Geen mindere plek vir Afrikaans: Oorwegings vir die toekoms van Afrikaans in Suid-Afrika

  • 1

Ek skryf hierdie gespreksdokument teen die noordelike hange van Paarlberg. As ek my oë toemaak, my verbeelding laat uitskiet deur die berg, sien ek die Afrikaanse Taalmonument aan die suidelike hange van Paarlberg – vingerwysend na bo. As ek suidoos kyk, so ’n bietjie afwaarts na die middel van Paarl, sien ek die Afrikaanse Taalmuseum, wat in 1975 gevestig is in die historiese huis van Gideon Malherbe. Dit is die gebou waarin die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875 gestig is. Reg oos van my kan ek in my geestesoog die Hugenote Gedenkskool in Drakenstein sien. Die ideaal vir die vestiging van die Gedenkschool der Hugenoten het op 1 Februarie 1882 ontstaan nadat die GRA onder leiding van ds SJ du Toit “waardering” geskep het vir die rol wat moedertaalonderrig in opvoeding moet speel. Die 200-jarige herdenking van die aankoms van die Franse Hugenote in 1688 is gebruik om ’n skool as lewende monument op te rig.

Afrikaans het eers 50 jaar na die stigting van die GRA amptelike status in Suid-Afrika gekry. Dit is ’n taal wat, soos die “wit” Afrikaner, ’n hibriede oorsprong het – bevrug deur kulturele pluimsade uit Afrika, uit die weste, noorde en ooste. Alhoewel dit diep wortelgeskiet en gegroei het in Suid-Afrika, is dit nogtans tot in die 1920’s amptelik, deur die kerk, en ook nie-amptelik minderwaardig geag (“'n taal wat door Indiese en Mosambiekse kindermeiden verbasterd en ontaard is”).1 Dit is ’n taal wat ten spyte van ’n aanvanklike neerkyk vanuit die “hoë oë” van “Afrikander-Dutch” snobs, en amptelike beleid, spontaan deur al die bevooroordeling gebreek het om vanaf die 1920’s ’n reusebydrae te lewer tot die selfrespek en sosio-ekonomiese ontwikkeling van “wit” Afrikaners. En dit kan in die toekoms steeds hierdie rol vervul, maar dan om die hele Afrikaansgemeenskap op te hef – tensy dit in ’n “mindere plek” geplaas word. En ongelukkig is dit presies wat gebeur het met die US Raad se aanvaarding van ’n plastiekagtige taalbeleid op 22 Junie 2016. Daarmee is die ontwikkeling van Suid-Afrika se breër Afrikaansgemeenskap – amper een derde van die bevolking – in trurat gegooi. Dit is die dag waarop ’n potensieel skeppende, en diverse, kultuur – ’n krag vir ontwikkeling – met minagting die deur gewys is.

Ons uitdaging: ’n derde taalbeweging

Die eerste Afrikaanse taalbeweging het afgeskop met die stigting van die GRA. Die tweede taalbeweging het begin net na die Anglo-Boereoorlog om Afrikaner-selfrespek te ontwikkel, en dit was ’n groot sukses. Maar die sukses van Afrikaans vanaf die 1920’s het ook ’n fout geproduseer. En hierdie fout was die uiteindelike eksklusiewe toe-eiening van Afrikaans vir en binne die wit Afrikaner-volksbeweging. Soos wat Engelssprekende Suid-Afrika oor hulle neus afgekyk het na die “Dutch”, het die Afrikanervolk se “effendi’s” in ’n proses van “volksuiwering” begin afkyk na die “Afrikaanse gepeupel” buite die volk. In ’n blog op LitNet (http://blogs.litnet.co.za/katrina/2012/08/16/is-jy-n-snob) van 16 Augustus 2012 skryf “katrina” onder andere:

