Ek is oud genoeg om die ou Suid-Afrika te onthou. As jy Afrikaans was dan was dit die dae van die NP versus die PFP. In daardie dae het ons 'n gesegde gehad oor die Engelse:
I talk Prog, I vote Prog, but thank God the Nats are ruling.
Die implikasie was dat Engelse op ons neergesien het, hulle het niks goeds te sê gehad het oor die regering nie, maar nogtans die voordeel van die beleid geniet. Soveel meer omdat hul onskuldig daaraan gevoel het.
Apartheid is in teorie gekritiseer, maar in praktyk het die wit Engelse seker gemaak hulle put alle moontlike voordeel daaruit - maak hooi terwyl die son skyn. Geen wonder Afrikaners het hulle eenvoudig geïgnoreer nie, en toe die nuwe Suid-Afrika kom het die swart onderdruktes geen onderskeid tussen hulle en ons gemaak nie. Praat is immers goedkoop.
Vandag praat ons van NIMBYs - Not In My Backyard. Xenophobia is verkeerd, solank die immigrante ver van my woonbuurt bly en net in my lewe bestaan as goedkoop arbeid.
Dit val my deesdae op hoedat rolle in die nuwe Suid-Afrika omgeruil het.
President Zuma is nou die rock-spider wat PW Botha eens was - hy kan niks reg doen nie.
En Afrikaners het al die wysheid en pag - ons kla van die oggend tot die aand oor "ons leiers" en "ons land". Asof ons in ons era geen geweld en korrupsie geduld het nie.
As ek soms luister na die kritiek dan klink dit asof Suid-Afrika die slegste, die korrupste plek in die wêreld is. Dat alles "tot niet gaan".
Maar kom ons staan vir 'n oomblik terug en dink aan wat ons het: 'n werkende demokrasie, 'n onafhanklike regsbank, 'n staatsdiens wat funksioneer, 'n polisiemag wat wette toepas, 'n vrye pers, vryheid van werk en beweging, vrye toegang tot die internet, beskerming van eiendom en beskerming teen grondbesetting. Vrede en neutraliteit. Geen burgeroorlog, geen vergelding - ten spyte van wat ons in die verlede gedoen het.
Ons lewe in 'n land waar die regering nie die media beheer en ons met hul propaganda bombardeer nie; 'n land waar die President toelaat dat skilderye van sy penis in die openbaar hang. Waar Orania geduld word.
Nie een van hierdie dinge is vanselfsprekend nie. In baie lande in die wêreld is dit ongehoord.
As jy dink dit kan nie erger nie, droom jy. Sirië, Oekraïne, Thailand, Congo, Palestina ...
Ek weet nie wat die toekoms hou nie - dit hang van ons af. Maar ek weet dat al hierdie dinge bly bestaan het in die afgelope 25 jaar. Omdat ons reg dink oor die groot goed: vrede, neutraliteit, reënboognasie. Mag dat ons nooit hierdie dinge sal verander nie - en dit nooit vergeet nie.
En die waarheid is dat, ten spyte van alles - die regering, en Presidente Mandela, Mbeki en Zuma almal krediet hiervoor verdien.
Ja, ja, ja - ek weet alles is nie maanskyn en rose nie, maar ek gaan nie eers my asem mors om dit te kwalifiseer nie. Elke dag is daar strome en strome gekerm oor hoe sleg "die land" is, ek hoef nie ook nie.
Nkandla? Ag asseblief. In Turkye bou Erdogan 'n paleis met meer as 'n 1000 kamers vir R7 biljoen, ten spyte van hofbevele wat dit verbied.
Die regering vee hulself af aan die kritiek vir dieselfde rede wat Afrikaners dit destyds met Engelse gedoen het: Hulle besef dat hulle ons vuilwerk doen - dat dit die witmense is wat in die eerste plek die vrugte van hul beleid pluk. Die werklike krisis vir die ANC is dat hulle te veel moeite met ons gedoen het, ten nadeel van hul eie ondersteuners.
I talk DA, I vote DA, but thank God the ANC is ruling.
