Gedagtes oor die aanbieding van Bettina Wyngaard se "Hoekom sukkel liberal whiteys so om rassisme te veroordeel?"

  • 1
In reaksie op Jaco Wium se bydrae hieronder reageer Naomi Meyer, inhoudsbestuurder, soos volg: "Die opskrif waaroor die stuk handel, was die wens van Bettina Wyngaard. Dit is met die skrywer van die meningstuk bespreek en hy wou steeds sy bydrae op LitNet gepubliseer sien."

LitNet het 'n probleem. Trouens, die opvoedkundige en informatiewe sektor van die wêreldwye web sit met dieselfde probleem opgeskeep: om potensiële lesers te oorreed om te lees. Opskrifte moet noodwendig ekstra oemf hê as hulle besoekers aan 'n digitale platform wil oortuig om (met 'n klik en verwante datakoste) kennis te neem van 'n artikel se inhoud – veral wanneer dieselfde besoekers die vermoë het om hul opinies daaroor op dieselfde platform te plaas.

Die pogings om lesers te lok werk meestal nie. Sommige respondente het die goeie gewoonte om eers te lees voordat hulle praat en hulle bydraes tot 'n debat verskyn gewoonlik onderaan die artikel self. Die meeste internetgebruikers bekom toegang via sosiale media en daar kan enige waarnemer sien dat die oorgrote meerderheid respondente slegs kennis neem van die opskrif voordat hulle hulself na die kommentaarafdeling wend om hulle oningeligte opinies aan almal uit te saai.

Die pogings werk meestal nie omdat die klikaas nie oordeelkundig geaas word nie. Die opskrif by Bettina se insiggewende rubriek dien as 'n tweeledige illustrasie van my argument.

"Hoekom sukkel liberal whiteys so ..." wek eerstens die indruk dat Bettina 'n aanval loods op 'n kollektief: die meer liberale segment van die wit bevolking, oftewel diegene wat nie die "kru vorm van rassisme" beoefen soos beskryf in haar openingsparagrawe nie. Daardie indruk is onakkuraat. Sy voorsien immers in die res van die rubriek 'n voorbeeld waar twee liberale wit vriende kapsie maak teen 'n meer subtiele ("insidious") vorm van rassisme tydens 'n kuiergesprek. Wanneer sy later skryf "Maar soveel wit liberale konfronteer nie", is dit eksplisiet duidelik dat sy onderskeid tref tussen diegene wat opstaan en diegene wat stil bly sit. Lesers wat absoluut niks van Bettina as individu weet nie kan die logiese afleiding maak dat sy nie almal oor dieselfde kam skeer nie.

Bettina se eie woorde stereotipeer nie. Die opskrif stereotipeer wel.

Ek het nog nie die voorreg gehad om Bettina te ontmoet en te leer ken nie, so ek kan geen karakteroordele maak nie. As iemand wat haar roman Vuilspel in my nederige versameling van swart Afrikaanse letterkunde tel en haar LitNet-skrywes geniet, erken ek die weldeurdagte argumente wat sy kan lewer asook haar hoë intelligensie, al stem ek nie noodwendig met alles saam nie. Ongelukkig reflekteer die opskrif eerder 'n veglustige geaardheid wat 'n grief het om uit te woeker.

Die opskrif bereik sodoende die teenoorgestelde van wat dit veronderstel is om te doen: dit stoot eerder af as wat dit lesers lok. Die jammerte daarvan is dat dit juis diegene is wat die meeste baat kan vind deur blootstelling aan haar werklike sieninge wat vervreem sal word. Hierdie stelling word bevestig deur 'n prentjie-kommentaar op die Facebook-blad van Bart Simpson wat bla-bla-bla met sy hande voorstel. Daardie persoon het moeite gedoen om almal te laat verstaan dat hy geensins geïnteresseerd is om te weet wat Bettina te sê het nie.

"Hoekom sukkel sommige liberal whiteys om..." dui implisiet aan dat die rubriekruimte gevul word met 'n oopkop-benadering eerder as 'n beskuldigende vingerwysing na 'n hele gemeenskap. Was daar werklik te min spasie vir "sommige" in die opskrif?

Die tweede problematiese element, myns insiens, betrek die woordkeuse: liberal whiteys. Dit verg 'n doelbewus naïewe ingesteldheid om te ontken dat dit 'n negatief gelaaide, neerhalende term is. Bettina gebruik dit self twee keer in haar rubriek, so in hierdie geval reflekteer dit eerder 'n venynige sy van die skrywer as 'n misleidende element in die opskrif.