Skielik tref dit my: die realiteite waarin ons leef is eintlik gefragmenteerd, bestaan uit tientalle sub-gemeenskappies. Ons noem onsself Afrikaanses. Of Afrikane, Afrikaners. Ons praat dieselfde taal, maar ons lewe nie dieselfde lewens nie. Parallel soms, maar selde in lyn. Ons skuur nie skouers nie. Litnet se nuusbrief herinner my effens aan Top Billing – dit wat verbeeld word is hoog, verhewe. ’n Realiteit wat net vir ’n klein groepie uitgeleses beskore is. Die literêre werke, die akademici, die gesprekke wat nie regtig vir elke Jan Rap en sy stadige, gewone maat bedoel is nie. Ons, die praters, die bloggers, die lesers, is amper soos die gepeupel van ouds wat grootoog-bewonderend vanaf ’n afstand kyk hoe koninklikes in hulle paleise feesvier … Die skrywers, die digters (gepubliseerdes, let wel) is in ’n ander kategorie. Hulle klink glasies by gesellighede, hulle praat met gesag oor die nuutste publikasies, raak filosofies oor Ons Taal, ons letterkunde.

Afrikaans het ’n derde taalbeweging nodig. Hierdie beweging moet die fout van die tweede beweging regstel deur die uiteenlopendheid van die Afrikaanse taalgemeenskap te erken, te omarm, en daardeur ’n kulturele platform te skep vir die ontwikkeling van ongeveer 16 miljoen Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika en Namibië. En daarna, om vanuit dit wat geleer is oor taal- en kulturele bemagtiging, ook uit te reik na ander taalgemeenskappe in Suid-Afrika. Dit kan onderlinge begrip en empatie in die hele Suid-Afrikaanse samelewing bevorder – iets wat dringend nodig is om ’n beter toekoms te skep vir al Suid-Afrika se mense.

Om Afrikaans te ontwikkel is om die Afrikaansgemeenskap te ontwikkeling

Die sisteemdenker RL Ackoff beskou ontwikkeling as iets wat vanuit mense en deur samewerking tussen mense ontstaan. Hy kontrasteer groei, wat hy omskryf as ’n proses van toename van dieselfde goed (sê maar geld, aantal publikasies of die status van ’n universiteit), met ontwikkeling, wat ’n proses van potensiaalverhoging is: spesifiek die verhoging van die begeerte en vermoë van mense om vir hulleself te sorg asook vir andere in hulle gemeenskap.

’n Begeerte om ’n goeie balans tussen selfsorg en gemeenskapsorg te handhaaf is dié uitstaande karaktertrek van alle sterk ontwikkelingsgerigte gemeenskappe. Dit is ’n uitsonderlike karaktertrek wat ’n sterk etos van diens en selfrespek openbaar: uitsonderlik in vandag se selfsentriese, kommersialistiese wêreld – soos wat dit ook teenwoordig is in die Universiteit Stellenbosch se skynbare missie van selfverheerliking.2 ’n Etos van diens en selfrespek is ’n kulturele eienskap van sulke gemeenskappe.

Wat word bedoel met “kultuur”? Kultuur is ’n interaktiewe gedragvormingsisteem waarin ’n gemeenskap se doelstellings, kennis, ervarings, beelde, mites, waardes, houdings en betekenisse in een gemeenskaplike “geheue” vasgelê is. Dit bestuur die gedrag en optredes van lede van ’n gemeenskap onder alle omstandighede en is iets wat mettertyd in ’n gemeenskap ontstaan. ’n Kulturele ontwikkelingsproses omvat ’n hele spektrum van aktiwiteite in die tegnologie, in die kunste, in sport en ontspanning, in geloofspraktyk en in tradisionele seremonies. Kulturele ontwikkeling is ’n proses van karakterbou, en in hierdie proses speel moedertaal ’n sentrale rol.

Vermoënsverhoging is ’n leerproses, en om dit doeltreffend en volhoubaar te maak moet die leerproses by die kultuur van ’n gemeenskap aansluit.3 Daar is drie vlakke van leerprosesse: ’n eerste-orde-leerproses, wat gaan oor die verdieping van kennis; ’n tweede-orde-leerproses, wat gaan oor die verbreding van kennis (dit wil sê, om buite die perke van bestaande kennis te beweeg en die veronderstellings waarop dit gebou is te toets); en ’n derde-orde-leerproses, wat betrekking het op die ontwikkeling van ’n gemeenskapkultuur – ook genoem enkulturering – soos hier bo verduidelik. Die tweede- en derde-orde-leerprosesse is kultuurgedrewe, en is bepalend vir gemeenskapsontwikkeling. ’n Taal is daarom veel meer as net ’n kodesisteem vir kommunikasie. Werklike verstaan van woorde en sinne wat geskryf en gepraat word kom eers met ’n belewenis van die kultuur.4 Aangesien die Afrikaansgemeenskap – soos hier bo aangedui – kultureel uiteenlopend is, behoort hierdie noue band tussen kultuur en taal altyd in gedagte gehou te word.