Ek wil voorstel dat Afrikaners van hul troontjie afklim en hande vat. Ons het almal aangejaag, ons is almal net mense.
Gee die duiwel sy eer, wanneer hy eer verdien.


Kommentaar
Gert vir president. Ek was een van die wat ergere gemoedsbekakkings oor die nuwe bestel gehad het. My "pelle" of meelopers het hul bekke uitgespoel oor die huidige regime en net fout gevind. Ek weet alles is nie pluis nie. Maar waar is alles pluis? Ek was ook de moer in want ek het ook 'n lekker werkie gehad met die nodige byvoordele. Een dag toe val die pennie. Niemand gaan na my gekerm luister nie. Ek het besef staan op en storm die samelewing met 'n moerse spoed. Ek is net bly ek is nie 'n Fransman nie. Die blinde sambok piets hulle nou. Die blinde sambok gaan almal wat kolonies gehad het kom piets. HKGK. Wat jy saai sal jy maai.
Gert is oud maar nie oud genoeg nie, want ek onthou 'n tyd van skole-voeding. 'n Tyd waar tuisgemaakte kakiehempies en broekies nie 'n skande was nie.
'n Tyd toe daar nie 'n rugbyveld by die skool was nie en rugby geoefen is op 'n plot
vol koeimis en dubbeltjies waar koeie nuuskierige toeskouers was as daar geskrum word.
'n Tyd waar almal gehelp het om gras te plant toe daar uiteindelik die dag van 'n eie rugbyveld by die skool aangebreek het. 'n Tyd (1955) toe Jack van der Schyff 'n belangrike skop om 'n drie te verdoel mis en die Bokke 22-23 teen die Britse Leeus op Ellis Park verloor en Jack sy plek in die span.
Ook onthou ek 'n tyd toe ons as kinders gaan kyk toe die Vaaldam sy sluise oopmaak. Daar staan ons toe op 'n smal bruggie toe 'n motor met afslaankap verbykom en ons dwing om styf teen die reeling te staan, sodat dit verby kan kom.
Op die agtersitplek sit drie meisies wat hul hoedjies met linte om die rand met die een hand vashou om te keer dat die wind dit afwaai. Hulle bekyk ons op en af en die kleinste een vra: "Who are they?" Die antwoord kom vinnig van die middelste een. “O they are poor whites.”
Ja daar was 'n tyd toe blankes werklik arm was en min kinders tot matriek gevorder het en skool grootskaals na voltooiing van standerd 8 (graad 10) verlaat het om 'n ambag te volg om sodoende 'n bydrae tot die huishouding te maak.
Dit was ook 'n tyd toe ons sorgloos in die strate kon speel, gaan kyk hoe die ducktails en hul sheilas met brullende motorfietse soms die strate oorneem. 'n Tyd toe rekenaars en selfone net in die verbeelding van sommige bestaan het.
'n Tyd toe ons sorgvry op die grasperk gelê het en na die wolke gestaar en gewonder het of ons dalk vir Jesus kon sien. 'n Tyd waar die lat die tugmeester was.
’n Tyd toe petrol by die Rooiperd met die hand in 'n glashouer gepomp is voordat dit in die brandstoftenk beland het. 'n Tyd waarin mense arm maar veilig was en sonder om gemolesteer te word skool toe kon loop.
Dit was 'n tyd toe daar gemiddeld 7000 moorde per jaar in Suid-Afrika was teenoor
die 18 000 tot 21 000 nou. 'n Tyd toe ons as kinders ons neuse teen vensterruite gedruk het om na nuwe motors te kyk. 'n Tyd as jy vir 'n maatjie op 'n ander kleinhoewe gaan kuier die kanse goed is dat die Oom jou eers 'n tang in die hand gaan druk om eers 'n paar lyndrade te help herstel omdat hy weet dat die maatjie vir wie jy kom kuier eintlik sy dogter en nie sy seun is nie.
En as jy daarna klaar is word jy beloon met 'n heerlike yskoue tuisgemaakte koeldrank en niks meer nie. En sal ek die huidige Suid-Afrika verruil vir die tyd? Enige tyd en is dit die tyd wat ek gehoop het alle Suid-Afrikaners in die nuwe bedeling sou geniet met fensie selfone en al.