Of die venynigheid geregverdig is of nie, is nie vir my hier te sake nie – dit is materiaal vir 'n ander bespreking. Ek weet nie of Bettina die kritiese bespreking daarvan in die kommentare onderaan die rubriek te harte neem en of sy haar oë rol vir die variasie van teenargumente nie. Wat ek wel kan bevestig is dat sy haar eie argument betreffende liberale witmense se subtiele rassisme ondermyn deur haar eie "insidious" toepassing daarvan. Dieselfde persoon wat (met regverdiging) die rassistiese ondertoon in 'n kompliment raaksien, kan nie sien wat sy self doen wanneer sy die einste persoon "Ossewania" benoem nie.

Dit is inderdaad jammer dat sy haar geldige boodskap – wat, myns insiens, deur almal gehoor behoort te word – self saboteer deur dieselfde te doen as diegene wat sy kritiseer.

Die ekwivalente Afrikaanse term "liberale wittes" stel reeds duidelik na watter bevolkingsgroep verwys word – sonder die negatiewe bagasie. Haar keuse om eerder die Engelse term in 'n Afrikaanse rubriek te gebruik is dus in alle waarskynlikheid doelbewus. 'n Mens kan gevolglik in alle redelikheid aanvaar dat sy nagedink het oor wat sy met die rubriek wou bereik. Wou sy 'n gesonde debat ontketen? Wou sy mense bereik, en hulle moontlik tot nuwe insigte bring? Of wou sy van 'n grief ontslae raak en 'n paar klappe uitdeel?

Niemand behalwe Bettina self sal weet wat die eerlike antwoorde op daardie vrae is nie. Ek leef wel al lank genoeg om te weet hoe bepalend 'n blyke van respek jeens andere is in enige gesprek of debat. Ek het al gesien hoe mense ophou wil baklei en begin luister danksy 'n heel eenvoudige en eerlike erkenning van 'n ander se perspektief. "Goed, ek verstaan jou siening en ek dink jy het 'n punt beet wat [dit of dat] betref. Waar ek met jou verskil is [...]"

'n Mens hoef egter nie lank te leef om te weet hoe enigeen reageer op enige neerhalende etiket wat op hom of haar geplak word nie. As voorbeelde: sodra iemand my 'n "libtard" noem, verskoon daardie persoon homself van die gesprek, wat my betref. Dieselfde gebeur sodra ek die woord "verkramp" in die ander rigting gooi. Die netto effek van enige vorm van belediging, hoe gering ook al, is dat die ander partye enige oorblywende respek vir jou verloor en nog fermer vaskleef aan hulle eie uitgangspunte.

Daarom vind ek dit bejammerenswaardig dat die ore wat Bettina se boodskap moes hoor reeds met vooroordeel toegeslaan het voordat die opskrif eens klaar gelees is. Nie alleen weier hulle om te luister nie, maar die defensiewe mure word opgerig en die harte verhard. Dit word perfek geïllustreer deur kommentare onderaan Bettina se artikel op LitNet se Facebook-blad. Dit is, byvoorbeeld, veilig om te aanvaar dat die persoon wat rassisme as "God se handewerk" beskryf het, nooit die rubriek gelees en daaroor nagedink het nie.

'n Ander bydraer het haar stem verhef: "Op die oomblik gebruik mense die woord rasism soos stout kinders om te kry wat hulle wil he AD DIE KLOMP NOU NOG ALMAL GAAN SAAMPRAAT EN BAKLEI OOK DINGE GAAN ONS N MOOERSE OORLOG HE". (Spel- en tikfoute is onveranderd gelaat.) Let op dat die kommentaar nie 'n enkele verwysing insluit na enigiets wat in die rubriek verskyn het nie. Die opskrif het haar dadelik loopgrawe toe gedryf.

"Hoekom sukkel sommige liberale wittes so om rassisme te veroordeel?" Daar is 'n relevante opskrif – met dieselfde tema – sonder die misleidende en neerhalende elemente. 'n Smaakliker aas sonder gif. Die woorde oor ons eie lippe verraai immers alleenlik ons eie karakter.

Ongelukkig besoedel te veel opskrifte die werklike aard van rubrieke en artikels.

Hoekom sukkel liberal whiteys so om rassisme te veroordeel?

  • 1

Kommentaar

  • Andries van der Walt

    Ag nee wat. Ek is 'n liberale "whitey" Ek is nie 'n regse "whitey" nie want dan kon ek nie 'm liberale een wees nie. Ek is nie 'n rassis nie. Van my beste vriende is bruin mense en 'n Moslem dame. En ek is 'n dopper. Eintlik is ek gatvol vir die politiek en die voortdurende gehamer op wat dit of dat veroorsaak het. Ek bekommer my meer oor die ekonomie waaroor almal hulle behoort te bekommer, die Nasionale Gesondheidsinstituut en die feit dat die Parlement nie sy werk gedoen kan kry nie. Maar dan kan ek ook seker maar vra: Hoekom sukke "smart blacks" so om rassisme te aanvaar. Of is net "whiteys" rassiste.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top