Wat dit alles sê, is dat moedertaalonderrig die kern is van gemeenskapsontwikkeling. Daarom is ’n oproep tot moedertaalonderrig nie net ’n hartewens nie – of gebaseer op ons mense regte nie – maar ook ’n besonder praktiese wens om op te tree sodat gemeenskappe kan ontwikkel.

Die volgende twee punte oor Suid-Afrika se groot ontwikkelingsuitdaging sal die belang hiervan beklemtoon:

1. Die stand en toestand van sake in Suid-Afrika het oor die afgelope 35 jaar grondiglik verander – veranderings wat veel verder strek as die politieke veranderings sedert 1994. Sedert 1980 het die Suid-Afrikaanse bevolking verdubbel, terwyl die land se natuurbronne nie gegroei het nie – dit het eerder agteruitgegaan as gevolg van besoedeling en verstedeliking. In 1980 het 14 miljoen Suid-Afrikaners in dorpe en stede gewoon en vandag is die getal 35 miljoen. Oor ’n tydperk van 100 jaar vanaf 1880 is die Suid-Afrikaanse ekonomie aangedryf deur primêre ekonomiese sektore, veral mynbou. In 1980 het mynbou en landbou 16% tot die Suid-Afrikaanse ekonomie toegevoeg – ’n sterk daling vanaf die 28% in 1960. Vandag is hierdie syfer slegs 7%, terwyl die dienssektore se bydrae tot die volksproduk van 55% tot 70% toegeneem het tussen 1980 en vandag. Ongeveer 90% van die arbeidsmag van die primêre sektore is relatief ongeskoold. By die dienssektore is hierdie syfer presies omgekeerd: ongeveer 90% is relatief geskoold of hoogs geskoold. Daarteenoor is die Suid-Afrikaanse arbeidsmag grootliks halfgeskoold of ongeskoold. En dit is die grootste rede waarom die Suid-Afrikaanse ekonomie sukkel om meer as 3% per jaar te groei terwyl minstens 6% ekonomiese groei per jaar nodig is om ons samelewing volhoubaar te laat ontwikkel. Die krisis van voorbestaan in Suid-Afrika kan gesien word in die groei van plakkerskampe, die toename in welvaartongelykheid, die ongelykheid in toegang tot goeie opvoeding, die 45% van die arbeidsmag wat effektief werkloos is, die ongeveer 60% van die jeug wat werkloos is, die ongeveer 50% van mense wat in armoede lewe, in groeiende wetteloosheid en korrupsie.

2. Waarom is hierdie statistiek belangrik vir ’n Afrikaansbeweging? Dit is belangrik omdat dit uitlig dat die toekomstige ontwikkeling van Suid-Afrika byna uitsluitlik van die geskooldheidsvlakke en karakter van sy mense en die goeie ordening van sy samelewing afhang. En met “goeie ordening” word bedoel dat die samelewing bestaan uit mense wat mekaar verstaan, mekaar ondersteun en daardeur bou aan die gemeenskap en ’n land se sosiale kapitaal. Die stand van ’n land se sosiale kapitaal is vandag die sterkste aanwyser van sy ontwikkelingpotensiaal.5 ’n Gemeenskap en ’n land waar sosiale kapitaal goed ontwikkel is, het integriteit. Die teenoorgestelde hiervan is ’n land waarin mense nie met mekaar kan klaarkom nie, grootliks selfsugtig lewe en daarom ’n aansienlike deel van hulle denke, geld en aktiwiteite aan konflik, konflikbestuur en korrupsiebekamping bestee.