Onthou jy die tyd?
Gert
Jou brief is te simplisties opgestel vir nuttigheid, want dit skep die valse indruk, soos jy dit, tussen aanhalingstekens, stel: "dat Afrikaners van hulle troontjie moet afklim" en net te dankbaar behoort te wees vir enige broodkrummels wat die ANC hulle kant toe gooi, “ten spyte van wat ons in die verlede gedoen het.”
FEITLIK:
1. Die ANC regeer TEENSINNIG binne die raamwerk van die konstitusie wat tussen blankes en swartes te Kodesa onderling ooreengekom is. Het die ANC hulle sin oorspronklik gekry, was die kommunisties georiënteerde Vryheidsmanifes vandag ons konstitusie. Tussen hulle en die EFF sou hulle graag wysigings tot die konstitusie wil aanbring om Afrikaners en ander minderhede se konstitusionele regte te wil verder inkort. Intussen tree hulle teenstrydig op in die gees en letter van die gesindheid wat geheers het ten tye van beide Kodesa en die Waarheid en Versoeningskommissie. Vele hofbevele sedert Kodesa was nodig om die ANC binne die raamwerk van die konstitusie te dwing.
2. Dan jou skandelike skouers opruk vir: “Nkandla? Ag asseblief. In Turkye bou Erdogan 'n paleis met meer as 'n 1000 kamers vir R7 miljard, ten spyte van hofbevele wat dit verbied.”
Die Turkse hofbevel het nie die bou van ’n paleis, selfs ter waarde van R7 miljard, verbied nie, wel dat dit nie op die gronde van ’n geskiedkundige park gebou moes word nie. Groot verskil in voorstelling ne! In SA se geval is meer as R200mil heeltemal kwyt; in Turkye bly die paleis staatsbesit. In SA se geval was dit ’n voorbeeld van blatante korrupsie vir persoonlike gewin; in Turkye se geval ’n voorbeeld van die vermorsing van staatsgeld wat meer nuttig vir hulle volk aangewend kon gewees het.
3. Lees: “Die Wit Vloek Vir Swart SA” om beter perspektief oor Afrikaner houding in die huidige opset te verkry. https://www.litnet.co.za/die-wit-vloek-vir-swart-suid-afrika/
Gert. Max du Preez het meer ondervinding as jy om as Afrikaner-gewete te wil optree. Los dit eerder aan hom oor. Hy doen tog 'n beter job daarvan as jy.
Vir FC Boot. Ek is seker oud genoeg om jou te antwoord, 1936 vintage, 'n armgat mynsand verwaaide kaalvoet laaitie van Boksburg wat al jou eergisters, en nog veel meer, ervaar het.
Maar nou is dit sewentig of wat jaar later, en hoe gaan dit nou met jou destydse "poor whites" en hulle nageslagte? Hoe gaan dit nou met ons Afrikaanse taal? Wat sê die doemprofeet-traktaatjies?
Vertel hulle van die ekonomiese reuse wat Sanlam, Rembrandt, Naspers geword het? Noem hulle die tientalle Afrikaanse speelfilms wat tans vervaardig word weens die ANC-regering se ongekende finansiële subsidie? Meld hulle dat vandag meer Afrikaanse boeke as ooit vantevore gepubliseer word? Dat meer Afrikaanse musiek CD's as al die ander landstale saam verkoop? Dat vyf winsgewende Afrikaanse TV-kanale voortjubel terwyl hulle mededingers kwyn? Dat talle Afrikaanse kunstefeeste van die Suidooster tot Innibos gedy?
Ja FC ... hoe bevoorreg is ek om op amper tagtig, en met al die sianied van swaarkry ewig in my lyf, nog altyd in hierdie land en in my moedertaal, te kan skryf, skep en droom ... en Gert my seun te noem.
Jans Rautenbach
Vir perspektief.
