Gebreekte filament

  • 0

Foto: Canva

Gebreekte filament

die lewe is soos die fyn filament in ’n gloeilamp
bros en breekbaar
hoekom het die dood
jou lig so vroeg uitgedoof?
op sestien was jy nog in konsepvorm
besig om jou lewenspad te karteer

ek onthou die wind het gewaai
toe ons jou groet
jou kis in die kapel
staan soos ’n plekhouer
op die laaste bladsy
van jou lewensboek

ek onthou hoe ons na jou kyk
op ’n groot skerm
jou lewe bereik ’n crescendo
netjies aangebied in vyfsekonde-segmente
word sestien jaar opgesom
in drie minute

al ons drome vir jou
lê nou versnipper
dit waai weg
saam met die koue augustuswind
en dwarrel in fragmente
na vergetelheid

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top