalgie-element wat 'n rol speel, blyk dit – Leon Rousseau se Storieman-stories, wat onlangs deur Human & Rousseau in omnibusse heruitgegee is (daar is vyf sover), is hoog op ons lys van die beste kinderboekeverkope vir die afgelope ses maande. Klassieke stories (enkelverhale en versamelings) vaar steeds baie goed – die stories waarmee ons grootgeword het. Dit lyk vir ons of ouers nog vir hulle kinders lees voor slaaptyd, wat baie verblydend is. Bababoekies en boeke vir kleuters en peuters vlieg ook, en ons kan skaars byhou met ons herbestellings. Boeke vir ouer kinders, tieners en jong volwassenes verkoop effe stadiger – ek dink kinders begin op 'n stadium van hulle grootwordjare minder Afrikaanse boeke en meer van die populêre Engelse boeke soos Stephanie Meyer se Twilight-reeks lees. Nietemin vaar skrywers soos Jaco Jacobs, Derrick van der Walt, Carina Diedericks-Hugo en Fanie Viljoen se boeke goed – hierdie skrywers (en ander) het geweldig baie al gedoen om die lees van Afrikaanse boeke cool te maak vir ons jeug.

Afrikaanse boeke doen goed. EK het die afgelope tyd die Nielsen-statistiek dopgehou. Boeke wat uitstaan, is Chanette Paul se Siende blind (LAPA), Mariel le Roux se Klara (Tafelberg), Pat Stamatélos se Pastoor (Tafelberg), Sophia Kapp se Driehoek (LAPA) en Annelie Botes se Swart op wit (Naledi). Hierdie tekste het gereeld die top 10 gehaal die afgelope tyd – teen internasionale mededingers. Jy sê in CNA doen Afrikaans ook goed?

Dit is so, Izak – Afrikaanse fiksie is 'n baie groot kategorie vir ons, amper net so groot soos Afrikaanse niefiksie en groter as kinderboeke. Mense wil steeds (al hoe meer, lyk dit) ontsnap van die harde realiteit met lekker leesvermaak. Al hierdie boeke wat jy vermeld het, is of was ook in ons top 10. Ek dink Kristel Loots se Ander vrou (LAPA) en Leon van Nierop se Snydokter (LAPA) verdien ook vermelding – hierdie twee titels was ook groot gunstelinge onder ons lesers.

Die boeke wat ek hier bo genoem het, is alles lekkerleesboeke met uitstekende stories. Daardie ou idee van “middelmootliteratuur” is besig om te verdwyn, lyk dit my. Sien julle ook dat goeie fiksie, sonder pretensie, by julle werk?

Beslis – daar is duidelik 'n ontploffing in die verskeidenheid genres, subgenres en titels in Afrikaanse fiksie – die dae van slegs hogere literatuur aan die een kant en liefdesverhale aan die ander kant is verby. Deesdae is daar regtig 'n boek vir elke smaak en nuk – van wetenskapfiksie tot romantiese fiksie (nie te verwarre met romanses nie) tot misdaadfiksie (met sy verskeie subgenres) tot inspirasiefiksie, en vele meer. Ons vaar eintlik veel beter met hierdie tipe boeke as met die meer literêre werke. Dis 'n baie opwindende tyd vir Afrikaanse fiksie en dis heerlik om te sien hoe die lys goeie skrywers en die verskeidenheid en hoeveelheid titels gul groei. Vergeleke met Engelse fiksie is daar nog soveel meer ruimte vir groei, en ek dink ons gaan verdere eksponensiële groei sien in die volgende paar jaar.

Die misdaadgenre ontplof net. Deon Meyer is die vlagdraer, maar name soos Karin Brynard, Chanette Paul, Isa Konrad, Peet Venter, Irma Venter, Ilza Roggeband, Leon van Nierop en Francois Bloemhof word al hoe groter. Hoe ervaar julle dit?

Ons ervaring is presies dieselfde. Karin Brynard het haarself met haar twee boeke sover stewig gevestig as 'n puik skrywer in die bloeiende misdaadgenre, en ek dink ons kan haar die misdaadkoningin noem. Chanette Paul, Leon van Nierop en Francois Bloemhof word net al hoe beter, en Peet Venter, Irma Venter en Ilza Roggeband is opkomende skrywers om dop te hou. Al hierdie skrywers se jongste boeke het ook by CNA baie goeie verkope getoon. Ons sien geweldig uit na ons misdaadkoning, Deon Meyer, se nuwe boek, Kobra, wat in die tweede helfte van November vanjaar op ons rakke sal wees.

Ek hoop LitNet se lesers sal die CNA ondersteun. 'n Aantal jaar gelede was dit makliker om aarbeigeurkondome by CNA te kry as om 'n Afrikaanse boek daar te koop. Dit het geweldig verander die afgelope ruk. Is jy een van die dryfvere?

Hahaha, laat jy my lag, Izak! Deesdae kan jy darem Leon van Nierop se Plesierengel (Tafelberg), of Karin Eloff en Peter van Noord se Skarlakenkoors (Tafelberg), of Elle Roux se Speels (Naledi – in November beskikbaar) by CNA kry. Dis die samevloeiing van 'n hele klompie faktore wat die beweging in die regte rigting teweeggebring het. Dis die slim en ervare handelaar Edcon, met die wonderlike 118 jaar oue handelsmerk CNA, wat groei en potensiaal in 'n andersins redelik kommerwekkende boekemark raakgesien het. Ek is 'n skaamtelose liefhebber en beuelblaser van die Afrikaanse taal en kultuur en boeke, so hulle kon my nie mis nie. Dis vir my 'n persoonlike droom wat besig is om bewaarheid te word – om al meer Afrikaanse boeke op CNA se rakke te kan sit, en te sien hoe die Projek Afrikaans besig is om uitstekende resultate te begin toon. Maar die pad is nog lank en daar is nog geweldig baie werk om te doen – ek wens net dit kon vinniger gebeur! (Hoe meer boeke ons klante koop, hoe vinniger kan ons verder uitbrei.)

Met 20% af op Afrikaanse boeke, hoop ek die Kerskouse gaan kreun met Afrikaanse boeke uit CNA!

Ek hoop ook so, Izak, dankie!

 

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top