Só moes die Liefde ly: ’n Passiespel
Charles Fryer
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485308751
Danie Botha deel sommige van sy gedagtes rondom die skrywer en die boek Só moes die Liefde ly: ’n Passiespel by een van die bekendstellingsgeleenthede met LitNet se lesers.
Op 24 April 2018 het Protea Boekhuis Só moes die Liefde ly: ’n Passiespel deur Charles Fryer by ’n vergadering van die leeskring van Huis André van der Walt in Bellville bekendgestel. Die Passiespel is die eerste keer in Maart 1988 as ’n gemeenteprojek in die NG Kerk Parow-Panorama opgevoer onder leiding van Martina Rauch. Daarna is dit vir die Paasseisoene van 1991, 1993 en 1995 in die Kangogrotte by Oudtshoorn opgevoer. Charles was die teksskrywer, komponis en regisseur. By die bekendstelling het Loreinne Fryer, sy weduwee, vertel van die ontstaan van die spel, van die spelers aan die gehoor voorgestel en ook herinneringe in erns en humor opgediep. Sy het boodskappe van die spelers wat Jesus vertolk het, voorgelees: Jakes Greyling (hy was die eerste in dié rol) en Phillip van Staden (onder meer in 1995). Danie Botha was daarna aan die woord as vriend, uitgewerskollega en vryskutredakteur van die boek.
Oor die mens agter die boek: ek wil aantoon hoe Charles Fryer se lewenservarings en spesifiek sy loopbaan as ’t ware ’n voorbereiding was vir die skryf van die Passiespel. Daarna kom ek by die gepubliseerde teks uit. Ek hoop my lof gaan julle inspireer om die boek te koop!
Charles Fryer is op 5 Maart 1946 gebore. Ek op 28 Februarie 1947. Hy was van ’n plaas by Calvinia, ek van Worcester. Ek beskou myself as Bolander en Kapenaar. In sy digbundel Rooiwielwa (Tafelberg, 1978) beskryf hy homself as ’n Hantamkind. Dis nou spesifiek Calvinia se Hantam.
Ek ontmoet vir Charles in die hitte van ’n somersdag in 1967 in die studentekoshuis Helderberg op Stellenbosch. Hy is my senior. Dit sal onbeskof wees om hier te sê hoe ons eerstejaarmans genoem is. Nietemin, ek as eerstejaar, iemand wat nie die lug werd is wat hy inasem nie, kry toe ’n stoel aan die eetkamertafel regs van hom. Hy troon uit aan die punt.
Ja, ek sit langs ’n groot ou met latere byname soos Kadmon die Reus (Etienne Leroux s’n; so genoem deur Fanie Olivier), Charlemagne (kollega Petra Grütter) en Charley Boy. Sy van sou in sy jare by Tafelberg dikwels verkeerd gespel word: Friar, Freier en Vreyer. Charles was ’n beskaafde senior. Het min met jou gepraat en dan wel met sy enigmatiese glimlag. Het nie deelgeneem aan ontgroening/dopery/verwelkoming nie; het hom te veel herinner aan sekere elemente in ons militêredienspligtyd. Ná ’n aantal seniors een vakansie te woes reünie gehou het, word hulle uit die Republiek van Helderberg verban. Charles het nie deelgeneem nie. Hy was egter oortuig die straf is onregverdig en hy neem sy intrek by ’n boheemse kamer naby Pleinstraat.
Charles was ook DJ Opperman se bekwame assistent. Daar was die mondelinge toets oor ’n leeslys letterkundige boeke. Vir my het Charles uitgevra oor Die ryke dwaas; ek sou later nogal dikwels met WEG Louw saamwerk. Ek onthou vaagweg dat Charles my daardie oggend aangepor het om sekere weeïghede te kritiseer. Ons het ook toets geskryf oor G Dekker se literatuurgeskiedenis. Daaroor skryf Opperman in Kuns-mis: “Ek lei my kandidate in met Dekker,/ maar open stadig die gesprekke,/ verwagtend hulle stap later/die letterdoelas in ontdekker.” Vaar jy goed by Charles met dié toetse, was jou kop deur na ’n goeie predikaat.
Charles was ook bekend as iemand wat Breyten Breytenbach se werk verstaan het, sy vroeë werk daar in die jare sestig.
Ook sou Charles die toneelkuns bemeester.
Hy was dramastudent in die beginjare van die dramadepartement in die HB Thom-teater. Dit was die regeringstyd van die Belgiese Fred Engelen en sy vrou, die aktrise Tine Balder. Charles vertolk Banquo in Shakespeare se Macbeth teenoor Engelen in die titelrol. Nog later sal Charles in ’n professionele opvoering van Lorca se Yerma teenoor Tine Balder speel as die minnaar.