Wat die Afrikaner hierbo in jou brief vermag het, is beslis nie aan die ANC te danke nie, wel aan die Afrikaner se eie vernuf. Tov van subsidies hierbo vermeld, is dit nie 'n ANC grootsheid teenoor die Afrikaner nie, wel 'n konstitusionele reg waarop die Afrikaner regmatig aanspraak kan maak. After all, Afrikaner-belasting help verryk die skandelike korrupsie binne ANC geledere, met Nkandle as 'n enkele skreiende voorbeeld.
Indien jy werklik ANC grootsheid teenoor Afrikaners wil waarneem, gaan kyk na bv Moot Pretoria onder vele ander, se welsynsorganisasies vir kinders wat geen staatsubsidie ontvang nie, weens die feit dat hulle nie aan die rasse-verhouding se kriteria voldoen nie. Hierdie organisasies, sonder ras onderskeid, help ook ander rasse wat 'n minderheid onder hulle geledere vorm. Om aan die kriteria te voldoen, sal hulle swartes van buite moet inbus.
Wat jy ook in perspektief moet waarneem is waar die ANC wel sy mag kan uitoefen, soos die staatsdiens, word blatant teenoor Afrikaners gediskrimineer. Behalwe vir die belastingkantore, merendeels wit gesigte, vir ooglopende redes, sien jy eenvoudig, geen blanke gesig wat met die publiek te doen het nie.
Beste Jans
Jy vra die volgende vraag.
"Maar nou is dit sewentig of wat jaar later, en hoe gaan dit nou met jou destydse "poor whites" en hulle nageslagte?"
'n Mens kannie kommentaar lewer oor almal nie, slegs oor die mense wat jy ken.
Met sommige gaan dit goed met ander minder goed. Sommige van my destydse kollegas het die skrif betyds aan die muur gesien en sit nou in die buiteland en hul kinders 'haka' ewe lustig saam.
'n Ander ou het sommer nadat hy 'n studietoer op Raadkoste onderneem het, sy bedanking vanaf die vliegtuig ingedien. Ander het so paranoïes geraak dat hul my amper mal gehad het destyds. My arme vrou het ook haar loopbaan vroegtydig beëindig want na twee selfoondiefstalle en aanranding het sy besluit die onderwys is nie meer die plek nie.
Geen ondersteuning van enige aard nie, want die polisie het 'destyds' nie oor die nodige 'resources' (petrol) beskik om die aanrander in 'n naburige dorp te arresteer nie.
Die feit was ons (my vrou en ek) het op eie koste siviele vervolging ingestel en is die aanrander (vrou) skuldig bevind en 'n aansienlike (vergoeding) die hoogste in soortgelyke saak aan haar toe gestaan.
Dit het alles niks beteken nie want sy (aanrander) vlug van plek tot plek en kon geen balju haar in die hande kry nie. My dogter het met honneursgraad en al die slagoffer van RA en SEB geword want die IT firma van Duitse oorsprong het nie die regte demografie toegepas nie en kon dus nie lekker meeding om vet regerings- en ander kontrakte.
Die President is as volg in die verband aangehaal: “We're not forcing people ... you can support and be a supporter, but if you go beyond that and become a member, (and) if you're a businessman, your business will multiply,” the Sunday Times quoted him as saying.
Zuma was speaking at the ANC's 101 anniversary gala dinner in Durban on Friday night."
Die feit dat my dogter en haar Indiërkollega toe slagoffers word het geen rol in die besluitneming van die IT-firma gespeel nie; wel wat Pres Zuma in die verband gesê.
Die feit dat dit my kleinkinders nadelig geraak het asook hul toekoms op sportgebied
en hul van mense wat alle mense met ope arms omhels het, tot rassisme dryf het ook geen rol gespeel nie.
Die feit dat dit 'n groot duik in ons reserwes gemaak het en planne omver gegooi het
het ook geen rol gespeel nie, want geen ouer stuur 'n kind in so 'n posisie weg nie met leë hande nie.
Jy vra hoe gaan dit en dan moet jy vra hoe voel mense oor hul veiligheid want dit is tog die belangrikste vir 'n normale lewe.
Dan moet jy die volgende lees:
http://www.netwerk24.com/Nuus/Misdaad/misdaad-vrees-het-reuse-impak-op-hoe-mense-leef-20151201