Suid-Afrikaners lewe vandag in ’n beslissende tyd – ’n tyd van grondverskuiwende keuses waarin selfverheerliking en geld- en statusnajaag nie ’n rol behoort te hê nie. Ten einde Suid-Afrika te ontwikkel is dit ’n uitgemaakte saak dat universiteite en kolleges hoogs voortreflik moet wees (en hoogs voortreflik moet bly) as opvoedkundige instellings, maar dan binne ’n gemeenskapsverband. Dit is hulle bestaansbetekenis: voortreflike onderrig, voortreflike navorsing en voortreflike diens vir en deur hulle gemeenskap. Die groot rol wat die “land grant”-kollege- en -universiteitstelsel in die VSA se ontwikkeling gespeel het, behoort vir ons ’n voorbeeld te wees van hoe ons ons tersiêre instellings behoort te rig.

Die groot rol wat die Universiteit Stellenbosch oor byna 100 jaar as Afrikaanstalige universiteit gespeel het in die ontwikkeling van sy teikengemeenkap behoort ook ’n rigtingwyser vir die US Raad op 22 Junie 2016 te gewees het. Ongelukkig het 17 lede van die Raad die keuse van akademisering, kommersialisering en politisering hoër aangeslaan as die behoeftes van ’n gemeenskap. En daardeur het dit as instelling kultuurloos en karakterloos geword – te wete, net nog ’n universiteit wat internasionale akademiese status najaag.

’n Toekomsideaal vir moedertaalonderrig

Teen die agtergrond van bostaande bespreking sien ons ’n Suid-Afrika waar moedertaalonderrig vir alle taalgemeenskappe tot ten minste die einde van primêre skoling sal plaasvind – en waar prakties moontlik tot op sekondêre vlak. Ons sien ook professionele en vakkundige mense wat in diens van hulle gemeenskappe staan as opvoeders, dokters, geestelikes, voorligters, maatskaplike werkers, ingenieurs, amptenare, digters, ens. Persone wat hulle gemeenskappe dien in die taal van hulle gemeenskap en met begrip vir hulle gemeenskap.

Ten einde dit moontlik te maak moet universiteite en kolleges besondere taalgemeenskappe dien deur studente in hulle moedertaal te onderrig (waar so ’n taal vakkundig genoegsaam ontwikkel is) – dit is wat US vir die Afrikaansgemeenskap behoort te gedoen het.

Waar dit nog nie moontlik is nie, word daar van ’n konsensustaal gebruik gemaak terwyl daar ook stelselmatig taalvakkundige ontwikkelingswerk in een of twee ander tale aangepak word sodat veral onderwysopleiding vir primêre en sekondêre skole daarby kan baat vind (byvoorbeeld by universiteite wat in Engels onderrig gee).

Universiteite wat binne spesifieke taalgemeenskappe gestig is, moet die taal van daardie gemeenskap handhaaf, in gelykberegtiging ook in Engels onderrig gee, en een ander taal vakkundig ontwikkel om diversiteit en transkulturele kommunikasie te bevorder. Byvoorbeeld: ’n universiteit wat die Afrikaanse gemeenskap dien, soos die historiese US, sal Afrikaans (eerste taal) saam met Engels (tweede taal) bedryf, en Xhosa as vaktaal ontwikkel.

Ideaal en werklikheid – ’n voorstel vir optrede

Mens verstaan dat die politieke klimaat in die land plus die gebrek aan wil vir Afrikaans binne sy bestuurskorps dit hoogs onwaarskynlik sal maak dat Afrikaans vorentoe ’n gelyke kans gaan kry vir onderrig by US. Dit gaan waarskynlik ’n Engelse universiteit word binne die volgende dekade tensy daar ’n duidelike bevel teen enkeltaligheid uitgaan vanaf die Konstitusionele Hof. Afhangende van die bevinding van die Konstitusionele Hof kan daar ook vorentoe al hoe minder kans wees vir onderrig in Afrikaans by alle staatsgesubsidieerde universiteite, kolleges en skole. Kortom gestel, Afrikaans as onderrigtaal kan oor die komende twee dekades stelselmatig doodgewurg word by alle opvoedkundige instellings waarby die staat direk betrokke is, tensy so iets onkonstitusioneel verklaar word.