Toe hy nog voordragklasse by Rina Botha geneem het, gee sy hom opdrag om die hele, maar ook die hele, “Die hond van God” van NP Van Wyk Louw vir die klas te kom aanbied. Dit beteken 10 bladsye teks om te memoriseer. Hy leer al die woorde. Dié dag besluit Rina Botha om saam met haar studente te gaan koffie drink in ’n restaurant. Die veelgeroemde “koffieklas” van destyds. Charles het nie gesê of hy ooit die gedig der gedigte êrens vertolk het nie.
Dit was ook in hierdie studentejare dat hy ’n komedie geskryf en opgevoer het: Die vampier. Die statige hertogin is gespeel deur Annelize van der Ryst, die latere matrone van 7de Laan, en die vampier is met oorgawe en energiek uitgebeeld deur die latere belangrike letterkundige Etienne Britz. Etienne het op die openingsaand glo probleme ondervind met die spuitende verhoogbloed en moes uitstorm waar daar nie ’n deur was nie.
Charles se dramakennis het hom goed te staan gekom toe hy in die beginjare van ons televisiediens besprekings van die afgelope dag se programme vir Die Burger moes lewer. Nadat die landsvlag gestileerd gewapper het, moes hy of Loreinne in die tyd voor e-posse, en selfs huisfaksmasjiene, sy storie oor die telefoon dikteer. Sy dramakennis was ook nuttig toe hy in die jare neëntig ’n lid was van die Fleur du Cap se teaterpryskomitee. Ek, hy en een van die Passiespelers, Herman van der Westhuizen, het ook in ’n subkomitee gedien wat dramastudente bekroon het. Sekerlik het hy sy dramakennis gebruik met die skryf van sy hoogtepunt in sy oeuvre: Só moes die Liefde ly.
Met sy uitgebreide kennis van rolprente, veral van toeka se dae, het hy graag byname uitgedink, het hy die sterre vernoem, met die byvoeging: “gone wrong”. So was ek Orson Welles en Marlon Brando “gone wrong”. Een van sy dogters, Andrea, het gevind dat een van my name baie gepas was: Jack Nicholson.
Dan was daar dié groot pret vir hom. Bejaarde Engelssprekende dames kom spreek hom. Hulle wil graag ’n Barbara Cartland of Josephine Cox word. Charles het altyd gejil dat sy Calvinia-Engels beter is as myne van Worcester. (Hy het destyds wel goed Duits op skool geleer – by Linda Rode. In ons uitgewersjare het ons dikwels saamgewerk met haar. Dit was ook die tyd toe haar man, die ekonoom Erwin, gereeld vir Charles met volle oorgawe laat lag het. Charles was die redakteur van die Kersboek wat sy saamgestel het: Vrede op aarde (Tafelberg, 1990). Daarin verskyn sy gedig “Seevonds op Oukersaand”. Dit vertel van ’n “klein,/ koue klipmadonna met kind” op ’n Oukersaand op Bloubergstrand.)
Wanneer die aspirerende dames dan opdaag, het Charles altyd gevoel hy moet hulle gul ontvang. Deel daarvan was dat hy die senior burgers tot in my kantoordeur bring. Hy bly agter hulle staan; hulle sien nie hoe hy glimlag nie. Ek spring op, praat my beste Engels, is vol van “the milk of human kindness”. En hy kan sy lag nie hou vir my hartlike ordentlikheid en die dames wat alles tog so waardeer nie ...
Dieselfde laai het hy met DJ Opperman uitgehaal. Toe Opperman weer tot die lewe teruggekeer het, doen hy dikwels keuring vir ons en kom lewer hy dit af by Charles. Dan bring Charles vir hom tot in my deur. “Professor onthou nog vir Danie Botha?” Wie van ons twee was die meeste verleë?
Hoe het dit gekom dat Charles uitgewer geword het? In 1972 word ek boekeredakteur by Tafelberg-Uitgewers in die afdeling fiksie vir volwassenes. Ek onthou vir Charles en sy letterkundige kennis, en terwyl hy in daardie jare Afrikaans gee vir die leerders van die Hoërskool DF Malan, vra ek hom om keuring vir ons te doen. Loreinne, ook met onderwysondervinding, het dikwels proefleeswerk gedoen. In 1975 tree Charles tot ons redaksie toe en word later afdelingshoof en kry hy die ampstitel uitgewer.
