Gedig as mobilisering

  • 0

Gedig as mobilisering

Foto: Canva

Elke wapen verkwansel
aan elke land
het ’n sesjarige se gesig daarop gemonteer,
onderskrif: wanted dead or alive –

En soos wat NATO groei, uitbrei,
word Rusland meer en meer omsingel deur
wat as die Kollektiewe Weste verwoord word –
Oekraïne die laaste strategiese buitepos
om ballingskap te (v)oorkom.

Maar die (Ek) kom weer,
die (Ek) kom steeds, me-lanie!
Arrogant in sy opvattings,
sy beleidsrigtingwysters
van só moet dit werk –
só kan ons die Kollektiewe Ondier bestry.

Lewende lyke val soos vlieë,
soos vliegtuie wat op torings inval
en broeder Koos se lied word
herhaal: Who do we sue?

Hoe mobiliseer ons ’n mense
wat keer op keer
’n rat voor die oë gedraai word?
Hoe voorkom ons ’n oorlog
as wêreldekonomieë
smag na winste van die missiel,
die voordeel van strategiese bondgenote?

Hoe maak ons die gedig los van geskiedenis,
filosofie en die samelewing se tegnologiese-
kultus-kultuur?

Ons kap sy mensehand af
hoop daar’s ’n reserwemag van voëls
wat hom sal kom oppik,
neerlê in die goeie grond
om moontlike oes te lewer:
party selfs honderdvoudig.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top