Mens verstaan ook dat daar vanuit sekere aktivistiese oorde oproepe is vir die sogenaamde Afrikanisering van universiteite en kolleges. Agitasie gaan dus oor veel meer as die taal van onderrig, en dit kan die doodsklok wees vir gehalte-onderrig in Suid-Afrika indien hierdie tema daarop gemik is om bestaande instellings omver te werp. Andersyds kan “Afrikanisering” as ’n vorm van kulturele ontwaking ’n groot rol speel in die ontwikkeling van Suid-Afrika indien dit moedertaalonderrig en gemeenskapsgerigte opvoeding ondersteun Daarom is dit des te meer belangrik dat ander tale as Afrikaans en Engels ook vakkundig uitgebou moet word.

Gelyke Kanse behoort daarom drie gelyklopende temas oorweeg:

1. Ondersteun saam met ander belanghebbendes ’n hofgeding teen eentaligheid by US om die legitimiteit van die US Raad se besluit objektief te toets.

2. Betrek die breër Afrikaansgemeenskap en alle bestaande Afrikaansinstellings by ’n gesamentlike nuwe Afrikaansbeweging wat daarop gemik is om onderrig en die gebruik van Afrikaans te bevorder, en dan ook om veeltaligheid oor die algemeen te bevorder.

3. Werk saam met alle bestaande opvoedkundige instellings wat daarvoor gewillig is, asook (en veral) met privaat- en nieregeringsorganisasies wat reeds betrokke is by skool- en universiteitsontwikkeling ten einde Afrikaanse onderrig te bevorder. Met hierdie oogmerk in gedagte moet Gelyke Kanse ’n ideale ontwerp vir intydse tersiêre onderrig in Afrikaans opstel wat tegnologies gevorderd, gemeenskapgerig en holisties is. Afhangende van die uitslag van die hofgeding, en afhangende van die taalrigting wat die US en ander voormalige Afrikaanse universiteite inslaan, moet bestaande fondse soos die Jan Marais-fonds gebruik en Afrikaanse donateurs aangemoedig word om verkieslik hulle geld en bemakings na die nuwe inisiatief in Afrikaanse onderrig te kanaliseer.

 

Eindnotas

1 Pienaar, EC. 1943. Die triomf van Afrikaans: Historiese oorsig van die wording, ontwikkeling, skriftelike gebruik en geleidelike erkenning van ons taal. Kaapstad: Nasionale Pers, bl 65.

2 Hierdie indruk word geskep deur verklarings en prestasiemetings waarvolgens die universiteit daarop ingestel is om in internasionale rangordes vir universiteite te styg – om die Harvard van Suid-Afrika te word. Ook ’n indruk vanuit my persoonlike negatiewe ervaring met die sogenaamde Projek Hoop wat aan die begin die potensiaal gehad het om ’n werklik gemeenskapsgerigte universiteitsinisiatief te word.

3 Kyk byvoorbeeld na Kennedy, KJ. 2013. Culture and learning: Reconstructing research on learning for students in Asia and the Pacific. Bangkok, UNESCO: Asia and Pacific Regional Bureau for Education: Educational Policy Research Series, Discussion Document No. 2 en ook Spies, PH. 2014. The democratization of innovation: Managing technological innovation as if people matter. World Future Review, 6(1):15–28.

4 ’n Voorbeeld van hierdie verskynsel kan gesien word in beroepskulture soos dié van die joernalistiek, medisyne, regte, ingenieurswese, ens. Ware professionele persone leer, leef en doen in die kultuur van hulle beroep.

5 Sosiale kapitaal berus op mensvermoëns, maar die stukrag lê in goeie organisasie en sosiale netwerke. Die “beleggingsbank” van sosiale kapitaal lê in ’n sterk kultuur, gehalte-gemeenskapinstellings, goeie sosiale en ekonomiese netwerke, aktiewe burgerlike organisasies, die ontwikkelingskultuur van ’n gemeenskap, ’n interne lokus van beheer (’n sin vir selfverantwoordelikheid), ’n gevoel van betekenis binne ’n gemeenskap, ’n sterk gedeelde waardestelsel en etos, ’n sin vir billikheid en respek vir menswaardigheid – dws daardie faktore wat hoëgehalte-samewerking tussen mense onderhou.

 

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top