Tot by sy uittrede in 2000 weens beroerte sou hy vele verwikkelde romans en ’n klomp kortprosa en poësie taalkundig, struktureel en stilisties noukeurig versorg. Die lys van skrywers met wie hy saamgewerk het, is baie lank. Ek moet maar met enkeles volstaan. Skrywers soos onder meer: Ernst van Heerden, Sheila Cussons, FA Venter, Dalene Matthee, TT Cloete, Elsa Joubert, Anna M Louw, Hennie Aucamp, Etienne van Heerden, E Kotze, Dan Sleigh, Petra Müller.
En daarmee is ons dan by die teks wat nou wonderlik mooi uitgegee is deur Protea Boekhuis.
Toe ek in Augustus 2015 my intrek hier in Huis André van der Walt geneem het, was van my eerste werk as vryskutboekeredakteur om Adam Small se Passiespel Maria Moeder van God vir die Media 24 Boekeblaaie te resenseer. Ek het baie besware gehad. Ek het toe geglo dat Charles Fryer se Só moes die Liefde ly beslis gepubliseer moet word. Die titel, terloops, is ontleen aan Liedboek van die kerk lied 387 wat begin met “O Heer, uit bloed en wonde”. In die eeuwending het die kunsbladredaksie van Die Burger my ook gevra vir my lys van uiters voortreflike toneelopvoerings wat ek onthou uit die eeu, in my geval sedert 1962. Ek het summier die Passiespel ingevoeg.
Toe nader ek vir Nicol Stassen van Protea Boekhuis of ek met Loreinne se bystand Só moes die Liefde ly vir publikasie kan voorlê. Die dag toe ek verneem het dis aanvaar en vir Loreinne laat weet het, rapporteer ek vir Nicol die vreugdevure brand hoog in die Fryer-huis. Hy wonder toe of dit dan nie gevaarlik is nie. Later ontmoet ek vir Danél Hanekom, wat die eindredakteur sal wees. Sy woon sowaar hier in die Kaap en sy spesialiseer juis in toneelstukredigering nes ek in my jeug by Tafelberg.
Waaroor gaan dit in Só moes die Liefde ly? Apostel Johannes is in sy ouderdom op Patmos. Hy vertel vir ons wat hy alles onthou van Jesus se omwandelinge op aarde. Dit is nie ’n meganiese opnoem nie. Die spel is in kort en net een of twee langer tonele ingedeel. Johannes lei so ’n toneel in en plaas die karakters en gebeurtenis in plek en tyd. Ook tree hy binne sommige van die herinnerings op. En hy gee ook afsluiting van die toneel en dra iets geesteliks aan die gehoor oor.
Ná die proloog is die eerste toneel dié van die intog in Jerusalem. Die verdere tonele aan die begin het te doen met Christus se leringe, byvoorbeeld die saligsprekinge oor nederigheid en die bergpredikasie. As ’n mens die woorde nou gedramatiseerd hoor of lees, klink die bekende Bybelse woorde nuut, raak dit iets besonders. Die volgende tonele is oor wonderwerke en die ingryping in mense se lewens: die owerspelige vrou, die doofstom man, ens.
’n Besonderse toneel is toe die moeders die kinders na Jesus gebring het. Die kinders vra dat Jesus ’n storie vir hulle vertel. En nou kry ons ’n drama binne ’n drama. Jesus vertel die gelykenis van die barmhartige Samaritaan en betrek die dissipels. Hulle stel die rowers voor, die slagoffer en die mense wat verbygestap het: die priester, die Leviet en die Samaritaan. Dis ’n toneel wat gebruik kan word vir eisteddfods en kerklike funksies. Dit was ook terselfdertyd van die min tonele waar ek as redakteur vrae had en dit aan Danél en proefleser Carla Lang oorgelaat het. Die kinders uit daardie verre tyd praat nou Afrikaans en spreek Hom aan as “Jesus”. Heelwat van vandag se Afrikaanssprekende kinders sal ook nie “oom” of “meneer” sê nie. In Afrikaans sal “oom Jesus” vreemd klink. Ek het Marzanne le Roux van der Boon met haar Israeliese kennis gevra. Sy het bevestig dat daar wel ’n kinderuitdrukking van ontsag in Hebreeus bestaan. Maar om dit te gebruik het ook vir my problematies voorgekom. Ek sien dat die teks is soos dit opgevoer is met ’n direkte aanroep van Jesus.
Nog mense wat deur die Seun van God gered is, is die ryk jong man, Saggeus, die Samaritaanse vrou by die put (Elmarie Kitshoff, een van die vertolkers, was in die gehoor), Nikodemus en die susters Martha en Maria.
