Gedagtes van ’n skoolkind

  • 0
Jeanne-Marie Koekemoer, ’n sestienjarige leerder van Hoërskool Stellenbosch, deel haar gedagtes oor die kunste en haar lewe in die tyd van COVID-19.

Jeanne-Marie Koekemoer (foto: verskaf)

 

Ons lewe in absoluut vreemde en onsekere tye. Dit is asof die hele wêreld saam ween en bewe. Elke nuwe dag is propvol gelaai met onsekerheid, vrees, angs en pyn. Uit hierdie gruwelrige tyd het daar ’n nuwe sensasie sy pad deur die mense gerank, een gedefinieer deur ’n frase wat ek al gans te veel gehoor het: "Nou is jou tyd om te doen wat jy nog nooit vantevore kon nie!" Dit, besef ek nou, is die donker kern van al die druk wat ek tans op myself plaas. Ek het die heeltyd hierdie gewemel in my kop van alles wat ek nog moet doen, nuwe idees wat ek nog moet vorm, ens. Aan die begin van die isolasietydperk het ek met opgewondenheid begin fantaseer oor alles wat ek gedoen gaan kry, hoe ek myself gaan verryk en verbeter en hoe ek uiteindelik in stilte en sonder enigiemand anders se oordeel kuns kan observeer en die lewe kan vier. Dit was egter van die begin af ’n taamlik onrealistiese idee. Vir seker was dit onafwendbaar dat ek sou faal in hierdie oefening, want die eise is veels te hoog. Ek word verlam as ek begin dink aan enige van die take op my lysies van wat gedoen moet word. Dit is asof ek so bang raak vir wat voor my lê dat ek nie vorentoe of agtertoe kan beweeg nie. Dit voel asof daar net nie genoeg tyd is vir alles nie, alhoewel daar, ironies genoeg, veronderstel is om al die tyd in die wêreld te wees. 

Wat ek nou eers besef, is dat dit nie noodwendig ’n fantasties kreatiewe tyd in my of enigiemand se lewe gaan wees nie. Ek gaan nie 20 nuwe instrumente leer speel, soos Shakespeare King Lear in isolasie skryf nie, of selfs net bykom met die lang lys klassieke films, boeke en musiek waarvoor ek nooit tyd kry nie. En dit is oukei. Ek is mens. My hoop is wel dat ek sal aanhou glo dat dit nie nodig is dat ek of enigiemand rondom my nou onmiddellik die wêreld hoef te verander met ons kuns nie. Ons hoef nie nou noodwendig ’n verskil te maak, te skep of te groei nie, maar ons kan leer om mooi te praat met onsself en te luister na wat ons nou nodig het. Of dit is om, soos die skrywer Elizabeth Gilbert in haar TED "conversations" voorstel, weer soos ’n kind te leer speel met verf, Lego en dans, of dit is om die kuns binne-in jouself raak te sien, en of dit is om bloot dag na dag deur te stuimel. Dit is oukei. Ons almal is net mens; al wat ons nou kan doen is om te leef van dag tot dag en vas te hou aan die mooi ervaringe wat agter ons lê, die kuns te koester en aan te hou wandel deur hierdie stormagtige tyd.

Kyk hier na haar vlog:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top