Die spel gaan dan oor in die tonele van Jesus se lyding en sterwe. Dit begin by die eerste nagmaal, die lyding en gevangeneming in Getsemane, die nagtelike verhoor voor Kajafas (vol dramatiese handeling en spanning), Petrus wat Jesus verloën. Pilatus word voorgestel as ’n gemaksugtige wellusteling. Ek onthou Loreinne se spel as Claudia, sy vrou. Sy verskyn ook in die kruisgang van Jesus. Sy is saam met die ander vroue wat volgelinge van Jesus was. Maar Charles gee ’n treffende spelaanduiding: “Iewers langs die kruisweg wag ook die eensame figuur van Claudia” – omdat sy teleurgesteld is dat Pilatus Jesus nie vrygelaat het nie. Dan word die kruisdood op Golgota voorgestel. Hy word begrawe, staan op uit die dood en verskyn aan die dissipels. Die spel eindig by Johannes waar hy die openbaringe op Patmos ontvang.
Talle produksiefoto’s is volblad ingesluit. Die bladmusiek van die liedere wat deur die spel heen gebruik is, verskyn aan die einde van die boek.
Met die redigering het ek dadelik iets baie wonderliks ontdek: Charles vermeng gedeeltes uit al die Evangelies. Sy oordeel was so goed. Wanneer daar treffender dialoog of beskrywings van dieselfde gebeurtenis by Lukas is as sê nou maar by Matteus, dan gebruik hy Lukas. Veral Jesus se woorde is hoofsaaklik direk uit die Bybel. Maar wanneer dit kom by die liewe ou gewone mense, kry ’n mens heerlike kwinkslae of aardse uitdrukkings.
Jesus word presies aangehaal: “Geseënd is jy, Simon Barjona. Nie ’n mens nie, maar my Vader wat in die hemele is, het dit aan jou geopenbaar.”
Ek gee enkele voorbeelde van die soort mensetaal. En dan lees ek ’n voorbeeld van gedeeltes wat my nou met die deurlees weer werklik ontroer het. En daarna luister ons ten slotte na ’n Passiekoor wat een van Charles se aangrypendste getoonsette gedigte uitvoer: “Donker, donker nag”.
Mensetaal: Die Samaritaanse vrou: “Lewende water? Wat jy waar gaan kry. Meneer, gee vir my van daardie water dat ek my sommer vol drink. Ek is al óp geloop na hierdie put toe.”
Saggeus se vrou: “Maar ek het hom gesê hy moenie in die boom opfoeter nie. (Aan Saggeus.) “Jy kon jou besimpeld geval het.”
Die diensmeisie vertel hoe Jesus die blinde man laat sien het met die aansmeer van ’n bietjie spoeg en klei: “Die man is daar weg met sy toegekoekte modderogies, en toe hy terugkom, is daai dooie oë so helder soos die lug, so groot soos pierings!”
En nou van die ontroerende gedeeltes. Johannes lei die toneel in van Jesus se kruisgang na Golgota: “Sagte Jesus ... Jesus van die kinders en die lelies en die mossies ... o teer, begrypende Hart, dat U só moes ly vir óns sondes, óns oortredings. (...) Die wêreld het U verwerp en verneder; U het ons in die dood omhels en vrygemaak.”
En nou lees ek ten slotte “Donker, donker nag”.
Donker, donker nag,
diep in ’n rots is sy graf.
Mirre en aalwyn, linne om sy lyf,
stil in die tuin van die dood.
Lig uit die Vaderhart,
wreed deur die wêreld ontvang.
Stukkende Jesus, waar is U nou?
Liefde met dorings gekroon.
“Die derde dag sal Ek
uit die dood opstaan.”
U woorde leef en gee ons hoop,
hier waar die nag om ons vou.
Donker, donker nag,
soldate bewaak sy graf.
Koud is die wêreld sonder die Lig.
Kom terug na ons toe, o Heer.
Kommentaar
Pragtige onthou-stuk oor Charles, Daan.
Baie dankie vir 'n puik agtergrondskets.
Aangrypend - nie net 'n nuwe blik op Charles nie, maar ook 'n inspirasie om die boek deel van jou boekskatkis te maak!
Dankie Danie. Dit vat my ver terug. Ek het gehelp om die spelers indivdueel af te rig en gereed te kry vir die opvoering. Moes ook Oudtshoorn toe en in 'n karavaan gaan bly naas die grotte waar die stuk opgevoer is. Charles had 'n digtersiel.
HalleluYAH! 👑 👑 👑
Ons buig sáám.